Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Só is koers gekies al met die son langs
Prof. Gerhard van Huyssteen

Vra Johan Anker op Facebook: “Waar kom ons aan die woord ‘oos’? Hoekom moet wes en oos noodwendig staan teenoor noord en suid? Wie het so besluit?”

Dis die jaar 300 VHJ (voor huidige jaartal). Een of ander ou, kom ons sê maar Wiljahelmaz, en sy gesin woon skuins ten suide van die Elbe, daar doer op die Noord-Duitse Laagvlakte.

Sy voorgeslagte het oor ’n tydperk van duisende jare (sedert ongeveer 4 200 VHJ) vanaf die Urheimat (die gebied ten noorde van die huidige Georgië) verhuis en hulle hier kom vestig. Hy en sy gesin voer ’n eenvoudige, verwesterste bestaan.

As Wiljahelmaz ’n bietjie wil gaan stap (’n mens moet darem jou 10 000 treë per dag inkry), dring sy vrou, Haduwïg, daarop aan dat hy moet sê in watter rigting hy gaan stap. Die hinterland raak toenemend gevaarlik met al die Vandale en Barbare wat die plek toestroom.

Wiljahelmaz het slegs die son as rigtingwyser. Sy rigtingwoorde is dus alles songebaseerd:

  • *aus-to- (ooste): Dit beteken letterlik “skyn-rigting”, met ander woorde in die rigting waar die son begin skyn of opkom. Dit was vir die klomp Germane die belangrikste rigting, soos tans nog in baie kulture en gelowe.
  • *wes-t- (weste): In Proto-Indo-Europees (die oermoedertaal van Germaans) het *we- “om te sak of af te gaan” beteken, en uiteindelik het *wes- “aand” beteken. Ons herken hierin ook nog die kerkterm “vesper” wat “aanddiens” beteken.
  • *nurtha- (noorde): Die stam van *nurtha- is *ner- wat “links” beteken het. As jy in die rigting kyk waar die son opkom, dan is noord altyd aan jou linkerkant. Eintlik beteken “noord” dus “links van die rigting waar die son opkom”.
  • *sunthaz (suide): Die stam van *sunthaz is *sunnon wat “son” of “die area van die son” beteken.

Wiljahelmaz en gesin woon in die Noordelike Halfrond.

Waar ons hier in die Land van Homo naledi ons huise laat noord front vir maksimale sonblootstelling, werk dit presies andersom in daai geweste. Hul plaasopstalle front suid, in die rigting van . . . die area van die son!

Intussen, in Rome . . .

Dié smoor het vir hulle mos baie grênd gehou.

Dié smoor het vir hulle mos baie grênd gehou. Hulle woord vir oos was orientalis, wes was occidentalis, noord borealis (of septentrionalis, as jy jou regtig slim wou voordoen) en suid australis (of meridionalis).

Een van die stryde wat Latyns teen Germaans verloor het, was dat Wiljahelmaz se woorde veel makliker was en uiteindelik ook deur baie Romaanse tale geleen is.

Byvoorbeeld, “noord” is nord in Frans, Roemeens, Italiaans en Katalaans, en norte in Spaans en Portugees.

Die Latynse australis (“suid”) lyk egter verdag baie op Wiljahelmaz se *aus-to- (“oos”), en nie verniet nie, want dié twee woorde is van dieselfde Proto-Indo-Europese oorsprong.

Maar hoe nou gemaak: Die een beteken “suid” en die ander “oos”?

Slaan Google Maps ope, en kyk in watter rigting lê Italië (indertyd die sentrum van Latyn) se simmetrieas, regdeur die brug van die skoen.

Suidoos, presies tussen australis én *aus-to-. En verleng nou daai suidoostelike lyn oor die kaart, af en af en af, soos die kraai sou vlieg. Waar kom jy uit . . . ?

Wiljahelmaz sou graag wou weet, had hy maar ’n goeie internetverbinding.

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.