Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Skande!’ of ‘Siestog’
Waarom dink SA so vlak oor die reg?
Ná die val. Foto’s: AP en Reuters

Wat sê die kritiek op die Oscar-saak oor Suid-Afrikaners se begrip van ons regstelsel, wonder Charl du Plessis.

Regter Thokozile Masipa is dalk die enigste persoon in die hele wêreld tot dusver wat, soos die reg vereis, albei kante van die Oscar Pistorius-sage oorweeg het.

In die eindelose gesprekke wat ek met mense tydens die verhoor gehad het, het ek nooit enigiemand teëgekom wat ’n weldeurdagte of genuanseerde benadering tot die saak gehad het nie.

Vir die slag-hom-af-brigade was dit altyd duidelik dat niks minder as 135 jaar in die tronk reg sou wees nie. Vir hulle kon Oscar netsowel tereggestaan het omdat hy wit was en ’n prokureur gehad het.

Aan die ander kant was daar die Pistorius-apologete, altyd gereed om die hele ding te sien as ’n verskriklike misverstand. Hulle sien net die beste in Oscar en die slegste in Reeva Steenkamp se familie. Die meeste van hulle sou teësinnig erken dat Pistorius soort van gevonnis moet word, miskien een maand onder huisarres by die herehuis van oom Arnold, met tien minute per dag waarin hy hasies saam met kinders vertroetel. (Vir die doel van dié argument laat ek liefs die klein, geestelik onstabiele groepie hondsdol Pistoriane buite rekening vir wie die enigste sinvolle uitspraak een van onskuldig sou gewees het, tesame met ’n kruiperige apologie van adv. Gerrie Nel – verkieslik op televisie met ’n nar se pruik op sy kop.)

Regters kan nooit objektiewe outomate wees wat nie hul eie agtergrond na die tafel bring nie.

Dat niks hiervan verander het nie was duidelik nadat Masipa Pistorius Woensdag tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis het.

Die stortvloed van venyn en ongelukkigheid was verstommend. Dit van dieselfde mense wat blykbaar vergeet het hoe vol lof hulle was toe hoofregter
Mogoeng Mogoeng politici vermaan het wat substantiewe kritiek op hofuitsprake lewer.

Miskien die mees verbysterende aspek van die kritiek die afgelope week was die oorvloed van die mees arbitrêre vergelykings met vonnisse in heeltemal verskillende sake. Kritiek op vonnisse het ’n nasionale sport geword.

Natuurlik beteken dit nie dat teenstrydige vonnisse bo kritiek verhewe is nie.

Trouens, die Regshervormingskommissie het in 2000 sulke openbare kritiek erken. Die kommissie het uiteindelik ’n omvattende hervorming van die vonnisopleggingstelsel aanbeveel – in samewerking met die regbank, die uitvoerende gesag en die wetgewer. Maar wie weet wat die uitvoerende en wetgewende gesag deesdae doen. Miskien verf hulle hul naels?

Die afgelope week het my ook herinner aan ’n onderhoud voor die Regterlike Dienstekommissie met ’n kandidaat (wie se naam my nou ontgaan) vir die pos van regter in die konstitusionele hof. Die kandidaat het gepraat oor hoe moeilik dit is om regters se diskresie met vonnisoplegging aan die publiek te verduidelik.

As ek reg onthou, het hy die publiek se verwagtinge vergelyk met ’n muntoutomaat. Die publiek verwag dat as jy ’n muntstuk (aanklag) in die outomaat druk, die produk (vonnis) altyd dieselfde moet wees. Die werklikheid is egter meer troebel. Menslike gedrag pas selde in netjiese boksies en dis onmoontlik vir regters om bloot lysies af te merk. Dit is waarom regters swaar leun op hul eie diskresie met vonnisoplegging.

In die Malgas-saak – van groot belang wanneer dit kom by minimum vonnisse – praat die hof juis oor die “eensame en veeleisende” taak van vonnisoplegging. “Vir diegene wat daardie verantwoordelikheid namens die samelewing uitvoer, is dit ’n monsteragtige taak om ’n statutêr bepaalde vonnis op te lê wat onder bepaalde omstandighede duidelik onregverdig is.”

So, daar lê die knoop. As jy ooit die beskuldigde is in ’n strafregtelike saak (en ’n half ordentlike prokureur het, wat die meeste beskuldigdes in strafsake nooit het nie), sal jy mal wees oor die diskresie wat ’n regter het om jou spesifieke omstandighede te oorweeg.

Maar as jy vuur en swael op die kop van iemand anders neerbid, kan jy bekostig om hierdie diskresie te kritiseer deur uit te wys dat dit teenstrydig is met die grondwetlike beginsel van gelykheid voor die reg.

As Masipa egter albei kante van die Pistorius-verhaal in ag neem, is dit omdat die wet dit van haar vereis.

So, het ek saamgestem met die vonnis? Nee, ek het gedink dit is heeltemal te lig.

My lees daarvan is dat die regter nie voldoende oorweging geskenk het aan die feit dat die wetgewer moord uitgesonder het vir ’n besonder swaar straf ingevolge die Wet op Minimum Vonnisse nie. Dit moet in gedagte gehou word wanneer ’n regter afwyk van ’n minimum vonnis.

Ek dink een van die elemente in die sogenaamde driemanskap in vonnisoplegging is verkeerd verstaan: Masipa het openbare belangstelling in die verhoor verwar met die openbare belang in die straf van misdadigers in ’n doeltreffende regstelsel.

Dink ek Pistorius is ’n bevoorregte lae lak wat in die tronk hoort? Ja, ek dink so. Regtig.

Maar dit beteken nie dat ek regter Masipa veroordeel nie.

Miskien, en hier spekuleer ek, het ’n persoon wat die verlammende uitwerking van polio as ’n kind te bowe gekom het, iets herken in die stryd van iemand wat albei sy bene verloor het – iets waarvan ek niks weet nie.

Kom ons kyk wat die handboek oor strafreg (dié van J.J. Joubert) oor vonnisoplegging sê: “In dié proses speel die persoonlikheid van die vonnisopleggingsbeampte ’n belangrike rol.”

Regters kan nooit objektiewe outomate wees wat nie hul eie agtergrond na die tafel bring nie.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet erken dit wanneer dit aandring op ’n breë verteenwoordigende regbank. ’n Swart vroulike regter wat op die Oos-Kaapse platteland grootgeword het, ’n blinde Indiese regter van Durban en ’n wit man van Sandton bring almal iets unieks na die tafel.

Opbouende kritiek op die vele en beduidende tekortkominge van ons regstelsel, insluitend die voorkeurbehandeling wat polities, struktureel en finansieel bevoorregtes kry, moet altyd die voor- en middelpunt van ons regstelsel wees.

Maar wat gevolg het op Masipa se uitspraak was grootliks nie dít nie. Dit was eerder laster en demonisering, skynbaar gegrond op die feit dat Pistorius “aangekla” moes gewees het van die tekortkominge van die regstelsel.

Om die waarheid te sê het die Oscar-saak my meer geleer oor die benadering van die Suid-Afrikaanse publiek tot die reg as oor ons regstelsel self.

Die publiek, in die algemeen, besluit of ’n beskuldigde “een van hulle is”, meestal op grond van hul ras. Op grond van dié kwalifikasie is die absolute vernietiging van die beskuldigde, bo alle hoop op redding, in orde – of absolute vryspraak. En hierby sluit ek myself in.

In ons oë het geregtigheid niks te doen met die uitbreiding van almal se grondwetlike regte teenoor die algehele misbruik van die wet soos onder apartheid gebeur het nie. Nee, grondwetlike regte bly steeds slegs van toepassing op diegene wat ons as “waardig” ag vir sulke regte.

  • Dit het my net laat besef hoe ver ons steeds van die standaard is soos in die vooruitsig gestel deur ’n voormalige hoofregter in die dae toe alles in hierdie land nog moontlik gelyk het: “Dit is slegs as daar ’n bereidwilligheid is om die ergste en die swakste onder ons te beskerm, dat ons almal veilig kan voel dat ons eie regte beskerm sal word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.