Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Selfs ná 80 jaar lê die seer nog vlak

Vanjaar is die 80ste herdenking van die ‘Slag van Andringastraat’, ’n  rassebotsing tussen wit  en bruin op Stellenbosch. Heindrich Wyngaard kyk terug.

Geboue wat deel uitgemaak het van “Die Vlakte” op Stellenbosch, waar bruin mense gewoon het voor die Groepsgebiedewet-verskuiwings.

Eendag, lank gelede, hier tussen die 1940’s en die 1960’s, het die Eikestad die moontlikheid ingehou vir die behoud van ’n demografies diverse dorpsentrum, onthou Marietjie Pauw in ’n artikel op die aanlyn publikasie herri.

Dit sou gekenmerk wees deur “mense vanuit verskillende sosiale strata, agtergronde, etniese oorsprong, kulturele en geloofsidentiteite, sowel as vloeibare beweging onderling”.

Terugskouend het twee gebeure egter daartoe bygedra dat dié ideaal in die Eersterivier afgespoel het see toe.

Pauw skryf oor die een, te wete die Groepsgebiedewet van 1950: “The persistence of the town’s administrators in procuring prize land sites such as the town centre and ‘Die Vlakte’, and reserving these areas for white use, determined the haulages of human cargo that fol-lowed.”

Oor dié “vervoer van menslike vrag”, wat tot 1970 geduur het nadat die dorpsgebied in 1964 wit verklaar is, het die historikus prof. Hermann Giliomee opgemerk dat Die Vlakte “Stellenbosch se Distrik Ses” is.

‘Die US is steeds nie so inklusief as wat voorgegee word nie.’

“Hulle het alles afgebreek,” word ’n inwoner, Aaron Cupido, deur Murray La Vita aangehaal in ’n 2007-onderhoud vir Die Burger, “en ek was toe bitter ontevrede.”

Die gesin Cupido se gewelhuis in die Kaaps-Hollandse styl in Ryneveldstraat, gebou deur Cupido se pa, is saam met die meeste ander bruin mense se wonings platgeslaan. Wat Cupido verstom het, was dat “so ’n geleerde stadsraad” daarvoor verantwoordelik was. Dit het hom en sy generasie die geleentheid ontneem om aan die nageslag te kon sê: “My oupa, my oupagrootjie – hulle het daar gewoon en dit was hul huise.”

Nou moes die nagenoeg 4 000 bruin inwoners na Idasvallei en Cloetesville trek, húlle en hul ses skole, vier kerke, een bioskoop en tien ander sake-ondernemings. Die “hart” van Die Vlakte is eerste uitgeruk: Dit was die historiese Lückhoff Sekondêre Skool in Banhoekstraat, die eerste Afrikaanse hoërskool vir bruin leerlinge in die Boland. In ’n artikel oor die verskuiwings op die Universiteit Stellenbosch se webwerf deur prof. Albert Grundlingh som ’n oudinwoner die ervaring pynlik paslik op: “Dit was een uitgerekte begrafnis.”

Nasionale wetgewing was ’n gerieflike regverdiging, meen Pauw, vir die destydse vernietiging van hegte gemeenskappe en hul verskuiwing na die buitewyke van ’n dorp, afgesny van die handel, toerisme, akademie en gemeenskapsaktiwiteite in die sentrale deel.

“Today,” skryf sy, “the injurious lines of classification continue to infect identity, socialisation, residence, access, opportunities and memory and forgetting.”

Memory en forgetting: Dié twee sleutelwoorde bring ons by die tweede geskiedkundige gebeurtenis wat – ’n dekade voor die Groepsgebiedewet – reeds “die behoud van ’n demografies diverse dorpsentrum” op Stellenbosch ’n knou gegee het.

Dit was Saterdag 27 Julie 1940 – verlede maand presies 80 jaar gelede. Elders woed die Tweede Wêreldoorlog; Hitler se Duitsland het die hef in die hand en in Kaapstad gee die burgemeester opdrag dat daar daagliks om 12:00 ’n “gebedspouse” van twee minute op straat gehou moet word om vir ’n oorwinning vir die Geallieerdes (aan wie se kant Suid-Afrika veg) te bid.

’n Paar Stellenbosse boikies, lojaal aan die Nazi-gesinde Ossewabrandwag, het egter hul eie idee gehad en dít was om die gebeure in die Moederstad te ontwrig. Nadat hulle in Adderleystraat in ’n “algemene gefoetery” deur soldate, matrose en die polisie nederig gemaak is, het hulle na Stellenbosch teruggekeer en in nóg ’n straatbakleiery betrokke geraak.

Hierdie keer was die vyand plaaslike bruin inwoners, en dit was aand. ’n Paar biere het die spiere verder laat bult. Dit word vertel dat Daantjie Barnard ’n bruin man aangerand het omdat die man volgens Barnard by ’n ry sou ingedruk het by Senitzky se kafee in Andringastraat, waar albei gewag het om ’n koerant te koop. ’n Engelse koerant, nogal: die Cape Argus. Barnard het ’n vuishou geplant (waaroor hy later aangekla en beboet is) en chaos het gevolg. Polisieversterkings moes van die Paarl en Kaapstad ingeroep word.

Uit Giliomee se outobiografie, Historikus: “Wit studente kasty bruin kinders met latte wat hulle van die bome gepluk het. Bruin mense val aan met klippe en stene wat hulle op ’n bouperseel gekry het. Eiendom en voertuie word op groot skaal verniel. Groot getalle van Dagbreek[-koshuis] se studente daag op en val amper letterlik Die Vlakte in. Hulle bars in huise in, slaan vensters, radio’s en tafels stukkend en beskadig motors [tot laat die Sondag].”

Hoewel dit ’n geïsoleerde geval was, reageer die filosoof prof. Anton van Niekerk per e-pos, verteenwoordig die gebeurtenis tog “een van die grootste skandale in die geskiedenis van die US”; en die joernalis Martie Meiring whatsapp (ook by navraag): “Dit is ’n ou Stellenbosse wond.”

Agterna het die US – en by name die rektor, prof. R.W. Wilcocks – die wond probeer genees. Die studenteraad het gereageer met ’n “mengsel van verontskuldiging en gekwalifiseerde spyt”; en die Universiteitsraad het £25 as totale skadevergoeding aangebied, aldus Giliomee.

’n Kaart van die gebied.

“Dit was ’n beskamende verhaal,” skryf hy.

En só het die gebeure mettertyd in die vergetelheid verdwyn totdat dit so onlangs as 2005 deur die universiteit “herontdek” is en Dagbreek-inwoners in 2012 ’n verskoning vir die gebeure aangebied het. Hierdie gebaar het die oud-Dagbreker dr. Chris Jones van die US-teologiefakulteit se eenheid vir morele leierskap verbly. Maar meer is nodig, sê hy: “Ons het meer kruissnydende pogings (oor godsdiens, kultuur en ander grense heen) nodig om voortdurend nader aan mekaar te kom en te leef en op hierdie wyse nóg meer vertroue, versoening en vrede in ons gemeenskap (en groter samelewing) te bou.

“Ons is dankbaar vir ’n klomp mooi goed wat hier gebeur.”

Dié klomp mooi goed sluit onder meer in die wyse waarop die Dagbreek-apologie as motivering vir die US se eerste bruin rektor, prof. Russel Botman, ge-dien het om in 2013 ’n Andringa-herinneringskamer in die Wilcocksgebou te laat inrig; ’n Vlakte-beursskema is ook ingestel; en met die 75ste herdenking van die gebeure in 2015 het die huidige rektor, prof. Wim de Villiers, hom bereid verklaar om die werk van Botman in dié verband voort te sit.

’n Hele aantal inisiatiewe is nou in die pypleiding om as deel van die US se “virtuele regstellings”-inisiatief onder meer die geskiedenis van Die Vlakte uit te beeld en ’n gedenkarea sal op die hoek van Victoria- en Ryneveldstraat geskep word om historiese momente op die dorp uit te beeld.

“Dié ligging is spesifiek gekies weens die Slag se geskiedenis,” sê dr. Leslie van Rooi, senior direkteur: sosiale impak en transformasie.

Tendani Tshauambea, sameroeper van die Victoria-studentekluster en ’n finale-jaar-BA (regte)-student, betreur juis die feit dat weinig studente van die Andringa-gebeure bewus is, behalwe dié wat in die koshuise woon wat betrokke was; erger selfs pla dit hom dat na Andringa as ’n “slag” verwys word, “terwyl dit in werklikheid ’n bende wit studente was wat ’n aanval op die bruin inwoners geloods het”.

Hierby voeg die kampus- en koshuisleier Shanté Engelbrecht, ’n student in internasionale studies met politieke wetenskap en geskiedenis as hoofvakke, haar gewaarwording van ’n toenemende “onverdraagsame houding jeens bruin mense op die dorp”; en dat die US “steeds nie so inklusief is as wat voorgegee word nie”.

Dit is ’n aanklag waarvan prof. Nico Koopman, viserektor: sosiale impak, sal wil kennis neem. In sy reaksie vir hierdie artikel sê hy: “Die noodsaaklike onthou van Andringa roep ons op om voort te gaan om die verbintenis tot restitusie en tot helende geregtigheid op aktiewe, konkrete en sigbare wyse – en in steeds groeiende mate – hande en voete te gee.”

En dit is waarom die US in ’n eeufeesverklaring sy bydrae erken “tot die onregte van die verlede en verbind ons ons tot restitusie”.

In Grundlingh se aanlyn artikel oor Die Vlakte word die universiteit se “byna stilswyende instemming tot die verskuiwings” juis pertinent uitgewys.

Waarom dan nie nou byvoorbeeld ’n terrein soos dié waar die ou Lückhoff-skool geleë is in bekostigbare behuising vir die Vlakte-slagoffers omskep om sodoende weer ’n tree nader te gee aan ’n “demografies-diverse dorpsentrum” vir Stellenbosch nie?

* Heindrich Wyngaard bied Sondae om 20:00 die aktualiteitsprogram Kommentaar op RSG aan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.