Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Ses voël-verskrikkers, ’n empaaier en die Grensoorlog

Die optrede van “ses voëlverskrikkers” wat die magtige Britse Ryk meer as ’n eeu gelede binnegeval het, mag vandag vir ons verwaand klink. Maar in ’n tyd van opstande, rebellies en oorloë het Louis Bothma nie net een van die geskiedenis se vermiste skakels gekry nie, maar ook merkwaardige ooreenkomste met Swapo se stryd teen Suid-Afrika, berig Gert van der Westhuizen.

Die Ferreira-invallers en ’n paar makkers voor die tronk in Upington in November 1906. Die man tweede van links is waarskynlik Renier Potgieter. Frederik Venter is die man vierde van links met die baard en die kruisie op die arm. Langs Venter in die voorste ry staan John Hendrik Ferreira, Hendrik Jooste (met die hand in die sak) en Pieter Fischer wat wydsbeen staan. Frans Retief is waarskynlik is die man met die wit hemp regs van Fischer. Foto: Kalahari-Oranje Museum

Stel jou dit voor. Ses man, vyf te perd en een te voet, val op ’n bewolkte woestyndag in November 1906 die Kaapkolonie vanuit die voormalige Duitswes in: John Hendrik Ferreira (drie weke voor sy 21ste verjaardag), Pieter Fischer (30), Ferreira se halfbroer, Renier Johannes Cornelius Potgieter (19), Frans Retief (22), Hendrik Jooste (32) en Pieter van Dyk (19).

Ses man wat nie net teen die magtige empaaier opruk nie, maar ook te doen kry met die genadelose elemente wat mense in versengende hitte waansinnig van die dors laat perdebloed drink. Tog het dié jonge veterane van destydse oorloë Gordonia tien dae lank op hol gehad, skryf Bothma in Vat jou goed en trek Ferreira.

Hulle kommandeer onder meer ’n klompie (meestal onwillige) manskappe op totdat die invallers in die omgewing van 20 man tel, slag skape teen ’n boer se sin, beroof die poskar en buit drie silwer horlosies, twee ringe, 75 pond kontant en ’n pak klere en raak later betrokke in skietgevegte by Abeam en Koras, waarin ’n polisieman en twee lede van die Ferreira-kommando sterf.

The Diamond Fields Advertiser het hulle as niks anders nie as moordenaars beskryf en verontwaardig in ’n hoofartikel uitgeroep: “Just think of it. He [Ferreira] has actually had the impudence to invade the British Empire with an army of six scarecrows.”

Van die belhamels is in ’n hofsaak, waar die staat 88 getuies teen hulle gebruik het, ter dood veroordeel. Hulle is later begenadig, en Ferreira en Fischer het agt jaar later aan die Rebellie van 1914 deelgeneem.

‘Vermiste, weglaatbare’ geskiedenis

Die polisiekantoor in Upington aan die begin van die 20ste eeu. Die Ferreiras is ná hul mislukte inval in die Kaapkolonie in 1906 in Upington aangehou en verhoor. Foto: Kalahari-Oranje Museum

Die geskiedenis het sedertdien grootliks ’n sluier oor die Ferreira-rebelle getrek behalwe vir ’n paragraaf of drie hier en daar en ’n tydskrifartikel of twee. Nou het Bothma – wat veral bekend is vir die topverkoper, Die buffel struikel en ander boeke oor die Grensoorlog – hulle aan die vergetelheid ontruk.

Hy bring hul inval in verband met ander opstande, invalle en oorloë soos onder meer die berugte Jameson-inval, die opstande van die Namas, Herero’s en Bondelswarts in wat vandag Namibië is, asook die Langberg-rebellie, Bambata-rebellie en eindig met die verhaal van twee jong neo-Nazi’s in die jare 90 wat vergeefs met ’n motor vol gesteelde wapens (en ’n swastika-vlag) van die polisie in die Kalahari probeer vlug het.

Min het ek besef ek gaan ’n leeftyd besig wees om die geskiedenis anders aan mekaar te sit.

Nes in byna al Bothma se ander boeke speel Namibië ’n belangrike rol in Vat jou goed en trek Ferreira.

“Ek dink dit kan herlei word na my betrokkenheid by die Grensoorlog,” sê Bothma, wat ook ’n doktorsgraad in ekonomie het.

“Spesifiek die feit dat ek as ’n jong dienspligtige ná so ses maande se opleiding baie krities geraak het. Ek het agtergekom iets baie vreemds is aan die gang met hierdie oorlog wat ek nie verstaan nie. Min het ek besef ek gaan ’n leeftyd besig wees om die geskiedenis anders aan mekaar te sit en buite die grense te dink van die Totale Aanslag en die Rooi Gevaar en die Swart Gevaar, wat destyds vir ons afgebaken is.”

Daarom soek Bothma voortdurend na die “vermiste” geskiedenis; dít wat historici voorheen as onbelangrik en “weglaatbaar” beskou het. Die Ferreira-inval is ’n perfekte voorbeeld van dié soort geskiedenis. Historici het dit nooit as baie belangrik beskou nie, maar vir Bothma vorm dit ’n skakel tussen die Anglo-Boereoorlog en die Rebellie (of Boere-opstand) van 1914. Dit wys dat die Rebellie van 1914 ’n aanloop gehad het, sê Bothma.

‘Daar is net een geskiedenis’

Woes en afgeleë is woorde wat by ’n mens opkom wanneer jy na die Abeam-omgewing kyk. Foto: Louis Bothma

Hy hou ook daarvan om te kyk na wie voorheen die morele gesagsposisie in die suidelike deel van Afrika beklee het. Dit is volgens hom ’n posisie wat aan almal behoort het wat teen Britse onderdrukking in opstand gekom het.

“Al die rebellies en opstande van daai tyd moet eintlik onder een sambreel bespreek word.”

Die Boere moes byvoorbeeld met die Langberg-rebellie van 1897 gesien het dat die Britte genadeloos sal optree teen enigiemand wat hul gesag uitdaag. Dit was nie net in die Anglo-Boereoorlog die geval nie, maar ook met die Matabeles se opstande in wat vandag Zimbabwe is, die Zoeloes se Bambata-rebellie en opstande teen Duitse kolonialisasie in Namibië.

Daar is vir my net een geskiedenis.

“Maar dit word mos nou beskou as swart mense se geskiedenis en die Anglo-Boereoorlog is nou weer wit mense se geskiedenis . . . Dit is absolute bog. Daar is vir my net een geskiedenis en dit gaan vir my oor opstande en rebellies teen koloniale gesag. Dit hoort onder een sambreel.”

Die kwessie van die morele gesagsposisie kom ook by die Grensoorlog ter sprake.

“Ons het in die eerste plek daar [in Namibië] op aandrang van Brittanje ingefoeter en hulle het ons gesien as kolonialiseerders en derhalwe het hulle [Swapo] die morele gesagsposisie bekleë.”

Nes Swapo

Die omgewing by Abeam waar die Ferreira-invallers in 1906 doenig was. Foto: Louis Bothma

Dit is nie waar die ooreenkomste met Swapo ophou nie, sê Bothma.

“Was die Ferreiras werklik oneindig arrogant soos The Diamond Fields Advertiser beweer het? Hulle was min, hulle het nie ’n oorvloed wapens en ander hulpbronne gehad nie, maar hulle het geglo hulle doen iets om Afrikaners se vryheid te herstel.

“Kom ek vat jou terug na die begin van die Owambo’s se gewapende stryd in 1966 toe daai klein groepie Suidwes deur die Caprivi binnegekom het. Hulle is by Ongulumbashe vasgetrap en vinnig is ’n paar doodgeskiet en die res van die groep is gevang. Die hele ding is gou-gou daar onderdruk.

Die Ferreira-invallers is eenvoudig as moordenaars en misdadigers afgemaak.

“Hulle was gewapen met ’n paar pistole, ’n paar submasjiengeweertjies en dan was daar een van hulle wat met ’n pyl en boog op ’n helikopter geskiet het. Toe is daar ook gespot en gesê: ‘Jislaaik, hoe onnosel of arrogant moet jy nou wees om die Suid-Afrikaanse Weermag uit te daag met ’n pyl en boog?’

“In die verhoor van die Swapo’s wat by Ongulumbashe gevang is, het hulle vir die regter gesê: ‘Maar luister, ons beskou onsself as Namibiërs, maar julle kom van Suid-Afrika af en verhoor ons. Ons eie mense noem ons patriotte of ten minste rebelle, maar julle sê ons is terroriste.’

“Die Ferreira-invallers is deur ’n Engelssprekende regter en jurie verhoor en hulle is eenvoudig as moordenaars en misdadigers afgemaak,” sê Bothma.

Die put op Abeam waar die Ferreiras water gekry het. Later is ’n windpomp oor die put opgerig, maar vandag is dit in onbruik. Foto: Louis Bothma

“Swapo se stryd kon eers agt jaar ná Ongulumbashe vlamvat toe die Portugese uit Angola padgegee het. Toe kon hulle nuwe fronte oopmaak en het die oorlog eers werklik begin.

“Agt jaar ná die Ferreira-inval het die oorlog tussen Duitsland en Brittanje uitgebreek en kon die Boere die wapen opneem en probeer om hul vryheid terug te kry. Hoewel die opstand onderdruk is, het die Afrikaners jare later deur die konstitusionele weg van die Britse oorheersing ontslae geraak.

“Dit het die Owambo’s net so lank gevat. Ons het Suidwes-Afrika in 1914 binnegeval en in 1917 toe die Owambo’s in opstand kom, hul koning gaan doodmaak. Jare later ná die Bosoorlog van 23 jaar was hulle uiteindelik vry,” sê Bothma.

Swapo is ook maar gesien as ’n klompie kansvatters en voëlverskrikkers wat met ’n pyl en boog op ’n chopper gaan skiet het.

“Maar ons kyk nou na Swapo as die vyand en noem hulle kommuniste en terroriste. Ons leer niks uit daardie geskiedenis nie en ons eie geskiedenis ken ons glad nie. Ons is heeltemal blind en kan nie die parallelle trek tussen hul stryd en ons eie stryd nie.

“So, daar is jou antwoord oor die ses voëlverskrikkers. Swapo is ook maar gesien as ’n klompie kansvatters en voëlverskrikkers wat met ’n pyl en boog op ’n chopper gaan skiet het.

“Ons sal werklikwaar moet begin om heeltemal anders na ons geskiedenis te kyk.”

* Vat jou goed en trek Ferreira kos R340 en kan by Bothma by bothmalj@mweb.co.za bestel word.

Meer oor:  Swapo  |  Namibië  |  Opstande  |  Grensoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.