Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Só is Netwerk24-joernalis uit Zim geskop
Die lughawe van Harare uit ’n SAL-vliegtuig gesien.Foto: Sarel van der Walt

Die doeanebeampte op die lughawe in die Zimbabwiese hoofstad, Harare, het Woensdagmiddag die doeanevorm voor haar een kyk gegee en gesê: “Joernalis? Waar is jou mediapermit om Zimbabwe binne te kom?”

Ek het verduidelik ek het gehoop om een op die lughawe te kry. Weens die vinnige pas waarteen dinge die voorafgaande 24 uur in Zimbabwe gebeur het, was daar eenvoudig nie tyd om vooraf ’n permit in Pretoria in die hande te kry nie.

“Gaan terug Suid-Afrika toe, kry daar ’n permit en kom weer terug,” het sy geantwoord.

“Maar . . .” het ek probeer, “is daar nie iemand wat kan help nie?”

Die doeanebeampte het haar toesighouer geroep.

Hy het my paspoort en doeanevorm geneem en daarna gekyk.

“Is jy hier vir die ‘situasie’ (die probleme in Zimbabwe)?”

“Dis reg, meneer,” het ek geantwoord.

“Hoekom het jy nie ’n permit nie?”

Ek het weer probeer verduidelik. En mooi gevra: “Meneer, hierdie is ’n groot nuusgebeurtenis, groot seblief. Daar is groot belangstelling in Suid-Afrika oor wat hier gebeur,” het ek gepleit.

“Nee,” was sy antwoord. “Jy gaan dadelik terug Suid-Afrika toe. Kry in Pretoria ’n permit en kom dan terug.”

By die toonbanke van ander doeanebeamptes het ek ander joernaliste gesien wat gepleit het om toegelaat te word.

Dit is immers een van die groot nuusstories van die jaar om oor verslag te doen.

Hulle is ook nie toegelaat nie.

Die paranoia ná 37 jaar van die Mugabe-regime was duidelik.

’n Paar ander joernaliste het dalk met minder streng doeanebeamptes te make gekry en is toegelaat om deur te gaan . . .

Ek kan darem berig ek het nie ’n enkele soldaat in die lughawegebou in Harare of langs die aanloopbaan gesien nie.

’n Britse joernalis het probeer verduidelik ’n senior offisier van die Zimbabwiese weermag het vroeër die oggend oor die telefoon vir haar gesê buitelandse joernaliste is welkom. Daar sou op die lughawe plan gemaak word met die registrasie van joernaliste.

Ook haar pleidooi het op dowe ore geval.

Uit een van die nabygeleë vertrekke het ek Richard Poplak van Daily Maverick gesien.

Hy het my met ’n simpatieke knip van die oog gegroet. Dit was duidelik hy is ook nie in die land toegelaat nie.

Hy het later vertel hy het van vroegoggend af in dié vertrek gesit en wag vir die volgende SAL-vlug terug Suid-Afrika toe.

Sarel van der Walt.

Poplak is sowat ’n uur lank ondervra.

Ons paspoorte is geneem en ’n beampte het ons later na die vertreksaal begelei.

Die passasiers in die SAL-vliegtuig was al geruime tyd in die vliegtuig toe ons vier uitgeskoptes in die vliegtuig geklim het.

Vier uur nadat ons uit Johannesburg weg is, was ons terug.

O ja, ek kan darem berig ek het nie ’n enkele soldaat in die lughawegebou in Harare of langs die aanloopbaan gesien nie.

Alles het op die oog af kalm gelyk.

* Van der Walt is ’n politieke joernalis van Netwerk24.

Meer oor:  Joernalis  |  Zimbabwe  |  Sarel Van Der Walt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.