Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sekswerkers is ook mense met regte

Die Paasboodskap sluit ook dié verdrukte gemarginaliseerdes in, skryf Chris Jones.

Onlangs het ons op Menseregtedag die regte van Suid-Afrikaanse burgers in herinnering geroep en gevier, en hierdie naweek gedenk Christene die kruisdood van Christus wat gesterf het sodat ons sondes vergewe kan word.

Ongelukkig is daar heelwat Suid-Afrikaners wat gereeld getuig hoe hulle regte geskend word en hoe hulle weens hul “sondige” lewensbestaan gemarginaliseer word.

Een so ’n groep is sekswerkers.

Wat behoort ons benadering teenoor prostitusie te wees, gegewe die meeste Christene se oortuiging dat dit sondig is? Is ons geloofsoortuiging genoeg rede om prostitusie te kriminaliseer? Los die kriminalisering daarvan die probleem op?

Demokrasie het nie ’n gunsteling-godsdiens nie en daarom kan godsdienstige besware – in hierdie geval teen sekswerk – nie normatief in ’n sekulêre samelewing wees nie. Suid-Afrika is nie ’n godsdiensstaat nie.

Wat etiese kwessies betref – soos sekswerk, aborsie en genadedood, om slegs enkeles te noem – benodig ons demokratiese moraliteit.

Bogenoemde beteken egter nie dat godsdienstige mense nie oor hierdie kwessie kan saamdink en -gesels nie. Wat wel in hierdie opsig belangrik sou wees vir gelowiges om in sulke gesprekke te verreken, is die ondersteuning en vertroosting van armes en onderdruktes – wat ook sekswerkers behoort in te sluit, omdat juis hulle onder die mees onderdrukte, uitgebuite en gemarginaliseerde mense in die samelewing tel.

Die regstelsel wat sekswerk in sy geheel straf, is onprakties, ondoeltreffend.

Is dit nie ook waarvoor Christus vir ons as Christene – wat hierdie naweek Paasfees vier – kom leef het nie? Is die grond aan die voet van die kruis dan nie gelyk nie? Spreek Jesus se liefde nie van radikale omhelsing en insluiting nie?

Was Christus nie een van die eerste figure wat sekswerk gedekriminaliseer het nie toe hy die kwesbare vrou wat met owerspel betrap is, beskerm het met dié woorde: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.” (Johannes 8:7)?

Met dit wat Jesus in die sand geskryf het tydens hierdie gebeure, het Hy eintlik die wetgewing van sy tyd in hierdie opsig herskryf. Hierdie sandwoorde van Jesus kry gestalte. Eintlik wórd Jesus hierdie teks. Nog anders gestel: uit hierdie woorde in die sand groei daar ’n kruis – waaraan Hy self later sou hang.

Daar word gereken dat daar tussen 130 000 en 180 000 sekswerkers in Suid-Afrika is, van wie 90% vroulik en 10% manlik of transgender is. Alle aspekte van sekswerk is onwettig in ons land.

Maar, ten spyte van vervolging en ernstige strawwe gaan sekswerk wêreldwyd steeds voort. Deur dit as misdadig te klassifiseer blyk ondoeltreffend te wees. Dit gaan verder gepaard met hoë vlakke van geweld, uitbuiting en misbruik, wat lei tot die verspreiding van siektes.

’n Verouderde strafregtelike wetlike raamwerk rakende sekswerk soos ons in Suid-Afrika het, dryf sekswerkers ondergronds, verhoog stigma, diskriminasie en sosiale uitsluiting, skep struikelblokke om toegang tot gesondheid- en maatskaplike programme te verkry, en verminder sekswerkers se bedingingsmag – wat hulle kwesbaar maak wat betref menseregte en korrupsie.

Talle argumente kan aangevoer word vir die dekriminalisering van prostitusie. Dit kan in die eerste plek gesien word as die verantwoordelike keuse omdat dit ’n respek vir menseregte en persoonlike waardigheid weerspieël. Volwassenes betree sekswerk dikwels ter wille van inkomste en oorlewing.

Dit behoort ook polisiemishandeling en geweld te verminder. Waar sekswerk as misdadig beskou word, het die polisie mag oor sekswerkers in die vorm van dreigemente van inhegtenisneming en openbare vernedering. Baie polisielede glo die mite dat dit “onmoontlik” is dat sekswerkers verkrag kan word, of hulle glo dat sekswerkers “verdien” om misbruik te word en is dus traag om enige sake van teistering of mishandeling teen sekswerkers te ondersoek.

Daarbenewens word waardevolle polisiehulpbronne vermors deur sekswerkers te vervolg en in hegtenis te neem.

’n Ander benadering verhoog sekswerkers se toegang tot gesondheid- en maatskaplike dienste en verminder hul risiko vir MIV en ander seksueel oordraagbare siektes.

In navorsing is bevind dat die voorkoms van MIV drie tot vier keer
hoër is onder vroulike sekswerkers as by vroue van hul ouderdomsgroep in die algemeen. ’n Nuwe benadering daag ook stigma, diskriminasie, staatsbeheer oor mense se liggaam en seksualiteit, asook die gevolge van misdaadgeskiedenis uit.

Anders as wat baie mense aanvoer, lei dekriminalisering nie tot ’n toename in die hoeveelheid sekswerkers nie.

Waar sekswerk as ’n “werk” erken word, geniet prostitute die volle beskerming van arbeids- en beroepsgesondheidswette, het hulle toegang tot die nodige polisiedienste, kan klinieke sonder vrees vir teistering besoek word en kan hulle op enige plek werk.

In 2003 het Nieu-Seeland die eerste land ter wêreld geword wat sekswerk dekriminaliseer het. In ’n terugskoue vyf jaar ná die implementering van die nuwe wetgewing, het sekswerkers berig hul werksomstandighede en welsyn het verbeter, dat hulle veiliger voel, en méér geneig is om misbruik aan die polisie te rapporteer. Daarbenewens het navorsers bevind dat sekswerkers oor die algemeen veiliger seks beoefen het.

Daar was geen toename in die aantal sekswerkers in die bedryf nie, en baie van die sosiale euwels wat deur sommige voorsien is, het nooit gebeur nie.

Die huidige regstelsel in Suid-Afrika wat sekswerk in die geheel straf, is onprakties en ondoeltreffend. Die wet sal hervorm moet word.

Daarom moet verwelkom mens die ANC-besluit, op hul kongres verlede jaar, om sekswerk volledig te dekriminaliseer. Die ANC het egter al in die verlede hul ondersteuning hiervoor uitgespreek sonder om iets te doen. Ons hoop hulle sal hierdie keer doen wat hul beloof.

Hoewel die stigmatisering van sekswerkers nie oornag sal verdwyn nie, sal die verandering van wetgewing in hierdie opsig ’n groot simboliese daad van insluiting wees, asook erkenning gee aan die regte van sekswerkers wat onder die mees verdrukte, uitgebuite en gemarginaliseerde mense in ons samelewing tel.

En boonop sal Suid-Afrika dan die eerste land in Afrika wees wat sekswerk nie meer strafregtelik vervolg nie.

* Dr. Chris Jones is verbonde aan die kantoor vir morele leierskap aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.