Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Slawerny: Ware vryheid kom van binne

Slawerny was een van die gruwelikste vorms van menseregteskending wat ’n invloed op byna elke sfeer van die geskiedenis gehad het. Michael le Cordeur verduidelik waarom die huidige aanvalle op vroue en kinders ’n vorm van slawerny is wat reeds eeue lank voorkom.

Die ou slaweklok in Darling. Foto: Gallo Images

Die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche het gesê: “Today as always, men fall into two groups: slaves and free men.”

Die eerste slawe is in 1653 vanaf Madagaskar na die Kaap gebring om in die arbeidsbehoeftes van die Kaapse verversingspos te voorsien.

’n Jaar later het die Amersfoort, ’n handelskip van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC), met 174 Angolese slawe aan boord in die Kaap aangekom. Geleidelik het die besendings slawe groter geword; meestal vanuit Angola, Guinee, Madagaskar, Bengale en die Oos-Indiese Eilande.

Die slaafskip São José is in 1794 na Mosambiek om slawe te gaan koop wat weer aan die plantasie-eienaars in Brasilië verkoop sou word. Maar die skip het in Desember van dieselfde jaar aan die Kaap by Clifton se derde strand gesink. Artefakte wat na die oppervlak gebring is, het ook voetboeie en kettings ingesluit.

Slawe was dus in kettings en voetboeie. Dit verklaar waarom 212 slawe (meestal vroue en kinders) verdrink het. Die res van die ongeveer 500 slawe is hier aan die Kaap verkoop.

Slawe is soos diere gevang en met slaweskepe na Suid-Afrika en elders gebring, waar hulle op veilings verkoop is. Dan moes hulle tot hul dood vir hul base werk. Selfs hul kinders sou slawe word. Slawe is as besittings beskou, ’n deel van hul base se rykdom. Jy kon ’n slaaf dwing om enigiets vir jou te doen – en jy kon hulle genadeloos straf as hulle verbrou.

Slawe moes Hollands leer

In ’n stadium was daar meer slawe as koloniste aan die Kaap; ongeveer 63 000 in 1808. Van die Maleise slawe was vaardige ambagslui wat ’n permanente invloed op die Kaapse beskawing sou hê.

Die VOC het hulle egter gedwing om Nederlands te leer.

Die meeste slawe kon Maleis-Portugees praat om met soldate en matrose te kommunikeer. Die VOC het hulle egter gedwing om Nederlands te leer en in 1658 selfs ’n skool gestig waar die slawekinders Hollands kon leer. Dit was die eerste skool aan die Kaap.

Daar sou eers in 1663 ’n skool vir Hollandse kinders gestig word. Van die eerste geskrewe getuienis van die taal wat deur die slawe gepraat is, is die ou hofverslae aan die Kaap, waarin beamptes van die hof die uitings van die slawe wat getuienis gelewer het woordeliks en foneties neergeskryf het. En dit is hier waar Philida se storie begin.

16 dae van aktivisme

Heelparty boeke is al oor slawerny geskryf. Omdat ons besig is met die 16 dae van aktivisme teen die mishandeling van vroue en kinders, fokus ek op ’n boek met hierdie tema.

Philida deur André P. Brink is die verhaal van ’n jong slavin en die reis wat sy (meestal kaalvoet) op pad na haar vryheid en emansipasie moes aflê. Die koloniale stelsel het slawe verbied om skoene te dra sodat hulle nie kon wegloop nie. Die roman speel af in die tydperk voor en tydens die vrystelling van slawe aan die Kaap.

Dit was in November 1832 toe Philida vanaf die plaas Zandvliet (min of meer waar Solms Delta vandag is) na Stellenbosch geloop het om by die slawebeskermer ’n klag teen Frans Brink in te dien.

Dié seun van die plaaseienaar, Cornelius Brink, het vier kinders by Philida verwek en het beloof om haar vry te koop, maar nie sy belofte nagekom nie.

Voorbeeld vir ander vroue

’n Slawe-veiling in 1824 in die Kaap van Goeie Hoop soos gesien deur S.M. Slader. Foto: Hulton-argief/Getty Images

Reeds vandat hulle speelmaats was, was Frans lief vir Philida. Dit was ’n verhouding vervleg deur liefde en verraad, teerheid en wreedheid. Hierdie perverse intimiteit kry verder beslag in die verhouding van Frans se pa, Cornelis, met Philida se peetouma Petronella.

Cornelis, wat erken dat hy die kind is van Petronella, word voorgestel as die opperste wreedaard. Hy probeer om Philida te verkrag, maar sy verset haar. Vir die slawebaas was dit ’n vernedering. Uit woede laat Cornelis haar in die openbaar deur twee jong slawe van die buurplaas L’Ormarins verkrag. Nie eens tydens hierdie wrede daad het Frans die ruggraat om Philida te beskerm nie.

Philida se verhouding met Frans is tekenend van slawerny. Dis ’n verhouding waarin die vennote nooit op gelyke voet kon meeding nie.

Philida word ’n voorbeeld vir ander vroue; ook in hierdie tyd waarin ons leef.

Hoeveel sê het die slavinne gehad in hierdie verhoudings? Kon hulle werklik nee sê as die baas hulle beveel het om saam met hulle te slaap?

Vandag se statutêre verkragting is destyds as ’n basiese reg van die slawebaas beskou. Waar trek jy die grens tussen wat Jakes Gerwel “intieme wreedheid, of wrede intimiteit” noem?

Frans ontken dat hy ooit seksueel met Philida verkeer het. Ten spyte daarvan dat hy ’n lafaard is wat nóg die wil het om teen sy sadistiese pa op te staan, en nóg die manlike ordentlikheid het om te veg vir die vrou wat hy liefhet, word sy woord bo hare aanvaar.

Maar wanneer die amptenaar die blonde hare en blou oë van Philida se kind sien, weet hy wie die waarheid praat en laat hy haar gaan. So word Philida ’n voorbeeld vir ander vroue; ook in hierdie tyd waarin ons leef.

Ware vryheid kom van binne

Slaweklokke soos dié kan nog op verskeie plekke in die Kaap gesien word. Foto: Gallo Images

By meer as een geleentheid laat blyk Philida dat Cornelis se dwepery met Christenskap haar walg (p.53). Die aand ná haar openbare verkragting, probeer hy sy optrede regverdig deur “die gepaste gedeeltes” uit die Bybel voor te lees (p.241). Geen wonder dat Philida haar tot Islam wend nadat Cornelius haar en haar blondekopkinders in Worcester aan meester De la Bat verkoop het nie.

Haar verhouding met Labyn help ook om haar op ’n ander manier te bevry: Hy leer haar lees en skryf; ’n kragtige bemagtigingsaksie wat bydra tot haar uiteindelike emansipasie.

Van belang vir hierdie artikel is dat daar is ’n reuse-verskil is tussen iemand wat “ ’n slaaf was” en iemand wat “as slaaf aangehou is”. Dit gaan hier oor die aard en betekenis van vryheid.

Dis een ding om vrygestel te word deur wetgewing; dis ’n heel ander ding om steeds verkneg aan intellektuele slawerny te wees.

Om slaaf te wees is om die uiterste teenstelling van vryheid te beleef . . . dat alles van buite af vir jou besluit word. Jy moet maar net luister en maak soos hulle sê.

Dit is presies hierdie wete wat by Philida ’n groeiende bewussyn laat ontwikkel dat ware vryheid van binne kom: Dis een ding om vrygestel te word deur wetgewing; dis ’n heel ander ding om steeds verkneg aan intellektuele slawerny te wees.

Voorbeelde hiervan sien ek steeds te veel in my daaglikse omgaan met afstammelinge van voormalige slawe. Ek bemerk dit in mense se onvermoë om soos vry mense te leef, om steeds as agterryer vir die baas op te tree, soos verklank deur die nou al bekende spreekwoord: “Ek het maar net saam met die baas gekom.”

Hierin is ’n groot stuk waarheid wat ook in die kontemporêre geskiedenis weerklank vind.

Dis ’n vraag wat vroue hulself moet afvra: Wil ek werklik vry wees, of is ek te bang om uit te praat en verduur dus maar wat my kant toe kom?

So kry Philida se lewe eietydse en universele betekenis.

Duurgekoop

Michael le Cordeur

Soos reeds vroeër genoem, pak Philida hierdie reis na vryheid kaalvoet aan. Om slaaf te wees is om nie skoene te mag hê nie. Jy kon net sowel voetboeie aanhê. Skoene maak jou vry om te kom en gaan soos jy wil.

Philida se droom om eendag skoene te hê (p36) word bewaarheid: Die skoene wat Labyn vir haar en haar kinders skenk, moes hy lank voor die tyd gemaak het. Dit spreek van geloof in die toekoms. Dit is ook ’n simbool van Philida se vrywording.

Maar dit kom teen ’n prys: Op dieselfde dag dat sy hoor dat slawe vrygestel gaan word, sterf ouma Nella (p.266). Die boodskap is duidelik: Ons vryheid is duurgekoop.

Net die regering sal weet waarom 1 Desember in hierdie land met sy baie vakansiedae nie dieselfde status geniet om die vrystelling van slawerny respekvol te vier nie.

Vir hulle haal ek graag William Wilberforce aan: “You may choose to look the other way but you can never say again that you did not know.”

* Bronne: André P. Brink: Philida (2012); Betina Wyngaardt: Slaafs (2016); Jakes Gerwel: “Intieme wreedheid – of wrede intimiteit” (LitNet, 2012); Ena Jansen: “Philida” (LitNet 2012); Michael le Cordeur: Resensie: Philida” (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 2013).

* Prof. Le Cordeur is pas aangewys as een van die Universiteit Stellenbosch se media-denkleiers vir 2019. Hy is die hoof van die departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  André P. Brink  |  Suid-Afrika  |  Angola  |  Mosambiek  |  Vryheid  |  Slawerny
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.