Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Sjarmante boef’ op pad om nuwe Britse premier te word

Die wedloop om Theresa May as premier van Brittanje op te volg het die pylvak bereik. Twee name is in die hoed: Boris Johnson en Jeremy Hunt. Leopold Scholtz ontleed dié twee se kanse en wat die toekoms vir die wenner kan inhou.

Voorspellings in die politiek is gevaarlik. Tog lyk dit na ’n uitgemaakte saak dat die flambojante Boris Johnson die volgende Britse premier gaan wees.

Net kortliks die agtergrond: In 2016 het die destydse premier David Cameron die toenemende verdeeldheid in die Tories oor Brittanje se lidmaatskap van die Europese Unie (EU) probeer besweer deur ’n volkstemming oor die saak te hou. Tot almal se verbasing was die uitslag ’n naelskraapse meerderheid vir uittrede.

Cameron het toe bedank en is opgevolg deur Theresa May wat onmiddellik ’n algemene verkiesing uitgeskryf het in die hoop om haar posisie te verstewig. Dit het lelik geboemerang, want die Tories het hul meerderheid verloor en word sedertdien deur die hulp van die Ulster-Unioniste in die saal gehou.

In dié verswakte posisie moes May met die EU oor ’n afskeid gaan onderhandel. ’n Ooreenkoms is ná taai onderhandelings bereik, maar omdat dit ’n kompromis was, is dit op die verbete teenstand van die harde Brexit-voorstanders gestuit.

Uiteindelik het May handdoek ingegooi en bedank.

Die proses werk nou só: Die lede van die party se koukus het in die laerhuis ’n reeks stemmings gehou om vir die persoon van hul keuse te stem. By elke stemming het diegene met die minste stemme afgeval, totdat daar nou net twee oor is: Johnson en Jeremy Hunt, die huidige minister van buitelandse sake.

Kragtens die interne reëls van die Konserwatiewe Party word dié twee name nou voorgelê aan die 160 000 ingeskrewe lede van die party, wat in die komende weke kan stem. Die finale uitslag sal op 22 Julie, net voor die somerreses van die parlement, bekend gemaak word.

Wie ook al leier van die Tories word, word outomaties ook premier.

’n Sjarmante boef

Brittanje se volgende premier? Boris Johnson is die gunsteling om Theresa May op te volg. Foto: AP

Wie is Johnson en Hunt? En wat behels die verskille tussen hulle?

Die hoofkwessie in die Britse politiek, een wat byna alle ander sake opslurp, is Brexit. Dit is ook die verskil tussen die twee kandidate.

Johnson sê hy is nie noodwendig vir ’n Brexit sónder ooreenkoms met Brussel nie; as premier wil hy opnuut met die EU onderhandel om ’n beter ooreenkoms te beding. Hy het in die referendumveldtog van 2016 propaganda vír Brexit gemaak.

Hunt, weer, was in 2016 téén Brexit. Hy sien weliswaar in dat die koeël deur die kerk is, maar wil tot elke prys ’n Brexit sonder ooreenkoms voorkom, iets wat hy as rampspoedig sien. Hy sou liefs die ooreenkoms wat May met Brussel bereik het, deurvoer.

Ofskoon die twee albei Tories is, is die persoonlike verskille gróót.

Johnson is – kom ons stel dit reguit – ’n buitengewoon sjarmante boef, ’n gewetenlose leuenaar met ’n innemende, onnutsige en seunsagtige glimlag wat mense se harte maklik kan laat smelt. Dis moeilik om nie van hom te hou nie.

Boris Johnson (links) en Jeremy Hunt (regs) by ’n onlangse BBC-televisiedebat. Foto: Reuters

Johnson het sy loopbaan as Brusselse korrespondent van die Londense koerant The Times begin, ’n pos wat hy deur familie-konneksies gekry het. Sy loopbaan is egter gekenmerk deurdat hy verskeie “onthullings” – nogal op die voorblad – eenvoudig uit sy duim gesuig het.

Hy het byvoorbeeld ’n berig geskryf oor die “ontdekking” van koning Edward II se “Rose Palace”, wat hy uit die lug gepluk het – en dit opgevolg met ’n berig dat die misterie oor die saak verdiep het. Hy het in alle erns berig dat die EU die vorm van Britse piesangs wou bepaal en dat die EU amptenare aangestel het om te verseker dat beesmis oor die hele Europa dieselfde ruik.

Wat Brexit betref, het Johnson sy seile ook na die wind gespan. Voor die referendum het hy twee artikels geskryf, een vír en een téén Brexit, en gewag tot hy sien hoe die wind waai – en toe die een vír Brexit gepubliseer.

Jare later het hy laggend aan die BBC gesê: “Ek het dié klippe oor die tuinmuur gegooi en geluister na die verbasende gebars van die kweekhuis langsaan in Engeland soos alles wat ek uit Brussel geskryf het, ’n verstommende, plofbare uitwerking op die Tory-party gehad het. Dit het my regtig, dink ek, ’n taamlik vreemde gevoel van mag gegee.”

Die Konserwatiewe politikus Chris Patten het later gesê Johnson “was een van die grootste eksponente van fop-joernalistiek”. The Times het Johnson in die pad gesteek, maar met sy aansteeklike glimlag het hy binne weke ’n pos by The Daily Telegraph gekry.

Maar dit het nie by die joernalistiek gebly nie. In die referendumveldtog het Johnson met ’n groot dubbeldekker-bus getoer waarop die boodskap was dat Brittanje se EU-lidmaatskap £350 miljoen per week kos, iets wat later as ’n volstrekte leuen ontbloot is.

Wat Brexit betref, het Johnson sy seile ook na die wind gespan. Voor die referendum het hy twee artikels geskryf, een vír en een téén Brexit, en gewag tot hy sien hoe die wind waai – en toe die een vír Brexit gepubliseer.

Maar sy sjarmante karakter maak dat baie mense geneig is om Johnson alles te vergewe.

Hunt het nie veel van ’n kans

Jeremy Hunt is ’n hardwerkende politikus wat ’n veel groter sukses van die portefeulje van buitelandse sake gemaak het as sy voorganger, Boris Johnson. Foto: Getty Images

Jeremy Hunt, daarenteen, het verreweg nie Johnson se charisma nie. Hy is ’n ernstige, hardwerkende man wat sy werk gewetensvol verrig. As minister van buitelandse sake is hy ’n veel groter sukses as Johnson, sy voorganger in dié portefeulje.

Maar die 160 000 lede van die Konserwatiewe Party is oorweldigend manlik, wit, ouer as 55 jaar en taamlik ryk. Peilings wys dat hulle in groot meerderheid ten gunste van Brexit, desnoods sonder ooreenkoms, is.

En die man wat hulle teen dié agtergrond die meeste vertrou, is Johnson, en nie die – na hul mening – ideologies lou Hunt nie.

Die kans dat Hunt die pyp rook, is gevolglik baie naby aan nul.

Maar selfs ’n Boris Johnson aan die roer van sake beteken nie dat die probleme opgelos is nie; die werklikheid waarteen May haar kop stukkend gestamp het, verander nie. Die besluiteloosheid van die parlement sal waarskynlik voortduur, en uit Brussel is dit duidelik dat die 27 oorblywende EU-lidlande nie daarvan droom om opnuut oor Brexit te onderhandel nie.

Brexit is deesdae die belangrikste faktor in die Britse politiek. Foto: AP

’n Paar scenario’s is moontlik. Die Tories (en dalk ook die Arbeiders) kan skeur, wat premier Johnson sal dwing om óf ’n tweede referendum óf ’n algemene verkiesing uit te skryf. Gegrond op peilings, sal sowel Nigel Farage se Brexit-Party en die EU-gesinde Liberaal-Demokrate groot winste maak.

Die kans bestaan dus dat Johnson se premierskap maar kort kan duur.

Die een saak wat bo alle twyfel vasstaan, is egter dat álles vloeibaar is.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Konserwatiewe Party  |  Boris Johnson  |  Theresa May  |  Jeremy Hunt  |  Leierskapstryd  |  Fopnuus  |  Brittanje  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.