Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Slagoffers van regsflaters

Hooggeregshof se brouwerk met Coligny-saak bewys regspleging in SA skiet te kort, skryf Koos Malan en Llewelyn Curlewis.

Pieter Doorewaard en Philip Schutte tydens hul skuldigbevinding. Foto: Deon Raath

Pieter Doorewaard en Philip Schutte se drie jaar lange stryd om vryspraak te verkry nadat hulle beskuldig is van die moord op ’n seun wat na bewering sonneblomme gesteel het, was totaal onnodig.

Hul probleme is die gevolg van ’n ontstellende wanfunksionering van die strafregstelsel. Swak polisiewerk het hiertoe bygedra, asook die vervolging wat skynbaar tot elke prys ’n skuldigbevinding wou verseker. Die twee belangrikste bestanddele in hierdie regsvergryp was egter eerstens ’n uiters leuenagtige staatsgetuie, Sibongile Pakisi, en tweedens Ronald Hendricks, die verhoorregter in die hooggeregshof in Mahikeng, waar die beskuldigdes aanvanklik tereg gestaan het.

As Hendricks die reg toegepas het soos hy veronderstel was om te doen, en die getuienis na behore beoordeel het, moes hy die beskuldigdes vrygespreek het. Hendricks het ernstig verbrou, want selfs toegewyde “junior” landdroste presteer daagliks veel beter as dit in soortgelyke en moeiliker strafsake.

Om te verduidelik waarom, is dit nodig om die sleutelaspekte van die saak te herhaal.

Doorewaard en Schutte, wat deur die media as “die Coligny-twee” gedoop is, het Matlhomola Jonas Mosweu, ’n 15-jarige seun, op 20 April 2017 burgerlik in hegtenis geneem toe hulle hom en ’n ander persoon wat op die vlug geslaan het op hul werkgewer se grond betrap het waar hulle na bewering sonneblomme gesteel het. Anders as wat sommige regskenners probeer voorgee, is daar niks ongewoon aan so ’n burgerlike inhegtenisneming nie. Hulle was heeltemal geregtig om dit te doen ingevolge art. 39 (saamgelees met art. 42) van die Strafproseswet.

Dié soort diefstal is endemies in die omgewing en rig derduisende rande se skade aan. Volgens staande praktyk wat (selfs volgens een van die staat se eie getuies, ’n plaaslike polisieoffisier) in die verlede uiters glad verloop het, wou die beskuldigdes die seun met die oog op ’n vervolging na die polisiekantoor neem.

Blinde populisme het reg beïnvloed.

Die seun is ná sy inhegtenisneming opdrag gegee om agterop die bakkie te klim, maar hy het blykbaar in die ry afgespring en beserings opgedoen waaraan hy kort daarna beswyk het.

Hierdie gebeure het spoedig tot hewige rasse-onluste in Coligny gelei. Die situasie is onder meer vererger deur die haatdraende retoriek van die destydse premier van Noordwes, Supra Mahumapelo.

Te midde van hierdie onstuimigheid het Doorewaard en Schutte hulself vrywillig aan die polisie oorgegee. Die (swart) landdros het hom, soos dit ’n bekwame regspreker betaam, nie deur openbare uitbarstings laat stuur nie. Hy het op grond van die tersaaklike getuienis die beskuldigdes op borgtog vrygelaat. ’n Klaarblyklik korrekte beslissing in die lig van die feit dat die twee deurlopend hul samewerking in die verloop van die regsproses gegee het en daar geen risiko was dat hulle nie vir hul verhoor sou opdaag nie.

Tydens die verhoor in die hooggeregshof was die staatsaak uitsluitlik op die getuienis van ’n enkelgetuie – Pakisi – gebou. Dit is weliswaar so dat ’n hof op grond van ’n enkelgetuie iemand skuldig kan bevind. Dit gebeur trouens daagliks. Die geloofwaardigheid en betroubaarheid van die getuienis moet egter vasstaan. Enige voorgraadse student in die bewysreg weet dit: Die weergawe van ’n enkelgetuie moet altyd met besondere versigtigheid bejeën word.

In weerwil van die feit dat die teenstrydighede en onwaarskynlikhede in Pakisi se weergawe oorweldigend was, het Hendricks sy getuienis aanvaar, die beskuldigdes skuldig bevind en gestraf tot onderskeidelik 18 en 23 jaar. Daar was geen teken van kennis en insig oor die tersaaklike reg rakende die versigtigheidsreël waarmee ’n enkelgetuie se getuienis bejeën moet word nie. Hendricks het die leuenagtige weergawe met gemak gesluk. En ons gebruik die woord “leuenagtig” met omsigtigheid.

In een van sy verskeie verklarings aan die polisie vertel Pakisi in besonderhede hoe die gestorwene drie keer van die bakkie afgesmyt is. In die hof getuig hy egter van slegs een keer. Volgens Hendricks was hierdie verdoemende weerspreking van minder belang.

Pakisi het breedvoerig uiteengesit hoe die beskuldigdes hom (Pakisi self) meedoënloos en uitgerek aangerand het. Hy het egter nooit ’n klag ingedien nie en daar is geen teken van beserings aan hom êrens aangeteken nie.

Pakisi het vertel hoe hy opdrag gegee is om met sy trui die bloed van die dooie op die bakkie af te vee. Daar is egter geen spoor van die beweerde bebloede trui nie en die polisie het ook nie hierdie belangrike bewysstuk opgevolg en/of gevind nie. Boonop is daar geen bloed op die bakkie gevind nie. Regstegnies behels dit ’n skandalige forensiese “nagmerrie” vir enige soort vervolging.

Pakisi het ook getuig dat die beskuldigdes herhaaldelik met vuurwapens in sy rigting gevuur het. Die polisieondersoek het egter geen patroondoppies opgelewer nie. Weer eens ’n ballistiese treurmare. Bowendien het die getuienis oor die beskuldigdes se selfoonstate Pakisi se storie oor waar en wanneer hulle met die bakkie rondgery het pertinent weerlê.

Hierdie weersprekings, teenstrydighede en onwaarskynlikhede was by verre na al nie.

In sy breedvoerige ontleding van Pakisi se getuienis verklaar appèlregter Visvanathan Ponnan dat geen faset van Pakisi se getuienis die toets van ’n behoorlike ondersoek oorleef nie.

Ontstellend genoeg, was Hendricks nietemin tevrede dat: “ . . . the evidence of Mr Pakisi is honest, truthful and reliable and must be accepted . . .”

Ponnan het beslis dat hierdie bevinding van Hendricks oor Pakisi se getuienis klaarblyklik ongegrond was.

Ponnan gaan voort: “I have quoted in extenso from the record to show that Mr Pakisi simply cannot be taken at his word. I have also dwelt in far greater detail than is absolutely necessary on his evidence to demonstrate that, on many of the aspects to which I have alluded, there is no room for honest mistake and that his evidence cannot be true.”

Ponnan bevind gevolglik dat Pakisi sy getuienis berekend versin het en dat sy getuienis ten slotte uit ’n aantal berekende valshede bestaan.

Hendricks was veronderstel om Pakisi se getuienis behoorlik na te gaan, maar hy het nie. Helaas was Hendricks heeltemal te ontvanklik vir die vervolging se saak. Indien Hendricks Pakisi se getuienis met die vereiste graad van versigtigheid oorweeg het, sê Ponnan, was hy verplig om die getuienis te verwerp.

Die implikasie van Ponnan se woorde is duidelik: ’n (Meer) bekwame regter sou die leuenagtige getuienis van Pakisi in ’n japtrap verwerp het.

Danksy Ponnan en sy mederegters in die appèlhof het die saak ’n gunstige slotsom bereik. (Weens gebrek aan ruimte kan ons nie die uitsprake van appèlregters Mahube Molemela en Aubrey Ledwaba breedvoerig behandel nie. Dis nodeloos om te sê dat albei in wese met Ponnan saamgestem het).

Helaas beteken dit egter nie dat die regspleging in die land in ’n goeie toestand is nie.

Wat eerstens duidelik uit hierdie saak spreek, is dat die hooggeregshof nie noodwendig meer ’n waarborg van bekwaamheid en geregtigheid is nie. Dit kan trouens enige persoon te beurt val om deur ’n ongegronde skuldigbevinding en swaar vonnis getref te word. Dit is een van die hoofoorwegings waarom derduisende siviele gedinge nie meer deur die hof bereg word nie, maar eerder privaat gearbitreer of bemiddel word. Ongelukkig is die opsie van private arbitrasie nie in strafsake beskikbaar nie.

Die werklikheid is dat ’n individu altyd in ’n hof op risiko is. Die risiko’s het deesdae en in die huidige politieke klimaat buitensporig toegeneem. Die hooggeregshof se brouwerk met die Coligny-saak bied ’n klaaglike voorbeeld hiervan.

Wat meer is, is dat Hendricks blykbaar ook ná sy uitspraak geen begrip van sy eie brouwerk getoon het nie. So oortuig was hy van sy saak dat hy geweier het om verlof tot appèl toe te staan, aangesien daar volgens hom geen vooruitsig was dat ’n hof van appèl anders sou beslis nie.

In die lig hiervan raak ’n bykomende rem en teenwig – buite-om die staat – onontbeerlik. Dit is wat AfriForum in hierdie saak bewerkstellig het deur te sorg dat die beskuldigdes bekwame regsbystand kry.

Min mense beskik egter oor die geld om ’n senior en bekwame advokaat soos Barry Roux (’n man met amper 40 jaar se ondervinding in die balie) te bekostig om te keer dat hulle die slagoffers van soortgelyke regsflaters word.

Wat tweedens helder uit hierdie saak blyk, is dat die regspleging nie die instrument van woedende populistiese uitbarstings behoort te wees nie. Regters en landdroste, sowel as die polisie en die vervolgingsgesag, moet hul rol in die strafregspleging uitsluitlik op grond van die tersaaklike reg vervul. In hierdie saak was populistiese rammelings deurlopend vlak onder die oppervlak en het dit soms gevaarlik openlik uitgebars. Soos blyk uit Ponnan se uitspraak, was hierdie blinde populisme deurlopend ’n drukfaktor.

’n Donker toekoms wag op ons regstelsel indien daar nie dringend ondersoek ingestel word na die kwaliteit van ons strafregstelsel in die algemeen en meer bepaald na die kundigheid van ons voorsittende beamptes nie. ’n Regstelsel is net so goed soos die ampsbekleërs wat dit implementeer. Wanneer onbekwame regterlike beamptes op die regbank sit en populistiese politiek die regstelsel dikteer, bly daar oplaas niks van regsoppergesag en geregtigheid oor nie.

* Prof. Koos Malan en dr. Llewelyn Curlewis is verbonde aan die Fakulteit regsgeleerdheid aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Philip Schutte  |  Pieter Doorewaard  |  Coligny  |  Appèlhof  |  Moordklag  |  Hooggeregshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.