Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Só is Afrikaanse popmusiek gesaniteer en verwater

Die Afrikanernasionaliste was só suksesvol met hul sensuur dat daar bitter min van die aanvanklike tekstuur en lewenskragtigheid van Afrikaanse musiek in die hoofstroom oorgebly het, skryf Andries Bezuidenhout.

Die eerste klankopname van gesproke Afrikaans is waarskynlik van Paul Kruger se stem wat iewers in die 1890’s deur ene Arthur Elliot op ’n fonograaf vasgelê is. Dié opname het egter verlore geraak.

Die eerste opname van Afrikaans wat bewaar gebly het, is een van ’n aantal liedere – onder andere die Transvaalse Volkslied – gesing deur Johannes J. Smith in 1906.

Smith was ’n taalkundige wat in Londen gaan studeer het en daar oorkant deel van C. Louis Leipoldt se vriendekring geword het. Terug in Suid-Afrika sou hy die redakteur van Huisgenoot word (in 1916) en later as dosent vir ’n jong HF Verwoerd klas gee.

Die tweede opname van Afrikaans is óók in 1906 gemaak, ook in Londen, maar deur Paul Roos se Springbokspan wat op toer in Engeland was. Hul weergawes van liedere soos “My matras en jou kombers” en “Die een kant op en die ander kant af” is as grammofoonplaat onder die titel Springbok Chorus and War Cry uitgereik.

Kort na die Boereoorlog het mense in Londen Afrikaans klaarblyklik prikkelend gevind.

Kort na die Boereoorlog het mense in Londen Afrikaans klaarblyklik prikkelend gevind. Daar was ’n aantal Afrikaanssprekende sangeresse wat ’n lewe uit musiek daar oorkant kon maak. ’n Enigmatiese figuur is Floriel Florian, wat plate met opnames van liedere soos “Mamma, ‘k wil ’n man hê” in 1911 vrygestel het.

Oor Florian, met haar eksotiese naam en van, is ongelukkig min bekend, maar een gegewe is dat sy die helfte van haar wins aan die suffragettes, wat hulself op militante wyse vir stemreg vir vroue beywer het, geskenk het. ’n Mens moet aanneem dat sy ironies was met die sing van “Mamma, ‘k wil ’n man hê”.

Eerste klankopname in Afrikaans

Hierdie is als wat ’n mens seker as trivia sou kon afmaak. Wie stel nou belang in die eerste klankopnames in Afrikaans?

Die antwoord op hierdie spesifieke vraag is: Schalk van der Merwe, ook bekend as Karen Zoid se baskitaarspeler. Benewens sy werk as musikant is hy toevallig ’n historikus wat sy doktorsgraad oor die geskiedenis van Afrikaanse musiek gedoen het.

Hy het pas sy navorsing as ’n boek gepubliseer, onder die titel On Record: Popular Afrikaans Music and Society, 1900-2017.

Kurt Darren voer van sy komposisies na Duitsland en België uit.

Geskiedkundiges is ’n interessante spesie. Hulle vind plesier daarin om in die winter in Londen se argiewe te sit en om dan deur duisende dokumente en opnames te werk, net om ’n vraag te beantwoord waaroor hulle nuuskierig is: “Wat is die eerste klankopname wat deur ’n Afrikaanstalige gemaak is?”

Tot nou toe het almal (of dié wat in Afrikaanse musiekgeskiedenis belangstel) gedink dit was die Springbokspan. Schalk het bepaal dat Smith se opname vroeër daardie jaar gemaak is. Klaarblyklik gee so iets ’n historikus matelose plesier – dalk ’n bietjie soos Gerrie Nel as hy iemand in die hof vasvra.

Terloops, die inligting oor Floriel Florian kom uit ’n 1913-uitgawe van die British Journal of Nursing. Wie sou nou kon dink dat ’n stuk van die geskiedenis van Afrikaanse musiek in hiérdie joernaal gevind sou word!

Insulêr en resepmatig

Swak geskiedkundige boeke het ’n geneigdheid om op puntenerige wyse in detail vas te val. Goeie geskiedkundige boeke vra ’n groter vraag en hou dan by historiese gegewens om daardie vraag te beantwoord. Dit vertel ’n storie, ’n verhaal, maar poog om getrou aan bronne te bly, wel wetende dat ’n mens daardie bronne binne konteks moet lees en dat mense wat skryf, nie altyd die waarheid praat as hul skryf nie.

Teen die 1960’s, toe die sensors ’n stewige greep op die SAUK gehad het, het daar ’n massiewe gaping ontstaan tussen waarna mense aanvanklik geluister het en wat oor die radio gespeel mog word.

Schalk se groter vraag is oor hoekom populêre Afrikaanse musiek so insulêr is. Soveel daarvan klink só dieselfde, is só resepmatig en is só verwyder van die geskiedenis van Afrikaans en hoe Afrikaanse musiek aanvanklik geklink het.

Tewens, baie populêre Afrikaanse liedere is vertaalde “schlager”, of treffers, uit spesifiek Duitsland, Nederland en Oostenryk. Schalk verwys na Carike Keuzenkamp se treffer “Dis ’n land”, uit die 1980’s, as voorbeeld. Dié praktyk is egter steeds deel van ons musieklandskap, maar immers voer iemand soos Kurt Darren nou van sy komposisies Duitsland en België toe uit.

Koms van die bioskoop

Die boek bevat ’n aantal interessante temas.

Een daarvan is die ontwikkeling van klanktegnologie en die invloed wat dit op musiek gehad het. Aanvanklik moes Suid-Afrikaners wat dit kon bekostig, Londen toe gaan om opnames te maak.

Musiek is eers van 1912 af plaaslik opgeneem. Baie hiervan was patriotiese volksliedere en kerkmusiek, maar daar was ook stuitige en humoristiese nommers deur dansorkeste.

Andries Bezuidenhout.F

Vanaf 1919 het die uitsaaiwese met die koms van die radio die speelveld weer verander, met mense soos Chris Blignaut wat in die ateljee kon optree. Die koms van die bioskoop het gemaak dat van die musikante wyd bekend geword het en Blignaut het meer as 2 miljoen plate in sy leeftyd verkoop.

Die stryd tussen Engelssprekende en Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners oor beheer van die SAUK (aanvanklik ’n private maatskappy genaamd die African Broadcasting Corporation) is ’n interessante storie, met ’n keerpunt tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe baie van die Engelse personeel oorlog toe is. As die kat weg is, is die muis baas.

Gé versus Elvis

’n Ander tema is die wisselwerking tussen Afrikaanse musiek en ander inheemse musiek. Só byvoorbeeld was Boeremusiek, marabi en ghoemaliedjies baie naby aan mekaar, asook vorme van jazz. Benewens Chris Blignaut, was David de Lange ’n belangrike figuur en later ook Nico Carstens. Kwêla as musiekvorm was tot die 1950’s baie gewild onder wit luisteraars.

Vanaf die laat-1930’s, met die koms van Afrikanernasionalisme, het organisasies soos die FAK begin om Afrikaanse musiek te saniteer. Hulle het Boeremusiek as musiek vir laeklasmense gesien en later ook werkersklasmusikante soos die Briels.

Van die aanvanklike inheemse klanke in Afrikaanse musiek en die wisselwerking tussen marabi, ghoema en kwêla het min in die amptelike en gesaniteerde weergawe van Afrikaanse musiek oorgebly.

Gewilde liedere, soos dié van Chris Blignaut en David de Lange, is nie in die FAK se sangbundel opgeneem nie. ’n Stuitige lied soos “Hou jou roksak toe” sou net nie deug nie – dis nie ordentlik genoeg vir beskaafde Afrikaners nie.

Teen die 1960’s, toe die sensors ’n stewige greep op die SAUK gehad het, het daar ’n massiewe gaping ontstaan tussen waarna mense aanvanklik geluister het en wat oor die radio gespeel mog word. Baie mense het eerder na LM radio geluister – Gé Korsten kon net nie by Elvis kers vashou nie.

Mense wou destyds eerder na Elvis luister as na Gé Korsten.

Van die aanvanklike inheemse klanke in Afrikaanse musiek en die wisselwerking tussen marabi, ghoema en kwêla het min in die amptelike en gesaniteerde weergawe van Afrikaanse musiek oorgebly.

Al meer magteloos

Ek skryf nou vlugtig oor ’n komplekse en kleurryke geskiedenis. Daar is natuurlik die koms van musiek en liriek – mense soos Koos du Plessis, asook Anton Goosen en Amanda Strydom – en later die Voëlvry-rebelle, waaroor daar op interessante wyse geskryf word. Meer onlangse tendense word bespreek, met verkoopsyfers en dies meer – lees gerus die boek.

In die boek vra Schalk homself die vraag af of sangers met ’n openlik regse agenda dalk nie minder van ’n struikelblok vir Afrikaanse musiek is as die oënskynlik apolitiese hoofstroom nie. Ek haal aan:

“Dit is grootliks eksklusief, dit projekteer wit bevoorregting en vermy meestal konstruktiewe gesprekvoering oor ontwikkeling en inklusiwiteit.”

Die wit nasionaliste beheer nie meer die staat nie, maar die Afrikaanse musiekmark is só herprogrammeer dat dit volstoom voortdans op vertaalde oorsese treffers.

Dan verwys hy na die toeëiening van bruin Afrikaanse kultuur vir bykans eksklusief wit gehore, met verwysing na onder andere die Ghoema-toekennings.

Soos die boek einde se kant toe gestaan het, het ek al hoe meer magteloos begin voel. Die nasionaliste was klaarblyklik só suksesvol met hul sensuur dat daar bitter min van die aanvanklike tekstuur en lewenskragtigheid van Afrikaanse musiek in hoofstroom popmusiek oorgebly het – die tipe musiek wat eie aan Suid-Afrika en Afrikaans se oorsprong is.

Die wit nasionaliste beheer nie meer die staat nie (hulle is deur swart nasionaliste vervang), maar die Afrikaanse musiekmark is só herprogrammeer dat dit volstoom voortdans op vertaalde oorsese treffers en resepmatige pop wat eintlik enige plek in die wêreld vervaardig kon wees.

Dat soveel van die sangers dit in Afrikaans doen, is nou maar net toevallig.

* Prof. Bezuidenhout is ’n sosioloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.