Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Skole: Stelsel beskerm nie presteerders

Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel presteer swak, tog is daar skole wat uitmuntend presteer. Melanie Buys bekyk die redes vir die verskil in prestasie tussen skole.

Lede van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie betoog in Pretoria in 2013. Foto: Gallo Images

Die departement van basiese onderwys se moniteringsverslag vir 2017/2018 is pas bekend gemaak.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, erken Suid-Afrika se skoolstelsel is siek – en 10% van onderwysers skynbaar ook.

’n Onlangse verslag deur die Internasionale Monetêre Fonds belig ook die ellendige toestand van onderwys in die meeste openbare skole in die land. ’n Hoë afwesigheidskoers, min werkure en nog minder vakkennis van opvoeders word uitgelig as hoofoorsake vir die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel se swak prestasie.

Sommige skole presteer wel uitnemend, danksy toegewyde, kundige personeel, wat nie bang is om oortyd te werk nie.

Wat is die redes daarvoor?

Die verskil in leerkultuur

’n Gebrek aan toegang tot skole is lank nie meer ’n probleem in Suid-Afrika nie, maar wel ’n gebrek aan toegang tot skole van gehalte met toegewyde en kundige onderwysers in die klas.

Hierdie verskil in standaarde kan grotendeels toegeskryf word aan die leerkultuur in ’n skool. Leerlinge floreer in skole waar onderwysers kundig, fluks en toegewyd is en dieselfde ywer, verantwoordelikheid en dissipline van hul leerlinge verwag. Die teenpool is skole waar personeel op Vrydae en maandeindes eenvoudig nie opdaag nie, nie voorberei vir lesse nie en weier om opleiding by te woon om hul kennis te verbeter. In hierdie skole besef onderwysers nie hoeveel leerlinge hoopvol vir hul klasse opdaag, of later ook maar by die onderwyser se voorbeeld inval en tuis bly nie.

Afrikaanse skole het ’n tradisie van goeie bestuur, ouerbetrokkenheid en ’n kultuur van uitnemendheid, waarby die meeste leerlinge inval.

Hierdie kultuur is nie slegs by Afrikaanse skole te vind nie. Mbilwi Secondary School en Thengwe Secondary School, twee arm skole in die platteland van Limpopo, is jaar ná jaar toppresteerders in wiskunde en wetenskap. Onderwysers hier is ook trots op hul skool en werk oortyd om goeie uitslae te verseker.

Afwesige onderwysers

Angie Motshekga, minister van basiese opvoeding. Foto: Argief

Volgens Motshekga is dit aanvaarbaar dat 10% van die land se 41 000 onderwysers daagliks afwesig is, omdat dit kwansuis in lyn is met internasionale standaarde.

Personeeladministrasiemaatreëls bepaal egter dat ’n onderwyser 1 800 uur per jaar diens aan die skool moet lewer.

’n Gemiddelde skooljaar bestaan uit 200 dae. Onderwysers behoort dus nege uur per dag by die skool te wees; ses uur in die klas en drie uur op die sportveld of besig met voorbereiding en nasienwerk. Onderwysers wat slegs 3,5 uur per dag by die skool is, verbreek hul formele werkvoorwaardes en die onderwysdepartement moet teen sulke onderwysers optree.

’n Opname onder skoolhoofde wat lid is van die Skoleondersteuningsentrum, wys dat afwesigheid van onderwysers in Afrikaanse en onafhanklike skole minder as 2% is. Dié onderwysers doen boonop moeite deur ná skool sport af te rig, buitemuurse bedrywighede te organiseer of ekstra klasse aan te bied.

Bekwame, flukse onderwysers wat deur die staat aangestel is, verdien presies dieselfde salarisse as afwesige onderwysers by onderpresterende openbare skole waar daar geen buitemuurse bedrywighede aangebied word nie.

Dit verskerp die idee dat min gedoen hoef te word om ’n taamlik goeie salaris te verdien.

Gebrekkige vakkennis

Die IMF het in Maart berig dat 5% van leerlinge ’n beter begrip van hul skoolwerk het as 20% van die onderwysers wat hulle moet onderrig. Hierdie syfer staan in skrille kontras met die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers se navorsing in 2017, waarin Afrikaanse wiskunde-onderwysers gemiddeld 98% behaal vir ’n rekordeksamen-vraestel.

Hierdie verskil in standaarde kan grotendeels toegeskryf word aan die deurlopende opleiding van gehalte wat onderwysers vrywillig ondergaan.

Polities-gedrewe vakbonde

Motshekga is traag om die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) die skuld te gee vir onderwysers se onderprestasie.

Onderpresterende, onbevoegde en onwillige onderwysers word deur Sadou beskerm teen dissiplinêre optrede en selfs ontmoedig om opleiding by te woon, ten koste van gehalteonderrig. Die sterk teenwoordigheid van polities-gedrewe vakbonde maak dit moeilik om onderwysers verantwoordbaar te hou.

Gebrekkige leierskap

Motshekga is deels reg om die oorsaak van onderwys van swak gehalte by skoolhoofde se gebrekkige dissipline te soek – die hoof is dikwels gereelder afwesig as sy personeel. Ron Berger, bekende opvoedkundige en skrywer van die boek An Ethic of Excellence, beklemtoon die rol van voorbeeld in die oordra van waardes. “The process of schooling itself imbues values. If we want citizens who value integrity, respect, responsibility, compassion and hard work, we need to build school cultures that model those attributes.”

In gevalle waar hoofde wel teen onbevoegde of lui onderwysers in diens van die staat probeer optree, ervaar hulle hewige teenkanting van Sadou en min ondersteuning vanaf die staat. Gevolglik kom daar in meeste gevalle niks van dissiplinêre optredes nie en oortreders bly dikwels in poste of word heraangestel.

Geskorste oortreders sit boonop jare (met ’n vol salaris) tuis, voordat sake afgehandel word. Slegs as hoofde die mag het om teen afwesige, onwillige of onbevoegde personeel op te tree, kan hulle verantwoordelik gehou word vir hul personeel se power prestasie.

Die oplossing

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum.

Die gehalte van ’n skoolstelsel is net so goed soos die gehalte van sy onderwysers. Hoewel Motshekga erken dat baie onderwysers nie die mas opkom nie, ontbreek werkbare planne om die probleem op te los.

Die oplossing is eenvoudig: Raak ontslae van die dooie hout in die onderwysstelsel, beloon en moedig goeie prestasie aan.

Werf die beste studente om onderwys te studeer en verseker dat hierdie jong onderwysers uitstekende opleiding ontvang.

Slegs onderwysers wat die werk passievol as ’n roeping aanpak, kan die negatiewe spiraal van armoede vir toekomstige geslagte verbreek en Suid-Afrika op ’n wenpad plaas.

* Buys is hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum. Die menings van skrywers is hul eie en voorspel nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Sadou  |  Melanie Buys  |  Angie Motshekga  |  Onderwys  |  Skole  |  Onderwysers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.