Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
So, Floyd kán rassis wees?

In die struggle was gekleurdes swart, maar nou is hulle weer bruin mense en Indiërs, skryf Piet Croucamp.

Floyd Shivambu

Daar was nog altyd ’n soort sosiologiese wetmatigheid in Suid-Afrika vaardig dat net wit mense rassiste kan wees.

Die rasionaal is dat rassisme sy wortels in ’n historiese magsposisie het. Swart mense kon nie rassisties wees nie, want mag se wortels is te vinde in bevoorregting, iets wat ’n noodwendige kenmerk van die wit identiteit is.

Hierdie soort bisarre identiteitspolitiek is nie net vaardig in Suid-Afrika nie, dit definieer ook globale maatskaplike verhoudings; wit mense wêreldwyd is tipies rassisties en swart mense tipies slagoffers van ’n politieke en ekonomiese stelsel wat “witheid” bevorder, bevoordeel en bemagtig.

Wanneer die adjunkpresident van die EFF, Floyd Shivambu, dus na ’n vrou as ’n “wit teef’ verwys (soos wat hy in 2010 teenoor die joernalis Carien du Plessis gedoen het) is hy nie rassisties nie, want sy is die produk van bevoorregting en hy is net bevooroordeeld.

Bevoorregting beteken dus dat jy nooit kan ontsnap van jou rassisme nie.

Wanneer hy ’n wit, manlike joernalis aan die keel gryp, soos wat hy in Maart vanjaar met die joernalis Adrian de Kock gedoen het, onder meer omdat hy die identiteit van die persoon onuitstaanbaar vind – en dit boonop op die terrein van swart politieke mag, die parlement – is hy nie rassisties nie, want die joernalis is histories bevoorreg. Bevoorregting is dus gelykstaande aan mag.

Die volgende fase van die benouende diskoers is dat daar regverdiging bestaan vir “veilige ruimtes” waarheen swart Suid-Afrikaners kan ontvlug van die noodwendige rassistiese teenwoordigheid van wit mense. Per geleentheid is wit mense al weggewys by ’n kultuurgeleentheid in Soweto omdat dit ’n veilige ruimte, weg van wit bevoorregting, sou bied. Bevoorregting beteken dus dat jy nooit kan ontsnap van jou rassisme nie, omdat jou witheid jou bemagtig en swart mense kan nooit ontsnap as “slagoffer” in enige sosiale verhoudings met wit mense nie.

Floyd Shivambu se argument die afgelope week op sosiale media en tydens ’n sitting van ’n parlementêre komitee was dat ’n Indiër, een van die adjunkdirekteurs-generaal van die tesourie, Ismail Momoniat, swart Afrikanisme ondermyn met sy teenwoordigheid op verskeie komitees waar hy namens die tesourie se direkteur-generaal, Dondo Mogajane, verslag doen aan die wetgewer.

Yunus Carrim

In reaksie hierop het niemand minder nie as die adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, Jessie Duarte, met ’n vuurspuwende verklaring na Shivambu as ’n rassis verwys.

Ek was effe verstom. Swart mense kan dus rassisties teenoor Indiërs wees, maar nie teenoor wit mense nie. Swart Suid-Afikaners is polities magtiger as Indiërs, maar dit is nie seker watter van die twee identiteite meer bevoorreg is nie. Dalk speel bevoorregting (of dan historiese bevoorregting) nie hier ’n kwalifiserende rol nie.

Die ander werklikheid is dat hierdie vaaghede mense soos Shivambu die geleentheid gee om politieke opportunisme en selfs korrupsie onder die mat van vaagheid en dubbelsinnigheid in te trek. Oudpres. Jacob Zuma het al dikwels ondersoeke na sy beweerde korrupsie op rassegronde afgemaak as ’n wit komplot. Ideologie, bevoorregting en ras is ook verwant. Die oudpresident sou dikwels sy teenstanders as deel van ’n Westerse komplot afmaak.

In die geval van Shivambu is sy opportunisme moontlik karteerbaar. Bewerings word gemaak dat hy die mat probeer uittrek onder ’n ondersoek na die kartelle wat sigarette smokkel na Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) veg al vir dekades ’n bloedstryd teen korrupte amptenare in die SAID en private maatskappye wat ten nouste betrokke is by belastingontduiking en sigaretsmokkelary.

Verskeie rekenpligtige amptenare van die SAID het al die afgelope 20 jaar hul werk verloor omdat hulle probeer het om dié korrupsie wat in die hart van die belastinggaarder nesgeskop het, oop te vlek.

Shivambu se partygenoot en leier, Julius Malema, het natuurlik sy eie redes om die SAID te ondermyn. Nie alleen is die EFF se verbintenis met die sigaretmaatskappy Carnilinx ’n ope geheim nie, maar daar is bevestigbare bewerings dat die eienaar, Adriano Mazzotti, die EFF se deposito opgedok het vir die munisipale verkiesing in 2016.

Malema se eie belastingontduiking is ook al in die howe aan die groot klok gehang en sy plaas is juis “onteien” in ’n poging om die keiser sy loon te betaal.

Yunus Carrim, voorsitter van die staande komitee oor finansies, was hoogs ontsteld oor Shivambu se uitsprake oor Momoniat. Maar in plaas daarvan om Shivambu te wys op die onbesproke werketiek en akademiese prestasies van Momoniat, ’n voormalige wiskundelektor, het hy eerder van die agtervoet af die SAID-amptenaar se strugglegeskiedenis vir Shivambu voorgelees.

Ismail Momoniat

Carrim se probleem is dat hy ook ewe maklik, soos Momoniat, as ’n Indiër wat die waardigheid van Afrikane aantas afgemaak kon word. Maar, meer spesifiek, durf hy nie Shivambu van rassisme beskuldig nie, want, onthou, Afrikane kan nie rassisties wees nie. Die term rassis is vir wit mense gereserveer.

In die konteks van die bevrydingstryd is alle bruin mense en Indiërs – as ’n vorm van ideologiese solidariteit – as swart omskryf. Met ander woorde, in ’n bepaalde konteks was (of is) Momoniat en Carrim dus swart, maar wanneer Indiërs betrokke is by staatskaping, soos die Guptas, of wanneer hulle – tot die frustrasie van die EFF se Julius Malema en Floyd Shivambu – ’n bepaalde oorsigfunksie by die wetgewer of SAID vervul, word hulle weer Indiërs.

’n Bewese geskiedenis in die bevrydingstryd maak almal – behalwe Carl Niehaus – swart, maar sonder die wapenrusting van die bevrydingstryd is jy ’n blote Indiër of bruin mens.

Bruin mense was tydens apartheid nie wit genoeg nie en nou met die meerderheidsbewind is hulle nie swart genoeg nie. Boonop word hulle beskuldig deur die ANC dat hulle vir die wit, liberale DA stem, terwyl die wit DA-ondersteuners mor omdat die bruin mense van die Wes-Kaap op groot skaal onpatriotiese All Black-ondersteuners is.

Die bruin steun vir die DA skep die vermoede dat hulle stemgedrag geplooi word deur “onregverdige mededinging” in die arbeidsmark met swart mense vanuit die Oos-Kaap.

’n Bruin drukgroep, Gatvol Kapenaars, maak geen geheim daarvan dat hulle die Wes-Kaap wil laat afstig van Suid-Afrika in ’n poging om ontslae te raak van die vloedgolf armoedige Oos-Kapenaars wat byna elke oop identifiseerbare ruimte beset met informele behuising. Swart werkers hou dus wat oorlewing betref ’n groter bedreiging in as die wit kapitaaleienaars wat oor relatief min politieke mag beskik.

In die Noord-Kaap is swart mense nie ’n ekonomiese bedreiging nie en die wit boere wat goedkoop arbeid teen ’n minimum loon gebruik, word dus die logiese politieke vyand.

In die Wes-Kaap stem bruin mense dus DA en in die Noord-Kaap stem hulle ANC. In die Wes-Kaap ondersteun hulle die All Blacks en in die Noord-Kaap die transformerende Springbokke.

’n Mens wil amper verskoning maak vir Floyd Shivambu se lomp politieke voetwerk, want om al hierdie komplekse nuanses op ’n daaglikse grondslag in omgang met jou medemens te navigeer, vra die wys­heid van Salomo.

Dit is egter bemoedigend dat Shivambu nou deur die kamerade as rassisties afgemaak word; dit het net begin eensaam word hier aan die suidpunt van Afrika.

* Dr. Piet Croucamp doseer politieke wetenskap aan die Noordwes-Universiteit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.