Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Skrywer: Dit was die Markus Jooste-’show’

Die vraag bly – indien Markus Jooste onskuldig is, waarom het hy dan oornag stert tussen die bene bedank? James-Brent Styan vra ’n paar moeilike vrae.

Markus Jooste, voormalige Steinhoff-baas, getuig voor die parlementêre komitee vir finansies oor die Steinhoff-debakel.Foto: Jaco Marais

Die parlement het Woensdag ’n gulde geleentheid verspil om antwoorde te kry oor die ineenstorting van die Steinhoff-groep.

Parlementslede se swak vrae en swakker opvolgvrae het die voormalige uitvoerende hoof, Markus Jooste, toegelaat om sy weergawe van gebeure van wat by Steinhoff gebeur het, sonder veel teenkanting oor te dra.

Teen die einde van die bykans drie uur lange sessie het een van die voorsitters sover gegaan om te sê Jooste se getuienis was van die beste wat die komitee tot dusver rakende die saak aangehoor het.

Die ondervraging was so swak dat Markus se span van vier regsverteenwoordigers nie een keer ingetree het nie.

Oudergewoonte was daar enkele uitsonderings onder die LP’s wat vrae kon stel, maar dis baie moeilik in vergaderings soos dié om koers te hou.

Wat gebeur is dat een goeie vraag dikwels opgevolg word deur ure se nonsens voordat iemand die taai kwessies kan opvolg. Teen daardie tyd is die persoon wat getuienis aflê voorbereid en is die oomblik weg.

Die ondervraging was so swak dat Markus se span van vier regsverteenwoordigers nie een keer ingetree het nie.

Dit was die Markus-show.

Daar was verskeie oomblikke waar hy baie ammunisie vir die LP’s gegee het, maar niemand het dit benut nie.

Hy het byvoorbeeld twee stellings onder eed gemaak wat strydig was met getuienis van onder andere Christo Wiese, die voormalige voorsitter.

Wie jok?

Die eerste was sy getuienis oor die gebeure van Maandag 4 Desember. Markus het daardie aand sy bedanking aangebied en dit is die volgende dag aanvaar.

In sy woorde het hy daardie Maandag skynbaar lang gesprekke met Wiese gevoer. (Dit sou byvoorbeeld hier belangrik gewees het om te vra waar dié gesprekke gevoer was, maar LP’s het dit gemis).

Wiese het in Januarie onder eed gesê al wat hy daardie dag van Jooste gehoor het was ’n stempos waarin Jooste gesê het hy het pas geland van Europa af, dat hy gaan stort en hom daarna sal aansluit by die Steinhoff-groep se kantore met bewysstukke waarop die ouditeure gewag het.

Almal, buiten ’n paar goedgelowiges, het die verskonings gesien vir wat dit is: bogstories.

Jooste het nooit opgedaag nie.

Gister het Jooste aangevoer hy het 29 jaar van sy lewe ingesit in die Steinhoff-groep, R3 miljard verloor en werk vir 130 000 mense geskep.

Die vraag is, indien dit alles waar is en hy is onskuldig, waarom het hy oornag stert tussen die bene bedank?

Jooste het die skuld vir die hele ineenstorting op hoofsaaklik twee goed geplaas:

*Die onsekerheid jeens die feit dat die 2017 jaarstate nie betyds uitgereik is nie.

*Steinhoff se voormalige “strategiese vennoot”, dr. Andreas Seifert.

Nommer een: Die eerste punt is totale snert. ’n Groep verloor nie sowat R240 miljard net omdat die state nie uitgereik is nie.

Nommer twee: Die lang verduidelikings oor ’n sakeman in Europa – Seifert – wat volgens Jooste groot probleme vir die groep veroorsaak het, is ook te dik vir ’n daalder.

As Seifert so ’n groot rol gespeel het –waarom het nóg Wiese nóg Ben La Grange, voormalige finansiële hoof, nóg Steve Booysen, voorsitter van die ouditkomitee van Steinhoff se direksie, al daarna verwys tot die mate waaroor Jooste daaroor aangegaan het?

Almal, buiten ’n paar goedgelowiges, het die verskonings gesien vir wat dit is: bogstories. Tog het Jooste met groot selfvertroue gepraat. Dit kan net beteken hy is oortuig niemand gaan hom kan vastrap nie. Tot dusver is hy ongelukkig nie verkeerd nie.

*James-Brent Styan is die skrywer van die blitsverkoper Steinhoff en die Stellenbosse boys (Lapa-uitgewers).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.