Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Senu en vesel deel van hoe ons groet

Hy kan nie wag vir die dag wanneer ons weer ordentlik kan bladskud en soen nie, skryf Izak du Plessis.

Izak du Plessis Foto: Deon Raath

Toe pres. Cyril Ramaphosa nou die aand op nasionale televisie sy elmboog uitsteek om iemand te groet, het ek nie onmiddellik besef wat die gevolge hiervan gaan wees nie.

Dit was eers die volgende dag toe ek ’n goeie vriend raakloop, dat ek besef het dis die einde van ’n era van hartlikheid. Ons het uit pure gewoonte ons hande uitgesteek om te groet, maar halfpad verleë vasgesteek en toe maar so half beskimmeld in mekaar se gesigte gewaaigroet.

Die ding gaan ons mense onherroeplik verander, want ons is gewoond daaraan om hartlik te groet. En aanraking is senu en vesel deel van ons manier van groet.

My oupa Jaap het sulke tamaai boerse hande gehad, vol knoppe en eelte. Die boere van Laersdrift moes mooi vat as hulle groet, want sy vatslag was staalhard soos dié van ’n bobbejaansleutel wat die halsstarrige wielbout van ’n Massey Ferguson se gal moet werk. Menige jong boer en plaasbesoeker het met die groetslag letterlik die knie voor hom gebuig. Maar vir ons het hy gesoen, sulke sagte soene van satyn, soos die lap wat ouma Ellen op Stoffberg by Ghardi se winkel gekoop het.

Groet moet sê: Ek wil nie van jou af weggaan nie.

Ouma Ellen het effens harder gesoen. Sy het haar hande met haar voorskoot afgedroog, omdat sy boontjies gesny het, die sweet van haar bolip afgevee, en ons dan met ’n dungetrekte mond gesoen, terwyl sy vlugtig haar dierbare oumalyfie, wat soos kaneel ruik, teen jou aandruk. In daardie oomblik het die wêreld vir my tot stilstand gekom, het haar koestering my onmeetbaar veilig laat voel.

Ouma Ems het ons hartliker gegroet. Sy was gul, soos Roossenekal se veld vol aronskelk. Sy het ons sommer so kaplaks vol op die mond gesoen en ons vasgedruk teen haar boervroulyf, wat soos babapoeier geruik het.

Sy was ’n vesting van ’n vrou, ’n voorslag in die kontrei en ’n sieraad vir haar man, oupa Izak. Hy is die een wat sommer maklik sy soene weerhou het as jy hom met die verkeerde voet uit die kooi gevang het.

Ons familie het deur die bank gesoen, mans en vroue. Soen is ons ding. Ek kon my verkneukel aan die passie waarmee my pa my ma gesoen het. Anders as ander kinders was dit nie vir my ’n skaamte nie. Dit was veral met die weggaanslag, grens toe, of vir werk, dat hy haar nadergetrek het, haar gesig in sy hande toegevou het, sy mond oopgemaak en haar passievol gesoen het. My ma met haar mooi, gul lippe. My pa het geweier om te ry voor hy haar gesoen het. Dis iets waarop ek self ook aandring. Ek voel half onklaar as ek en my vrou vir een of ander rede haastig moes groet. Ek het ’n hekel aan ’n vinnige veeg van die lippe. Groet moet innig wees. Groet moet sê: Ek wil nie van jou af weggaan nie. Groet moet sê: Ek kom terug na jou toe.

Heilsame hartlikheid het sy risiko’s.

Maar dis nie net ons nie, die hele wêreld het mekaar gesoen, daar waar ek vandaan kom. Van Laersdrift en Stoffberg tot anderkant verby Roossenekal, Draaikraal en Tonteldoos toe, het die tannies gesoen, in wisselende grade van vogtigheid, en die ooms het blad geskud. Hulle kon nie soos my oupa Jaap vasvat nie, maar wee jou as jy ’n oom nie groet nie. Jy is baie gou uitgewys as ’n mannetjie wat nie respek vir ouer mense het nie.

Ouma Ellen se sussie, Tanna, en haar man, oom Raaitjie, het oorkant die pad gebly. Oom Raaitjie het dikwels met sy ou blou trekker van die oorkant af gou oorgery vir tee. Ek onthou sy breë glimlag, die wolke rook om sy gesig, en hoe hy klou aan sy natgeswete vilthoed. Sy tande was bruin en sy vingers goudgeel, die resultaat van zolle rol met koerantpapier en BB-twak.

Dit was ’n hele ritueel. Oom Raaitjie het sommer met die afklimslag al sy leergebreide hand uitgesteek vir die groet. Dan het hy homself sitgemaak by die ennemeltafel op die stoep. En terwyl ouma Ellen tee maak, het oom Raaitjie ’n stukkie koerantpapier uit sy hempsak gevroetel, dit mooi kantig geskeur, tussen die duime en middelvingers van albei hande vasgeknyp en dan met die wysvingers effens oorgevou sodat dit ’n slootjie maak vir die twak. As die twak gelê is, het hy die zol weer tussen die vingers vasgeknyp, die rant van die papier natgelek sodat hy lekker kan plak en sy zol gerook. Ek onthou nou nog die twakreuk aan ’n mens se hande as jy vir oom Raaitjie klaar gegroet het.

Tanna het ons met ’n gepunte mond gesoen en jy kon ’n effense snorretjie aan jou lippe voel kielie, maar dit was net te min om regtig te pla. Tan Tak van die buurplaas was ’n ander storie. Haar snor het vir jou goed gekielie, en ons het dikwels gaan wegkruip as dit tyd raak om vir Tan Tak te moet groet ná ’n kuier.

My grootste vrees was egter Tan Mart en oom Jurie. Daar bestaan mos ’n persepsie dat mense wat lank getroud is, na mekaar begin lyk. Tan Mart en oom Jurie het nie net na mekaar begin lyk nie. Hulle stemme het ook byna dieselfde histeriese toonhoogte gehad. Oom Jurie, met sy hare wat netjies ge-Brylcreem is, kam in die kous, het sedig gegroet, maar Tan Mart kon inlê met sulke sappige soene wat enige klein seuntjie die horriepiep sal gee.

Dit was ’n aardigheid om die klomp op ’n Sondag by die kerk op Stoffberg bymekaar te sien. Dit was ’n bladpompery en natlekkery van ’n ander wêreld voordat die diens kon begin. Heilsame hartlikheid, iets wat ’n gemeenskap ten spyte van verskille bind, maar dit het sy risiko’s.

Daarom het ek later jare toe ek as volwassene uiteindelik vir myself mag besluit het wie om te soen en met wie ek wil bladskud, opgehou daarmee. Ek hou meestal by ’n vinnige drukkie of net ’n hallo sonder aanraking.

Die heimwee het my nogtans oorval toe pres. Cyril Ramaphosa, ministers en ander hogeres mekaar met die elmboog groet. Dit het dit vir my gelyk soos die aand toe ons ’n Oujaarsaandpartytjie in die skuur op die plaas gehou het. Iemand het die chicken-song gespeel en almal, oom Raaitjie, Tanna, Tan Mart, Tan Tak, oom Jurie, oupa Jaap en ouma Ellen, my pa en ma en ons ses kinders het ingespring en soos lawwe goed ons elmboë rondgeswaai soos fladderende hoendervlerke.

Daar is genoeg studies om te bewys dat aanraking ’n allerbelangrike element van die mens se bestaan is. Dit is die eerste sintuig wat ontwikkel ná geboorte en dit is iets waaraan ons lewenslank ’n behoefte het sodat ons emosioneel staande kan bly. Daarom sal baie kraamsusters moeite doen om te sorg ’n pasgebore baba kom so gou moontlik in aanraking met die ma se vel.

Daardie drang na aanraking word eintlik al voor ’n mens se geboorte gevestig. Só skryf Elisabeth Eybers in haar gedig “Omhelsing”: Mens moet gekoppel word om saam te swewe / geknel tot uitbundige enklaaf / gepars soos druiwe om mekaar te laaf / die klein dood ondergaan om te mag lewe.

En Sheila Cussons skryf in haar gedig “Hande”: want hande enig onder die skepsels / is werktuie van ’n ander soort / vir ’n siel van ’n ander soort / onsterflik, gefolterd, gees.

Daarom bid ek dat ons gou weer mekaar se handbeentjies kan kraak en mekaar sopnat kan soen, want so ’n gehoenderdansery gaan ons velhonger laat.

  • Izak du Plessis is ’n vryskutjoernalis.
Meer oor:  Izak Du Plessis  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.