Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Selfdood: Stop die moordenaar wat sluip op ons kampusse

’n Globale studie van nagraadse studente het bevind daar is ’n psigiese gesondheidskrisis in hoër onderwys. Ons moet dringend optree, skryf Lizette Rabe.

Khwezi Mthembu, dogter van die ANC-hoofsweep Jackson Mthembu, het onlangs haar eie lewe geneem. Foto: Twitter

Twee talentvolle, begaafde jong nagraadse studente sterf net ure uit mekaar op twee verskillende kontinente weens selfdood. Een aan die Universiteit van Stanford in Kalifornië, een aan die Universiteit Stellenbosch – soos wêreldwyd daagliks by ander hoër onderwysinstellings waar ’n sluwe sluiper kosbare jong lewens steel.

Statistieke toon dat selfdood die tweede grootste oorsaak van dood onder universiteitstudente is. Maar laat ons alle jong mense insluit, soos nog een tragedie te veel verlede week: die dood van Khwezi Mthembu, dogter van die ANC-hoofsweep, Jackson Mthembu.

Khwezi se tragiese dood is wyd gerapporteer, soos dié van die Stanford-student. Sy was die Olimpiese fietsrymedaljewenner Kelly Catlin, nagraadse student in ingenieurswese, een van ’n drieling.

Kelly Catlin (regs) saam met Ashlee Ankudinoff en Chloé Dygert Owen. Catlin het onlangs haar eie lewe geneem. Sy was ’n Olimpiese fietsrymedaljewenner, nagraadse student in ingenieurswese aan die Universiteit van Stanford en een van ’n drieling. Foto: Getty Images

Aan die Universiteit Stellenbosch, waar ’n PhD-student weens selfdood gesterf het, was dit ’n baie meer private tragedie – sy had immers nie ’n openbare profiel soos Kelly en Khwezi nie.

Al drie is egter tragedies van die ergste soort. En in al drie gevalle – en in elke verdere een wat elke oomblik gebeur terwyl jy hier lees – moet ons as ’n gemeenskap wat omgee sê: Depressie is ’n behandelbare siekte en selfdood ’n voorkombare tragedie.

Volgens statistiek het Suid-Afrika die agtste hoogste selfdoodsyfer ter wêreld. Jong volwassenes van 19 tot 24 is in die groep met die hoogste risiko vir depressie en selfdood.

Daar is nie ’n sekonde wat ons nie ons lewe in ruil vir hare sou gee nie. Die seer is onbeskryflik.

En die lewe van die families van hierdie slagoffers het vir ewig verander.

Soos Kelly Catlin se pa gesê het: “Daar is nie ’n oomblik wat verbygaan dat ons nie aan haar en die wonderlike lewe wat sy kon gehad het, dink nie. Daar is nie ’n sekonde wat ons nie ons lewe in ruil vir hare sou gee nie. Die seer is onbeskryflik.”

Dit is duidelik dat daar veral op ons kampusse dringende ingryping nodig is. Net dae ná die dood van die twee studente – en, soos gesê, hulle is maar twee van elke dag se reeds te veel slagoffers – het ’n globale studie van nagraadse studente dit kort en kragtig gestel: “Daar is ’n psigiese gesondheidskrisis in hoër onderwys en navorsingsinstansies moet aksie neem om dit te takel.”

Nog ’n onlangse studie in die Verenigde Koninkryk – ’n meningspeiling onder byna 38 000 studente, beskryf as die grootste psigiese gesondheidsopname tot nog toe onder studente – het bevind dat “psigiese probleme en siektetoestande aan die toeneem is in universiteite”. Daar is “ontstellend hoë” vlakke van angs, eensaamheid, middelmisbruik en gedagtes van selfbesering. Weer eens met dieselfde gevolgtrekking: ’n “dringende oproep tot aksie” is die antwoord.

Suid-Afika het die hoogste selfdoodsyfer ter wêreld. Jong volwassenes van 19 tot 24 is in die groep met die hoogste gevaar vir depressie en selfdood. Grafika: Morné Schaap

Psigiese beroerte

Hierdie studies bewys nou empiries dat studente aan ongekende vlakke van psigiese siektes ly. In te veel gevalle ontwikkel dit noodlottig.

As hierdie jong mense die slagoffer van ’n regte moordenaar op ons kampusse was, sou die grootste openbare ontsteltenis gevolg het. Hoekom nie ook vir hierdie so sluwe sluiper nie?

...ons belangrikste orgaan, ons brein, het fataal en terminaal gewanfunksioneer en kon nie langer lewe onderhou nie.

Ons moet die dodelike greep van hierdie moordenaar op ons kampusse verbreek – en ons kan dit doen deur die stilte en die stigma rondom psigiese gesondheid te verbreek. Om dit te kan doen, moet ons psigiese gesondheid normaliseer en dit ’n menslike gesig gee, ons moet psigiese gesondheid destigmatiseer.

Net so moet ons ook hulle wat die slagoffers van ’n noodlottige depressie was, met die nodige respek behandel. Immers, ons belangrikste orgaan, ons brein, het fataal en terminaal gewanfunksioneer en kon nie langer lewe onderhou nie. Noem dit ’n psigiese beroerte. Die afwesigheid van lewensonderhoudende neuro-oordragstowwe het beteken dat die persoon se brein nie meer lewensfunksies kon ondersteun nie en het homself vernietig.

Om die stigma te help verbreek, moet ons anders dink en praat oor psigiese gesondheid. Soos Beth Brodsky, medeprofessor in mediese sielkunde aan die Columbia-Universiteit in New York, in ’n studie oor psigiese gesondheid in die mediese beroep beklemtoon het: “Selfdood is ’n siekte en nie ’n misdaad nie.”

Dit beteken selfs ’n werkwoord is belangrik: Mense pleeg nie selfdood nie, het sy beklemtoon. Hulle sterf weens selfdood.

Lizette RabeFoto: Denzil Maregele

Sosiale media

Maar terug na ons studentegemeenskap. Die studie van nagraadse studente het tot die gevolgtrekking gekom dat dié nuwe resultate hopelik sal bydra tot ’n gesprek wat tot ’n “kulturele verandering” kan lei.

Dit is presies wat nodig is. Die kultuur wat betref ons houding teenoor psigiese gesondheid moet verander. Te veel kulturele vooroordeel, hetsy weens godsdiens of tradisie, verhinder ’n beter begrip gegrond op wetenskaplike kennis.

Die studie onder nagraadse studente het 234 instellings in 26 lande betrek en het “opvallend hoë vlakke van angs en depressie” uitgewys. Altesame 41% van die respondente het aan matige tot ernstige angs gely. Byna soveel, 39%, het matige tot ernstige depressie getoon. In albei gevalle is dit meer as ses keer meer as in die algemene bevolking.

Die verslag het voorgestel dat daar genoeg rede is om te glo dat webwerwe soos Facebook, Instagram en Twitter... ’n vernietigende uitwerking op die jeug kan hê.

Een nuwe element in die lewe van jong mense is sosiale media. ’n Onlangse Britse verslag het aangedui “sosialemediaverslawing moet beskou word as ’n siekte te midde van toenemende besorgdheid oor die invloed wat sosiale platforms op gebruikers se psigiese gesondheid het”. Die verslag het voorgestel dat daar genoeg rede is om te glo dat webwerwe soos Facebook, Instagram en Twitter – wat voortdurend meeding om gebruikers se tyd – ’n vernietigende uitwerking op die jeug kan hê.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het reeds voorgestel dat dobbelverslawing in die volgende hersiening van sy Handleiding vir Internasionale Klassifikasie van Siektes ingesluit moet word. Die WGO kategoriseer dit as ’n psigiese siekte waar “toenemende prioriteit aan dobbel gegee word” – in só ’n mate dat dobbel “voorrang geniet bo ander belangrike en daaglikse aktiwiteite”.

Die nagraadse studente se opname het beklemtoon dat opleidingsinstansies programme moet skep om oplossings te vind omdat psigiese gesondheid so ’n noodsaaklike lewensvaardigheid vir ’n suksesvolle loopbaan is. Bewusmaking van psigiese gesondheidskwessies moet verhoog word, tesame met toegang tot gefokusde ondersteuning. Ook studieleiers moet opgelei word om studente wat swaarkry te identifiseer en vir beskikbare hulp te verwys.

Prof. Frederik Anseel van King’s College London het ook in sy studie bevind dat psigiese siektes “ ’n ernstige probleem in die akademie” is. Die kwessie is so erg dat sedert Anseel en sy mede-outeurs se studie gepubliseer is, hulle drie tot vier uitnodigings per week van instansies ontvang om hul bevindings te deel en om te help met moniterings- en voorkomingspraktyke.

Een inisiatief is om ’n portuurondersteuningsnetwerk te vorm. So ’n netwerk is byvoorbeeld gevorm deur nagraadse studente aan die Universiteit van Kalifornië nadat ’n goeie vriend in hul program aan noodlottige depressie gesterf het. By die Universiteit Stellenbosch het SR-lid Melt Hugo die studentinisiatief #SUpport met die slagspreuk “Maties vir psigiese gesondheid” gestig om medestudente te ondersteun.

Daar is ook ’n duidelike balans tussen werk en ontspanning nodig, met oefening as ’n belangrike komponent. In Suid-Afrika het die Varsity Sports-reeks hierdie doelwit, met sewe sportkodes wat oor alle deelnemende kampusse landwyd gespeel word. Dit word in die naam van psigiese gesondheid onder die Speak Up-slagspreuk gedoen en is ’n inisiatief van die Ithemba-stigting.

Al hierdie projekte is lofwaardig. Maar hoër onderwysinstellings self, tesame met staatsgesondheidsdepartemente vir die nodige finansiering, moet dringend ingryp.

Ons moet die sluwe sluiper stop.

* Lizette Rabe is ’n professor aan die Universiteit Stellenbosch en stigter van die Ithemba-stigting (ithembafoundation.org.za), ’n organisasie sonder winsoogmerk met twee doelwitte: bewusmaking van depressie en verwante siektes as kliniese, biologiese siektes en om navorsing daaroor te ondersteun.

Vir hulp, kontak

* Lifeline: 0861 322 322

* Hulplyn vir die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag): 0800 567 567 of SMS 31393

* Psigiese gesondheidsinligtingsentrum (MHIC): 021 938 9229 of e-pos mhic@sun.ac.za

Vir inligting:

WGO se webwerf vir psigiese gesondheid:

http://www.who.int/features/factfiles/mental_health/en/

SA Federasie vir Psigiese gesondheid: safmh.org.za

Sadag: sadag.org

MHIC: mentalhealthsa.org.za

Bronne:

https://www.washingtonpost.com/sports/2019/03/10/us-olympic-cycling-medalist-kelly-catlin-dies.

https://www.sciencemag.org/careers/2018/03/graduate-students-need-more-mental-health-support-new-study-highlights.

https://www.theguardian.com/education/2019/mar/05/levels-of-distress-and-illness-among-students-in-uk-alarmingly-high?CMP=share_btn_link.

https://www.webmd.com/mental-health/news/20180508/doctors-suicide-rate-highest-of-any-profession#1.

https://www.theguardian.com/media/2019/mar/18/social-media-addiction-should-be-seen-as-disease.

Meer oor:  Kelly Catlin  |  Lizette Rabe  |  Selfdood  |  Depressie  |  Kampusse  |  Angs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.