Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Affies-hoof: ‘Geen simbool moet ander benadeel nie’

Affies het Juané Slabbert ná ’n geboelie omdat sy ’n Affie-skoolpet gedra het, aangeraai om ’n klag in te dien, sê dr. Pierre Edwards, skoolhoof, aan Liezel de Lange.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool se wapen.

Skole se simbole is deel van die etos en trots. Hoe balanseer ’n mens dit in die lig van die reaksie op die pet?Simbole en drag is ook by Affies ’n belangrike deel van ons etos en trots, maar daar is ’n belangrike voorbehoud: ’n Mens kan nooit hierdie simbole en drag toepas of opeis op ’n wyse wat iemand te na kom of seermaak nie. Die skool het nog nooit en sal nooit enige sodanige tradisie, kultuur of optrede goedkeur nie.

Skole raak gewoonlik nie betrokke waar leerlinge buite skoolverband optree nie, maar julle het ingetree? Die skool was nie direk betrokke nie, maar in dié geval was die leerlinge se optrede in stryd met ons erekode en gedragskode, wat juis respek teenoor andere en veral teenoor vroue vereis. Affies voel geweldig sterk hieroor en het dadelik die saak aangepak, en binne sy wetlike vermoë die sterkste tugstappe gedoen.

Is die seuns se ouers destyds ingelig oor die gebeure? Wat was hul reaksie? Die ouers is tydens die tugproses dadelik en volledig ingelig. Reaksies het gewissel na gelang van die vlak van betrokkenheid van individuele seuns. Almal het in die rekordeksamen hul straf uitgedien.

Hoeveel leerlinge het die skool gestraf en hoe is hulle gestraf? 26 seuns is geïdentifiseer wat op ’n direkte of minder regstreekse manier aan die sosialemedia-gesprek deelgeneem het. Die meerderheid wat op die platform geregistreer was, het nie deelgeneem nie. Omdat die insident buite skoolverband plaasgevind het, kon die skool slegs binne die tugraamwerk van die skool optree. Alle betrokke leerlinge se grondwetlike regte is ook in ag geneem. Die beperkinge is aan mej. Slabbert se vader verduidelik. Affies het ook onvoorwaardelik mondeling en skriftelik verskoning aangebied. Die maksimum skriftelike waarskuwings en gepaardgaande straf is opgelê.

Is die ouers en leerlinge ingelig dat Juané Slabbert se ouers ontevrede was met die uitkoms? Ons het in Augustus 2015 ’n skrywe van mnr. Slabbert ontvang wat sy dank uitspreek oor die skool se optrede en samewerking. Die seuns het hul straf uitgedien en die saak is deur die skool as afgehandel beskou. Die skool het stappe gedoen om soortgelyke gevalle te voorkom. Tien maande later, in Junie 2016, is die skool ingelig via mnr. Slabbert se prokureur dat hulle die saak verder voer. Dit is aan ouers (van die seuns) gekommunikeer.

Hoekom wou die skool nie Slabbert se ouers help om die betrokke seuns op te spoor om regstappe te begin nie?
’n Skool word deur wetgewing verbied om persoonlike inligting van ’n leerling aan derde partye te verskaf. Die reël kan slegs opgehef word deur ’n hofbevel. Die skool het in geen stadium die regsproses belemmer om die leerlinge te beskerm nie.

Sommige seuns het verlede week gesê hulle het gedink die saak is afgehandel. Het hulle nie geweet Slabbert gaan hof toe nie? Alle betrokke leerlinge en hul ouers is volledig en skriftelik ingelig, ook dat verdere regstappe gedoen kon word. Affies aanvaar ook dat dit die dryfveer was vir die enkele seun wat om verskoning gevra het. Die seuns is aangeraai om hul eie regsadvies in te win en dienooreenkomstig te handel.

Suid-Afrika is berug vir hoë vlakke van geweld teen vroue en kinders. Hoekom is die seuns hierna toegespreek oor die gevare van sosiale media, maar nie oor geslagsgelykheid nie? Onafhanklike konsultante is genooi om opleiding te bied oor verskeie belangrike kwessies. Dit sluit in geweld teen vroue, die verantwoordelike gebruik van sosiale media, kuberboelies en sensitiwiteitsopleiding jeens ander kulture en rasse. Dié aspekte is in die Affies-gedragskode vervat, asook in die sosialemedia-beleid wat jare lank al geld. Die beleid word jaarliks hersien. Dit word voorgelê aan en goedgekeur deur die departement van onderwys.

Steun Affies Slabbert se regsoptrede? Die skool kies nie kant nie. Affies steun gelyke regte vir vroue en tree sterk op teen boelies. Ons het begrip vir haar optrede teen die seuns. Die skool het hom uit die staanspoor gedistansieer van hul optrede, en alle moontlike tugstappe binne die skoolkonteks ontplooi. Trouens, mej. Slabbert se vader is deur die skool aangeraai om die saak by die polisie aanhangig te maak; dit is haar goeie reg as sy te na gekom is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.