Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Siek’ Navo uitgebuit

Navo is ‘breindood’, het pres. Emmanuel Macron onlangs in ’n onderhoud gesê. Leopold Scholtz ontleed die oorlewingskrisis in dié bondgenootskap.

’n F-15 vegvliegtuig van die Amerikaanse lugmag in ’n Navo-gevegsoefening in Junie vanjaar in Engeland.

Dit was moontlik die hardste en mees ondiplomatiese woorde wat enige regeringshoof van ’n belangrike Navo-lidland ooit in sy geskiedenis gebesig het: “Navo is breindood.” Dit het tot ’n behoorlike gefladder in die hoenderhok gelei, wat waarskynlik die doel was.

Dié woorde is uitgespreek deur pres. Emmanuel Macron van Frankryk, ’n man wat in elk geval bekend is daarvoor dat hy dinge op die naam noem. Maar selfs met dit in ag genome het die woorde menige waarnemer na sy asem laat snak.

In ’n onderhoud met die Londense nuustydskrif The Economist het Macron verwys na pres. Donald Trump se onwilligheid om hom, soos vorige Amerikaanse presidente, onvoorwaardelik tot Navo te verbind.

Die wêreld het die laaste vyf jaar drasties verander, het hy gesê, en voortgegaan:

“Om onsself oor Brexit moeg te maak, dat Europa dit so moeilik vind om voorwaarts te beweeg, dat ons ’n Amerikaanse bondgenoot het wat ons so vinnig die rug toekeer oor strategiese sake; niemand sou dit geglo het nie . . . Ons het vir die eerste keer te make met ’n Amerikaanse president wat nie ons idee van die Europese projek deel nie . . .

“Wat ons tans ervaar, is die breindood van Navo. Jy het geen koördinasie hoegenaamd van strategiese besluitvorming tussen Amerika en sy Navo-bondgenote nie. Niks.”

Trump bekyk die wêreld soos ’n sakeman: Hoeveel geld steek ek in ’n projek, en hoeveel wins maak ek daaruit?

Die verslaggewer wat die onderhoud gevoer het, het vervolgens aan Macron gevra of art. 5 van die Navo-handves (’n aanval op één is outomaties ’n aanval op álmal) nog funksioneer.

Macron se antwoord: “Ek weet nie. Maar wat sal art. 5 môre beteken?”

Macron se harde taal is uit talle oorde gekritiseer.

Die Duitse minister van verdediging, Annegret Kramp-Karrenbauer, het erken dat veiligheidsdebatte “geen gewildheidskompetisies wen nie”, maar dat Navo steeds ’n “invloedryke hoeksteen” is.

Die invloedryke The Wall Street Journal se oordeel was dat Navo “sieklik” is, maar glad nie breindood nie.

En Jonathan Eyal, ’n gerespekteerde Britse kommentator oor veiligheidstrategie, het die vrees uitgespreek dat Trump dit sal aangryp om Amerika se betrokkenheid by Navo te bevraagteken.

Navo het inderdaad weens die einde van die Koue Oorlog met ’n bestaanskrisis te make.

Die organisasie is in 1949 gestig as ’n Westerse militêre bondgenootskap om die groeiende uitdaging van Josef Stalin se Sowjetunie die hoof te bied. Dit was op ’n tydstip dat Stalin sy verstikkende greep op die Sentraal- en Oos-Europese lande wat hy in 1944-’45 van Nazi-Duitsland verower het, verstewig het. Die Weste kon ternouernood daarin slaag om Wes-Berlyn te voed terwyl Stalin alle toegangspaaie daarheen afgesny het.

Solank as wat die ideologiese en militêre konfrontasie met die Sowjetunie bestaan het, solank as wat die Kremlin ’n eksistensiële bedreiging vir die vrye Weste ingehou het, was Navo die skans waaragter die Westerse demokrasieë geskuil het. Dit het gewerk, want die Sowjets het dit uiteindelik nooit gewaag om die grens weswaarts oor te steek nie.

Maar die Warschau-pakt, Navo se kommunistiese eweknie, het een groot strukturele nadeel gehad. Agter sy onbetwisbare militêre krag was daar ’n verrotte, vemolmde politiek-ekonomiese stelsel wat geen legitimiteit onder die bevolkings gehad het nie. Dít is die een groot les van die geskiedenis – geen stelsel wat slégs op dwang gegrond is, kan uiteindelik standhou nie.

Dus het die Sowjetunie se heerskappy in 1989 met die val van die Berlynse Muur verkrummel. Binne enkele weke was al die besette lande agter die Ystergordyn vry, die Warschau-pakt het verdwyn, en die Sowjetunie het in sy 15 deelrepublieke uiteengeval.

Dit was ’n oorwinning sonder weerga in die wêreldgeskiedenis. Dit was des te merkwaardiger omdat haas geen druppel bloed gevloei het nie.

In die jare hierna het ’n ingrypende geopolitieke herskikking in Europa gevolg. Byna al die gewese Sowjet-satellietstate, en selfs drie vrygeworde republieke wat van die Sowjetunie weggebreek het (Estland, Letland en Litaue) het by Navo en die Europese Unie aangesluit.

Maar in dié ongelooflike oorwinning het die kiem van die huidige krisis gelê. Was daar nog ’n bestaansrede vir Navo in die afwesigheid van sy doodsvyand?

Sedertdien het Rusland, die sterkste oorblyfsel van die ou Sowjetunie, opnuut ’n bedreiging geword. Die uiteindelike doel van pres. Wladimir Poetin, ’n skaakspeler met ’n oog vir ’n gaping, is om die Sowjetunie te herstel as dit moontlik is, of om Rusland op die allerminste tot die status van supermoondheid te herstel.

Vandaar sy brute anneksasie van die Krim en sy rol om die burgeroorlog in Oos-Oekraïne aan die gang te hou. Vandaar die manier waarop hy sy elmboë gebruik om Rusland se rol in Sirië, die Midde-Ooste en Afrika te vergroot.

In die afwesigheid van ’n sterk en vasbeslote Navo kry Poetin baie van die beweegruimte wat hy nodig het. Ná die Koue Oorlog het Navo-lande toegelaat dat hul verdedigingsbegrotings dramaties agteruithol, met die gevolg dat die bondgenootskap tans vele male swakker is as voor 1989.

Poetin se sterker optrede het daartoe gelei dat Navo op sy spitsberaad van 2015 besluit het om die verdedigingsuitgawes skerp te verhoog. Maar elkeen wat iets van begrotings weet, begryp dat dit ’n paar jaar duur, en selfs dán is daar lande (Duitsland is ’n voorbeeld) wat steeds hul voete sleep.

Dis teen dié agtergrond dat Amerika ’n nuwe president met ’n totaal onortodokse kyk op die wêreld gekry het. Trump bekyk die wêreld soos ’n sakeman: Hoeveel geld steek ek in ’n projek, en hoeveel wins maak ek daaruit?

Onmeetbare begrippe soos veiligheid, betroubaarheid en geloofwaardigheid maak vir hom nie regtig saak nie. En dus hamer hy wat Navo betref slegs daarop dat sy bondgenote meer aan hul veiligheid moet bestee as hulle steeds Amerikaanse beskerming wil geniet.

Hy het beslis ’n punt beet, maar in die proses wek hy twyfel oor sy verbintenis tot Navo as sodanig. Hy het hom al herhaaldelik op maniere uitgelaat wat onsekerheid laat oor die vraag of hy art. 5 van die Navo-handves sal eerbiedig as dit puntjie by paaltjie kom.

Bowendien maak sy sagte aanpak van Poetin – heel anders as van bevriende staatsmanne en -vroue – dat geen bondgenoot nog weet of hulle in ’n krisis op hom kan staatmaak nie.

Daar is voorts ’n ander oplaaiende krisis. Die Navo-lidland Turkye, wat ’n sleutelrol in die Midde-Ooste speel, is besig om van die bondgenootskap weg te dryf.

Die land se aggressie in die noorde van Sirië en sy besluit om wapentuig van Rusland te koop, eerder as van Amerika, wek kommer.

Dit is iets wat selfs Trump kwalik sal kan oplos.

Hoe ook al, Navo maak ’n moeilike tyd in sy bestaan deur. Op kort termyn sal hy oorleef. Maar sal hy oor vyf of tien jaar nog bestaan?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.