Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Só het Pik Botha ons in die steek gelaat’ – oud-Recce

In ’n nuwe boek oor sy militêre loopbaan skryf kol. Herman van Niekerk, ’n afgetrede Recce-offisier, dat oudminister Pik Botha hom en sy makkers – onder wie die oudkrygsgevangene maj. Wynand du Toit – moontlik in ’n oproep na die Withuis in Washington “uitverkoop het”. Sarel van der Walt berig.

In sy boek Born to Storm skryf Van Niekerk dat hy in 1985 op dieselfde dag as wat Du Toit in die Cabinda-provinsie van Angola gevange geneem en twee van sy makkers doodgeskiet is, ’n ander Recce-sending in Angola gelei het wat nie heeltemal volgens plan verloop het nie.

Van Niekerk sê hy het oor ’n Angolese radiostasie gehoor dat Du Toit gevangene geneem is en dat ’n Suid-Afrikaanse spesmagte-eenheid dieselfde nag die Menonque-vliegveld in die suidooste van Angola aangeval het.

“Dit het die waarskuwingsligte vir my laat aangaan. Daar was geen kans dat iemand anders sou weet dit is ons wat Menonque aangeval het nie.

“En hoekom is Wynand du Toit aangekeer en twee van sy makkers doodgeskiet?”

Van Niekerk sê hy het vermoed iemand in hul eie geledere het hulle in die steek gelaat.

Súlke optrede kon hul veiligheid in gedrang bring.

Die spesmagte-hoofkwartier het hom probeer gerusstel dat sy vrese ongegrond is. Niemand in die hoogs geheime spesmagte-omgewing het uitgepraat nie.

Dit was nie net Pik Botha wat ons uitverkoop het nie, maar ook hoë militêre offisiere.

Hy het Donald McAlvany, wat destyds ’n intelligensie-raadgewer in die Withuis in Washington was, jare later ontmoet.

McAlvany het hom vertel dat hy in die Withuis was toe Botha gebel en die Amerikaners ingelig het oor beide die operasies waaraan Van Niekerk en Du Toit sou deelneem.

“Die motief was om die Angolese regering te kry om Suid-Afrikaanse krygsgevangenes in die hande te kry.

"Dit sou help om ’n kommunikasiekanaal tussen Suid-Afrika en Angola te skep.”

Van Niekerk skryf hy het later vasgestel dat hy nie self ’n teiken was nie, maar wel kapt. André Diedericks, skoonseun van Greyling Wentzel, die destydse minister van landbou.

“Dit was nie net Pik Botha wat ons uitverkoop het nie, maar ook hoë militêre offisiere.”

Botha is ’n jaar gelede in die ouderdom van 86 jaar oorlede.

McAlvany het nog nie op Netwerk24 se navrae hieroor gereageer nie.

Wat regtig gebeur het

Een oggend vroeg in 1994 was ek en Herman besig om in die noorde van Pretoria te hardloop toe hy gesê het: “Ek sal jou nog eendag vertel wat regtig gebeur het toe Wynand du Toit gevang is.”

Ek het hom nie weer daaroor uitgevra nie en hy het my ook nie vertel nie.

Toe ek in sy boek Born to Storm van die voorval lees, het ek dadelik besef dit is die storie waarvan hy gepraat het.

As Recce het hy gedurende die hardloopsessies baie min gepraat.

Op ’n dag koop ek dr. At van Wyk se boek oor soldate aan wie die Honoris Crux-medalje vir dapperheid toegeken is. Daar was ook ’n foto van Herman en die redes waarom hy die medalje ontvang het.

Die volgende oggend terwyl ons draf, het ek vir hom gesê ek lees hy het ’n Honoris Crux ontvang.

“Ja, dis waar,” is al wat hy daaroor te sê gehad het. 

Van Niekerk sê sy doel met die boek van sowat 370 bladsye, waarin hy nie doekies omdraai nie, was nie om ’n militêre handleiding te skryf nie. “Ek het die boek so geskryf dat gewone mense ook kan verstaan wat destyds gebeur het.

“Dit is ook belangrik dat ons geskiedenis aangeteken word om te keer dat iemand anders dit verwring,” sê hy.

Van Niekerk beskuldig die ou Nasionale Party-regering daarvan dat hy die “versiendheid van ’n mol” gehad het. Die NP-regering en die ou Suid-Afrikaanse weermag (SAW), wat een van die magtigste en doeltreffendste weermagte in Afrika was en internasionaal hoog geag was, het nie dieselfde sienswyses gedeel nie.

Volgens Van Niekerk het die NP-regering die vermoë gehad om gedurende die revolusionêre oorloë in Afrika deurentyd die verkeerde groepe te ondersteun. Hy noem Unita (Angola), Renamo (Mosambiek), biskop Abel Muzorewa (in Zimbabwe) as voorbeelde.

Die Russe daarenteen het die MPLA in Angola, Frelimo in Mosambiek en Robert Mugabe (Zanu) in Rhodesië gesteun wat met die louere weggestap het.

Oor Jonas Savimbi, die Unita-leier met wie die destydse regering en weermag ten nouste saamgewerk het, het Van Niekerk niks goeds te sê nie.

“Hoewel Savimbi na ’n aangename mens gelyk het, was hy niks anders nie as ’n genadelose monster wat vroue verkrag het wanneer hy wou en vermoor het wanneer hulle geweier het.”

Hy [Jonas Savimbi] was doodeenvoudig ’n misdadiger en die Suid-Afrikaanse regering het besluit om hom te ondersteun, en so het almal van ons.

Savimbi was ook verantwoordelik vir die dood van honderde Portugese burgerlikes in Angola.

“Hy was doodeenvoudig ’n misdadiger en die Suid-Afrikaanse regering het besluit om hom te ondersteun, en so het almal van ons.”

Oor die verkeerde besluite van die NP-regering destyds skryf Van Niekerk: “Het hy (die NP-regering) verkeerd besluit omdat hy swak ingelig was? Het hy verkeerd besluit omdat hy onkundig was?

“Of het hy verkeerd besluit omdat dit deel van die groter prentjie was wat van elders af gekoördineer is? Ons sal nooit weet nie,” sê Van Niekerk.

Eerste geveg

Herman van Niekerk met ’n bottel Glenfiddich-whisky wat ná ’n geveg in Angola van ’n Russiese militêre vragmotor gebuit is. Foto: Verskaf

Van Niekerk, wat hom as valskerm-, infanterie- en artilleriesoldaat bekwaam het voordat hy hom by die spesmagte aangesluit het, was ’n jong luitenant toe hy in 1975 tydens operasie Savannah in Cela, Angola, in sy eerste geveg met MPLA-soldate en Kubane betrokke was.

Hy skryf dat hy in daardie eerste geveg die bangste was wat hy nóg in sy lewe was.

“Jy het geen idee hoe bang jy kan word wanneer jy besef dat die ouens aan die ander kant jou wil doodmaak en deur hul visiere mik om jou dood te skiet nie.

“Toe ek die koeëls oor my kop hoor vlieg en sien hoe stukke boombas van die bome om my wegvlieg, het ek so groot geskrik dat ek buite beheer begin bewe het.

“Dit was so erg dat ek moes afbuk in ’n poging om beheer oor my bene te kry. Hulle het onbeheersd geruk.”

In dié geveg is die eerste twee Kubane wat in die oorlog gesterf het, doodgeskiet.

’n Rukkie later het hy homself reggeruk, sy vrees oorwin en kwaad geword vir die vyand wat hom aanvanklik soos ’n swaap laat voel het en met oorgawe teruggeveg.

Die vyand het uiteindelik gevlug en hy het goed gevoel dat hy as soldaat sy eerste toets deurstaan en sy vrese oorkom het.

“Ek het die ysterwrangsmaak van adrenalien in my mond geproe,” skryf Van Niekerk.

Dieselfde dag was hy in dieselfde omgewing weer in ’n geveg betrokke. In dié geveg is die eerste twee Kubane wat in die oorlog gesterf het, doodgeskiet.

Beide is deur van Niekerk se vegspan geskiet.

Hul Kubaanse paspoorte wat aan hul lyke gevind was, is dadelik teruggestuur Pretoria toe, van waar dit na New York gestuur en Pik Botha dit aan die veiligheidsraad van die Verenigde Nasies gewys het.

Dit was die eerste bewyse dat Kubaanse soldate in Angola betrokke was.

Honouris Crux-medalje vir dapperheid

Herman van Niekerk iewers in die bos van die destydse Rhodesië (nou Zimbabwe). Foto: Verskaf.

’n Paar dae later was daar ’n bloedige geveg by Ebo en net drie van die 14 soldate onder Van Niekerk se bevel het dit oorleef.

Verskeie soldate van ander pelotons is ook dood of ernstig gewond.

“My gemoed het gewissel tussen woede, hartseer en die soeke na wraak.”

Hy is self in die nek gewond, maar het nie dadelik besef hoe ernstig dit is nie.

Nadat hy op die slagveld deur dr. Tony Dippenaar behandel is, is hy saam met die ander gewondes in ’n C130-vragvliegtuig vanaf Rundu in Suidwes-Afrika (nou Namibië) na 1 Militêre Hospitaal in Pretoria geneem.

Een van die ander gewondes was stafsers. Stasie Steenkamp, wat later onder meer regiment-sersantmajoor (RSM) van die Infantersieskool in Oudtshoorn sou word.

Van Niekerk het daarna die eerste ontvanger van die Honoris Crux-medalje (silwer) vir dapperheid geword, wat PW Botha, toe nog die minister van verdediging, aan hom oorhandig het.

Hy skryf dat hy sonder enige voorbedagtheid ingetrek geraak het by die sogenaamde RAUTEM-moorde op dr. Robert Smit en sy vrou, en op nasionale intelligensievlak as ’n leidende figuur in die mislukte staatsgreep in die Seychelle onder verdenking was.

Hy het hom later eers by 4 Verkenningsregiment (Langebaan), daarna 1 Verkenningsregiment (Durban) en toe 5 Verkenningsregiment (Phalaborwa, as bevelvoerder van 52 Verkenningskommando) aangesluit en gereeld in Angola, Namibië, Zambië, Rhodesië (Zimbabwe) en Mosambiek aan militêre operasie deelgeneem.

Van Niekerk was onder meer in 1985 die missiebevelvoerder van die hoogs omstrede aanval op ANC-teikens in Gabarone, Botswana.

*Van der Walt is ’n politieke joernalis en sportskrywer van Netwerk24. Hy en Van Niekerk, wat vyf keer die Comrades voltooi het, was tien jaar lank hardloopmaats. Die menings van skrywers is hul eie en weerspiueël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.