Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Só kry simbool vir CR gestalte

In hierdie aflewering oor die konteks van sy Beeld-spotprente, skryf Niël van Vuuren hoe die buffel-simboliek rondom pres. Cyril Ramaphosa ontstaan het.

Niël van Vuuren by een van sy spotprente wat as hoofillustrasie op die voorblad gebruik is.Foto: DEAAN VIVIER

Dit was nie ’n grap dat Jacob Zuma in sy tyd aan die bewind deur spotprenttekenaars gereduseer is tot ’n behoorlike karikatuur nie.

Al wat oorgebly het was ’n stortkop, en ’n ge-hê-hê-hê . . . Die voormalige president self staan natuurlik nie onskuldig in die skep van hierdie satiriese legende nie.

Met die geleidelike opkoms van Cyril Ramaphosa moes ’n mens dadelik soek na ’n ander rat. ’n Gebalanseerde benadering was nou nodig, aangesien Ramaphosa positiewe bydraes in nasionale belang begin lewer het.

Dus het die soeke na gepaste simbole en kortpad-maniere om Ramaphosa te teken reeds voor sy verkiesing tot die ANC-presidensie begin. Om die waarheid te sê, die siening dat Ramaphosa en sy ondersteuners binne die ANC ’n teenwig is vir dit wat alles verkeerd is in dié party, het die bloudruk geword vir die manier waarop hy voorgestel word.

Anders as in die Zuma-era waar daar nie ’n onderskeid gemaak is tussen die party en sy leier nie, het hierdie dualisme nou noodsaaklik geword: kritiseer die ANC, maar gee Rama­phosa persoonlik krediet vir die goeie dinge wat wel gedoen word.

Die buffel bied ’n interessante simbool vir Ramaphosa. Rama­phosa die boer wat ’n rekordprys vir ’n buffel betaal het, het die eerste vastrapplek gegee vir die buffel-simboliek.

Eerstens gebruik ek die buffel as ’n positiewe simbool, sterk en fors. Hy is ’n imposante sakeman, ’n polities uitgeslape oorwinnaar ten spyte van al die dwarstrekkers in sy party, die een wat sy kop laat sak en meedoënloos voortbeur. Partykeer kan die buffel die majestueuse en eerbare deurdrukker wees en ander kere dalk ’n bietjie van ’n stormloper. Belangrik is dat so ’n simbool ’n magdom kreatiewe deure oopmaak om komplekse politiese gebeure en intriges te beskryf. Die buffel bied amper ’n soort voertuig om die politieke onderstrominge op ’n subtiele manier uit te druk.

Die prente wat ek gekies het, wys die buffel soms as ’n sentrale of direkte simbool en ander kere weer as ’n byspeler of bloot ’n interessante opkikker-element vir ’n prent. ’n Voorbeeld waar die buffel Ramaphosa direk uitbeeld, kan gesien word in die prent waar populisme en realisme die twee kragte is wat die buffel in verskillende rigtings trek. Hier word die buffel direk gebruik.

Voorbeelde waar die buffel as byspeler of indirek gebruik is, is “Shaun se guillotine” waar die buffelhorings bo-op die guillotine aandui dat Ramaphosa eintlik die drywer is van wat met die hoof van die nasionale vervolgingsgesag gebeur. Hier word die buffel weer ’n teken van die politieke onderstroming.

In een van die heel eerste prente waar die buffelsimbool gebruik word, word die twee setels van mag uitgedruk deur middel van die twee torings van die Uniegebou, die een wat lyk soos Zuma se kop en die ander met die buffelhorings. Hier het die buffelsimbool die eerste kortpad-teken geword om Ramaphosa uit te beeld.

In van die ander prente wat ek gekies het, word die buffel-simboliek gebruik om die prent snaakser en interessanter te maak, byvoorbeeld die buffel­pantoffels en die klein buffelhorinkies aan die kar se spieëltjie, of as lapelwapen op sy pak klere. Een van my persoonlike gunstelinge is waar Ramaphosa van bo af by sy lessenaar uitgebeeld word in die “Cyril se doenlysie”-prent en die buffel as ’n standbeeld op sy tafel gewys word.

In die komende jaar sal dit duidelik word of die positiewe of negatiewe eienskappe van die buffel aan Ramaphosa klou. Ek hoop my prente wys in 2019 dat die buffel nie struikel nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.