Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Skep ruimte(s) vir groei
Foto ter illustrasie: istock

Om ons jeug vir die tegnologiese era en sogenaamde vierde nywerheidsrevolusie voor te berei verg nie noodwendig rekenaars of tablette nie, skryf Johann Burger. Deel van die oplossing lê in iets so eenvoudig soos die kreatiewe aanwending van ruimtes by skole.

Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs gewaarsku dat die werkplek soos dit nou daar uitsien besig is om heeltemal te verander en dat ons jeug beter vir die sogenaamde vierde nywerheidsrevolusie voorberei moet word.

Dit is verblydend dat sy toekomsgerigte denke meer mense betrek in die opregte soeke na innoverende en volhoubare oplossings om die tegnologiese en ander uitdagings wat ons land en die onderwys in die gesig staar die hoof te bied.

Die groot vraag is egter of ons onderwysstelsel die kapasiteit het om te vernuwe terwyl dit geïmplementeer word.

Wat in gedagte gehou moet word, is dat onderwysers moeg is vir die aanhoudende kurrikulumveranderings waaraan hulle sedert die aanvanklike implementering van uitkomsgebaseerde onderwys gewoond moes raak.

Om ons jeug en dus ons land beter vir die toekoms voor te berei sal die samewerking tussen beide die openbare sowel as privaat sektore moet verbeter om na innoverende en kreatiewe oplossings vir ons probleme te soek.

Geen plek vir middelmatigheid

Oplossings hoef egter nie ver gesoek te word nie, want in die meeste gevalle kan dit voor die hand liggend wees. Die denkfout wat baie mense maak, is om te glo dat rekenaars, tablette of ander elektroniese apparate op skole moet neerreën om ons jeug vir die tegnologiese era voor te berei.

Al lei die president se waarskuwing tot angstigheid en ’n gevoel van dringendheid met die oog op hoe om ons leerlinge in ’n relatiewe kort tydjie doeltreffend vir die tegnologiese era voor te berei, mag skole nie net wag totdat Ramaphosa se “toekomsvisie” alles mooi in plek val nie.

Elke skoolhoof behoort te besef dat die status quo van middelmatigheid tot die verlede behoort en dat hulle ernstig en kreatief moet kyk hoe hul opvoeders se metodiek by hul leerlinge se veranderende behoeftes en leerstyle aangepas het.

Verder moet skoolhoofde toesien dat hul leerlinge toegerus word om vir hulself, hul families en gemeenskappe in die toekoms te kan sorg.

Die jaarlikse “goeie” matriekuitslae gaan ook nie die land se werkloosheid verminder nie, aangesien die skoolverlaters nie oor die nodige vaardighede beskik wat die arbeidsmark verlang nie.

Hul onvermoë om op kognitiewe vlak te presteer word deur talle internasionale toetse hartseer uitgelig. Wat hierdie toetse wys, is dat ons leerlinge nie net internasionaal nie, maar binne die Afrika-konteks uiters swak presteer.

Die onlangse TIMSS-verslag dui daarop dat ons land se toppresteerders (in openbare én privaat skole) se beste prestasies maar gelykstaande aan die swakste prestasies van leerlinge in Singapoer is.

Ruimtelike praktyke

Maar hoe gaan ons hierdie kommerwekkende situasie omkeer? Die antwoord lê moontlik daarin om weer na die aanwending van ruimtes in ons skole te kyk.

Alle leer- en onderrigprosesse vind binne spesifieke ruimtes plaas. Dit kan byvoorbeeld onder ’n boom, in ’n tuin, binne ’n klaskamer of in ’n rekenaarlaboratorium plaasvind.

Die enigste beperking hier is die opvoeder se verbeelding en kennisvaardighede. Die kwaliteit van onderrig wat in hierdie ruimtes plaasvind, word eerstens bepaal deur die ingesteldheid, voorbereiding en passie wat die opvoeder vir sy professie het, en die “gevoel” wat hy of sy vir die leerlinge het.

Tweedens is dit die opvoeder se ruimtelike praktyke wat tot die skepping van inspirerende en kreatiewe leerruimtes of leeromgewings lei. Sulke leerruimtes word ’n opvoeder se “ruimtelike bondgenoot” wat nie net met die oordrag van kennis help nie, maar ook ’n belangrike bydrae lewer om leerlinge se gedrag, dissipline en gemoed te verbeter. En dit is ook op hul so­siale én emosionele behoeftes gemik.

Drie dimensies van ruimte

Mense sukkel egter om ruimte te konseptualiseer of om die krag wat daarin opgesluit lê te verstaan of te ontsluit.

Navorsing wat in ’n hospitaal in Leeds, Engeland, gedoen is, dui daarop dat pasiënte wat in ’n nuutgeboude saal opgeneem is, herstel vinniger as pasiënte wat in die ou deel van die hospitaal opgeneem is.

Hulle het ook minder pyn- en ander medikasie gevra en word vroeër as die ander groep uit die hospitaal ontslaan. Beide groepe is deur dieselfde medici behandel.

Navorsing wat in Amerika gedoen is, het getoon dat leerlingpre­stasies in nuutgeboude skole, in vergeleke met ander “ou” skole in dieselfde geografiese gebied, verbeter het. Daar is ook bevind dat vandalisme en misdadige aktiwiteite in nuutgeskepte openbare ruimtes afgeneem het en sosiale samehorigheid verbeter het.

Dit was egter nie net die bou van ’n nuwe hospitaalsaal wat byvoorbeeld gelei het tot die vinniger herstel van pasiënte nie of die bou van ’n nuwe skool wat verbeterde akademiese uitslae tot gevolg gehad het nie.

Die argitekte of skeppers van die ruimtes het die beginsels van die Franse ruimtelike teoretikus Henri Lefebvre verstaan, naamlik dat ruimte uit drie dimensies bestaan: fisieke, voorgestelde en sosiale ruimtes. Wanneer dié drie dimensies met mekaar geïntegreer word, word ’n ruimte geskep wat tot die sintuie spreek.

Transformerende leierskap

Op ’n praktiese vlak kan skoolhoofde verseker dat die fisieke ruimtes in hul skole (soos ingange, paadjies, tuine, parkeergebiede, klaskamers, gange, speel- en sportterreine) skoon, netjies en veilig is en sodoende beweging en dissipline verbeter of versterk.

Die volgende dimensie is die voorgestelde ruimte (mental space), oftewel die klaskamer of leerruimte, wat met kleur, lig, lug, klank, dia­gramme, sketse en vakgerigte inligting “ingekleur” word wat spreek tot leerlinge se verbeelding en denke, in ooreenstemming met die opvoeder se opvoedkundige doelwitte.

Sulke leerruimtes word ruimtes wat leerlinge “intrek” en waarbinne hulle graag wil wees.

Die laaste dimensie is sosiale ruimtes wat tot die leerlinge se emosies en sosiale behoeftes spreek.

Na gelang van die leerlinge se stadia van ontwikkeling kan opvoeders op verskeie maniere aandag aan hul sosiale behoeftes in die klasse gee. So kan hulle byvoorbeeld sekere ruimtes in die klasse oormerk waar sekere leerlinge weg van ander kan sit en ontspan, of net op hul eie kan wees wanneer hulle met hul take klaar is.

Leerlinge se verjaardae en persoonlike inligting kan ook in die klas vertoon word om ’n “omgee-gevoel” te skep.

Om in ander emosionele en sosiale behoeftes te voorsien, kan boomhuise gebou word, ou stormwaterpype verkry word waarin leerlinge kan sit om afgesonderd van die gejaagdheid van ’n pouse te wees, of afgesaagde boomstompe as sitplekke gebruik om as buitelug- sosiale ruimtes te dien.

Dan is daar die sogenaamde “belangrike kuierareas” waar die ouers om ’n braaivleisvuur kan vergader en sosiaal verkeer.

Party skole bou labirinte wat deur beide leerlinge en onderwysers gebruik word om van aggressie of opgekropte frustrasies ontslae te raak, of waarheen hulle boelies stuur om “gerehabilteer” te word.

Om skole dus in plekke te omskep waarbinne leerlinge en opvoeders graag wil wees, wat hul prestasies, gemoed, motivering, verbeelding, gedrag en dissipline verbeter, kan sonder groot uitgawes, tyd of energie geskep word.

Al wat dit verg, is die regte soort leierskap (transformerende leierskap) en produktiewe ruimtelike praktyke aan die kant van die skoolhoofde, wat deur hul invloed en bemagtiging van hul skoolbestuurspanne en skoolbeheerliggame die ondersteuning verkry om hul skoolruimtes in aantreklike én stimulerende nuwe ruimtes te omskep wat daartoe sal bydra dat hul leerlinge gebalanseerd en beter op die toekoms voorbereid sal wees.

Dr. Burger is projekbestuurder van die Transformeer om te Presteer-strategie by die Wes-Kaapse onderwys­departement.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.