Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Skort daar dalk iets met AfriForum se gewete?

Is ons vasgevang in ’n kokon van gebrekkige en of selektiewe gewetensfunksie? Willemien Brümmer het met kenners gepraat oor hoekom dit dan so moeilik is om skuldig te voel.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en sy adjunk, Ernst Roets, kom op die Internasionale Lughawe O.R. Tambo aan ná hul omstrede besoek aan die VSA. Hulle het in dié land teen wat hulle noem “rassistiese diefstal” (onteiening sonder vergoeding) en plaasmoorde gaan steun werf. Foto: Elizabeth Sejake

“Die AfriForum-verskynsel en -retoriek toon onomwonde dat die morele gewete van die groep mense wat met hulle assosieer, onvoldoende ontwikkel is.”

Só sê die filosoof prof. Anton van Niekerk, direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek aan die Universiteit Stellenbosch.

Dié sterk bewoorde stelling kom ná AfriForum se omstrede besoek aan die VSA, waar dié Afrikanerdrukgroep se baas, Kallie Kriel, en sy adjunk, Ernst Roets, onder meer kopieë uitgedeel het van Roets se boek Kill the Boer, waarin hy beweer dat wit boere met stelselmatige geweld in Suid-Afrika geteiken word. Dié boek kom aldus Roets tot die slotsom “dat daar tien redes is hoekom aangevoer kan word dat die regering aandadig aan plaasmoorde is.”

Ek voel persoonlik glad nie skuldig oor apartheid nie en my kinders moenie skuldig voel daaroor nie, want die feit is dis deur ’n ander era se mense gedoen en ons glo nie in die konsep van kollektiewe skuld nie.

Kriel en sy regterhand het met konserwatiewe dinkskrums in die VSA gaan gesels om steun teen “rassistiese diefstal” (grondonteiening sonder vergoeding) en plaasmoorde te werf.

Met hul terugkoms het hulle die volk aan die praat gehad (en selfs die nasionale agenda gehaal) deur weer eens te beweer dat “apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie” en dat daar “ernstige waarskuwingstekens van etniese suiwering” in Suid-Afrika is.

Kriel het Dinsdag by navraag gesê aldus Genocide Watch vertoon die “slagting van die wit boere in Suid-Afrika baie elemente van ’n potensiële volksmoord”. (Dit ten spyte van dié organisasie se president, prof. Gregory Stanton, wat al vantevore beklemtoon het dat Genocide Watch nog nooit gesê het dat daar ’n wit volksmoord onderweg in Suid-Afrika is nie. En natuurlik dat die meeste gerekende navorsers in elk geval nie Genocide Watch se metodologie steun nie. . . )

Kriel en Roets saam met John Robert Bolton, ’n uiters konserwatiewe Republikein en ook pres. Donald Trump se sekerheidsadvidseur. Ná dié twiet het Wits se vise-kanselier, Adam Habib,onder meer gesê Roets en Kriel is ’n vernedering vir Suid-Afrika en sy Grondwet. Foto: Twitter

Gevra oor die geloofwaardigheid van dié bewering het Kriel geantwoord: “Die punt is in Rwanda het hulle mense kokkerotte begin noem en so meer en die voormalige president (Jacob Zuma) het gesê al die land se probleme het gekom met Jan van Riebeeck. En jy kry Julius Malema wat sê ‘We’re not calling for the slaughter of whites, at least not for now’ en Malema wat ’n leeu prys wat ’n boer aanval. Moet ’n ou nou maak asof dit nie plaasvind nie?”

Hy het ook by navraag gesê AfriForum sal hom nie “onderwerp aan skuldgevoelens oor apartheid nie”.

Moet ons nou die Zoeloes kwalik neem vir Shaka Zoeloe se vergrype en so meer?

“Ek voel persoonlik glad nie skuldig oor apartheid nie en my kinders moenie skuldig voel daaroor nie, want die feit is dis deur ’n ander era se mense gedoen en ons glo nie in die konsep van kollektiewe skuld nie.”

Daar was ’n dramatiese pouse oor die foon. “Moet ons nou die Zoeloes kwalik neem vir Shaka Zoeloe se vergrype en so meer?”

‘AfriForum ’n spieëlbeeld van Malema’

Prof. Anton van Niekerk is ’n buitengewone professor in die filosofie en direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek aan die Universiteit Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Die vraag waaroor twee akademici dus getob het, is of ons hier met ’n gebrekkige of selektiewe gewetensfunksie te doen het. En waarom (o waarom) dit in die algemeen dan so moeilik is om skuldig te voel?

Van Niekerk het nie ’n wag voor sy mond geplaas nie. “In die geledere van diegene wat hulself beskou as ‘Afrikaners’ wat AfriForum ondersteun, word gewoonlik hoog opgegee oor die feit dat hulle ook ‘Christene’ is,” het hy gesê.

“As ek die begrip ‘Christenskap’ reg verstaan, is Christene mense wat deurentyd hul skuld aan watter oortredings ook al erken en bely. Hoe dit moontlik sou wees om nie skuldig te voel oor apartheid as jy ’n wit Afrikaner is nie, ontgaan my volledig.

“Apartheid was ’n koelbloedige, rassistiese ideologie en ’n praktyk waarby wit mense (veral Afrikaners) deurentyd baat gevind het ten koste van swart mense, wat sistematies van die meeste menseregte ontneem is en roekeloos uitgebuit is. As wit Afrikaanssprekendes was ons onomwonde skuldig aan daardie onreg, en dra ons ’n groot verantwoordelikheid om die onreg van die verlede te help regstel.

Daar is heeltemal te veel gewelddadige misdaad in Suid-Afrika, en die slagoffers van hierdie misdade kom uit alle Suid-Afrikaanse gemeenskappe. Om egter te beweer dat hierdie situasie ‘volksmoord’ is, of selfs daarna neig, is loutere snert en onboetvaardige opswepery wat in AfriForum- segspersone se gesigte kan en sal ontplof.

“Ek sukkel om die idee te vermy dat Afrikaners wat so sukkel om hul apartheidskuld te erken, waarskynlik nie in hul harte daarvan oortuig is dat apartheid na sy wese verkeerd was nie. Kommentare op sosiale media en op die kommentaarblaaie van regse webwerwe soos PRAAG en Maroela Media versterk daardie persepsie by die dag.”

Hy meen AfriForum is die “spieëlbeeld van die radikaliserende retoriek van Julius Malema”. Al wat hulle met hul “emosionele tirades” oor “volksmoord of wat ook al” bereik, is om die “temperatuur van die sosio-politieke diskoers in Suid-Afrika op te jaag”.

“Laat dit eens en vir altyd duidelik wees: Daar is heeltemal te veel gewelddadige misdaad in Suid-Afrika, en die slagoffers van hierdie misdade kom uit alle Suid-Afrikaanse gemeenskappe. Om egter te beweer dat hierdie situasie ‘volksmoord’ is, of selfs daarna neig, is loutere snert en onboetvaardige opswepery wat in AfriForum- segspersone se gesigte kan en sal ontplof.

“Niks wat tans in Suid-Afrika gebeur, vergelyk naastenby met die werklike volksmoorde wat ons in die geskiedenis gesien het nie. AfriForum speel in hierdie verband met vuur.”

‘Hoeveel mense moet ’n regering doodmaak?’

Prof. Dap Louw, ’n buitengewone professor aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n forensiese sielkundige. Foto: Foto24

Prof. Dap Louw, ’n buitengewone professor van die Universiteit van die Vrystaat en ’n forensiese sielkundige, is ietwat versigtiger. Hy’s egter bekommerd oor AfriForum se stelling dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was soos wêreldwyd erken word nie.

“Ons hét wel honderde, indien nie duisende mense nie, doodgemaak,” sê hy. “Wat is nou eintlik die kriterium? Hoeveel mense moet ’n regering doodmaak sodat dit as ‘nie so erg’ beskou word nie? Dit geld alle regerings.”

As sielkundige beklemtoon hy dat jy nie iemand “fisiek en letterlik” hoef te vermoor om sy of haar lewe te beëindig nie. “Jy kan mense ook emosioneel en sielkundig vermoor – wat in sekere gevalle vir die slagoffer erger is, aangesien hy of sy aanhou sterf.”

Die vraag is daarom: “Wanneer ’n regering mense van hul menswaardigheid en toekoms stroop, waar val dit op ’n glyskaal van ‘geen moord’ tot ‘moord’?”

Geen duik aan gewete nie

As dosent het sy studente hom dikwels die volgende vraag gevra: “Hoe is dit moontlik dat ons 40 jaar daagliks by die spreekwoordelike 99% van die mense op aarde, 99% van alle Christene (en ander gelowe) en die meerderheid van mense in ons eie land gehoor het dat apartheid verkeerd is en dit selfs deur die VVO, gesteun deur meer as 100 lande, as ’n misdaad teen die mensdom verklaar is. Maar vier dekades lank maak dit nie ’n duik in ons gewete nie? En tóé eers gaan die lig ná vier dekades aan.”

Máár, sê hy, om te veralgemeen ten opsigte van Afrikaners se gewetensfunksie getuig van “kwaadwillige en gebrekkige insig”. “Wanneer gaan mense besef dat die verskille binne een groep soos ras dikwels groter as tussen groepe is? Veralgemening is myns insiens een van die kernprobleme wat meebring dat ons onsself in die huidige onaanvaarbare situasie bevind.”

Gewete word aangeleer

Daar’s baie faktore wat gemaak het dat veral Afrikaners hul koppe destyds soos volstruise in die sand gedruk het. Dinge soos die land se geografiese isolasie, en akademiese, intellektuele en morele isolasie weens boikotte. Dis daagliks deur belangrike rolmodelle soos die media, die kerk, belangrike openbare figure en onderwysers versterk, sê hy.

Die feit dat jy letterlik bereid is om te sterf vir jou oortuiging dat jy reg is, beteken hoegenaamd nie dat jy reg is nie.

“Dit is soos die persoon wat van kleins af in ’n bepaalde Christelike geloof grootword en so oorspoel word met die bepaalde kerk se dogma dat die feit dat die meerderheid mense op aarde nie Christene is nie, en dat daar bykans 40 000 ander Christelike denominasies is wat van hom/haar verskil, geen indruk maak nie.”

Dis belangrik om te besef dat gewete aangeleer word en nie van geboorte af aanwesig is nie. “Die feit dat jy letterlik bereid is om te sterf vir jou oortuiging dat jy reg is, beteken hoegenaamd nie dat jy reg is nie.”

‘Die tragiese ontkenningspatroon gaan voortduur’

AfriForum meen sy “grootste deurbraak” was ’n onderhoud op die program Tucker Carlson Tonight op Fox News. Lindiwe Sisulu, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het hierna gesê “die rillerstories oor wat in Suid-Afrika aangaan, is heeltemal vals. Ons veroordeel wat hulle besig is om in die VSA te doen en vra hulle om dit te staak,” het sy Dinsdag gesê. Foto: Twitter

Die vraag wat jy jou kan verstout om te vra is hoekom talle Suid-Afrikaners se gewetensfunksie stééds, in 2018, gedemp word?

“Hulle ervaar dat dit waaroor sommige van hulle skuldig gevoel het, tans aan hulle gedoen word,” antwoord Louw. “Hierdie is ’n kernaspek waaraan die regering aandag sal moet gee om te voorkom dat gewetens verder vertroebel en swak verhoudinge dus sneeubal.”

Dink byvoorbeeld aan iemand wat 40 jaar lank ’n alkoholis was, sê hy. Die vraag is hoe dié alkoholis sou optree teenoor iemand wat nóú dieselfde pad loop. “Gaan die huidige skuldiges in die ANC – wat ontsettende en onberekenbare skade aan die land en aan sy mense gedoen het en steeds doen – óók oor 20 jaar sê dat dit glad nie so erg was nie? Die geskiedenis en navorsing dui daarop dat dié tragiese ontkenningspatroon gaan voortduur.”

Miskien is die eintlike tragedie dat feitlik almal van ons daagliks ’n soortgelyke pad loop en ook relatief groot skade aan ons medemense aanrig – maar ’n algehele onvermoë openbaar om dit te besef en te erken.

Daar is ook talle sielkundige faktore wat ’n rol speel in gewetensfunksie, verduidelik hy. “Dit beteken mense sien slegs dít wat hul eie vooroordele of vooropgestelde opvattings sal versterk. Dis nie ‘sien is glo’ nie – dis ‘glo is sien’.”

Mense wat spreekwoordelik in die beskuldigdebank staan (selfs al is hulle deur ’n regter skuldig bevind), het gewoonlik ’n perspektief wat hemelsbreed van dié van die aanklaer verskil. “Selfs Zuma het gevra: ‘Maar wat het ek nou eintlik verkeerd gedoen?’ ” sê Louw.

“Miskien is die eintlike tragedie dat feitlik almal van ons daagliks ’n soortgelyke pad loop en ook relatief groot skade aan ons medemense aanrig – maar ’n algehele onvermoë openbaar om dit te besef en te erken.”

En dan die kernvraag: Is ons almal dalk vasgevang in ’n kokon van gebrekkige of selektiewe gewetensfunksie?

Hy sê hoewel gewete ’n uiters belangrike rol speel om ons handel en wandel te rig, is dit “nie lekker om skuldig te voel nie”.

“Ons gebruik dus allerlei sielkundige verdedigingsmeganismes om dit te ontduik. Dis so oud soos die mensdom self. Adam plaas die skuld op Eva en Eva blameer die slang.”

‘Min volke wat nie skuldig hoef te voel nie’

Kriel en Roets poseer vir foto’s in Capitol Hill. Roets het kopieë van sy boek Kill the Boer uitgedeel waarin hy beweer dat wit boere stelselmatig geteiken word. Foto: Twitter

Uit dié perspektief is dit maklik om te sien hoekom sommige Afrikaners – en trouens baie ander nasies – sukkel om skuldig te voel.

“Baie min Nazi’s het ná die Tweede Wêreldoorlog skuldig gevoel oor wat hulle aan die Jode gedoen het en daar is steeds Nazi-steungroepe in Duitsland en selfs in ander lande,” sê Louw. “Dieselfde geld die Kommuniste vir die onnoembare tragedies waarvoor hulle verantwoordelik was. En die Hutu's wat meer as die helfte van die Tutsi's in Rwanda uitgemoor het. Daar is min volke wat nie ’n politieke gewete het waaroor hulle moet skuldig voel nie.”

Hy beklemtoon elke woord: “Maar mag ons nóóit ander se gebrekkige gewete gebruik om ons eie gebrekkige gewete te salf nie.”

Ongelukkig is dit uiters moeilik om iemand se gewetensfunksie te verander en hom of haar so ver te kry om skuld te aanvaar.

Louw meen “die meeste wit Suid-Afrikaners” besef die foute van die verlede en het dit met talle verskonings al erken. En baie swart Suid-Afrikaners is bereid om te vergewe.

Daarom is dit belangrik dat “rolmodelle” en veral sogenaamde “kultuurgroepe”, drukgroepe en politici nie voortgaan om verdeeldheid te saai nie.

“Ongelukkig is dit uiters moeilik om iemand se gewetensfunksie te verander en hom of haar so ver te kry om skuld te aanvaar. Die spreekwoord ‘As jy iemand se gedrag wil verander, moes jy by sy oupa begin het’ bevat ’n kernwaarheid.”

En toe die belangrike vermaning. “Kom ons haal net eers die balk uit ons eie oog – al begin ons eers net met ’n splinter.”

“Almal van ons.”

Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Kallie Kriel  |  Ernst Roets  |  Plaasmoorde  |  Volksmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.