Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sittings oor grond: Waarheen is ons op pad?

Met openbare sittings oor die moontlike wysiging van die Grondwet om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak in volle swang, is daar steeds meer vrae as antwoorde oor die proses en die gevolge daarvan, skryf Theo de Jager.

Openbare sittings oor grondonteiening sonder vergoeding, soos dié een in Mokopane, lok heelwat belangstelling. Foto: Marietie Louw-Carstens

Die meer as 700 000 skriftelike insette wat ingedien is en duisende mense wat in die verhore ’n spreekbeurt kry, laat die vraag ontstaan of die konstitusionele hersieningskomitee die kapasiteit het om dit deur te lees en te verwerk, kriteria te ontwikkel en toe te pas, om aan elke inset ’n gewig toe te ken en ’n formule te skep waarvolgens dit teen mekaar opgeweeg kan word.

Of dra ’n gefrustreerde, ongeskoolde en werklose jeugdige wat hoop dat onteiening sonder vergoeding hom ’n dak oor sy kop sal besorg, se inset dieselfde gewig as die pleidooi van die Bankeraad van Suid-Afrika wat vrees dat die vernietiging van kollaterale waarde die bankstelsel in duie kan laat stort?

Wat opval uit die sittings, is dat ’n groot meerderheid deelnemers ten gunste van onteiening sonder vergoeding betoog.

Is dit ’n getallespel, waar hulle gaan tel hoeveel daarvoor en daarteen was? Dis tog waaroor die uitbarsting tussen Mosiuoa Lekota (leier van Cope) en Julius Malema (leier van die EFF) in Marble Hall gegaan het toe Lekota by die eerste openbare sitting opgemerk het dat skares EFF-simpatiseerders aangery word en vir spreekbeurte opgestel word.

Wat opval uit die sittings, is dat ’n groot meerderheid deelnemers ten gunste van onteiening sonder vergoeding betoog. Dis hulle wat met geweld dreig, en dié wat teenoorgestelde standpunte huldig, uitjou en doodskree, en nie andersom nie.

So het die Land and Accountability Research Centre van die Universiteit Van Kaapstad uit dieselfde sitting in Marble Hall op 27 Junie getwiet dat die skare ’n wit landbouer se inset “verwerp” het, asof die skare ’n rol in die bepaling van die geldigheid van ’n bydrae te speel het.

Ekonomie is reeds geskaad

Dit is nie al wat grondeienaars, beleggers en die sakesektor bekommerd maak nie.

Die ANC het by sy 54ste kongres in Desember 2017 ’n mosie aanvaar dat die Grondwet gewysig moet word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Mosiuoa Lekota, leier van Cope, het met Julius Malema, EFF-leier, gebots by die openbare sitting oor grondonteiening sonder vergoeding in Marble Hall. Foto: Deaan Vivier

Die parlement het die proses afgeskop om die wenslikheid en haalbaarheid daarvan te ondersoek. Pres. Cyril Ramaphosa sê in elke toespraak dat dit gedoen gaan word, en provinsiale strukture van die ANC besluit om dit te doen sonder om vir die uitkoms van die openbare konsultasieproses te wag.

Op watter gronde sou enige belegger glo dat dit nie sal gebeur nie?

Die troosklousule in die ANC se mosie, dat dit só gedoen moet word dat dit die ekonomie nie skaad nie, is ’n hersenskim.

Dit het reeds die ekonomie geskaad.

Wie belê in die onsekerheid dat jou belegging nie dalk eersdaags sonder vergoeding onteien sal word nie?

Die rou rassistiese toon en aggressie uit baie van hierdie insette is ontstellend.

Ek bedryf ’n klein vrugteboomkwekery op my plaas en die drie grootste bestellings is gekanselleer. Niemand plant ’n boom as jy nie seker is jy sal óf kan oes óf jou uitgawes in ’n gedwonge transaksie terugkry nie.

Die inhoud van die insette by die openbare sittings spreek boekdele. Diegene wat teen ’n grondwetwysiging gekant is, kom byna altyd vorendag met die argument dat Suid-Afrika se ekonomie vermink gaan word.

Van die ander kant is daar nog geen deursigtige plan hoe dieselfde gevolge wat Zimbabwe kruppel gelaat het, vermy sal word nie.

Insette ten gunste van ’n grondwetwysiging herhaal byna deurlopend dieselfde koortjie dat hulle arm, haweloos, werkloos en sonder hoop is, asof onteiening sonder vergoeding ’n towerstaf is wat hulle uit die modder gaan optrek.

Die rou rassistiese toon en aggressie uit baie van hierdie insette is ontstellend. Breedweg kry ’n mens die indruk dat dit vir hulle belangriker is om bates uit wit hande te kry, as om dit in swart hande oor te dra.

Waarom het grondhervorming misluk?

Wat nié by die verhore gesê word nie, is egter nog veelseggender!

Die Grondwet maak reeds voorsiening vir billike en regverdige (“just and equitable”) vergoeding by onteiening. Dít is wat die ANC geskrap wil hê.

Waar ook al ek met boere, landboubesighede en finansierders in die buiteland praat, word daar gevra wat die ANC se morele argument is om op ’n “onbillike en onregverdige” basis te wil onteien?

Die massas armes wat vertel hoe hopeloos hul situasie is, het tot dusver nie gesê hoé onteiening sonder vergoeding hulle gaan help om ’n werk, ’n huis en ’n inkomste te kry nie.

Julius Malema, leier van die EFF, aan die woord op die sitting van die grondwetlike hersieningskommissie in Marble Hall. Foto: Christiaan de Plessis

Dié wat kom vertel hoe apartheidswette hulle van grond ontneem het, sê nog nie waarom die restitusieproses, wat spesiaal daarvoor ontwikkel is, en waarin daar al genoeg geld gespandeer is om byna die helfte van alle plase te koop wat met skuld belas is, nie aan hul behoeftes voldoen het nie.

Niemand uit daardie kamp praat oor die omvangryke korrupsie, wanadministrasie, nepotisme en onvermoë in die departement van landelike ontwikkeling en grondsake, wat die hoëvlakpaneel van oudpres. Kgalema Motlanthe as die werklike oorsaak van ons mislukte grondhervorming uitgewys het, en waarvoor die vrywillige verkoperbeginsel nou geblameer word nie.

Die georganiseerde landbou is egter ewe skuldig aan die onsekerheid in die openbare debat. Die dag voordat die parlement op 27 Februarie 2018 besluit het om openbare verhore oor onteiening sonder vergoeding van stapel te stuur, het Graan SA se Jannie de Villiers in Kroonstad boere opnuut gepaai dat die ANC en EFF saam nooit genoeg stemme sal kan monster om die Grondwet te wysig nie.

Grondhervorming kan nie onbepaald misluk nie. Armoede en werkloosheid in die platteland kan nie net erger word nie.

Hy het hulle verseker dat die poging in die hof beveg sal word (asof dit ongrondwetlik is om die Grondwet te wysig), en dat Agri SA se regsverteenwoordigers reeds met R4,5 miljoen vir so ’n saak gereed staan.

Pietman Roos, hoof van korporatiewe sake en kommunikasie by Agri SA, skryf op 11 Junie vanjaar op Huffington Post dat beleggings in landbou ondanks die onteieningsdebat toeneem, en sy artikel is aangehaal deur verskeie instansies wat ten gunste van onteiening sonder vergoeding getuig het.

As die idee is om grondeienaars, en veral boere, gerus te stel dat die Grondwet nie gewysig gaan word nie, en dat Suid Afrika ná die openbare konsultasieproses sal terugkeer na die gewone manier van sake doen, speel die landbou-organisasies met vuur.

Hoe om grondhervorming te laat werk

Grondhervorming kan nie onbepaald misluk nie. Armoede en werkloosheid in die platteland kan nie net erger word nie.

Iets gaan meegee, en die boere gaan die grootste rekening daarvoor kry.

Theo de Jager

Ons het baie by Zimbabwe te leer.

Miskien is die belangrikste vraag wat veral die landbougemeenskap by die verhore nog onbeantwoord laat, die een oor die alternatief vir onteiening sonder vergoeding.

Noudat dit lyk asof daar uiteindelik onder Agri SA se affiliate konsensus is oor die noodsaak om ’n plan te maak om grondhervorming te laat werk, en selfs om die vennootskapmodel van die Nasionale Ontwikkelingsplan te ondersteun, moet daar skouer aan die wiel gesit word.

Die enigste manier om die ANC se halfgebakte beleid van 2017 oor onteiening sonder vergoeding die nek in te slaan, is om aan te toon dat dit die inwerkingstelling van sy eenparige beleid van 2012 ten opsigte van die Nasionale Ontwikkelingsplan onmoontlik maak.

Dan moet ons genoeg stukrag daaragter uit die private sektor monster.

* Dr. Theo de Jager is president van die Wêreldorganisasie vir Boere en al jare lank betrokke by grondhervorming.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.