Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sluit die afsluiting nou af
’n Man in afsluiting op sy woonstel in Seepunt, Kaapstad, se balkon die afgelope naweek. Foto: Jaco Marais

Die maatreëls tydens die afsluiting is nou reeds oorbekend. Ons sal dit waarskynlik vir ’n geruime tyd moet bly toepas, ongeag of dit gepaard gaan met afsluiting. Om egter, soos gebeur het, die 21 dae afsluittydperk met twee weke te verleng, is ’n perd van ’n ander kleur.

Prof. Anton van Niekerk

Kom ons sit die vernaamste argumente teen ’n onaangepaste, verlengde afsluiting, soos die Hollanders sê, op ’n rytjie: Niemand sê nog hard en duidelik genoeg dat die afsluiting tot nou toe ’n klaarblyklike sukses was nie! Minister Zweli Mkhize doen dit hoogstens skoorvoetend en gekwalifiseerd.

Teenoor ’n land soos Amerika wat eers ná ons geïnfekteer is en tans meer as ’n halfmiljoen infeksies en 22 000 sterftes het, het ons nog slegs 2 173 gevalle (waarvan 468 herstel het) en ’n skrale 25 sterftes (ek skryf hier op 13 April).

Natuurlik is die ideaal geen (verdere) sterftes nie, maar ons leef darem in die werklike wêreld.

Daar sterf jaarliks duisende mense op ons paaie, ook vanweë ander epidemies soos tuberkulose, MIV/vigs en diabetes. Verstaan my goed: My hart bloei vir almal wat op enige manier slagoffers van die Covid-19-pandemie is. Maar hoef ons die situasie regtig ingrypend anders te hanteer as padongelukke of genoemde epidemies? Suid-Afrika is in ’n ongekende ekonomiese krisis. Die argumente word al hoe dringender dat ons ekonomiese groei-gebrek meer mense gaan doodmaak as die pandemie. Dit is uiters onregverdig om die skare van kleinsake-ondernemings wat soveel mense werk gee (maar net solank die hulle funksioneer!) deur ’n verlengde afsluiting nek-om te draai.

Die toestande vir ekonomiese groei moet so gou moontlik herstel en bevorder word. Die verlengde afsluiting sonder beduidende toegewings om werkloosheid teen te werk, is eenvoudig nie bekostigbaar nie. Die afsluiting het noodwendig ’n inperking van sekere demokratiese regte (soos die reg op vrye beweging) behels. Wat ons egter tans as ’n gevolg hiervan ongelukkig sien, is verontrustende staatsouto-ritarisme. Weerlose positief getoetste mense (selfs twee dokters wat goed na hulself sou kon kyk), word brutaal deur die Limpopo-polisie in onvanpaste hospitaalkamers toegesluit.

Ek sou hom graag ’n nar wou noem, maar ongelukkig is sy toertjies allesbehalwe snaaks.

Terwyl ons president met waardigheid en selfbeheer optree, is dit duidelik dat ’n minister soos Bheki Cele graag die geleentheid gebruik om sommer alle drank- en sigaretverkope (wat nog?) te verbied. Ek sou hom graag ’n nar wou noem, maar ongelukkig is sy toertjies allesbehalwe snaaks. In ’n demokrasie mag ’n mens jouself skade aandoen, solank jy net nie ander skade berokken nie.

Cele, Fikile Mbalula en andere met nuutgevonde magte herinner my aan Theodor Adorno se opmerkings oor die “outoritêre persoonlikheid” – iemand wat glo in en aandring op ekstreme gehoorsaamheid en onbevraagtekenbare respek vir hulself.

Ons demokrasie is ons kosbaarste besitting: Ons moet dit beskerm teen sulke opportuniste. Onderwys, veral in die grondslagfases, word ernstig deur die afsluiting in die wiele gery – en dit in ’n samelewing waarin onderwys in elk geval ’n enorme krisis beleef en min leerlinge wat die hoërskool haal, selfs net behoorlik kan lees, skryf en reken.

Dit is so dat op tersiêre en soms op sekondêre skoolvlak aanlyn onderrig moontlikhede bied wat die skade ietwat kan beredder. Maar hoe onderrig jy gr. 1 tot 7 aanlyn?

Daarby: Hoeveel skoliere in Suid-Afrika het toegang tot werkende rekenaars en tegnologie wat hulle nie voortdurend in die steek laat nie? Gepraat van groeiende ongelykhede! Daarby is daar getuienis dat Covid-19 kinders nie so maklik infekteer soos volwassenes en bejaardes nie.

’n Verlenging van die afsluiting moet eenvoudig beter rekening hou met hierdie vier argumente.

Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Isolasie  |  Inperking  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.