SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Aktueel
'Seksvoorligting-herrie' is bohaai oor niks

Oordrewe preutsheid en stilte oor seks gaan net maak dat jou kind dinge agter jou rug doen. Willemien Brümmer skryf oor die herrie wat ontstaan het oor die departement van basiese onderwys se plan vir seksvoorligting op skool.

Is die herrie wat ontstaan het oor die departement van basiese onderwys se “omstrede” plan vir seksvoorligting aan skoolkinders ’n storm in ’n teekoppie?Grafika: Morné Schaap

Toe ek op skool was, was seks ’n taboe-met-’n-hoofletter.

As ek reg onthou het my ma ’n kopie van Wat meisies moet weet van dr. Jan van Elfen in my kamer “vergeet” en gehoop vir die beste.

Toe ek my eerste kêrel kry in die jaar ná skool het sy my op die pil gesit (glo “vir my vel”). My pa, wat goed geweet het wat seuns met meisies wil maak, het nie met dié kêrel gepraat nie. Hy’t bloot vir ons hond gesê: “Vat so, Vullis, daar’s galge-aas!”

Tieners bly immers tieners en sedert die vroegste tye was dit wat in misterie gehul is vir hulle onweerstaanbaar.

My onderwysers kon nie die s-woord oor hul lippe kry nie, maar ek is taamlik seker wat my beste vriendin en haar kêrel (hulle was albei toe sestien) gedoen het nadat die klas by die Engelse juffrou se huis Romeo and Juliet gekyk het. (En dit was beslis nie om notas te vergelyk oor Shakespeare nie).

Tieners bly immers tieners en sedert die vroegste tye was dit wat in misterie gehul is vir hulle onweerstaanbaar. Selfs in my ma se dae, toe sy nie met haar hande onder die kombers mag geslaap het nie, het sy en haar broers en susters op hul eie geleer hoe om die spreekwoordelike kat in die donker te knyp.

Vandag, in die digitale era, kan jy maar daarvan vergeet om jou kinders te probeer blinddoek. Indien hulle wil seks hê, met dwelms wil eksperimenteer of wil kaalbors foto’s van hulleself stuur (of iets dergeliks wat binne die druk van ’n knoppie hul toekoms kan verwoes) dan gaan ’n “nee” van hul ouers of die kerk hulle nie keer nie.

In studies in Suid-Afrikaanse skole is in elk geval bevind die meeste kinders tussen nege en 12 jaar oud word deur digitale toestelle aan pornografie en seksuele inhoud blootgestel.

Die punt wat ek probeer maak? Oordrewe preutsheid en onderdrukking lei nie tot onthouding nie. Dit gaan wel maak dat jou kind dinge agter jou rug doen.

Só lyk ’n verouderde lesplan vir graad sewe’s wat deur FOR SA versprei is op sy webtuiste. FOR SA beweer graad vier-meisies “se privaatdele sal geïdentifiseer word deur ’n groep seuns in hul klas”. Die departement sê egter leerders sal allermins gevra word om mekaar se privaatdele te identifiseer, maar dat hulle eerder geleer sal word watter dele van hul liggame privaat is. Foto: FOR SA

“Sagte pornografie”

Die “herrie” oor die voorgestelde nuwe seksvoorligting op skool is nie iets nuuts nie. Dit het egter vlam gevat nadat die (behoudende) godsdienstige organisasie Freedom of Religion South Africa (FOR SA) ’n persverklaring uitgestuur het op 24 Oktober en uitgedateerde geskrewe lesplanne (wat dateer uit die loodsfase) vir die skoolvak lewensoriëntering aan die media uitgelek het. (Dié lesplanne vorm deel van die Comprehensive Sexuality Education-program (CSE) wat reeds suksesvol in die kurrikulums van lande soos die VSA, Brittanje, Australië en Swede ontplooi is.)

FOR SA is begin deur Andrew Selley, die stigter en hoofpastoor van die Joshua Generation Kerk – dieselfde JoshGen wat in 2013 ’n handleiding van 38 bladsye geplaas het op sy webwerf met die presiese dikte en lengte van die roede waarmee ouers ’n eenjarige moet tugtig.

Sy beweer ook “dit is nie ongewoon vir CSE-programme om kinders so jonk as vyf jaar oud te leer om te masturbeer nie” en om “promiskuïteit as ’n reg vir kinders te bevorder nie”.

FOR SA het noue bande met konserwatiewe “pro-familie” groepe in die VSA wat anti-aborsie en anti-gay is, en wat glo die Westerse heteroseksuele kerngesin is die enigste “natuurlike” vorm van familieskap.

Adv. Nadean Badenhorst van FOR SA het byvoorbeeld al in Februarie verlede jaar ’n artikel geskryf waarin sy beweer CSE “bevorder hoërisiko seksuele gedrag” en dat die “radikale seksualisering (sic) van ons kinders” deel vorm van dié program se “onheilspellende agenda”. Sy beweer ook “dit is nie ongewoon vir CSE-programme om kinders so jonk as vyf jaar oud te leer om te masturbeer nie” en om “promiskuïteit as ’n reg vir kinders te bevorder nie”. Nou ja, die gemiddelde leser moet maar self besluit of hulle haar wil glo.

Die Oktober-persverklaring van FOR SA, vol growwe verdraaiings en feitefoute, se opskrif is van meet af aan opruiend: “Controversial sex-ed content to be rolled out in public schools, revealed”. Michael Swain, die uitvoerende direkteur, sê daarin van die inhoud waaraan kinders blootgestel gaan word, en wat onderwysers gaan moet onderrig, “is niks minder as sagte pornografie (soft porn)” nie.

Die departement van basiese onderrig kap egter terug en sê in ’n verklaring dit is ’n opsetlike wanvoorstelling van die feite en dat “sekere organisasies” aanhou “om die publiek te mislei deur die verkeerde inligting te publiseer, wat lei tot onnodige verwarring en paniek onder Suid-Afrikaners”.

Só lyk van die verouderde lesplanne wat deur FOR SA op sy webtuiste versprei is. Dié organisasie kla dat selfdegeslag-verhoudings met dié lesplanne genormaliseer word. Foto: FOR SA

Wat is die feite?

Miskien is dit nodig om die volgende in gedagte te hou: Tussen April 2017 en Maart 2018 het sowat 117 010 tienermeisies in ons wye en droewe land swanger geraak. (En slegs ’n derde van hulle bly in die skool tydens hul swangerskap en kom terug nadat hulle geboorte gegee het.)

Sowat ’n vyfde van Suid-Afrikaanse vroue tussen 15 en 49 is MIV-positief. Albei hierdie statistieke wys jongmense is seksueel aktief en jong meisies weet nie hoe om hulself te beskerm nie.

Boonop is meer as ’n derde van seuns en meisies jonger as 17 slagoffers van seksuele geweld.

Aldus die departement vorm CSE reeds sedert die begin van die millennium deel van die vak lewensoriëntering – en “geen nuwe materiaal is by die kurrikulum gevoeg nie”.

Die CSE is daarop gemik om MIV- en ander seksueel oordraagbare infeksies te verminder, sowel as tienerswangerskappe en geslagsgeweld.

Die departement verwerp die idee dat CSE kinders “seksualiseer”. “Die lesplanne fokus op selfrespek, respek vir die liggame van ander, en baie belangrik, dat kinders ontoepaslike fisieke interaksie kan identifiseer,” lui hul persverklaring.

Hierdie lesplanne volg ’n “menseregte-benadering wat tieners en jong mense toelaat om toepaslike lewensvaardighede te ontwikkel om gesonde gewoontes te ondersteun en om geslagsgelykheid te bevorder”.

Die CSE is daarop gemik om MIV- en ander seksueel oordraagbare infeksies te verminder, sowel as tienerswangerskappe en geslagsgeweld.

Dis nié om kinders aan te moedig om seks te hê nie. Dit gaan daaroor om vir hulle die korrekte inligting te gee sodat hulle beter besluite kan neem, vir hulp kan aanklop en dat hulle hul eie liggame beter kan verstaan.

Groot bohaai oor niks

Dr. Eve, oftewel die internasionaal gerekende kliniese seksuoloog dr. Marlene Wasserman, het ’n weergawe van hierdie lesplanne onder oë gehad en sy reken die ophef is ’n groot bohaai oor niks.

“Die histerie is begin deur die godsdienstige regtervleuel wat baklei vir ’n onthoudings-gebaseerde seksopvoedingsprogram wat gebaseer is op konserwatiewe godsdienstige waardes en dís inderwaarheid skadelik vir kinders,” meen sy.

Ons dink as ons die inligting wat jong mense oor seks kry inperk, gaan ons hulle beskerm – maar ons doen veel meer skade deur nié vir hulle die inligting te gee nie.
Dr. Eve

Sy sê navorsing toon kinders wat onthoudings-gebaseerde seksopvoeding kry stel nie hul seksuele debuut langer uit as kinders wat “behoorlike seksopvoeding” gekry het nie.

“Dit werk nie om onthouding te predik sonder om vir hulle inligting en goeie opvoeding te gee nie.”

Die probleem is dat party mense dink as ons vir kinders oor seks leer, gaan hulle onmiddellik na donker stegies jaag om dié lesse op die proef te stel.

“Ons dink as ons die inligting wat jong mense oor seks kry inperk, gaan ons hulle beskerm – maar ons doen veel meer skade deur nié vir hulle die inligting te gee nie,” sê sy.

FOR SA beweer graad sewe’s sal geleer word masturbasie is normaal, gebaseer op verouderde lesplanne. Die departement sê egter vrae word slegs gelys waaroor leerders mag antwoorde soek (byvoorbeeld oor masturbasie, soen en uitgaan) en hulle word aangemoedig om dit met hul ouers te bespreek. Foto: FOR SA

Hare op die hande

Een van die dinge wat organisasies soos FOR SA ontstig is ’n uitgedateerde lesplan vir graad sewes waarin die kinders geleer word masturbasie is normaal. (Die departement het intussen gesê masturbasie gaan nié in dié stadium bespreek word deur onderwysers nie, maar leerlinge sal aangeraai word om dit met hul ouers te bespreek.)

“Kinders begin gemiddeld op die ouderdom van nege of tien masturbeer en dis belangrik dat hulle weet dis nie iets waaroor hulle skuldig moet voel nie, want dis die skuldgevoelens wat die skade veroorsaak,” sê dr. Wasserman.

“Dis ontsettend bevrydend vir hulle om te weet hulle is nie die enigstes nie en dat dit selfs ’n gesonde manier is om uiting te gee aan jou seksuele gevoelens, want anders draai jong mense na pornografie vir hulle seksopvoeding en dís ’n groot probleem.”

FOR SA maak ook ’n bohaai daaroor dat verskillende seksuele oriëntasies volgens hulle in die lesplanne bespreek gaan word.

En nee, die idee van CSE is nie om van vyfjariges seks-maniakke te maak nie.

Wasserman meen dis noodsaaklik dat leerders vandag leer oor gender-diversiteit en -vloeibaarheid en verskillende seksuele oriëntasies. “As jy na die statistiek kyk, sien jy daar is ’n hoë voorkoms van selfdood en verslawing en selfbesering onder kinders wat voel hulle kan nie uit die kas klim nie, en húlle moet beskerm word. Dis nie asof die (ander) kinders wat hieroor leer skielik gaan transgender of gay word nie. Dit gaan nie maak dat hulle hul seksuele oriëntasie gaan verander nie.”

En nee, die idee van CSE is nie om van vyfjariges seks-maniakke te maak nie. Die hele punt, sê dr. Eve, is om seks so lank as moontlik uit te stel sodat jong mense meer volwasse besluite kan neem. “Hoe vroeër ons begin om seks te hê, hoe meer seksmaats gaan ons waarskynlik in ’n leeftyd hê en dus neem jou risiko vir MIV en seksueel oordraagbare infeksies toe.”

Dis juis as ons seksopvoeding sien as die nuwe Swart of Rooi Gevaar dat ons ons kinders in gevaar stel. “Seksopvoeding op skool het tot dusver nie tot ’n verandering in gedrag gelei nie,” verduidelik sy.

Dit (seksopvoeding) is om kinders vanaf ’n baie jong ouderdom te leer oor deernis en respek en liefde vir hulself sowel as vir ander.
Dr. Eve

“Jong mense het juis al hoe groter risiko’s geneem. Een van die maniere om jong mense se risiko te verminder is om hulle bloot te stel aan CSE, wat waardegedrewe is. Die grootste struikelblok is egter dat die onderwysers nie gemaklik daarmee voel om die seksopvoeding in die kurrikulum te doen nie. Indien hulle nie as seksvoorligters opgelei word nie, gaan hulle net hul eie waardes en vooroordele inbring en dit is nie bruikbaar vir wetenskaplike seksopvoeding nie.”

Wat belangrik is, is dat seksopvoeding in die eerste plek nie oor seks moet gaan nie, maar oor waardes, sê sy.

“Dis om kinders vanaf ’n baie jong ouderdom te leer oor deernis en respek en liefde vir hulself sowel as vir ander. Dis oor selfkennis en selfrespek en om nie bevooroordeeld te wees nie.”

Sy skud haar kop. “Dís waaroor seksopvoeding moet gaan. Dit gaan nie oor seks per se nie.”

Meer oor:  Dr. Eve  |  Willemien Brümmer  |  Onderwysdepartement  |  Seksvoorligting  |  For Sa  |  Cse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.