Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Skole begin nuwe semester op verkeerde voet

Die langverwagte terugkeer van leerlinge na skole het ongelukkig op die verkeerde voet begin. Michael le Cordeur verduidelik waarom dit vir alle rolspelers noodsaaklik is om as ’n eenheid saam te werk.

’n Kaapstadse matriekleerling Maandag in die gang van sy skool. Foto: Reuters

Dit moes vroeër of later gebeur. Twee ministers van onderwys, een nasionaal en een provinsiaal en boonop van opponerende politieke partye, sou die een of ander tyd met mekaar verskil.

Politieke partye verskil gereeld van mekaar.

Maar om die verskil te voer tot die vlak waar dit só verwarrend is dat skoolhoofde nie weet wie se opdrag hulle moet uitvoer nie, is nie aanvaarbaar nie.

Ondanks my pleidooi vir ’n kultuur van eenheid in onderwysgeledere, het die langverwagte terugkeer van leerlinge op die verkeerde voet begin.

Die nasionale sowel as die Wes-Kaapse minister van onderwys sal agterna terugkyk na die afgelope naweek en besef dat hulle dinge anders kon gedoen het.

Twee ministers, twee boodskappe

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Foto: GCIS

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het herhaaldelik verskoning gevra dat die mediakonferensie van Sondag uitgestel moes word. Dit was buite haar beheer.

Sy was steeds besig met dringende konsultasie met onderwysvakbonde, provinsiale onderwyshoofde, beheerliggaamstrukture, diensverskaffers soos Rand Water, die Assesserings en Moniteringstrust en die Menseregtekomisie.

Agterna is ’n gesamentlike verklaring uitgereik dat matrieks en gr. 7-leerlinge eers op 8 Junie terugkeer plaas van 1 Junie.

Dat die minister alle rolspelers moes raadpleeg, is te verstane. Uiteindelik moet almal die vertroue hê dat alle protokol gevolg is om die veiligheid van leerlinge en onderwysers te verseker. Slegs dan sal ouers hul kinders skool toe stuur. Daarmee kan dus nie fout gevind word nie.

Wat sy anders kon doen, was om vroeër ’n mediaverklaring uit te reik toe die mediakonferensie uitgestel is.

Dit het ’n skuiwergat gelaat vir die Wes-Kaapse minister van onderwys om haar skole opdrag te gee om wel hul deure oop te maak. Toe Motshekga se mediaverklaring net daarna verskyn, was die skade reeds gedoen.

’n Ouer in Kaapstad wys met ’n plakkaat dat hy nie sy seun skool toe gaan stuur nie. Foto: Reuters

In daardie stadium het heelwat ouers reeds hul kinders by koshuise afgelaai. Ander matrieks en ouers het gaan slaap sonder om te weet of hulle die volgende dag moes opstaan vir skool of nie.

Dit is egter ’n ope vraag om dit genoegsame rede was vir Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, om lynreg teen die ooreenkoms van die konsultasieproses en ondermynend teenoor haar nasionale werkgewer op te tree.

Dit is ook onsensitief teenoor armer skole wat nie oor dieselfde hulpbronne beskik nie.

Dit is onaanvaarbaar dat die Wes-Kaap soos ’n onafhanklike republiek êrens op ’n eiland funksioneer.

Op sosiale media het een skoolhoof gesê hulle word behandel soos kinders, ’n ander het genoem dat hulle vasgevang is tussen die debakel van twee ministers wat twee verskillende boodskappe uitstuur. Skoolhoofde ervaar reeds baie spanning en jy sou verwag dat ministers leiding sal gee eerder as om sake verder te bemoeilik deur hulle te dwing om tussen twee leiers te kies.

Dit kon net tot verdeeldheid lei, iets wat die reeds brose eenheid van die Suid-Afrikaanse samelewing beswaarlik kan bekostig.

Kinders van verskeie skole in die Wes-Kaap se ouers het hul kinders tuis gehou.

Dit is onaanvaarbaar dat die Wes-Kaap soos ’n onafhanklike republiek êrens op ’n eiland funksioneer.

80% dalk gereed, maar harde werk wag

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het verlede week by die Hoërskool Kempron Park gaan inloer om te sien of leerlinge kan terugkeer. Die skoolhoof, Francois de Kock, staan agter haar. Foto: Felix Dlangamandla

Hoewel ek aangenaam verras is om te verneem dat 80% van skole gereed is, sal dit steeds ’n grootse poging verg deur onderwysowerhede om die oorblywende skole – veral op die verafgeleë platteland in Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal – gereed te kry voor volgende Maandag.

Motshekga was baie beslis dat skole wat nie gereed is nie, nie sal heropen nie. Dit sluit in ’n deeglike skoonmaakproses, maskers, voldoende sanitasie en seep en water sodat leerlinge hul hande kan was.

Dit moet nou duidelik wees dat vakbonde nie gaan skik vir enigiets minder as volkome nakoming van die kritieke vereistes nie.

Dit was dus as ’n antiklimaks dat die departement van waterwese so ver agter skedule is met die voorsiening van water. Ons hoor steeds van honderde skole waar watertenke nog nie opgedaag het nie.

Dit moet nou duidelik wees dat vakbonde nie gaan skik vir enigiets minder as volkome nakoming van die kritieke vereistes nie. Misluk die onderwysowerhede hierin, kan dit ’n agterdeur oopmaak vir vakbonde om die doelpale weer te verskuif totdat ons by ’n punt van geen omdraai kom.

Komorbiditeite

Dit is gerusstellend dat duidelike riglyne neergelê is vir leerlinge en onderwysers wat aan onderliggende siektes ly, anders sou dit geleenthede vir baie kansvatters geskep het.

Niemand kan net wegbly alvorens daar nie deeglik met die skoolhoof gekonsulteer is nie. ’n Mediese dokter moet sertifiseer dat iemand se siektetoestand hom of haar ongeskik maak vir werk.

In dieselfde asem is beklemtoon dat ouers nie leerlinge uit angs by die huis kan hou nie. Ouers is deur die Grondwet verplig om leerlinge se basiese mensereg tot onderrig te respekteer. Sou ouers besluit om hul kind tuis te onderrig, moet hulle amptelik aansoek doen, want dit is ’n groot verantwoordelikheid.

Sosiale afstande

Leerlinge hou die vereiste afstand van mekaar in dié klaskamer in die Kaap. Foto: Reuters

Omdat die matrieks en gr. 7-leerlinge die hele skool vir hulself gaan hê, behoort sosiale afstande nie ’n probleem te wees nie. Dit verander natuurlik wanneer die ander leerlinge opdaag, maar met ’n bietjie kreatiwiteit is daar oplossings. Matrieks en gr. 9-leerlinge behoort in die hoërskole eerste terug te keer: Matrieks omdat die eksamen hul toegang gee tot tersiêre onderwys en gr. 9-leerlinge omdat hulle ’n fase moet afsluit om toegang te kry tot tegniese kolleges.

By laerskole moet dringend na gr. 1 gekyk word: Hulle moet vaardighede aanleer wat slegs in gr. 1 gedoen kan word. ’n Kind wat nie kan lees, skryf en somme maak nie, sal vir die res van sy skoolloopbaan sukkel.

Ouers het hierdie week begin werk en sewejariges sal beter af wees met voldoende toesig in die skool. Alle leerlinge hoef nie elke dag in die skool te wees nie.

By die Hoërskool Stellenbosch is matrieks slegs twee dae per week op skool. Deur die grade af te wissel, skep dit ruimte vir sosiale afstande en met meer leerlinge wat toegang kry tot die voedselskema sal dit die finansiële druk op die regering (kospakkies) verlig.

Wat van die kurrikulum?

Michael le Cordeur

Dit blyk nou dat die matriekeksamen sal voortgaan in Desember – ook vir die kandidate wat in Mei/Junie moes skryf.

Die vraag bly steeds: Wat van die kurrikulum?

Die herindeling van die skoolrooster plaas enorme druk op skoolhoofde, want dit is ’n baie ingewikkelde kwessie. As klasse verklein word tot 30 leerlinge per klas, moet ander onderwysers noodwendig help.

Die kernoorwegings moet die kurrikulum en beskikbare vaardighede wees.

’n Wiskundeonderwyser in gr. 11 kan help met wiskunde in gr. 2, maar nie met Engels nie. Dit is ’n taak wat net deur die skoolhoof en sy SBS gedoen kan word en ons moet hulle daarmee vertrou.

Wat die ander grade betref, wil ek met prof. Mary Metcalfe van die Universiteit van die Witwatersrand saamstem.

Ons het reeds ’n kwartaal verloor en ons gaan nog dae verloor met kinders wat gaan siek word. Veel eerder as om te probeer om ’n kurrikulum en ’n tydskedule na te jaag, behoort ons die skool te sien as ’n sentrum van hulp en ondersteuning aan leerlinge en gemeenskappe wat geen ander heenkome het om hul vrese en angs te verwerk nie.

Ons moenie leerlinge afrig vir ’n eksamen nie. Ons moet hulle opvoed vir die lewe.

’n Kurrikulum is mensgemaak en ons kan aanpas by die vereistes van die samelewing.

Dit is nou belangriker om leerlinge met vaardighede en kennis toe te rus wat hulle in staat sal stel om korrekte inligting oor te dra aan gemeenskappe en gesinne wat nie toegang het tot elektroniese media nie.

Noudat vlak 3 van die inperking meer verantwoordelikheid vereis van individue om na hul eie gesondheid om te sien, kan so ’n benadering baie lewens red.

Eksamen

Ons behoort 2020 en 2021 as een onderiggeleentheid te sien. Ons moet onderwysers vertrou om leerlinge te onderrig in daardie vaardighede wat uiteindelik van hulle goeie en waardige Suid-Afrikaanse burgers sal maak.

Ons moenie leerlinge afrig vir ’n eksamen nie. Ons moet hulle opvoed vir die lewe. Daarvoor benodig hulle die regte vaardighede; nie eksamens nie.

Ten slotte: Ons is die afgelope paar dae herhaaldelik ingelig dat daar met alle rolspelers beraadslaag is. Almal kan nou ophou om paniek te saai en begin saamwerk as een nasie tot voordeel van al ons kinders en hul toekoms.

* Prof. Le Cordeur was voorheen onderwyser, skoolhoof en kringbestuurder. Hy is hoof van die departement kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit van opvoedkunde. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.