Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Só kan ons golf van Bok-euforie ry

’n Klompie suurbekke sê niks het verander ná die Bokke se Wêreldbeker-triomf nie. Dit sal inderdaad só bly as niemand bereid is om iets te doen nie, skryf Freek Robinson.

Die gesig van welwillendheid. Ondersteuners wag in Port Elizabeth op die Bokke se bus. Foto: Gallo Images

’n Golf van welwillendheid spoel oor die land. Bo talle se verwagting was die Springbokke se verwelkoming met hul tuiskoms nadat hulle die Wêreldbeker gewen het, ’n besonderse vertoning van gemeenskaplike trots.

Tonele van uitbundige mede-emosie en samesyn het afgespeel in ’n volgepakte lughawegebou en later toe die span op triomftogte deur die strate van groot stede beweeg het.

Op sy verjaarsdag het Rassie Erasmus, afrigter, gesê sy grootste geskenk sal wees as die Bokke se oorwinning werklik die beginpunt kan word om dinge te bereik wat nie ná die oorwinnings in 2007 en 1995 ’n werklikheid geword het nie.

Die land se veelvuldige probleme sal nie opgelos, of selfs verlig kan word, as almal gewoon maar net aangaan soos vantevore nie. Dit sal ’n spesiale poging verg om ’n verskil te maak. Soos die Springbokke sal ons ondanks die omvang van uitdagings, dit met verbete vasbeslotenheid moet aanpak. Dit sal die samewerking van elkeen verg.

Hierdie keer moet seker gemaak word dat elkeen gelyke kanse kry om te speel, behoorlike voeding kry en regverdig behandel word. Daar moet ook verder gedink word as net die Springbokke. En dis waar elke burger ter sprake kom.

Rassie pleit dus vir “toewydingskapitaal”. Dat die golf van welwillendheid behoorlik gery word. Sy wens kan veel wyer van toepassing gemaak word. Ons status as wêreldkampioen sal ongetwyfeld, net soos Siya Kolisi (kaptein) en ’n paar ander spelers se persoonlike verhale van toewyding en durf, as sterk motivering dien vir miljoene jong mense om rugby te speel.

Hulle sal ook besef dat sport deure oopmaak na prestasie en ’n beter lewe en dat kleur en kwotas nie ter sake is nie. Die hoogste sport kan bereik word deur eenheid en doelgerigte samespel.

Daar was ook ’n paar ander stemme ná die Bokke se triomfantlike terugkeer uit Japan. Suurbekke wat sê: In die praktyk het niks verander nie. Armoede, werkloosheid, ongelykheid, rassisme, haatspraak, die gebrek aan ekonomiese groei, staatskuld, die Eskom-gemors ensovoorts, ensovoorts, bly daaglikse kwellinge.

Ja, en so sal dit bly as niemand iets doen nie; as Rassie se beginpunt geïgnoreer word.

Die land se veelvuldige probleme sal nie opgelos, of selfs verlig kan word, as almal gewoon maar net aangaan soos vantevore nie. Dit sal ’n spesiale poging verg om ’n verskil te maak. Soos die Springbokke sal ons ondanks die omvang van uitdagings, dit met verbete vasbeslotenheid moet aanpak. Dit sal die samewerking van elkeen verg, wat ook al jou posisie is.

Almal moet toegewings maak

Rassie Erasmus, afrigter van die Springbokke, meen die Bokke se triomf in die Wêreldbeker-toernooi moet gebruik word om Suid-Afrika vooruit te laat gaan. Foto: Gallo Images

Tot dusver het ons as land meer verbruik as wat ons geproduseer het. Dis hoekom ons skuld so erg is – volgens Tito Mboweni, minister van finansies, kan dit teen 2023 meer as 70% van die BBP wees. Ons moet dit omdraai en meer insit as wat ons uithaal.

Wat ons nodig het, is ’n maatskaplike verdrag. Pres. Cyril Ramaphosa het al verwys na ’n sosiale kompak.

Terwyl ons op die kruin van die welwillendheidsgolf is, moet elkeen hom/haar afvra, hoe gaan ek die golf ry tot die groter voordeel van almal?

Dit kom in wese daarop neer dat die regering, die private sektor, vakbonde en die burgerlike samelewing plegtig ’n ooreenkoms aangaan om konstruktief saam te werk in die groter belang van die land en sy mense op grond van gedeelde basiese waardes.

Almal sal moet erken dat hulle minstens ’n tyd lank toegewings sal moet maak ter wille van die bevordering van vrede en vooruitgang.

Dit moet begin met ’n plegtige verklaring; iets soos:

“Ek is ’n trotse Suid-Afrikaner.

Ek verbind my om vir minstens drie jaar ’n spesiale poging aan te wend om hierdie land ’n beter plek te help maak vir almal.

Ek gaan meer bydra as wat ek eis.

Ek verbind my om die waardes van die Grondwet uit te lééf. Respek, gelykheid, menswaardigheid, verantwoordelikheid, verantwoordbaarheid, deursigtigheid, regverdigheid, nierassigheid, integriteit, sorgsaamheid en veiligheid.”

En dan moet elk invul wat hy/sy gaan doen.

In die verdrag moet elk uitspel wat hy/sy gaan doen en spesifieke, praktiese doelwitte stel. Byvoorbeeld: Ek/ons gaan minstens vier uur per maand spesifiek aanwend om my deel van die verdrag na te kom deur vir bejaardes te gaan kuier in ’n sorgsentrum. Of om saam met bure gemors in ons straat op te tel. Of om een uur per week langer te werk ens.

In sy inhuldigingstoespraak as president op 25 Mei 2019, opper Ramaphosa die tema van ’n “maatskaplike verdrag”. Hy sê onder meer: “Let us forge a compact for an efficient, capable and ethical state, a state that is free from corruption, for companies that generate social value and propel human development, for elected officials and public servants who faithfully serve no other cause than that of the public.”

Hy het vroeër vanjaar aangekondig dat ’n eenheid vir “etiek, integriteit en dissiplinêre tegniese bystand” gevestig gaan word om die bestuur van etiek en optrede teen korrupsie te versterk.

Dit sal wonderlik wees as so ’n eenheid of projek as deel van ’n maatskaplike verdrag uit die kantoor van die president bestuur word. Daar moet ’n sentrale dryfveer wees om mense saam te snoer. In sommige lande is ’n maatskaplike verdrag al toegepas en dit kan werk – soos in Singapoer of Swede.

Tans is die departement van kuns en kultuur in beheer van die maatskaplike kohesie-projek. Yvonne Mokgoro, afgetrede regter van die konstitusionele hof, is as sameroeper aangestel. Haar frustrasie is groot. Daar is weinig ondersteuning en die begroting is karig. Sy, of wie ook al, moet uit die president se kantoor die nuwe projek dryf.

Die visie en waardes moet elke dag landwyd aan mense oorgedra word. Hulle moet geleentheid kry om saam gesprek te voer. Soos daar in die gewelddadige tydperk voor die verkiesing van 1994 vredeskomitees oral in die land was, kan sulke plaaslike instansies opnuut gevestig word of elke munisipaliteit moet ’n aangewysde agent wees vir die bevordering van die verdrag.

In die verdrag moet elk uitspel wat hy/sy gaan doen en spesifieke, praktiese doelwitte stel. Byvoorbeeld: Ek/ons gaan minstens vier uur per maand spesifiek aanwend om my deel van die verdrag na te kom deur vir bejaardes te gaan kuier in ’n sorgsentrum. Of om saam met bure gemors in ons straat op te tel. Of om een uur per week langer te werk ens.

Van die ondernemings wat deur die verskillende sektore oorweeg kan word, is:

Werkgewers en die private sektor

’n Verheugde pres. Cyril Ramaphosa lig die Wêreldbeker saam met Siya Kolisi, Springbok-kaptein, en sy span. Foto: Gallo Images

* Die land kom eerste, nie aandeelhouers nie.

* Belê in die land.

* Behandel werkers nie net volgens die letter van die wet as arbeidseenhede nie. Hulle is medeskeppers van ’n gesamentlike toekoms.

* Versprei inkomste meer eweredig.

* Gebruik oormatige inkomste van senior bestuur om meer werk te skep.

* Beveg korrupsie.

* Bevorder interne dialoog en spesifieke programme om verhoudings te verbeter.

* Belê soveel moontlik in opleiding, vaardigheidsontwikkeling en internskappe vir die jeug

* Doen jou bes om die omgewing te help bewaar.

* Beperk besoedeling tot die minimum en rehabiliteer.

Werkers en vakbonde

* Beperk looneise tot die vlak van inflasie.

* Wees produktief.

* Werk harder as wat van jou verwag word.

* Verhoog vaardighede.

* Vlek korrupsie oop.

* Geen beskadiging van eiendom of infrastruktuur tydens betogings of stakings nie.

Die staat

* Beskerm elke burger.

* Regeer namens almal – nie net vir lede van jou party nie.

* Wees diensgerig.

* Stel mense op meriete aan.

* Hou elkeen verantwoordbaar.

* Maak die regering kleiner en doeltreffender.

* Vat korrupsie vas.

* Kry die hele ondersoek- en vervolgingstelsel op koers.

* Bevorder interne en openbare dialoog in alle munisipaliteite.

* Maak tersiêre opleiding meer prakties.

* Bewaar die omgewing.

* Stel gemeenskapsprogramme in om rommel op te ruim.

Die burgerlike samelewing

* Help bevorder sinvolle dialoog tussen alle gemeenskappe.

* Bevorder die visie van die maatskaplike verdrag onder alle groepe.

* Maak seker betogings ontaard nie in geweld nie.

* Moenie die privaatsektor of die regering as vyande behandel nie.

* Matig taalgebruik. Moenie skel en beledigings slinger nie.

* Beveg korrupsie.

Die media

* Hou by die gebalanseerde waarheid.

* Die media is nie ’n beterweterige buitestander nie – joernaliste is ook burgers met ’n belang by ’n suksesvolle land.

* Stel korrupsie aan die kaak.

* Versprei die boodskap van die maatskaplike verdrag.

Die tyd is nou

Ondersteuners in Kaapstad wag Maandag op hul Bok-helde. Foto: Gallo Images

Daar kan heelwat meer punte vir elke sektor uitgelig word.

Die president het verwagtinge geskep met sy beloftes oor ’n maatskaplike verdrag.

Dis tyd dat dinge gebeur. En die tyd is nou, terwyl ons van welwillendheid oorspoel is ná die Bokke se oorwinning.

Ons kan nie toelaat dat ’n donker toekoms ons oorval nie. Dit sal opofferings verg. Doen ons dit nie, is die prys van konflik later soveel groter.

* Robinson is ’n veteraan-joernalis en nuusanker van eNuus op kykNET. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.