Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Senaat sal hopelik nie in pad staan van Biden se belowende kabinet

Alles dui daarop dat die nuwe Amerikaanse kabinet weer onder meer wil sien dat dié land ’n konstruktiewe rol in die wêreld speel. Die vraag is net of die senaat hom sal toelaat om dit te doen, skryf John Hawkins.

Joe Biden, Amerika se verkose president, het se kabinet beplan om die VSA in ’n ander rigting te stuur. Foto: AP

Die “span van teenstanders” was die term wat die historikus Doris Kearns Goodwin gebruik het om die kabinet van die Amerikaanse president Abraham Lincoln te beskryf.

Dit het drie mans ingesluit wat hom teengestaan het in die Republikeinse benoemingstryd vir president in 1860: William Seward (minister van buitelandse sake), Salmon Chase (minister van finansies) en Edward Bates (prokureur-generaal).

Die aanstelling van drie sulke eiewillige mans kon rampspoedig gewees het as dit nie vir Lincoln se persoonlike karaktertrekke was nie.

Goodwin beskryf hoe Lincoln gewillig was om te erken wanneer beleidsrigtings misluk het en hy dan van rigting verander het. Hy het feite versamel waarop hy sy besluite gegrond het. Hy het kompromieë nagestreef, maar volle verantwoordelikheid vir sy besluite geneem, hy het sy kollegas gerespekteer en ’n voorbeeld van waardigheid gestel. (Met al dié dinge klink hy soos die teenoorgestelde van Donald Trump.)

Linda Thomas-Greenfield, Amerika se ambassadeur by die Verenigde Nasies. Foto: Getty Images

Die verkose president, Joe Biden, het tot dusver ’n ander benadering gevolg met die aanstelling van kabinetslede. Benewens die feit dat hy Kamala Harris as sy adjunkpresident gekies het, het hy verby sy belangrikste teenstanders in die Demokratiese benoemingstryd – Elizabeth Warren, Bernie Sanders – gekyk en meestal tegniese kundiges met toepaslike ervaring en ’n internasionale ingesteldheid gekies.

Biden mag dalk dié meer tegnokratiese aanstellings sien as optrede wat in ooreenstemming met sy meer onpartydige styl is. Dit stuur ook ’n boodskap aan die wêreld dat Amerika weer betrokke wil raak.

In Biden se woorde, is die Verenigde State “reg om die wêreld te lei, nie daarvan te onttrek nie”. En soos Linda Thomas-Greenfield, die nuwe ambassadeur by die Verenigde Nasies, dit stel: “Multilateralisme is terug”.

’n Span met talent

Anthony Blinken, is Amerika se nuwe minister van buitelandse sake. Foto: Reuters

Biden het nou wel nie sy kabinet met teenstanders gelaai nie, maar hy het hom ook nie omring deur klone of ’n “eggokamer” geskep nie. Hy bet dit duidelik gemaak dat hy wil hê sy kabinet moet hom “vertel wat ek moet weet, nie wat ek wil weet nie”.

Hy het Antony Blinken aangestel as minister van buitelandse sake. Blinken, ’n Franssprekende internasionalis, het as oudpres. Barack Obama se nasionale adjunk-veiligheidsraadgewer en adjunkminister van buitelandse sake gedien.

Hy het op ’n keer ’n bekoorlike verskyning op die televisieprogram Sesame Street gemaak waar hy vir Grover (een van die karakters) alles oor die Verenigde Nasies en vlugtelinge vertel het.

Hy het gesê “ons het almal iets van mekaar te leer, selfs al lyk dit aanvanklik of ons nie veel met mekaar in gemeen het nie”.

Dié boodskap is ver verwyders van “Amerika eerste” en die minagting vir die res van die wêreld wat die Trump-administrasie getoon het.

Advokate vir vrye handel, stappe teen aardverwarming

Janet Yellen, Amerika se nuwe minister van finansies, was vir vier jaar lank aan die stuur van die Federale Reserwebank. Foto: AP

Biden het Janet Yellen as minister van finansies aangestel.

Sy was voorsitter van die Federale Reserwebank van 2014 tot 2018 en is tans hoof van die Amerikaanse Ekonomiese Vereniging. Die Nobelpryswenner Joseph Stiglitz onthou haar as een van sy beste studente.

Dit is nogal ’n prestasie om die bekendste ekonoom in ’n gesin te wees wat ’n Nobelpryswenner (haar man, George Akerlof) insluit.

As ’n pleitbesorger vir vrye handel en ’n kenner van arbeidsmarkte verstaan sy die skade wat Trump se handelsoorloë, veral dié met China, werkende Amerikaners berokken het.

As voorsitter van die Federale Reserwebank het Yellen ook ’n belangrike rol in internasionale organisasies soos die Bank vir Internasionale Skikkings gespeel.

John Kerry is aangestel in die nuwe pas van die VSA se klimaatsgesant. Foto: Reuters

John Kerry is aangestel in die nuwe pos van klimaatsgesant. Hy word wêreldwyd gerespekteer as ’n voormalige minister van buitelandse sake en was ’n onsuksesvolle presidentskandidaat in 2004.

Sy aanstelling stuur die boodskap uit dat die Biden-administrasie erken dit is belangrik dat Amerika weer betrokke raak by optrede om klimaatsverandering te bekamp.

Dit is nog meer betekenisvol dat Kerry hoogs invloedryk was in die finale week van samesprekings voordat die ooreenkoms van Parys in 2015 aanvaar is en hy het dit die volgende jaar namens Amerika onderteken terwyl sy kleindogter op sy skoot gesit het.

En ná vier jaar van Trump se beleidsrigtings teen immigrante, het Biden die gebore Kubaan Alejandro Mayorkas gekies om aan die hoof te staan van die departement van binnelandse veiligheid. Ná sy benoeming het Mayorkas gesê hy wil graag weer Amerika “se trotse geskiedenis as ’n land wat ander verwelkom”, voorop stel.

Potensiële struikelblokke in die senaat

Belangrike burgerregte-wetgewing is onder die bewind van oudpres. Lyndon Johnson deurgevoer. Foto: Getty Images

Biden het ’n span bymekaargemaak met ’n internasionale ingesteldheid wat Amerika weer sal verbind tot die steun van internasionale organisasies soos die Wêreldgesondheidsorganisasie en ooreenkomste soos dié van Parys.

Hy sal eerder probeer om die Wêreldhandelsorganisasie te hervorm as om sy werksaamhede te probeer belemmer.

Maar daar is ’n belangrike struikelblok op sy pad. As die Demokrate nie beheer oor die senaat kan neem in die twee verkiesings in Georgia vroeg in Januarie nie, sal die Republikeine waarskynlik Biden se pogings om weer ’n konstruktiewe internasionale rol te speel probeer verongeluk.

Biden sal byvoorbeeld op sy eerste dag as president Amerika met ’n uitvoerende bevel weer tot die ooreenkoms van Parys verbind. Maar belangrike hervormings om die vrystelling van kweekhuisgasse te verminder as deel van die nuwe voorgestelde skoon energieplan van $2 000 miljard kan teengestaan word deur die Republikeins-beheerde senaat.

Die res van die wêreld sal hoop dat die senaat nie die belowende nuwe kabinet se planne in die wiele sal probeer ry nie.

Optimiste het Biden vergelyk met oudpres. Lyndon Johnson (ook bekend as LBJ) as iemand wat sy dekades lange ervaring van wetgewing kan gebruik om meer te verander as wat vir John F. Kennedy of Obama moontlik was.

Ron Klain, wat onlangs aangestel is as Biden se stafhoof, het dit goed gestel: “LBJ mag dalk nie die mees woke, koelste of mees byderwetse Demokraat gewees het nie, maar hy is die persoon wat die meeste ware, progressiewe wetgewing oor maatskaplike geregtigheid sedert FDR (Franklin D. Roosevelt) aanvaar gekry het . . . hy het geweet hoe om die senaat te laat werk.”

Die res van die wêreld sal hoop Klain is reg en dat die senaat nie die belowende nuwe kabinet se planne in die wiele sal probeer ry nie.

• John Hawkins is ’n senior lektor by die Canberra-skool vir politiek, ekonomie en samelewingstudies aan die Universiteit van Canberra. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.