Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Slegs ‘goeie’ blankes
Kerkstraat se nuwe naam is Stanza Bopape. Die ou naam word voorlopig steeds vertoon om verwarring te voorkom. Foto: Alet Pretorius

Die uitspraak van die konstitusionele hof in die saak tussen AfriForum en die Tshwane-metro oor naamsveranderinge het ontstellende implikasies vir die geskiedenis van wit Suid-Afrikaners, skryf Dave Steward.

Die herbenoeming van strate en plekke moet met groot sensitiwiteit benader word. Alle Suid-Afrikaners moet voel dat hulle en hul kultuur ten volle verteenwoordig word in straat- en plekname.

Die Grondwet verklaar dat Suid-Afrika aan ons almal behoort, verenig in ons diversiteit.

Die onlangse beslissing deur die konstitusionele hof in die Tshwane-metro se saak teen AfriForum oor die herbenoeming van die strate van Pretoria wys hoe belangrik dit is vir alle kante om met groot sensitiwiteit om te gaan met omstrede sake uit ons diep verdeelde verlede.

Die uitspraak het gevolge wat baie verder strek as die vraag oor geografiese plekname.

Dit wil inderdaad voorkom asof dit wit Suid-Afrikaners ontneem van hul grondwetlike reg om baie aspekte van hul kultuur te geniet en opper ernstige vrae oor Suid-Afrika se toekoms as ’n samelewing wat die diversiteit van al sy gemeenskappe eer.

Regters Edwin Cameron en ­Johan Froneman het in hul minderheidsuitspraak getoon wat die gevolg van die konstitusionele hof se meerderheidsuitspraak is.

Dit is dat van die kulturele tradisie van wit Suid-Afrikaners, en veral wit Afrikaners, wat uit die geskiedenis kom, nie erkenning in die Grondwet geniet nie omdat daardie geskiedenis op onderdrukking geskoei is.

Die saak spruit uit AfriForum se besluit om na die hof te gaan nadat die metro Pretoria se straatname – geskoei op Afrikanergeskiedenis – wou vervang met die name van ANC-helde uit die bevrydingstryd.

AfriForum het ’n tussentydse hofbevel bekom om die metro te verbied om die straatname te verander totdat daar behoorlik oorleg gepleeg is en hangende die uitslag van ’n hersiening deur die hof.

Die tussentydse bevel is toe verwys na ’n volbank van die hooggeregshof. Die volbank het die tussentydse bevel gehandhaaf omdat appèlaansoeke teen tussentydse bevele nie oor die algemeen toe­gestaan word nie, en omdat Afri­Forum se argument dat die metro versuim het om ’n behoorlike openbare proses te volg, geldig is.

Die hooggeregshof het die metro verlof tot appèl geweier, waarna die metro die konstitusionele hof regstreeks genader het.

Die konstitusionele hof het die reg van die metro om te appelleer gehandhaaf, en só, volgens regters Froneman en Cameron, goed gevestigde en sinvolle reëls vir appèlaansoeke teen tussentydse interdikte, verswak.

Die konstitusionele hof het met sy hantering van die herbenoeming van strate ten gunste van die bevrydingskant van die Suid-Afrikaanse geskiedenis beslis.

Die hof het verklaar dat Suid-Afrika “letterlik die laaste Afrikaland is wat bevry is van die stelsel wat niks fout gevind het met die geïnstitusionaliseerde onderdrukking van een rassegroep deur ’n ander om geen ander rede as velkleur, die vorm van hul neus en die lengte of tekstuur van hul hare nie”.

“Feitlik alle erkenning en eer is dus onderskeidelik gegee en toegeken aan wit geskiedenis en hul ­helde en heldinne.”

Die meerderheidsuitspraak benadruk dat wit en swart Suid-Afrikaners gerespekteer moet word vir die belangrike rol wat hulle gespeel het om Suid-Afrika te bou en te ontwikkel.

Maar daarna het die meerderheidsbeslissing presies die teenoorgestelde gedoen. Dit het verklaar dat “die gevolge van die stelsel van rasse-, etniese en stamstratifikasie van die verlede dus permanent vernietig en begrawe moet word”.

Dit kan volgens die meerderheidsbeslissing deels verwesenlik word deur name van stede, dorpe, gehuggies, strate, parke, wildtuine en instellings te verwyder wat elemente van die verlede verteenwoordig wat hartseer by ander rassegroepe veroorsaak of wat hul wonde wat kwansuis genees het, weer oop te krap.

“Selfs ’n paar onskadelike name wat erkenning verleen slegs aan die geskiedenis, taal, kultuur of mense van een ras” moet verwyder word “sodat dit plek kan maak vir die erfenis en verdienstelike helde en heldinne van dié wat voorheen uitgesluit is.”

Die meerderheid regters het voorts verklaar dat “alle vredeliewende Suid-Afrikaners wat ten gunste van versoening is, en wie se uitkyk op die wêreld geïnspireer is deur ons grondwetlike visie, die Afrikafilosofie van ubuntu moet aanvaar”.

Dié filosofie dat jy slegs heel is wanneer ander gerespekteer en geakkommodeer word, moet ook in naamveranderings neerslag vind.

Waar die menings van die meerderheid regters oor die kulturele erfenis van wit Suid-Afrikaners, volgens regters Froneman en ­Cameron, implisiet is, is dié van regter Chris Jafta, in sy aparte beslissing, onomwonde eksplisiet: “Hoe,” vra hy, “kan daar van die onteenseglik transformerende Grondwet verwag word om kulturele tradisies wat gewortel is in die rassistiese verlede te erken?

“Die antwoord moet wees dat dit misplaas is indien daar sodanige verwagting is.”

Hy het bygevoeg dat “rassistiese en onderdrukkende kulturele tradisies geen plek het in ons grondwetlike bestel nie, hoewel dit in die ­geskiedenis bestaan”.

Dié tradisies hoort in die asblikke van die verlede waar hulle begrawe behoort te word.

Hy het afgesluit dat enige aanspraak op die genot van kultuur nie ’n reg op rassistiese en onderdrukkende kulturele tradisies van die koloniale en apartheidsera mag insluit nie.

Nadat hulle AfriForum met reg aangevat het oor die verwysing na die “sogenaamde ongeregtighede van apartheid”, het regters Froneman en Cameron gevra wat die meerderheidsbeslissing in praktiese terme beteken. “Behels dit, as ’n algemene stelling, wit Afrikaners en wit Suid-Afrikaners het geen kulturele regte wat voor 1994 ­dateer nie, tensy hulle kan bewys dat dit nie op onderdrukking gegrond is nie?”

Met verwysing na die “vele kulturele, godsdienstige of soortgelyke organisasies wat spruit uit ons ­verdeelde en onderdrukkende verlede”, het Froneman en Cameron gevra of hulle “nou almal grondwetlike uitgewekenes is, bloot weens ’n geskiedenis wat besmet is deur bloedvergieting of rassisme?”

Die uitspraak het ander baie ontstellende implikasies. Beteken dit dat die geskiedenis van wit Suid-Afrikaners niks meer as ’n eendimensionele litanie van onderdrukking is nie?

Was daar niks sedert 1652 wat herdenking en viering regverdig nie? Wat van die Anglo-Boereoorlog – die grootste antikoloniale stryd wat ooit deur Afrikane gevoer is?

Wat van figure soos Jan van ­Riebeeck, Wolraad Woltemade, Piet Retief, Jan Smuts en Louis Botha – moet hulle slegs deur ’n prisma van onderdrukking of bevryding beskou word?

Wat beteken die uitspraak vir die grondliggende reg van wit Suid-Afrikaners op menswaardigheid – waaraan hul kulturele en historiese identiteit onlosmaaklik verbind is?

Hoe kan aangevoer word dat hulle ’n reg op gelykheid het indien hul geskiedenis hulle tot morele minderwaardigheid veroordeel?

Moet hulle nou afsien van hul geskiedenis en “die Afrikafilosofie van ubuntu aanvaar” en strewe om meer soos Bram Fischer en Beyers Naudé te wees – die “goeie” wit mense wat deur die meerderheid regters uitgewys is?

Swart Suid-Afrikaners moet voel dat hul geskiedenis en kulture ten volle verteenwoordig word in straat- en plekname.

Dieselfde moet egter geld vir minderhede.

Die konstitusionele hof is reg dat hierdie vrae benader moet word met die oog op wat in die aanhef van ons Grondwet staan.

Volgens die aanhef moet die ongeregtighede van die verlede erken word, maar moet dié wat gewerk het om die land te bou en ontwikkel, gerespekteer word.

Die hof het met reg verklaar dat “inklusiwiteit, eenheid in ­diversiteit, erkenning van die kultuur en geskiedenis van wit en swart Suid-Afrikaners en versoening ons gekose pad na ’n wel­varende toekoms is”.

Maar hoe kan hierdie eerbare sentimente versoen word met ­regter Jafta se uitspraak om die meeste van die helde, tradisies en geskiedenis van minderhede na die “asblik van die verlede” te ­verdoem”?

Dave Steward is voorsitter van die FW de Klerk-stigting.

Meer oor:  Politiek  |  Rassisme  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.