Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Só het kalmeermiddels wit Suid-Afrikaners gesus

Die gewildheid van kalmeermiddels kon gedeeltelik in terme van die soeke na ’n wit, “moderne” identiteit in die apartheidsera verduidelik word, skryf Julie Parle.

Drie buisies Oblivon-tablette van 1953.Foto: Wellcome Images

In die vroeë jare 60 het aptekers en regeringsowerhede gedink Suid-Afrika het deur die loop van die vorige vier dekades ’n “farmaseutiese revolusie” ondergaan.

Dié dekades was ’n draaipunt in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse medisyne waarin nuwe middels van kritieke belang geword het. Die middels wat veral in aanvraag was, was antibiotika. Maar nóg ’n klas middels – sintetiese slaapmiddels en kalmeermiddels – het belangrik geword.

So vroeg as die 1930’s het hierdie middels (veral barbiturate) uitdagings gestel aan diegene wat dit probeer beheer het. Verstrik in verskeie uitdagings wat chemiese, kommersiële, professionele en regulatiewe definisies betref, is beskroomde beheermaatreëls in 1937 voorgestel. Maar selfs hierdie maatreëls het nie steun gekry nie, en dit het gesorg vir ’n toeskietlike mark vir diegene wat die middels kon bekostig. Dié mense was meestal wit Suid-Afrikaners.

Daar was nog ’n poging om die gebruik van kalmeermiddels en ander middels te beperk.

Ek het in my navorsing ’n paar momente geïdentifiseer toe hierdie kalmeermiddels van farmakologiese, professionele of openbare belang geword het. Ek skets ’n tydlyn van hul regulatiewe politiek in Suid-Afrika in die middel van die 20ste eeu.

Suid-Afrikaanse markte het beperk gebly. Nietemin het baie plaaslike aptekers, vervaardigers, invoerders en verbruikers gou die terapeutiese aspirasies en chemiese tegnologie van die tyd aangegryp en sodoende gehelp om die ontwikkeling van “farmaseutiese moderniteit” in Suid-Afrika te versnel.

Die modernisering van wit identiteit

Die 1950’s was ’n dekade waarin daar selfs ’n groter verskeidenheid van middels was, en waarin die gewildheid daarvan toegeneem het. Die meeste is ingevoer, veral vanuit die VSA. Daar was nog ’n poging om die gebruik van kalmeermiddels en ander middels te beperk.

In 1954 is ’n nuwe klassifikasie, dié van “potensieel skadelike middels”, geskep. Professionele apteke het beperkte oordeel aan die dag gelê oor die verkoop van hierdie middels. Talle produkte was beskikbaar deur middel van ’n voorskrif. Dit was dikwels ten spyte van onbewese aansprake dat die chemiese eienskappe mense sou laat ontspan, sus, kalmeer en paai, en angs, vrese en ’n geknies sou wegneem. Ander was steeds geredelik in apteke oor die toonbank beskikbaar.

Een daarvan was OblivonC, wat nie vasgesteek het in Suid-Afrika se mediese geheue nie. Ander was meer duursaam en is vandag steeds steunpilare en middels wat dikwels voorgeskryf word.

Wit Suid-Afrikaners het in die apartheidsjare geredelik en wettiglik kalmeermiddels vir ’n groot aantal kwale gebruik. Foto: Unsplash.com

Een voorbeeld hiervan is Meprobamate. Dit was gewild in die 1960’s en dit word vandag steeds wyd voorgeskryf, ofskoon in verskillende mediese preparate.

Uit baie beskrywings is dit duidelik dat wit Suid-Afrikaners geredelik en wettiglik farmaseutiese middels (veral in pilvorm) vir ’n groot aantal kwale gebruik het.

Die gewildheid van hierdie nuwe middels kon gedeeltelik verduidelik word in terme van die soeke na ’n wit, “moderne” identiteit. Soos wat een historikus dit gestel het, in die welvarende dekades van ’n ná-oorlogse Suid-Afrika, en veral in die 1960’s, het wittes “selfbewus hul persoonlike voorkoms, openbare argitektuur en verbruikers en leefstylkeuses só geboetseer om (aan ander Suid-Afrikaners en internasionale waarnemers) hul afsonderlikheid van die nie-blanke meerderheid te wys en te adverteer hoe modern hulle is”.

Indien dit inderdaad ’n geval van die modernisering van die wit identiteit was, was dit wit vroue en manlike dokters wat teen die 1970’s onbewuste agente in ’n wedersydse verhouding van behoefte en aspirasie geword het. Terwyl relatiewe oorvloed en houding die toegang tot die nuwe kalmeermiddels vir party mense vergemaklik het, was die gevolge van die middels dikwels twyfelagtig.

Party van die middels het geen uitwerking gehad nie. Ander het wesenlike verligting gebied aan diegene wat aan slapeloosheid, ernstige angs en ander vorms van sosiale of sielkundige foltering gely het.

In die 1960’s was daar min swart dokters buite die arm sendinghospitale wat aan middelklas- private pasiënte voorgeskryf het.

Party was gevaarlik en vernietigend. Party was gevaarlik wanneer dit saam met ander middels (soos alkohol) geneem is of indien dit oor ’n lang tydperk in oormaat gedrink, ingeneem of ingespuit is.

Terselfdertyd kon die beperkte “wettige” gebruik van sintetiese kalmeermiddels deur swart Suid-Afrikaners grootliks aan die politieke ekonomie van gesondheid toegeskryf word.

In die 1960’s was daar min swart dokters buite die arm sendinghospitale wat aan middelklas- private pasiënte voorgeskryf het. Daarby was apteke meestal in die stedelike gebiede. En die ongereguleerde “tradisionele” medisynesektor het belangrik gebly, beide vanuit ’n ekonomiese en ’n ideologiese perspektief.

Maar apartheid-kapitalisme het die groei van swart verbruikersmarkte nodig gehad terwyl dit rassesegregasie afgedwing het. In ’n peiling in 1969 is bevind dat die “natuurlike potensiaal van die Bantoe (sic) mark . . . ontsettende belofte vir die toekoms inhou”.

Die druk om formele opvoeding en die opleiding van swart tegnici, assistente en aptekers uit te brei het ook eindelik in die middel van die jare 60 momentum gekry.

Farmaseutiese politiek

Teen die laat 1960’s het ’n nuwe fase van “farmaseutiese moderniteit” vir Suid-Afrika aangebreek. Dit is ook deur ’n intense plaaslike farmaseutiese politiek gekenmerk.

Teen die 1970’s het plaaslik vervaardigde farmaseutiese middels toegeneem. Op aanbeveling van die Steenkamp-kommissie van ondersoek na die farmaseutiese bedryf in 1978 ná die Soweto-opstande het die apartheidsregering se steun vir die binnelandse vervaardiging van chemiese stowwe en medikasie “in die geval van ’n boikot of oorlog” toegeneem.

’n Advertensie vir die pynstiller Medigesic. Met die Kasteel van die Goeie Hoop, die militêre embleem van die Suid-Afrikaanse Verdedigingsmag in die agtergrond word verligting van pyn, inflammasie en koors en “algemene kalmering” beloof. Foto: South African Pharmaceutical Journal

Die dreigende atmosfeer is gereflekteer in die farmaseutiese sektor van die apartheidsera. ’n Advertensie vir Medigesic in 1980 verwoord ’n atmosfeer van intense spanning vir baie wit Suid-Afrikaners. Die advertensie het vir baie wittes hul fisieke en geestelike toestand verwoord, naamlik dat hulle beide van binne die land en van buite die land deur apartheid se opponente onder beleg is.

“Spesiaal geformuleer vir die beroepslui in medisyne,” het Medigesic die staat se “tradisionele” betroubare verbintenis tot hul “veiligheid” en “verdediging” afgesmeek.

Met die Kasteel van die Goeie Hoop, die militêre embleem van die Suid-Afrikaanse Verdedigingsmag in die agtergrond, is pasiënte wat die pynstiller neem, verligting van pyn, inflammasie en koors en “algemene kalmering” beloof.

*Hierdie is die vierde artikel in ’n reeks oor medisyne-rigsnoere in Suidelike Afrika. Dit is gegrond op navorsing wat vir ’n spesiale uitgawe van die South African Historical Journal gedoen is.

*Hierdie artikel het aanvanklik op The Conversation verskyn by https://theconversation.com/a-history-of-how-sedatives-took-hold-in-white-south-africa-130236

*Parle is ereprofessor in geskiedenis aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.