Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sirkel van armoede as tieners ma word

Suid-Afrika se grootste krisis, en een wat ons weier om in die oë te kyk, is ons hoë bevolkingsaanwas, skryf Jeanette de Klerk-Luttig.

In sy internasionale topverkoper 12 Rules for Life: An Antidote to Chaos, skryf die Kanadese sielkundeprofessor Jordan Peterson: “It is our responsibility to see what is before our eyes, courageously, and to learn from it, even if it seems horrible.”

As ons niks doen aan die chaos nie, kan dit ons vernietig, skryf hy. “Why avoid, when avoidance necessarily and inevitably poisons the future?”

Sy woorde het my hard getref, want die kwessie wat ons vermy – en wat onafwendbaar ons toekoms vergiftig – is ons byna onbeheerbare bevolkingsgroei. Dit plaas al ons hulpbronne onder geweldige druk, maar word nie raakgesien, erken, gekonfronteer en openlik aangepak nie.

Daar is tans 57,5 miljoen mense in Suid-Afrika en teen 2050 sal daar ’n geskatte 72,7 miljoen van ons wees met ’n stedelike bevolking van tot 54,5 miljoen.

Daar is talle redes vir hierdie onbeheerste bevolkingsgroei, maar kom ons begin by die buitengewone hoë persentasie tienermeisies wat swanger raak.

Tot 28% van 19-jarige meisies in die land is reeds ma’s van een of meer kinders en ’n derde van dié geboortes is van meisies wat nog nie laerskool voltooi het nie. Vir tienermeisies het dit so algemeen geword om kinders te kry, dat daar in ’n seker streek in die Noord-Kaap met meisies gespot word dat hulle “ ’n baarmoeder van sement het” as hulle nie ’n baba of twee het teen die tyd dat hulle 16 is nie.

Tot 28% van 19-jarige meisies in die land is reeds ma’s.

’n Ervare onderwyseres op ’n klein plattelandse dorpie vertel onlangs ontsteld dat seks die leerlinge se sport geword het, dat tien matriekmeisies in hul skool reeds hierdie jaar swanger geraak het en dat een van die belangrikste oorsake van die tienerswangerskappe die staat se kindertoelaes is. As onderwyseres weet sy dat “geleerdheid ’n vrou se baarmoeder laat krimp”. Die opmerking is in ooreenstemming met wat in Thailand en Suid-Korea gebeur, waar kwaliteit onderwys aan meisies die geboortesyfers laat daal het. Ook in Nigerië laat elke jaar van skoolbywoning die geboortesyfer met ’n tiende krimp.

Hierdie kinders wat kinders kry val dikwels vas in ’n kringloop van armoede, want die belangrikste faktor wat aanleiding gee tot armoede onder jong mense in ons land is die vlak van onderwys wat hulle bereik het. Dikwels word die opvoeding van tieners en kinders se kinders aan oumas en onderwysers oorgelaat.

Watter kans het die baba van ’n tienerma wat gedurende haar swangerskap dwelms gebruik en wat die baba, soms saam met ander kinders, op ’n kindertoelae moet grootmaak? Wat bly oor van die staatstoelae van R410 per kind per maand indien ’n deel daarvan aan die pa (of meer korrek, die saadskenker) afgestaan moet word?

Watter kans het ’n kind met fetale alkoholsindroom wie se toekoms alreeds in die baarmoeder deur drank vernietig is? Waarom is ons verbaas dat meer en meer jong seuns by bendes betrokke is, as die bendes die plek van hul afwesige vaders inneem?

Kinders vra nie om gebore te word nie, maar wanneer hulle daar is, vra hulle dat daar in hul basiese behoeftes voorsien sal word. Hulle het behoefte aan gesonde voeding, aan veiligheid, aan liefde, aanvaarding en ondersteuning, aan agting en respek en aan kennis en sin.

Die harde realiteit is dat daar eenvoudig nie vir al die kinders wat in ons land gebore word, genoeg broeikaste en verpleegsters in ons hospitale, genoeg versorgende oumas of tantes, genoeg klaskamers, handboeke en skoon skooltoilette, genoeg knap onderwysers, skoolsielkundiges, remediërende onderwysers, spraak-, fisio- en arbeidsterapeute, genoeg sportgeriewe en genoeg emosionele versorging is nie.

Talle kinders in ons land kry nie eens genoeg gesonde kos en skoon water nie. Navorsing toon dat die fisieke en intellektuele ontwikkeling van 27% kinders onder vyf jaar gestriem word deur chroniese wanvoeding.

Daar word ook nie genoeg skole gebou nie, net 23% van kinders voel veilig in ons skole en daar is tans ’n tekort van meer as 30 000 gekwalifiseerde onderwysers. Daarby is die kwaliteit onderrig in ongeveer 75% van ons skole so swak dat dit ’n hindernis tot ekonomiese ontwikkeling en maatskaplike mobiliteit is.

Ons laat ons kinders in die steek. Die gevolge hiervan is dat daar te veel arm, werklose jongmense met min of geen vaardighede of kennis desperaat en
honger op straathoeke staan en hoop vir werk.

Tog is daar ’n paar dinge wat die regering onmiddellik kan doen om die probleem aan te pak. Die belangrikste hiervan is dat ma’s slegs vir ’n maksimum van twee kinders kindertoelaes van die staat kan ontvang.

Kindertoelaes kan nie verval nie, want dan gaan nog meer kinders honger slaap, maar dit kan deels vervang word met koepons wat aan behoeftige ma’s gegee word, waarmee kos en klere vir hul kinders gekoop kan word.

Gehalteonderrig aan alle kinders in Suid-Afrika behoort saam met ekonomiese groei die belangrikste nasionale doelstellings te wees. Raak ontslae van hopelose onderwysers wat jaar in en jaar uit droogmaak.

Suid-Afrikaanse jongmense moet weer glo dat kennis en kwalifikasies deure vir hulle kan oopmaak tot ’n beter toekoms.

Ouerskap-opleiding behoort in skole gegee te word, sodat leerlinge die verantwoordelikhede en implikasies van ouerskap kan besef.

Finansiële ondersteuning van die staat in die vorm van kindertoelaes wat nie gepaard gaan met gehalteonderrig, ekonomiese groei en werkskepping nie, is tegelyk ’n bodemlose put en ’n tikkende tydbom.

  • Ons het nie baie tyd om die chaos reg te ruk en te probeer orde skep nie. “Why avoid, when avoidance necessarily and inevitably poisons the future?” Dr. Jeanette de Klerk-Luttig is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se kantoor vir morele leierskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.