Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Skoolgaan is nie vir Boeties nie

Suid-Afrikaanse skole  laat seuns in die steek, skryf Jeanette de Klerk-Luttig.

Ons het al byna so gewoond geraak aan die idee dat daar teen meisies gediskrimineer word dat wanneer die teenoorgestelde gebeur en daar in skole teen seuns gediskrimineer word, dit byna onopgemerk verbygaan.

Die manier waarop onderrig in die meeste van ons skole plaasvind, bevoordeel meisies en benadeel seuns en daaroor word daar weinig gepraat en ongelukkig nog minder gedoen om dit reg te stel.

My seun was baie gelukkig, want toe hy skool toe is het hy in die klas van ’n baie slim gr. 1-onderwyseres beland. Hy het een middag ná skool met groot opgewondenheid vertel dat sy juffrou eintlik ’n “seuns-juffrou” is en toe ek hom vra wat dit beteken, was sy verduideliking: “Juffrou Dalina was in ’n bende saam met seuns toe sy op laerskool was én sy kan vreeslik hard fluit én sy het al in die Himalaja gestap én sy sê seuns kan nie so mooi skryf en plak en inkleur soos meisies nie én sy sê dis als reg, ons hoef ook nie!”

Sy goeie vriend, wat op ’n plaas buite ’n plattelandse dorpie grootgeword het, was nie so gelukkig nie. Hy was ’n baie aktiewe plaasseuntjie wat boom geklim, perd gery en elke dag saam met sy pa geboer het. Hy beland toe in die klas van ’n streng, ouerige onderwyseres wat verwag het dat hulle die hele dag moet stilsit en stilbly. Teen langpouse van die derde dag het hy sy rugsakkie geneem, teruggestap plaas toe en vir sy pa gesê: “Kom, Pa, kom ons boer, want op daai plek gaan hulle van my ’n batteryhoender maak!”

Ongelukkig verander baie skole intelligente, energieke, nuuskierige seuntjies vroeg in hul skoolloopbaan in passiewe batteryhoenders en in die proses word hul kreatiwiteit gesteel en hul akademiese selfvertroue afgebreek.

Skole bied dikwels nie ’n seunsvriendelike leeromgewing wat hulle steun nie.

Internasionaal presteer meisies in die algemeen beter as seuns op skool. Volgens die PIRLS (Progress in International Reading Literature Study)-verslag van 2016 is die verskil in leesvlak tussen seuns en meisies in Suid-Afrika die tweede hoogste van die 50 lande wat aan die studie deelgeneem het.

In gr. 4 is meisies se leesvermoë reeds ’n hele jaar voor dié van gr. 4-seuns en in wiskunde is gr. 5-meisies byna ’n halwe jaar voor seuns. Die gaping is besig om groter te word, want volgens die PIRLS-resultate is ons laerskoolseuns se leesvermoë besig om verder agteruit te gaan, terwyl die meisies s’n effens verbeter.

In 2018 was daar vir elke 100 meisies 80 seuns in matriek, omdat meer seuns uitval langs die pad. Wat prestasie bo 60% betref, het meisies in nege vakke beter presteer as seuns en seuns het in twee vakke, wiskunde en fisiese wetenskap, beter presteer.

Vroue se akademiese voordeel geld alle ouderdomme, rasse, sosio-ekonomiese groepe, provinsies en akademiese instellings. Die vrouevoordeel is ’n wêreldtendens in middel- en hoër-inkomstelande.

Selfs in lande soos Katar, Jordanië en die Verenigde Arabiese Emirate waar daar nie gender-gelykheid is nie, vaar meisies akademies beter as seuns.

Internasionaal is van die redes wat navorsers daarvoor gee onder meer die feit dat meisies in die algemeen beter vaar as seuns wanneer dit by selfbeheer, selfmotivering, betroubaarheid, lokus van kontrole, tydbestuur en uitgestelde beloning kom. Meisies het gewoonlik ’n sterker werketiek as seuns en is dikwels emosioneel meer volwasse as seuns van dieselfde ouderdom.

Michael Gurian, skrywer van The Minds of Boys: Saving Our Sons from Falling Behind in School and Life, beklemtoon dat seuns en meisies se brein verskillend ontwikkel en dat hulle daarom verskillend leer. By meisies ontwikkel die hippokampus, die deel van die brein wat kritiek belangrik is vir verbale geheue, in die algemeen vinniger as by seuns. In die algemeen word groter dele van meisies se brein aan verbale funksies gewy, terwyl ’n groter deel van seuns se brein aan ruimtelike en meganiese funksionering gewy word. Seuns leer gewoonlik beter met beweging en prente as met net woorde. Seuns het ook minder van die kalmerende hormone serotonien en oksitosien wat dit vir hulle moeilik maak om lank stil te sit en wat aanleiding gee tot hul stamp-en-stootgedrag.

Meisies is in die algemeen bedraad om minder impulsief te wees en hulle kan langer stilsit en fokus op hul skoolwerk.

Seuns se brein het ook meer rus nodig en hulle het daarom, meer as meisies, ruspouses nodig tussen verskillende leertake. In die algemeen is seuns meer geneig om op ’n enkele taak te fokus, terwyl meisies makliker met verskillende take gelyk besig kan wees.

Twee derdes van die leerlinge by wie spesifieke leerprobleme gediagnoseer is, is seuns en aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom word by twee keer meer seuns as meisies gediagnoseer.

Seuns word ongelukkig dikwels verkeerdelik gediagnoseer, omdat skole baie keer nie ’n seunsvriendelike leeromgewing bied wat die verskille tussen meisies en seuns se leerstyl en breinontwikkeling verstaan en steun nie.

Die Search-instituut in Amerika het 40 ontwikkelingsbates geïdentifiseer wat die fondament vorm vir kinders se gesonde ontwikkeling. Hoe meer bates daar in ’n kind se lewe is, hoe groter is die kans dat hulle sal floreer, hoe sterker is hul weerstand teen negatiewe druk en hoe makliker kan hulle herstel van teleurstelling.

Die teenoorgestelde geld ook – hoe minder bates, hoe groter die kans op ontsporing. Hul omvattende navorsing toon dat seuns in die algemeen gemiddeld drie tot vier minder ontwikkelingsbates as meisies het, wat hulle meer kwesbaar maak.

Hoe kan ons skole meer seunsvriendelik maak?

  • Om beter te kan leer moet seuns meer kan rondbeweeg. Juffrou Dalina het dit geweet en daarom soms vir ’n rooimier gesê om drie maal om die geelhoutboom of vier keer om die akkerboom te gaan hardloop;
  • Speelterreine is net so belangrik soos klaskamers en kinders leer beter ná pouses. Laerskoolseuns sal beter fokus as daar drie of vier kort pouses is waarin hulle kan rondhardloop en speel;
  • Die meeste seuns in laer grade het nie dieselfde vlak van fyn motoriese ontwikkeling as baie meisies nie en kan nie so netjies skryf en mooi inkleur nie en hulle moet nie daarvoor gepenaliseer word nie;
  • Prente en grafieke, asook enige eksperimentele werk waar probleme met aksiestappe opgelos word, werk goed vir seuns;
  • Seuns hou van werkopdragte wat hulle as sinvol beleef en wat direkte toepassings in hul lewe het;
  • Laat seuns toe om boeke te kies oor onderwerpe waarvan hulle hou;
  • Kleiner klasse met meer geleentheid om te kan redeneer werk beter vir seuns;
  • Navorsing toon dat laerskoolseuns beter presteer wanneer hulle bekwame mansonderwysers het wat hulle onderrig. Die teenwoordigheid van verskillende positiewe mansrolmodelle wat die belangrikheid van skoolwerk beklemtoon, is byna onmisbaar vir seuns;
  • Ouers behoort van jongs af doelbewus te fokus op die ontwikkeling van selfdissipline, verantwoordelikheid en vasbyt by hul seuns, want daarsonder kan geen leerling suksesvol wees nie; en
  • Ongelukkig is die Caps-kurrikulum oorvol met te veel onnodige detail in plaas daarvan om op grondbeginsels te fokus.

Baie meisies memoriseer al die detail en kry dan goeie punte, terwyl seuns dikwels meer op die groter prentjie ingestel is.

Die oorvol laerskoolkurrikulum behoort dringend ingekort te word na die basiese boustene van vakke.

Ons moet applous gee vir dié onderwysers wat begrip het vir die feit dat seuns en meisies verskillend bedraad is en wat dit regkry om, te midde van al die eise van groot klasse en die oorvol Caps-kurrikulum, dag ná dag ’n klas vol uiteenlopende leerlinge met hul uiteenlopende behoeftes en leerstyle te onderrig en hul karakter te bou.

Ons mag egter nie die akademiese gendergaping op skool eenvoudig ignoreer en ons seuns verder in die steek laat nie.

  • Dr. Jeanette de Klerk-Luttig is verbonde aan die kantoor vir morele leierskap aan die Universiteit van Stellenbosch.
Meer oor:  Seuns  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.