Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Só moet ’n nuwe kabinet lyk

As hy kon kies, sou hy beslis twee mense van buite die parlement, sowel as lede van ander partye as die ANC in ’n nuwe kabinet aanstel, skryf Jan-Jan Joubert.

Pres. Cyril Ramaphosa het ’n moeilike taak as hy ’n nuwe kabinet wil saamstel. Foto: GCIS

Ja-nee, dis nou nie altemit nie – tussen die happende politieke werklikheidswolwe genaamd Koronavirus, Inperking, Anargie en Korrupsie is daar boonop ’n politieke lossigheidjie in die lug, genaamd Kabinetskommeling – as daar so iets soos ’n ietwat skamerige wolf was, dan is haar naam Kabinetskommeling.

Skommelings en gerugte van skommelings moet in die algemeen eerder vermy word, anders raak jy soos die seuntjie wat wolf geskree het, want art. 91 van die Grondwet bepaal dat kabinetsaanstellings, kabinetsafdankings en die hoeveelheid kabinetslede die volkome prerogatief van die president is.

Die een belangrike reël in art. 91 is dat alle ministers lede van die parlement se Nasionale Vergadering (NV) moet wees, behalwe dat twee ministers van buite die NV aangestel mag word. Dit is die reëls van die spel.

Polities krap die wolf aan die deur – selfs die tydsaamste president weet dit.

En daardie reëls is in spel, want hoewel gerugte van kabinetskommelinge vermy moet word, het ons tydsame, beproefde president self aangedui dis nou sulke tyd.

So kom ons los die happende wolwe vir ’n oomblik met hul onversadigbare tande al klappend, en gee aandag aan daardie oënskynlik skamerige dog ewe gevaarlike (want ’n wolf is ’n wolf) tropdier, Kabinetskommeling.

Jackson Mthembu, die minister in die presidensie, is al ses maande in sy graf, dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, word tans deur ons tydsame leier – stadig maar seker – met ’n broodmes polities keelaf gesny, en die kabinet is tot ’n patetiese mate verdeeld.

Polities krap die wolf aan die deur – selfs die tydsaamste president weet dit.

Uitdagende spel

Tito Mboweni, minister van finansies, verlede jaar aan die woord in die parlement. Foto: Argief

Kom ons laat dus enige gegronde sinisme oor die vervlakste ANC by daardie deur en dink ’n slag proaktief: Gestel jy was ’n wolftemmer genaamd Cyril, wat sou jy binne die neergelegde reëls soos hierbo verduidelik doen, en hoe sou jou kabinet lyk? Onthou ook, die werklikheid is dat jy in ’n hok genaamd die ANC funksioneer, en boetie, daardie hok perk jou in.

Maar gaan sit vandag by die etenstafel en voer ’n gesprek hieroor met jou geliefdes, en kry hul insette. Dit is ’n uitdagende spel. Ruimte ontbreek hier om elke kabinetspos te bespreek (die kabinet is oordadig groot), maar ons kan konsentreer op sleutelposte, en op die veranderings.

Leiers van die opposisieparetye moet in belang van sterk opposisie hul opposisierol voluit speel.

Ek bespreek dus nie die gangbare ministers soos Tito Mboweni (finansies), Pravin Gordhan (openbare ondernemings), Thoko Didiza (landbou), Angie Motshekga (basiese onderwys), ensovoort nie.

So hier is my poging (wend gerus jou eie aan): Daar is ook twee sleutelaannames wat ek sou maak wat waarskynlik nie binne die ANC-hok toegelaat sal word nie, maar gegewe die gekontamineerde en beperkte ANC-talentpoel, gaan ek nietemin voorstel dat Wolftemmer Cyril die reeds so duidelike intellektuele inteling binne die huidige trop bekamp deur die genepoel te vergroot met die twee aanstellings van buite die NV wat die Grondwet toelaat, asook een aanstelling uit elk van die grootste opposisiepartye.

Dit sal nie die leiers van daardie partye wees nie – hulle moet in belang van sterk opposisie hul opposisierol voluit speel.

Twee van buite

Prof. Salim Abdool Karim se integriteit, kennis, gelykmatigheid, gravitas en aansien maak hom ’n sterk keuse as minister van gesondheid. Foto: Argief

Die eerste talent van buite wat ek sal inbring, is prof. Salim Abdool Karim as minister van gesondheid. In hierdie seisoen van die pes is dit ’n sleutelaanstelling wat die medies kundigste, mees inspirerende leierskap benodig. Dr. Joe Phaahla, huidige adjunkminister, is te ondinamies, die agt ANC-LUR’s vir gesondheid wissel van middelmatig (dr. Phophi Ramathuba in Limpopo) tot swak, en dr. Sibongiseni Dlomo, die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid, se skandelike rekord as LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal toon dat hy in belang van die grondwetlike reg op lewe so ver moontlik van enige uitvoerende pos weggehou moet word.

kabinet

Abdool Karim se integriteit, kennis, gelykmatigheid, gravitas en aansien maak hom ’n sterk keuse, hoewel my gewete my sou pla om so ’n aangename mens vir die wolwe te gooi.

Maar in landsbelang, Wolftemmer Cyril, styg tog uit bo jou politieke genepoel, seblief man!

My ander aanstelling van buite die parlement sal omstrede wees, so laat weet as julle ’n beter voorstel het, want ek gee toe ek is met die hande in die hare hieroor.

My voorstel is om genl. Bheki Cele as minister van polisie te vervang met genl.maj. Jeremy Veary, die geskorste Wes-Kaapse speurhoof.

Hy is omstrede en dikwels in die moeilikheid, maar ek meen die tyd sal nogmaals leer dat hy reg is en dat skarminkels agter die huidige klagtes teen hom sit.

Sy rekord as polisieman oortuig my, onder meer veral sy rol in die aankeer van Christiaan Prinsloo vir sy verwerplike betrokkenheid by die verkoop van wapens wat tydens amnestie ingegee is aan misdadigers.

Veary se rol hierin was inspirerend, selfs beter en avontuurliker as die gefiksionaliseerde weergawe daarvan in Deon Meyer se nuutste boek, Donkerdrif.

Ek dink dis tyd om Jeremy ’n kans te gee.

Aanstellings uit ander partye

Adv. Glynnis Breytenbach is ontsettend hardwerkend en haar passie vir die reg en vir geregtigheid is in hierdie land sonder gelyke. Foto: Gallo Images

Uit die DA sal ek adv. Glynnis Breytenbach aanstel as minister van justisie. Daily Maverick se ontbloting van die manier waarop die huidige minister, Ronald Lamola, se regsfirma ongerymdhede in loterykringe ondersoek het, moet hier in ag geneem word.

Vanuit die EFF sou ek Hlengiwe Mkhaliphi aanstel as minister van samewerkende regering.

Ons kyk maar hoe dit uitspeel, maar sou Lamola die weg van Mkhize blyk te bewandel, is Breytenbach die beste keuse as opvolger. Soos Abdool Karim is sy geensins ’n beroepspolitikus nie. Sy is in hart en niere ’n aanklaer. Sy weet hoe die strafregstelsel werk, sy verstaan begrotings, sy het ’n suksesvolle rekord van veelrassige bemagtiging, sy het die toepaslike bestuurservaring, sy is polities ruimdenkend, ontsettend hardwerkend en haar passie vir die reg en vir geregtigheid is in hierdie land sonder gelyke.

Vanuit die EFF sou ek Hlengiwe Mkhaliphi aanstel as minister van samewerkende regering. Die huidige minister, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, is werklik afgryslik swak (ek dink selfs die miljoene Suid-Afrikaners wat haar wil weg hê, besef nie die omvang van haar onbeholpenheid, eiewaan, ontoerekenbaarheid en rampspoedigheid nie.) Mkhaliphi is oopkop en kan oor partygrense saamwerk. Sy het wye ervaring van munisipale binnewerkinge en is een van die hardwerkendste, bes voorbereide parlementslede in enige party.

Hlengiwe Mkhaliphi van die EFF is een van die hardwerkendste, bes voorbereide parlementslede in enige party. Foto: Gallo Images

Uit die geledere van die IVP sou ek hul demografies mees onwaarskynlike parlementslid, Liezl van der Merwe, opraap vir die portefeulje maatskaplike ontwikkeling. Jy kan die meisie uit Goodwood haal, maar nie die hardgebakerdheid uit die meisie nie.

Oor die banaliteit en ontoereikendheid van die huidige minister, Lindiwe Zulu, sal ek diplomaties swyg (dis ’n gesinswebtuiste hierdie), behalwe om te voorspel dat die land se sterftesyfer dalk kan daal met haar vervanging. Van der Merwe ken en verstaan die welsynstelsel, sy werk hard, is onkreukbaar eerlik, gee regtig om en was op haar ordentlike, logiese, meedoënloos effektiewe manier grootliks die politieke laksman (of laksvrou?) van daardie immer kouende maatskaplike nagmerrie, oudminister Bathabile Dlamini.

Die VF Plus het deesdae nogal kundige LP’s.

As haar adjunk sal ek die onderskatte maar uiters bekwame DA-LP Bridget Masango benoem.

Die VF Plus het deesdae nogal kundige LP’s. Ek sou hul partyleier vra om die suksesvolle sakeman Jaco Mulder af te staan as minister van kleinsakeontwikkeling, siende dat Khumbudzo Ntshaveni, die huidige minister, in elk geval al ses maande lank wyle minister Mthembu se mantel dra as minister in die presidensie en beslis beter vaar daar as haar tragiese, rasbenewelde mislukking by kleinsakeontwikkeling.

Daarteenoor is Mulder ’n rustige, kundige persoon wat hom nie vir elke bakatel opruk nie, goed georganiseerd, oplossingsgerig, aangenaam en gelykmatig.

En wat van verdediging?

Jan-Jan Joubert

Natuurlik is daar ander portefeuljes wat ons nog moet takel.

Verdediging en die dodelik ironies benaamde Staatsveiligheid is boaan die lys.

Ek moet beken, as ’n pasifis wat geheimhouding nogal aktivisties beveg, is dit nie spesialisvelde van my nie. Was ek Wolftemmer Cyril sou ek nietemin die poste moet vul. In so ’n geval sou ek my tekortkominge erken, en kundige raad inwin. Kom ons hoop hy doen dit en volg dit, want ons land het dit bitter nodig.

Dis maar enkele voorstelle. Oor na u, meneer die president. Ja-nee, ons wag mos op die kaptein.

• Jan-Jan Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.