Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Só lyk die DA se kruispad

Bonolo Selebano kyk na die probleme en geleenthede wat die DA konfronteer by die kruispad waar hy hom tans bevind.

Ondersteuners op ’n DA-saamtrek in Soweto.Foto: Deaan Viviers

Verbeel jou ’n Demokratiese Alliansie (DA) wat na sy puristiese liberale wortels terugkeer en in die voorstedelike laer-politiek van sy voorganger – die Progressiewe Party (PP) – rondploeter. Of ’n DA wat die regering by die ANC oorneem nadat hy sy soort liberalisme slim aangepas het om die lewenswerklikhede van agtergeblewe groepe in die land – diegene wat as gevolg van hul getalle-oormag ongetwyfeld die invloedrykste groep stemgeregtigdes in die land is – te weerspieël.

Dít is heel moontlik die aard van die kruispad waar die DA hom nou ná die 2019-verkiesing bevind – waar sy nasionale steun die eerste keer in sy geskiedenis gedaal het, twee prominente swart leiers die party verlaat het, en die uitslae van onlangse tussenverkiesings toon dat hy steeds stemme aan die Vryheidsfront Plus (VF+) afstaan.

As jy kyk na die hersieningspaneel van die DA se verslag oor die stand van die party, blyk dit dat sy steun in die plaaslike verkiesing in 2016 ’n hoogtepunt van 27% bereik het toe die DA sy beheer deur koalisieregerings buite die Wes-Kaap na Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai uitgebrei het.

Kyk na die geskiedenis

Bonolo Selebano

Die verslag het ook getoon dat sy steun onder swart, bruin en Indiërgemeenskappe in daardie jaar met betrekking tot sowel plaaslike as nasionale verkiesings sedert 2000 ’n hoogtepunt bereik het.

Die gety het egter op 8 Mei 2019 vir die DA gedraai toe sy nasionale steun tot 20,8 % van die stemme gedaal het. Hy het in 2014 nog 22,2% behaal.

Wat het in hierdie jare, en in die tydperk ná 8 Mei 2019, gebeur om die DA se groei te stuit? Dalk kan die geskiedenis en die konteks ons help om die uitdagings te verstaan waarvoor die DA by hierdie kritieke kruispad in sy ontwikkeling te staan gekom het.

Die DA is ’n nasaat van ’n aantal partye wat in Suid-Afrika se wit parlement onder apartheid bedrywig was. Die party se vroegste voorganger, die Progressiewe Party, het in 1959 tot stand gekom.

Ná sy samesmelting met ander liberale partye en wegbreekpartye het die PP – later die Progressiewe Federale Party (PFP) – in 1989 die Demokratiese Party (DP) geword.

Ná die oorgang na demokrasie het die DP in 2000 ’n alliansie met die Nuwe Nasionale Party (NNP) aangegaan en sy naam na die Demokratiese Alliansie (DA) verander.

Met die DA as kern en sy aanhangsels ander politieke partye met hul eie karakter het hierdie amalgamasie ’n teelaarde vir botsende belange oor beleidsvoorkeure geword. Dié botsing oor beleid is ook kenmerkend van die DA se groot openbare leierskapstwiste.

Wit vrese

Lindiwe MazibukoFoto: Argief

Tony Leon, voormalige DA-leier, het in 1999 die Veg-terug-veldtog gelei wat geteer het op minderhede se vrese vir ’n ANC-regering en geveg het teen ’n beleid, veral rasgegronde regstellende optrede, wat as ’n bedreiging vir minderheidsgroepe beskou is.

Hoewel die veldtog die DA in staat gestel het om noemenswaardige steun onder wit Engelssprekende middelklas-Suid-Afrikaners te kry, het dit nie juis aftrek by swart, bruin en Indiërgemeenskappe gekry nie.

Op ’n vergadering van die DA se federale raad in 2006 het die party toegegee dat die steun van swart kiesers noodsaaklik vir sy voortgesette groei is. Die party het erken dat hy tot in daardie stadium gesukkel om die besorgdhede van dié kiesers te verwoord.

Onder die leierskap van Helen Zille het die DA noemenswaardige pogings aangewend om die party meer aanloklik vir swart mense te maak. In dié tyd is jong leiers soos Lindiwe Mazibuko en Mmusi Maimane in senior poste aangestel.

Die DA se kleur het begin verander soos wat sy ledetal verander het.

Botsing oor beleid

Die botsing oor sleutelbeleidskwessies – veral met betrekking tot die party se posisie oor swart ekonomiese bemagtiging en regstellende optrede in die arbeidsmark – het toe aan die lig gekom.

Mazibuko se benadering was dat ’n suiwer klasgegronde ontleding van strukturele ongelykhede in Suid-Afrika die DA se blik op die werklikheid aansienlik sou verskraal. Dit was noodsaaklik om die geskiedenis en konteks van armoede, ongelykheid en toegang tot geleenthede te verstaan en te besef hoe dit met ras en gender verband hou.

‘DA ’n ANC-aanhangsel’

Mazibuko het bedank en is deur Maimane vervang. Van hom is verwag om deur die DA se wit rasseplafon te breek, maar hy is later daarvan beskuldig dat hy die DA op die ANC skoei en ’n blote aanhangsel van dié veel groter party maak.

Deur sy mening oor kwessies soos wit bevoorregting het Maimane vyande gemaak. Die rol wat die Instituut vir Rasseaangeleenthede gespeel het in die aanloop tot Maimane se bedanking uit sowel die parlement as die DA, was twyfelagtig – verskeie senior DA-leiers het dié liggaam daarvan beskuldig dat hy hom by die party se interne sake inmeng.

Maimane het met sy bedanking gesê die DA is nie meer ’n instrument vir verandering nie.

Die instituut het aangevoer dat die DA weer in voeling met sy klassieke liberale waardes moet kom en deur Maimane met ’n “wit man” te vervang sou die party ’n boodskap van nierassigheid oordra.

Maimane het bedank en gesê die party is nie meer ’n instrument vir verandering nie. Kort op sy hakke het Herman Mashaba, voormalige burgemeester van Johannesburg, ook die party verlaat. Sy afskeidsboodskap was dat hy hom nie langer met ’n groep kon vereenselwig wat glo ras is irrelevant in die bespreking oor ongelykheid en armoede in Suid-Afrika nie.

‘Geen behoorlike strategie’

In die hersieningspaneel se verslag van 30 bladsye het hy gekyk na hoe die DA in die verkiesing van 8 Mei gevaar het.

Die party het onder meer erken dat hy nie ’n behoorlike strategie gehad het van hoe om in die post-Zuma-era, ’n tydperk wat deur klaaglike bestuursmislukkings deur die ANC gekenmerk is, ’n doeltreffende opposisieparty te wees nie.

Die DA het ook erken dat Zille se twiets oor kolonialisme die party skade berokken het.

Die ANC se tekortkominge in daardie tyd het ’n lat geword waarmee die DA die party kon slaan. Die lat het egter verdwyn toe Cyril Ramaphosa president van die ANC en die land geword het.

Die DA het ook erken dat Zille se twiets oor kolonialisme die party skade berokken het. Die verslag het egter nie diep genoeg besin oor waarom sulke twiets beleef word as ’n onderbeklemtoning van die ontsettende onreg wat kolonialisme die land se swart meerderheid aangedoen het nie.

In die verslag is voorts bevind dat regstellende optrede een van die redes is waarom Afrikaanse kiesers toenemend van die DA vervreem geraak het.

Reuse-mynveld

Uit die bogenoemde historiese perspektief op die stand van die DA blyk dit dat ras en regstellende optrede ’n reuse-mynveld geword het waarvan die party teruggedeins het. Dít was die deurlopende motief in die party se openbare leierskapstwiste.

Binne dié konteks het kritiek op die DA sommige van sy leiers uitgebeeld asof hulle uit voeling is met wat om hulle aangaan.

Uitdrukking in oppervlakkige stellings soos 'ras tel nie' of 'kolonialisme was nie nét sleg nie', maak die belewenis van mense wat dit deurgemaak het ongedaan.

Die party se huiwering om ras en regstellende optrede aan te pak het sy analitiese vermoë om te verstaan wat rassisme is en hoe dit die maatskaplike en politieke lewe vorm ondermyn. ’n Voorbeeld is die geneigdheid van talle DA-leiers om nierassigheid met kleurblindheid te verwar. Nierassigheid is ’n besliste verwerping van rassisme en kleurblindheid is die voorreg om dit te ignoreer.

Terwyl eersgenoemde ’n aktiewe verbintenis tot nie-rassisme is, is laasgenoemde om jou vir die lyding van ander blind te hou. Dít vind dikwels uitdrukking in oppervlakkige stellings soos “ras tel nie” of “kolonialisme was nie nét sleg nie”, wat die belewenis van mense wat dit deurgemaak het ongedaan maak.

Met ander woorde: Rassisme word nie net as vooroordeel of ander dubbelsinnige woordeboekverklarings beskou nie. Rassisme is ’n stel kulturele praktyke met as uitgangspunt die fundamentele beskouing dat een ras belangriker as ’n ander is. Hierdie beskouing gee voorts vorm aan elke aspek van sosiale en politieke lewe.

‘Dokument te vaag’

Mmusi MaimaneFoto: Jaco Marais

Kritiek op die DA kan dus as volg opgesom word:

Die party vind dit moeilik om te erken welke nagevolge die onregte van die verlede vandag nog het; en om daadwerklik deel te hê in die regstelling van daardie ongeregtighede deur kleur- en genderbewuste regstellende beleid.

Trouens, hy etiketteer sulke beleide as omgekeerde diskriminasie ondanks die feit dat die vertrekpunt van sulke beleide die ontginning van talent uit alle dele van die bevolking is.

Die DA hou in April sy beleidskongres en het onlangs ’n nuwe konsepbeleidsdokument uitgereik. Hoewel die party toegee dat regstellende optrede noodsaaklik is vir die totstandkoming van ’n meer regverdige en gelyke samelewing, is hy vaag oor hóé hy beplan om dít teweeg te bring. Die dokument is ook vaag oor wié die fokus van regstellende optrede moet wees.

Aangesien die dokument ras- en gender-bewuste regstellende beleide verwerp het, impliseer dit die party meen ras en gender speel in Suid-Afrika nie ’n rol met betrekking tot agterstande nie.

‘DA kan hieruit voordeel trek’

Helen ZilleFoto: Jaco Marais

Dít ondanks oorweldigende bewyse dat armoede en ongelykheid onlosmaaklik verband hou met ras en gender en ander eienskappe wat ’n invloed op die lewe in hedendaagse Suid-Afrika het.

’n Benadering tot geregtigheid en gelyke geleenthede wat nie ag slaan op ras en gender as deel van sy oplossing nie, is onbevredigend.

Die DA is besig om in afsondering beleid te formuleer en dít dreig om die party nog verder van die land se arm swart meerderheid te vervreem.

Die party se beleidskongres bied aan hom die geleentheid om korte mette te maak met hardnekkige persepsies dat die party nie ernstig daaroor is om rasse-ongeregtigheid te takel in ’n samelewing wat nog met die babelas van ’n eeue oue stelsel van onderdrukking sit nie.

In plaas daarvan om nogmaals terug te deins van eerlike debat oor ras en regstelling, kan die DA dié kwessies op sy beleidskongres só aanpak dat dit tot voordeel van sy verkiesingsvooruitsigte in 2021 en 2024 sal strek.

* Selebano is ’n politieke verslaggewer van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24. Dié artikel was ’n referaat wat Selebano op 10 Februarie op ’n seminaar by die Universiteit van die Vrystaat gelewer het.

Meer oor:  Da  |  Mmusi Maimane  |  Tony Leon  |  Helen Zille  |  Lindiwe Mazibuko  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.