Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sirië: Dinge kan gou buite beheer raak

As daar een konflik tans is wat die potensiaal het om tot ’n wêreldoorlog te ontwikkel, is dit die een in Sirië. Leopold Scholtz tuur in sy kristalbal.

Die konflik in Sirië het die potensiaal om in ’n burgeroorlog te ontaard. Foto: Reuters

Die oorlog in Sirië is een wat mense góéd moet dophou.

Dis nie meer bloot ’n burgeroorlog tussen die diktator, pres. Basjar al-Assad, en uiteenlopende rebellegroepe nie. Dit ontwikkel vinnig in ’n internasionale konflik, een wat – as die politici nie versigtig is nie – in beginsel selfs min of meer tot ’n wêreldoorlog kan eskaleer.

Obama het Assad gewaarsku dat die gebruik van gifgas teen sy eie mense ’n “rooi lyn” sou wees wat nie ongestraf gelaat sou word nie.

Die konflik het as deel van die sogenaamde Arabiese Lente in 2011 begin toe mense Assad, ’n wrede diktator, tot ’n val wou bring en deur iets anders vervang. Oor die “iets anders” het die opstandelinge dramaties verskil: Sommige wou ’n soort liberale veelpartydemokrasie hê; ander wou ’n Islamitiese teokrasie vestig (en alle skakerings tussenin).

Die Koerde het hul eie doel gehad: Die stigting van ’n vrye Koerdiese republiek. Amerika, onder die leiding van pres. Barack Obama, was die eerste buitelandse moondheid wat hom in die konflik ingemeng het, sy dit taamlik halfhartig. Obama was besig met ’n (soos dit genoem is) strategiese skarnierbeweging weg van Europa en die Midde-Ooste na die Stille Oseaan en Asië om China hok te slaan, en wou nie by nóg ’n Midde-Oosterse oorlog betrokke raak nie.

Maar al wou hy die Midde-Ooste se stof van sy voete afskud, wou dié hom nie laat gaan nie. Obama het Assad gewaarsku dat die gebruik van gifgas teen sy eie mense ’n “rooi lyn” sou wees wat nie ongestraf gelaat sou word nie.

Pres. Basjar al-Assad van Sirië se land is feitlik in puin gelê deur ’n verwoestende konflik wat al sedert 2011 duur. Foto: AP

Maar Assad het sy middelvinger vir Amerika gewys en wel gifgas gebruik. Obama het nie gereageer nie. Dit was, om dit sag te stel, nie een van Obama se beste oomblikke nie, want hy het soos ’n lafaard gelyk.

Obama se op sigself begryplike aarseling het egter ’n magsvakuum geskep. En die politiek, net soos die natuur, haat ’n vakuum.

Dus het Rusland, Iran, Israel en Turkye, elkeen op sy eie manier en met sy eie agenda, in die vakuum begin inbeweeg.

Die strategiese visie wat Trump tydens die presidentsverkiesing verkondig het, was dikwels teenstrydig en verwarrend, maar die een konstante idee was dat Amerika moes ophou om by konflikte elders ter wêreld betrokke te wees.

’n Ekstra komplikasie was die opkoms van die Islamitiese terreurbeweging Isis, wat ’n sogenaamde kalifaat oor die grens in noordoos-Sirië en noord-Irak gestig het. Kort voor lank was Amerika kniediep militêr in die stryd teen Isis betrokke, asook in Sirië as Irak.

Toe neem pres. Donald Trump by Obama oor. Die strategiese visie wat Trump tydens die presidentsverkiesing verkondig het, was dikwels teenstrydig en verwarrend, maar die een konstante idee was dat Amerika moes ophou om by konflikte elders ter wêreld betrokke te wees.

Maar die Siriese konflik wou hom, nes Obama, nie los nie. Die noodsaak om Isis te verslaan, het daartoe gelei dat Trump aansienlik meer militêre middele na die Midde-Ooste moes stuur, met die gevolg dat die Isis-kalifaat nou taamlik naby aan sy einde is.

Nóg ’n gifgas-aanval

En dus het Trump twee weke gelede aangekondig dat die Amerikaanse troepe “gou” aan Sirië en Irak onttrek sou word, sodat ander die taak kan oorneem.

Maar vergeefs. Met dié aankondiging het Trump in presies dieselfde slaggat as Obama getrap, naamlik om vooraf ’n onttrekking bekend te maak, met die gevolg dat sy opponente moed kon skep.

En dus het Assad dit verlede week opgevolg met nóg ’n gifgas-aanval.

Pres Donald Trump van Amerika het in dieselfde Siriese slaggat as sy voorganger, Barack Obama, getrap. Foto: AP

Voordat dié draad verder gevat word, moet ons eers ’n ander draad optel en die twee dan verbind.

Waar sowel Obama as Trump die Amerikaanse militêre betrokkenheid in Sirië beperk het tot die stryd teen Isis (hulle wou nie aan dieselfde kant as Assad veg nie), het press. Wladimir Poetin en Hassan Rouhani van onderskeidelik Rusland en Iran nie sulke gewetensbesware gehad nie. Hulle het openlik aan Assad se kant tot die stryd toegetree.

Poetin se oorkoepelende doel is om Rusland se status as supermoondheid te herstel, en in dié geval wou hy sy land se invloed in die Midde-Ooste deurslaggewend maak. Tot dusver het hy uitstekend daarin geslaag, sy dit ten koste van duisende menselewens.

Iran se doel is iets heel anders.

As leidende Sjiïtiese staat wou Iran sy geloofsgenote help, en terselfdertyd sy invloed in die Midde-Ooste vergroot.

Die aanvanklike Siriese burgeroorlog het blitsvinnig gedegenereer tot ’n godsdiensoorlog tussen die twee grootste Islamitiese stromings, die Soenniete en die Sjiïete. Assad is lid van die Alawitiese sekte, verwant aan die Sjiïete, terwyl die rebelle Soenniete was.

As leidende Sjiïtiese staat wou Iran sy geloofsgenote help, en terselfdertyd sy invloed in die Midde-Ooste vergroot.

’n Derde moondheid wat later toegetree het, was Turkye. Pres. Reçep Tayyip Erdogan se oorkoepelende doel is om ’n Koerdiese staat in Sirië en Irak te voorkom, uit vrees dat dit die Turkse Koerde se separatisme kan aanhelp. Dus het hy die Koerde teenaan die Turks-Siriese grens aangeval.

Dat hy daarmee sy Soennitiese geloofsgenote in Sirië in die rug gesteek het, kon hom nie skeel nie.

Lugaanvalle en missielaanvalle

Nog ’n moondheid wat tans al hoe meer ingetrek word, is Israel. Dié land het ’n paar weke gelede ’n verwoestende reeks lugaanvalle op Siriese teikens gedoen, en dit in die naweek met missielaanvalle opgevolg – laasgenoemde blykbaar in reaksie op die onlangse Siriese gebruik van gifgas teen opponente van Assad.

Israel het twee motiewe. Die een is om Hizbolla, ’n Libanese (Sjiïtiese) beweging wat in die verlede al vir heelparty terreuraanvalle teen die Israeli’s betrokke was, hok te slaan; die ander teen Iran, wat hy as ’n eksistensiële bedreiging en dus as sy doodsvyand beskou.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland het openlik aan die kant van pres. pres. Basjar al-Assad tot die konflik in Sirië toegetree. Foto: Getty Images

Die jongste missielaanval wys dat die Israeli’s bereid is om op eie houtjie, sonder koördinasie met die Amerikaners, op te tree. Wat die kans groter maak dat hulle ook op eie houtjie teen Iran sal optree as hulle dit nodig ag.

Die probleem is dat Israel weliswaar in staat is om Iran hard te slaan, maar dit is nie genoeg om dié land se kerninstallasies heeltemal uit te skakel nie. Slegs die Amerikaners het daardie vermoë.

Die tekens is oorweldigend dat Trump die internasionale ooreenkoms, waarvolgens Iran die ontwikkeling van sy kernwapens stopsit, gaan verbreek omdat hy meen dis vol leemtes. As sy nuwe nasionale veiligheidsraadgewer, die kwasterige vuurvreter John Bolton, sy sin kry, sal Amerikaanse bomwerpers sommer binnekort aanvalle op Iranse teikens uitvoer.

Só ’n oorlog sal nie, soos die Eerste en Tweede Wêreldoorlog, basies tussen twee kampe gevoer word nie. ’n Mens kan minstens vyf of ses partye identifiseer wat mekaar kan aanvat.

Só kan gesien word hoe ’n klomp elemente bymekaar kom. Hoe ’n “eenvoudige” burgeroorlog tussen Assad en uiteenlopende rebellegroepe geëskaleer het tot ’n yslike internasionale konflik waar almal teen almal slaags kan raak.

Só ’n oorlog sal nie, soos die Eerste en Tweede Wêreldoorlog, basies tussen twee kampe gevoer word nie. ’n Mens kan minstens vyf of ses partye identifiseer wat mekaar kan aanvat.

In sulke omstandighede kan sake binne ’n ommesientjie volledig buite beheer raak. En dan is enigiets moontlik.

Dus, nogmaals: Hou die Siriese burgeroorlog goed dop. En wees dankbaar, baie dankbaar, dat Suid-Afrika ver weg is.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon.

Meer oor:  Donald Trump  |  Barack Obama  |  Wladimir Poetin  |  Sirië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.