Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Skoppensboer

Vergeet van al die suurgatte. Boerwees gaan nie oor oor opgee of weggee nie. Dit gaan oor aangee, skryf Dominique Botha.

Die skuur op Doorndraai.

Landbouweekblad se grondberaad in Bela-Bela is ons bestemming. Ons vertrek voor sonop. Ek met die padkaart en Pa met sy katarakte. Ons volg stofpaaie om die Vrystaat se teerweë te omseil wat deesdae soos emmentalkaas lyk.

“Pa, hierdie onteieningbesigheid gaan die ekonomie in duie laat stort. Hoe kan die ANC dit nie insien nie?”

“Ag, my kind, kyk maar hoe het daai vark destyds die meeste wit mense ’n rat voor die oë gedraai.”

“Van wie praat Pa nou?”

“Daai vark, man. Wat was sy naam nou weer?”

Pa haal sy sakdoek uit, gorrel en spoeg in die lap voordat hy dit weer toevou en in sy broeksak druk.

“Verwoerd. Die lae luis. Hoe kan sy naam my ontglip? Jy sal nog sien, jeug is ’n verbygaande bate.”

Pa jaag teen 80 km ’n uur op gruis wat hy ons altyd dood voor die oë gesweer het om nie te doen nie. Tarentale kekkel verwilderd tussen die terpentyngras in die langkampe in.

“Ek het grond onwettig gaan beset. En weet julle wat? Agri SA het my gehelp.”

“Ieder geval, so intelligent soos Verwoerd was, het hy geglo apartheid is bekostigbaar. Nevermind die morele bankrotskap. En wit mense stem 40 jaar lank vir daardie sotterny. Hoe verwag jy dat dit anders moet wees met die swart mense?”

Die platteland vereensaam. Opstalle en werkershuise staan leeg. Plaasskole word deur die regering uitgerangeer. Vir ’n bietjie geleerdheid bly arbeiders se kinders nou alleen in sinkskuilings in die townships, uitgelewer aan tsotsi’s en die elemente.

Champagne Serifi se kleindogter is deur ’n weerligstraal doodgeslaan toe sy uit vrees vir ’n donderstorm die nag ingehardloop het. Ons en die Serifi-familie kom vier geslagte saam. Pa het vir die begrafnis betaal, soos vir talle ander.

Tog is dit volgens my vriendin, die professor by die universiteit, vooruitgang, want die bose kringloop van baasskap word gestuit. Sy het self gehelp om die beleid te skryf. Vol vrome bedoelings – en fantasties onnosel.

Ek tuur by die venster uit.

Plaasnaamborde swenk verby soos kontrei-gedigte gegriffel op die papierdroë lug. Vioolpan. Patrysdraai. Soetdoring.

Die dam op my pa se plaas.

Pa grom. “Eerder Suurgat as Soetdoring. Daai klomp is nog altyd suinig gewees. Hulle knyp elke pennie so hard dat Van Riebeeck se oë traan.”

Pa ken hierdie stuk aarde soos die maan sy wentelbaan. Hy weet wie hy is. Hy is ook die laaste. Dit weet ons almal, hoewel niemand dit sê nie. Sy jongstes boemel deur die wêreld en praat nie eens meer Afrikaans nie. Sy eersgeborene is oorlede. Christiaan die middelkind boer te na aan die dorp en Pa wil hê hy en sy gesin moet wegkom voor hulle seerkry.

Pa waai sy hand afwysend in die rigting van die dorp. Die munisipaliteit steel al die geld wat vir water en ligte ingevorder word. Die rioolwerke is opgeknap vir R40 miljoen, maar het nie ’n enkele dag gewerk nie. Die masjinerie is dadelik gestroop, gesteel en verkoop. Christiaan se plaas is stroomaf en die k*k vloei letterlik in sy dam in.

“Burgemeesterposte word soos pakkies tjips uitgedeel. Jy moet sien hoe lyk die stadsaal waar jy destyds jou klaviereksamens afgelê het. Soos ’n hoenderhok.”

Hy laat sak sy kop. “In haar hele lewe het sy nog nooit op ’n bed geslaap nie. ’n Vrou so oud soos my ma.”

Pa is baie kwaad vir Ace Magashule oor wat hy die model-republiek van die Oranje-Vrystaat van 1850 aangedoen het.

Voor spitsverkeer trek ons reeds verby Johannesburg in die rigting van Bela-Bela, wat kookwater in Noord-Sotho beteken. Seker ’n per abuise ironie dat die boere daar hul bron van hoop moet gaan soek.

Pa se selfoon lui terwyl hy deur die snelweg se bane vleg. Hy sal eerder die bakkie omgooi as om nie sy selfoon te antwoord nie. Die Here behoed ons.

Dis Firi, die swart boetie wat in ons huis grootgeword het. Hy kom ook die Kookwater-beraad bywoon. Maar hy het probleme met sy trekker se ratkas en Pa moet raad gee.

“Luister, my seun, vat die ding na Varkie die mechanic toe en sê vir hom Andries Botha het jou gestuur.

“Sê vir Varkie as hy jou met die prys bedonder gaan hy van my hoor.”

Firi Lekgetha en my broer Christiaan se kinders op die plaas.

Firi se oorlede pa was ’n trekarbeider wat in 1974 vir R10 en ’n half sak meel per maand en 40 sak mielies na die oes op ons plaas ingeval het.

Vandag is Firi die trotse eienaar van ’n lappie grond met min water en ’n aandeel in die dragtige skape wat Roy Culverwell op sy veld laat wei. Sy pa het nooit gesien of kon droom wat sy seun Firi eendag sou vermag nie. Sy oupa wel, voordat sy lyk op die township se ashoop gevind is met sy oë vir moetie uitgesteek.

Firi moes lank wag vir die grond om oorgedra te word, want die hervormingsamptenaar wou eers ’n fooitjie inwin en Firi het nie omkoopgeld gehad om te betaal nie.

Intussen het hy ’n Anatoliese herdershond met ’n bruin lyf en ’n grys gesig gekoop om sy skape op te pas. Haar naam is Prinses. Firi sê sy is leliker as die duiwel. Prinses is blykbaar ’n rassis en hou nie van wit mense nie. Snags waag Firi dit nie uit die huis uit nie, want dan grom sy selfs vir hom.

Pa probeer sy selfoon afskakel ná die gesprek en vervloek die apparaatjie wat nie sy vingers gehoorsaam nie. Hy het lank ten duurste tweedehandse Nokias van oorsee probeer aankoop, want dis ’n model wat hy verstaan. Die baksteen. Hy wou nie ’n nuwe bleddie ding hê nie. As daar iets is wat hom meer ontstel as Julius Malema is dit planned obsolescence.

Ons hou vlugtig buite Bela-Bela stil om lemoene te koop en ek skil af terwyl Pa verder bestuur.

William Keet, Andries en Sandra Botha en Rian Malan by die Bela-Bela-beraad.

“Ons boeremense moes nog altyd ons eie ding doen. Ons was nooit kolonialiste soos die Engelse nie. Daar was nie ’n weermag en ’n vaderland elders wat sou pa staan vir ons nie. Hoe dink jy het boeregesinne hulle op die Hoëveld kon vestig? Die Vrystaat was leeg omdat Mzilikaats dit leeg gemaak het, sodat die impi’s hulle nie kon volg nie.”

Ek kyk hom verdag aan.

“Moenie my so aankyk nie. Gaan lees Thomas Mofolo se boek oor Shaka. Hy het ’n honderd jaar gelede Natal met sy fiets deurkruis en die stories neergeskryf van mense wat Shaka geken het.”

“Hoe het jy dit gelees, Pa? Is dit dan nie in Zoeloe geskryf nie?”

“Nee man, Dinges se vriend in Pinelands het die boek vertaal.”

Ek weet nie wie Dinges is nie.

Die Zwartkloof-wildwinkel buite Bela-Bela doem voor ons op. Pa jaag met ’n stofstreep by die naaste parkeerplek in, want hy wil nog koffie kry voor die lang sit.

Die saal is stampvol mense met oop gesigte. Die adjunkpresident het op eie stoom besluit om ’n draai te kom maak en daal in ’n helikopter neer om die verrigtinge met paaiende woorde te open. Die vraag is net, is dit statige strooi? Is Piet Retief weer in Dingaan se laer?

Gepraat van Piet Retief. Oorkant my sit Rian Malan, sy bebaarde ewebeeld, die onbesonge Leonard Cohen van Afrikaans met ’n hart van goud, op sy dag die mooiste man in die land, wat lyk asof hy sy eie Dorslandtrek deur die off sales van die Karoo gemaak het – die heelpad vanaf Vanwyksdorp waar hy deesdae boer. Waarmee weet ek nie, want Rian sluk sy woorde in. Mens kannie hoor wat hy sê nie, maar mens moet lees wat hy skryf.

David Mabuza sluit af met die pleidooi: “Boere, ons het julle nodig.”

“You don’t say,” mompel R.W. Johnson wat langs Rian sit.

Die program is so vol soos ’n styfgestopte boerewors. Sprekers kry tien minute om jare se ploeg en plant op te som.

Pa is net vol lof vir Dan Kriek van Agri SA wat eerste aan die beurt is. Kriek sê ons moet erken dat kolonialisme, 1913 se Wet op Grondbesit en apartheid ’n verwoestende uitwerking op ons landsburgers gehad het.

Pa fluister in my oor. “Enigiemand wat dit nie erken nie is óf verstandelik vertraag óf krimineel hardvogtig. Maar ons haak soos ’n plaat vas by die wond en kom nie verby tot vooruitgang nie.”

Ek skryf neer: Agri SA kan die platteland laat herlewe. Kriek-hulle het ’n uitvoerbare plan en oplaas die oor van die president.

Die werklike grondnood lê in die stedelike gebiede. Ek wonder nogal of sommige gemakstoel-lefties wat vir The Daily Tragic skryf, bereid is om hul erwe te onderverdeel vir hawelose mense, soos van hulle luid uitbasuin die boere moet doen.

Ek vou ’n nuwe bladsy in my notaboek oop. Die grondoppervlakte van Switserland – dit is die omvang van die regering se mislukte plase. Dis ’n klaaglied van korrupsie, rompslomp en onkunde. ’n Treurmare van verval en wanhoop.

Maar stadigaan klink ’n ander refrein op deur mense wat in ’n rondedans van moedertale die gehoor begeester. Behendige vertalers sit die voorleggings om in Kaaps en Zoeloe en Xhosa en Sotho en Engels wat opraak. Sonore klanke van drome wat blom. Van vertroue wat welig vertak. Van geykte opvattings wat in die kiem gesmoor word.

Patrick Sekwatlakwatla van Sernick in Kroonstad sê hy verstaan Bonsmaras.

“ ’n Goeie Bonsmara moet soos ek lyk. ’n Bietjie lelik.” Hy lag.

“Ons verstaan ook die hel wat opkomende boere deurgaan, dis hoekom ons hulle help.” Hy het ’n boodskap vir die bemagtigingselite: “Skoert met julle Gucci-skoene uit ons voerkrale.”

Etienne van Wyk van Marydale in die Noord-Kaap eerbiedig sy mentor Dries Wiese.

“Jy het boere nodig om boere op te lei. Die kind van ’n tarentaal is ’n tarentaal. Dries het my alles geleer, van ’n skaap tot ’n perd tot ’n bees. Maar ek boer eerder met wit meisies as met ’n bees. ’n Bees teel te stadig aan. My wit meisies, my merino’s, lam lekker vlytig. My vrou huil elke keer as die lammertjies verskeep word, maar dan hou sy op huil wanneer die geld inkom.”

Jy kan sien Etienne is haastig om weer op sy plaas te kom.

Harry Gxotiwe van die Oos-Kaap sê hy is deel van die verlore generasie van ’76. Maar hy is nie kwaad nie. Hy haat niemand nie.

Firi Lekgetha en Dominique Botha by die Bela-Bela-beraad.

“Wit mense,” sê hy, “ons is lief vir julle.” Die regering het blykbaar ’n klomp plase in sy kontrei vir hervorming gekoop, maar daar het dadels van gekom.

“Ek het grond onwettig gaan beset. En weet julle wat? Agri SA het my gehelp om dit te doen.”

Verbaasde giggels rinkel deur die saal.

“En toe gee Humansdorp-Koöperasie my ’n groot lening sonder enige waarborg of sekuriteit, en dit was die beste ding wat nog ooit met my gebeur het.”

Daar is nog soveel om van te vertel.

Elke verhaal is gemeet en pas aan die eiesoortigheid van die streek en sy mense. Daar is klein omwentelings en omvangryke wonderwerke.

Soos Rita Andreas van Bosman-Adama in Wellington wie se pa jare terug seeppoeier gaan koop het en nou nog nie huis toe gekom het nie. Vandag is sy een van die begunstigdes van ’n werkerstrust wat 430 hektaar uitstaande wingerde besit as deel van die grootste bemagtigingsooreenkoms tot op hede in die wynbedryf.

Dit is gedoen deur gewone boeremense met hul eie geld sonder ’n geskal van trompette. Nie pierewaaiers uit die stad wat die BBC oornooi om hul beeld te poets terwyl hulle met belastingbetalers se kallers plase in die grond in ploeg nie.

Een van die indrukwekkendste grootskaalse onthullings is allermins ’n wolhaarstorie. In 1997 het die swart boere van Suid-Afrika op gemeenskapsgrond wol ter waarde van net R1,5 miljoen kon lewer; 15 jaar later het hul produksie met honderde male vermenigvuldig tot R383,6 miljoen met die hulp van wit kommersiële wolboere. Dis nie ’n abstraksie nie. Dis geld vir skoolklere. Dis ’n hoender in elke pot. Vir duisende gesinne.

’n Mens raak amper moeg van al die goeie nuus, sê Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, wat laaste aan die woord staan. Hy praat namens Graan SA wat onder leiding van Jane McPherson tans 14 000 bestaansboere mentor, mense wat ’n karige half ton van een hektaar per jaar afgehaal het. Net om te oorlewe, het jy een ton op daai hektaar nodig. Verlede seisoen het die gemiddelde opbrengs tot 4,3 ton per hektaar verbeter. Die verskil tussen stadige hongersnood en spaargeld.

Almal begin spontaan hande klap.

“Een dame het vrou-alleen nege ton van haar hektaar afgehaal,” vertel Jannie.

“Ons leer ken die mense. Verhoudings word gebou. Vriendskappe gesmee. Ek het onlangs ’n ou dame gevra wat sy met haar bietjie profyt gaan maak.”

Jannie se stem begin wankel.

“Sy gaan ’n bed koop.” Hy laat sak sy kop. “In haar hele lewe het sy nog nooit op ’n bed geslaap nie. ’n Vrou so oud soos my ma.”

Die hele saal raak stil. Voor my sit ses swart boere met trane wat oor hul wange rol.

Jannie haal diep asem. “Dit is ’n wedersydse oopmaak van harte. Dis die restitusie van menswaardigheid.”

Ek en Pa ry in bewondering en stilte terug plaas toe. Die laatwinter-son stoot klatergoud deur die oulandsgras. Bosluis-

voëls trek die skemer soos ’n sluier met donker pante nader.

“Kom ons vergeet van die suurgatte. Dit gaan nie oor opgee of weggee nie. Dit gaan oor aangee. Hierdie beraad was ’n openbaring in mededeelsaamheid.

“Ek gaan jou broer Christiaan probeer moed inpraat om weer groot te dink. Môre sê ek vir Isak en Sani en Daniël en Piet hulle gaan ’n aandeel in die melkkoeie kry.”

Ons parkeer agter die verlate opstal langs die skuur wat Pa in ’n woonplek omskep het vir wanneer hy plaas toe kom.

Ek pak solank die kaggel met sprokkelhout en kry die vuur aan die gang. Pa gooi nie teesakkies weg nie. Hy laat hulle drooglê in die son en dan marineer hy hulle in paraffien om as boer-maak-’n-plan-Blitz te dien.

Nou is hy lus vir ’n sopie. Hy skink vir ons rooiwyn en hy lig sy glas. “Kom ons drink op al die ware helde van Suid-Afrika wat ons vandag gesien en hoor het. Op Christopher Burgess. Op die Landbouweekblad. En veral op die Franse Hugenote, anders het ons nog duurder betaal vir wyn.”

Pa gooi nog ’n stuk hout op die vuur. “Kyk nou net. My oumagrootjie het voorsiening vir my gemaak vir my oudag dat ek nie koud kry nie, deur al daai kareebome ’n honderd jaar gelede te plant. Haar kleinkind, vandag ’n man van 80.” Hy lyk moeg.

Ek groet en gaan lê op ’n koper-enkelbed in die kamer wat na mottegif ruik. Die kollie Laspos lê onder my bed. Ek sien hommelbye vreet weer die kleimure op. Pa lê en snork reeds in die kamer langsaan en Vivaldi speel op sy draadloos. Ek wil hom bewaar. In watte toedraai. Ons vertoornis en ons held.

Ek staan op om die radio stil te maak en gaan sit buite om die melkweg te bewonder. Die aandster rol ’n ragfyn lok van silwer stilte oor die werf. Ek dink aan die woorde op my broer se graf.

“Nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. En nou bly geloof, hoop, liefde. Hierdie drie.”

En ek wonder by myself: Is die grootste hiervan nie eintlik hoop nie?

Meer oor:  Bela-Bela  |  Plase  |  Landbou  |  Landbouweekblad  |  Agri Sa  |  Onteiening  |  Grondberaad  |  Grondbeleid  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.