Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Só gaan Aarto werk

Sodra pres. Cyril Ramaphosa die sogenaamde Aarto-wetsontwerp bekragtig wat tans op sy lessenaar lê, sal Suid-Afrikaners hulle moet staal vir veel strenger wetsvereistes op ons paaie. Die onus sal ook op motoriste wees om hul onskuld te bewys. Ilse Bigalke het ondersoek na die implikasies van dié wetgewing ingestel.

Die Nasionale Vergadering het die Wysigingswetsontwerp op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe (Aarto) in Maart met 174 stemme teenoor 11 goedgekeur, met 22 LP’s wat buite stemming gebly het.

Dit kort nog net pres. Cyril Ramaphosa se handtekening voordat motoriste hulle sal moet staal vir heelwat strenger wetsvereistes.

Dit sluit in ’n strafpuntestelsel wat hulle die tydelike opskorting of opheffing van hul rybewyse weens herhaaldelike verkeersoortredings kan kos.

Dis belangrik om daarop te let dat die strafpunte nie verkeersboetes vervang nie, maar dat dit samelopend opgelê sal word.

Dis belangrik om daarop te let dat die strafpunte nie verkeersboetes vervang nie, maar dat dit samelopend opgelê sal word.

Die wet het ten doel om Suid-Afrikaanse paaie veiliger te maak deur die oortreding van verkeersreëls te ontmoedig en reeksoortreders van die paaie te verwyder.

Die reeds hoë padsterftesyfer in Suid-Afrika het volgens dr. Blade Nzimande, minister van vervoer, gedurende die vorige feestydperk van 1 Desember 2018 tot 8 Januarie 2019 met 7% gestyg. Altesame 1 612 mense het op die paaie gesterf.

Volgens die Padverkeersbestuurskorporasie is menslike faktore (dronkbestuur, hoë snelheid, roekelose bestuur, selfoongebruik en onpadwaardige voertuie) die hoofoorsaak van sowat 77% van alle noodlottige padongelukke.

Enigeen wat al aan die ontvangkant van padvarkagtige en lewensbedreigende padgedrag was, sal saamstem dat strenger verkeersreëls en die doeltreffende toepassing daarvan dringend noodsaaklik is.

Die vraag is of die Aarto-wetgewing die antwoord op die unieke Suid-Afrikaanse situasie is.

Hoe gaan dit werk?

  • Alle motoriste begin met nul strafpunte.
  • Tussen een en ses strafpunte word toegeken ooreenkomstig die erns van die padoortreding wat begaan word (sien tabel hiernaas). Bestuur sonder ’n voertuiglisensie sal byvoorbeeld met vier punte gestraf word, bestuur onder die invloed met ses punte en bestuur terwyl ’n selfoon gebruik of selfs net vasgehou word, met een punt.
  • Wanneer motoriste meer as 12 strafpunte het, word hul rybewys opgeskort vir die getal maande waarmee 12 punte oorskry word, gemaal met drie. Nadat dié tydperk verstryk het, kan vir die hertoewysing van die rybewys aansoek gedoen word.
  • ’n Derde opskorting sal meebring dat motoriste hul rybewys verbeur, wat beteken dat hulle opnuut vir ’n leerlingrybewys sal moet aansoek doen en hul bestuurstoets moet herhaal wanneer die opskortingstydperk verstryk.
  • As motoriste nie hul boetes betaal nie, kan hulle op die eNatis-stelsel geblokkeer word en die kans verbeur om weer ’n rybewys of ’n motorlisensie te bekom.
  • Motoriste sal hul rybewyse terugkry sodra hulle weer terug is op 12 punte. Een punt sal elke drie maande verdien word waartydens ’n oortreding nie begaan word nie.

Aanvoorprojek nie ’n sukses

Die Aarto-stelsel is die afgelope dekade as ’n aanvoorprojek in Johannesburg en Pretoria op die proef gestel. Dit het nie die strafpuntestelsel ingesluit nie, maar het grootliks misluk weens die huidige wetsvereiste dat kennisgewings van verkeersoortredings per geregistreerde pos gestuur moet word.

Die metro’s het in hofsake bloedneus gekry vir hordes boetes wat uitgereik, maar ongeldig verklaar is. Dit het die boete-inkomste van die metropole drasties laat inkrimp.

Ingevolge die gewysigde wetsontwerp wat pas aanvaar is, sal oortreders boetes per e-pos, SMS of enige elektroniese metode kan ontvang.

Maar dit is juis een van belangegroepe se besware teen die wetsontwerp. Almal het nie toegang tot e-pos en selfone om elektroniese kennisgewings te ontvang nie.

Kritiek teen beslegtingsprosedure

Nog ’n omstrede element van die wetsontwerp is dat verkeersoortredings geplaas sal word in wat Nzimande beskryf as ’n “doeltreffende, stroombelynde stelsel”, wat die druk op die oorlaaide hofstelsel sal verlig.

Hierdie element word wyd as ongrondwetlik gekritiseer.

Sou motoriste strafpunte en ’n boete wou betwis, kan hulle ’n voorlegging aan die Padverkeersoortredingsagentskap doen. Indien onsuksesvol, kan hulle by ’n spesiale appèltribunaal appèl aanteken.

Die opsie om vervolging in ’n hof te betwis, sal volgens Justice Project South Africa (JPSA) nie meer beskikbaar wees nie.

Volgens Howard Dembovsky, voorsitter van die JPSA, is dit “ongrondwetlik omdat dit op die veronderstelling van skuld gegrond is, terwyl die Grondwet op die veronderstelling van onskuld gegrond is”.

Rudie Heyneke van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) sê die wetsontwerp fouteer deur motoriste se grondwetlike reg te verwyder om hulself te verdedig as hulle verkeerdelik van ’n verkeersoortreding aangekla word.

“As hulle eers in die siviele administratiewe stelsel vasgevang is, het hulle nie dieselfde grondwetlike reg as wat hulle tydens ’n strafregtelike proses sou gehad het nie, naamlik die reg op regsverteenwoordiging en ’n regverdige verhoor.”

Ander besware

  • Volgens Heyneke beoog Outa om die grondwetlikheid van die wet in die howe te toets wanneer dit in werking gestel word. “Dit baan die weg vir korrupsie en sal veral Sanral se e-tol-insameling ondersteun.”
  • Chris Hunsinger, DA-LP in die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer, sê die DA is in wese ten gunste van ’n strafpuntestelsel, maar glo nie dat die wet in sy huidige vorm grondwetlik is en prakties toegepas kan word nie. Appèl kan wel by ’n tribunaal aangeteken word, maar eers teen die einde van die proses. “Dit is ’n baie eensydige proses.”
  • Volgens Hunsinger gaan veral kleiner munisipaliteite swaar trek met die administratiewe rompslomp van die stelsel en die gebrek aan inkomste wat Aarto gaan meebring. Dit is omdat die Padverkeersbestuurskorporasie, wat Aarto gaan bestuur, die helfte van al die boete-inkomste kry waar munisipaliteite tans alles kry.
  • Die vervoer- en taxibedryf en vakbonde het die voorgenome stelsel skerp gekritiseer weens die moontlike verlies aan rybewyse, wat Suid-Afrika se reeds hoë werkloosheidsyfer nadelig sal raak. Die strafpuntestelsel kan ’n reuse-impak op die eienaars van vervoermaatskappye hê. Hulle meen voorts die klem is op die verkryging van inkomste, pleks van padveiligheid.
  • Die Outomobiel-Assosiasie (AA) se woordvoerder, Layton Beard, sê hulle is nie oortuig dat die wetgewing die antwoord op padsterftes is nie en meen ook die klem val eerder op geldinsameling.

“Die enigste lewensvatbare oplossing is verhoogde en meer doeltreffende polisiëring en intensiewe opleiding van bestuurders.”

 Ilse Bigalke
Ilse Bigalke

Positiewe faktore

Beard voeg by die AA was nog altyd ’n voorstander van die strafpuntestelsel en as dit behoorlik toegepas word, kan dit baie doeltreffend wees.

Volgens Nzimande hou die stelsel talle voordele in. Dit sluit in dat “aansporings geskep sal word wat die nakoming van verkeerswette sal verbeter”.

Dit sal die regering voorts in staat stel om die wydverspreide verskille in die strawwe wat deur verkillende landdroste of landdrosdistrikte vir dieselfde oortredings opgelê word, uit die weg te ruim. Boetes en strawwe vir alle verkeersoortredings sal gestandaardiseer word.

“Dit is die eerste keer dat die regering ’n doeltreffende meganisme tot sy beskikking sal hê om seker te maak reeksoortreders word van die pad verwyder deurdat hul rybewyse opgeskort of verwyder word.

“Dit sal die regering in staat stel om streng op te tree teen diegene wat nie boetes betaal nie. Reeksoortreders sal gedwing word om die gevolge te dra.

“Voorts sal die stelsel insamelingsprosedures verbeter en ’n inkomstestroom verseker wat vir die verbetering van padveiligheid aangewend sal word,” sê Nzimande.

Bigalke is Beeld se meningsredakteur.

Meer oor:  Padveiligheid  |  Aarto  |  Motoriste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.