Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
8 AUGUSTUS: Skrywers verdedig Magnus-boek

Die nuus dat die oudspeurder Mark Minnie, wat die boek, Die seuns van Bird Island, help skryf het, dood gevind is, stuur skokgolwe deur die land. 'n Week gelede het Murray La Vita met hom en Chris Steyn, ’n ondersoekende joernalis en medeskrywer, gepraat.

Chris Steyn en Mark Minnie, skrywers van Die seuns van Bird Island. Foto: Verskaf

Soveel mense kom nou na vore met inligting ná die verskyning van dié boek dat sy wens sy het ’n “cold case squad” om al die leidrade op te volg.

Steyn en Mark Minnie, ’n oud-speurder, beweer in hul boek onder meer wyle genl. Magnus Malan, voormalige minister van verdediging, John Wiley, toenmalige minister van omgewingsake, en nog ’n minister, wat nog leef, maar wie se naam nie genoem word nie, het destyds aan seksorgies met seuns, meestal bruin, deelgeneem op Birdeiland by Port Elizabeth.

En dat Wiley en David Allan – ’n skatryk sakeman en polisiereservis van Port Elizabeth en vriend van Wiley, wat glo ook betrokke was – nie hulself doodgeskiet het nie, maar straks vermoor is.

Hier volg Steyn en Minnie se antwoorde op vrae:

CHRIS STEYN

Watter reaksie het jy tot dusver ontvang op die publikasie van Die Seuns van Bird Island en die mediadekking daarvan?

Die reaksie was tot dusver oorweldigend positief. Ek neem nie die neerhalende kritiek op sosiale media ernstig op nie. Die meeste van hierdie mense het heel moontlik nog nie die boek gelees nie.

Is jy steeds besig om die gebeure te ondersoek? Is daar nuwe inligting wat besig is om aan die lig te kom? Jy het klaarblyklik steeds 'n uitgebreide netwerk van kontakte; jy skryf byvoorbeeld: “In my pogings om minstens 'n deel van die newels op te klaar waarin die sterftes van Wiley en Allan gehul was, is nog 'n voormalige sluipmoordenaar wat aan die voormalige Militêre Intelligensie (MI) se teenintelligensie- en teenspioenasie-eenheid verbonde was, ook om 'n mening gevra.”

Ja, die ondersoek duur voort. Ek sien die boek nie as die einde van die storie nie. Eerder as die begin van die proses van geregtigheid wat moet geskied. Soveel mense kom nou na vore met inligting dat ek wens ek het ’n “cold case squad” om al die leidrade op te volg.

Is dit nog 'n moeilike en gevaarlike projek? Is daar steeds mense betrokke wat nog oor genoeg mag beskik om diegene wat nou weer wil krap, stil te maak?

Daar is definitief nog mense wat desperaat is om hulself te beskerm. Maar ons kan nie toelaat dat vrees vir hulle ons stilmaak nie.

Die seuns van Bird Island is deur Tafelberg uitgegee.

Jy skryf in die boek “. . . die ou NP het die onderdrukking van die waarheid tot 'n fyn kuns ontwikkel”. Dink jy die boek kan daartoe bydra dat daar nou, in die demokratiese Suid-Afrika, meer aan die lig kan kom waaruit selfs vervolgings kan voortspruit?

Ek hoop regtig dat dit die deur oopmaak vir slagoffers van alle wandade om na vore te kom. Daar is nog soveel geheime wat vertel moet word. Soveel mense wat dekades lank al worstel met aaklige herinneringe. Hulle verdien geregtigheid.

Is daar ooit met die oud-NP-minister waarna in die boek verwys word en wat nog leef (die een wat glo ook by die uitbuiting van seuns betrokke was) gepraat en indien nie, waarom nie?

Ek het hom nie gekontak nie omdat ons hom nie identifiseer nie. Ek sou graag met hom wil gesels.

Jy beskryf in die boek hoe jy in Julie 2006 onverwags die geleentheid gekry het om genl. Malan in sy huis in Pretoria “oor sy Bird Island-dae uit te vra” waarop hy jou “woedend met 'n boosaardige kyk aangegluur het”. Dit moes 'n baie moeilike onderhoud gewees het; iets meer daaroor? Jy is klaarblyklik nie iemand wat maklik geïntimideer word nie.

Ek moes myself net dwing om hom te vra, want ek het vermoed dat dit my enigste geleentheid sou wees. Hy het so kwaad gelyk. Ek dink hy het gewens hy kon my net daar en dan om die lewe bring. Maar hy het beheers geantwoord.

Verskeie mense, onder wie Max du Preez, se reaksie op die boek is dat dit nie 'n nuwe storie is nie; jyself verwys in die boek na die onderhoud wat Playboy jare gelede met Mark Minnie gevoer het. Watter nuwe inligting bevat die boek? Hoekom het julle besluit om nou te publiseer?

Die stories agter die ou stories is in ons boek. Daar is heelwat nuwe ondersoekwerk gedoen, veral met betrekking tot die identiteit van die ministers wat die eiland besoek het, asook die omstandighede van Wiley se dood. Die publikasie is geïnspireer deur Mark wat besluit om sy volle verhaal te vertel.

Het jy die eiland self besoek?

Ek was nog nie op die eiland nie, maar ’n paar van my bronne was wel.

Genl. Magnus Malan, wat in sy tyd as minister van verdediging as naas pres. P.W. Botha die magtigste man in Suid-Afrika beskou is. Foto: Argief

Kan jy meer lig werp op hoe die boek tot stand gekom het nadat jy en Mark in 2017 weer ná 30 jaar byeengekom het? Die werkwyse? Was dit nie moeilik om saam met iemand te werk wat volgens hom destyds aan twee opgeleide skerpskutters opdrag gegee het om jou te skiet “as iets vreemds met hom sou gebeur” omdat hy nie geweet het vir wie jy (destyds 'n verslaggewer by Cape Times) werklik werk nie?

Ons het onafhanklik van mekaar gewerk nadat Tafelberg ons bymekaar gebring het. Dit was twee parallelle ondersoeke wat tot dieselde gevolgtrekkings gekom het. Ek verstaan nou Mark se optrede destyds. Ek hou dit nie teen hom nie. Sy eie lewe was in gevaar.

MARK MINNIE

Watter reaksie het jy tot dusver op die boek en berigte oor die boek ontvang?

Die reaksie, in die koerante en op sosiale media, was uiteenlopend. Baie mense, veral diegene wat deur die 1980’s geleef het, sê hulle onthou fluisteringe oor Bird Island en dat hulle bly is die waarheid kom uiteindelik uit. Sommige mense, veral diegene wat die NP ondersteun het, wil nie glo dit is die waarheid nie. Hul reaksie verras my nie. Ons het geweet dit sal ’n groot skok wees vir sommige mense, veral dié wat geglo het die NP-ministers is goeie mense.

Maar hulle sal eenvoudig die waarheid moet hanteer, en die waarheid is dat hierdie mans nie was wie hulle voorgegee het om te wees nie.

Dink jy daar is 'n moontlikheid dat die publikasie van die boek van die “slagoffers” oor wie julle skryf, nou na vore sal laat kom?

Ek hoop werklik so. Indien hulle dapper genoeg is om na vore te kom kan daar vir hulle nog geregtigheid wees.

Jy skryf: “Ons kan nie toelaat dat hierdie volwassenes, hierdie mans wat kinders misbruik, lewe sonder die vrees dat hulle aan die kaak gestel, gevang en skuldig bevind sal word nie.” Is daar enige aanduidings dat die ondersoek heropen kan word?

Nie sover my kennis strek nie, maar dit is moontlik. Die nasionale vervolgingsgesag het luidens ’n nuusberig gesê hy sal ondersoek instel indien getuienis aangebied word en getuies vorendag kom.

Daar is in die boek 'n enkele verwysing na “lede van die voormalige driekamerparlement wat in fluisterstemme gepraat het oor jong seuns wat na Bird Island gelok is onder die voorwendsel dat hulle duikers sou word en toe verdwyn het . . .” Jy doen dié beroep op hulle: “. . . kom asseblief na vore”. Kan jy dalk meer lig hierop werp? Hoe het jy daarvan bewus geword dat hulle (die politici) hiervan weet? Hoekom sou hulle daarvan geweet het? Is daar met hulle onderhoude gevoer as deel van die ondersoek?

Toe ek in 2016 na Suid-Afrika teruggekeer het [uit China, waar hy as Engels-onderwyser werk] het ek Chris ná 31 jaar op ’n Wes-Kaapse kusdorp ontmoet [waar sy woon en mede-eienaar van ’n boekwinkel is]. Sy het my toe gevra om die kwessie te ondersoek. Dit was inligting wat sy ontvang het.

Ek het die kwessie ondersoek met behulp van polisielede wie se identiteit ek nie in dié stadium bekend wil maak nie. Daar het niks aan die lig gekom nie. Die beweerde vermiste seuns was van dieselfde rassegroep as die lede van die driekamerparlement.

[Steyn reageer soos volg hierop:

Ek het die inligting by ’n voormalige lid van ’n “geheime” eenheid gekry. Hy kon nie self weer die duiker wat destyds die inligting verskaf het in die hande kry nie. Ek het dus vir Mark gevra om dit op te volg.]

Die eilandopsigter se huis op Birdeiland. Foto: Carla-Lee Dorfling

Jou deel van die boek het die tekstuur van fiksie wat struktuur betref (byvoorbeeld gesprekke tussen mense wat 30 jaar gelede plaasgevind het en nou as klaarblyklik gekonstrueerde dialoog aangebied word). Waarom is op dié formaat besluit eerder as 'n meer konvensionele niefiksie-formaat?

Ek het die boek in die eerste persoon geskryf, asof dinge besig was om in die hede te gebeur. Ek het dit só aan die uitgewer voorgelê wat dit geredigeer het en Chris gevra het om haar hoofstukke te skryf.

Het jy die uitgewer genader met die idee vir 'n boek, waarna Chris ook betrek is?

Nee, ek het die boek geskryf terwyl ek in China was en die manuskrip toe aan die uitgewer gestuur. Hulle het toe vir Chris gevra om medeskrywer te word.

Wanneer jou bevelvoerder vra: “Hoekom hierdie voortdurende dwase dwang om op een van die magtigste mans in die land jag te maak?”, antwoord jy: “Want dit het ook met my gebeur, brigadier. Ek is verkrag toe ek 12 was. Ek het my lewe lank daarmee saamgeleef. En ek het geen siel nog daarvan vertel nie . . . Die saak het nooit in die hof beland nie. Ek weet waardeur daardie jeugdiges gaan.”

Het die skryf van hierdie boek jou enigsins gehelp om jou eie trauma te verwerk?

Ek het my eie trauma jare terug verwerk. Maar dit verdwyn nie heeltemal nie. Dit lê in jou onbewuste en word elke nou en dan weer geaktiveer.

Elders in die boek is daar dié gesprek tussen jou en William, 'n jong informant: “Ek ontmoet William en laat hom weet ons gaan die identiteit van mense onthul wat deel is van een van die belangwekkendste pedofielnetwerke in die geskiedenis van Suid-Afrika. Ons sal in die annale bekend wees as die twee musketiers wat hierdie korrupte f****n regering op sy knieë gedwing het. Hy sê hy sien kans daarvoor.”

Was dit 'n bykomende motivering wat jou in hierdie ondersoek gedryf het? Om bekendheid te verwerf as 'n musketier wat die regering op sy knieë gedwing het?

Ek wou nooit die mantel van ’n beroemde musketier dra nie. My doel was om die regering tot verantwoording te roep oor die blatante toesmeerdery van die ondersoek uit amptelike geledere, naamlik die senior staatsaanklaer wat my beveel het om enige verdere ondersoek te staak; die dossier wat uit my kantoor verwyder is, en koerante wat nie geskryf het oor die konneksie tussen Wiley en Allen nie.

Meer oor:  Magnus Malan  |  Mark Minnie  |  Chris Steyn  |  John Wiley
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.