Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Só oorleef jy inperking saam met kleuters (en ouer kinders)

Mense met kleuters en ouer kinders moet die tyd van inperking gebruik as ’n geleentheid om saam met hul kinders te leer, te groei, te speel en te lag. Marèth van Schalkwyk gee ’n paar wenke vir ouers oor hoe om dié tyd saam met hul kinders te oorleef.

Wat gaan ons nou doen om die kinders besig te hou? Foto: AP

Ons almal is onseker en bang en ’n bietjie uit ons gemaksone in die tyd van inperking – ons kinders ook! Hierdie wenke sal dié tyd dalk net so ’n bietjie meer leefbaar maak en kan veral handig te pas kom as die inperking verder verleng gaan word.

Roetine is belangriker as ooit.

Roetine is een van die belangrikste goed wat aan kleuters en kinders sekerheid gee. (Wanneer jy roetine en sekerheid op ’n internet-soekenjin intik, sal jy honderde inskrywings sien wat die belang en voordele hiervan bevestig en verduidelik.)

Sekerheid is van onskatbare waarde om kinders meer gevestig en minder angstig te laat voel. Kinders vind sekerheid daarin om te weet hoe hul dag daaruit sien.

Dit beteken nie dat jy ’n uitgewerkte dagprogram moet hê wat vir elke minuut voorsiening maak nie, maar dit behels dat daar gevestigde opstaan-, slaap- en etenstye is. Die versoeking om slap te lê met slaaptye en net te wag dat kinders en kleuters self aan die slaap raak van uitputting is groot, maar gevestigde slaaptye is voordelig vir die algehele welstand van jou kind – emosioneel, fisiek en intellektueel.

’n Gevestigde slaaptyd hou ook die voordeel in dat jy weet dat jou kleuter genoeg slaap inkry sodat hulle nie die volgende dag huilerig, klaerig en klouend sal wees nie en dit gee ouers ’n blaaskans wanneer die kleingoed in die bed is.

Gebruik die tyd om nuwe gesinsroetines te skep

Kinders moet hulself ook kan besig hou in die tyd van inperking. Foto: Argief

Siende dat ons nou die tyd het, is dit die ideale geleentheid om daardie gesinsroetine wat jy nog altyd wou instel te vestig. Dit is irrelevant of dit ’n tydelike roetine is om byvoorbeeld elke oggend om 11:00 saam tee te drink of dat almal soggens saam dans op ’n gunsteling liedjie, of dat dit ’n meer permanente roetine is soos dat almal een keer per dag saam om ’n etenstafel sit.

Die tydelike roetines van samesyn is wat jou kinders bo alles van hierdie tyd sal onthou en die meer permanente roetines is ’n geleentheid om aan te hou bou aan geleenthede vir samesyn wanneer die inperking verby is.

Dit is baie moeilik om nuwe roetines te vestig in ons gewone dag-tot-dag-bestaan, want dit is net nog iets waarvoor daar tyd gemaak moet word en wat ekstra beplanning verg. Indien hierdie roetines egter tydens die inperkingstydperk gevestig word wanneer almal saam tuis is en net daardie klein bietjie ekstra tyd het, sal dit makliker wees om daarmee vol te hou wanneer die wêreld weer na (die nuwe) normaal terugkeer.

Moenie jou kinders konstant probeer besig hou nie

Dit is nodig dat ons tyd saam met ons kinders deurbring, maar moenie voel dat dit jou werk of verantwoordelikheid is om hulle die heeltyd besig te hou nie.

Kinders moet op hul eie kan speel, hul eie speletjies uitdink en verveeld word. Kreatiewe denke en verbeelding word gebou deur selfspeel en verveling.

Kinders wat gelos word om hulself besig te hou, bou ook probleemoplossingsvaardighede, leer van oorsaak en gevolg, leer onafhanklikheid, leer dat geluk van hulself en nie van ander afkom nie en leer om hul emosies te reguleer.

Praat en luister

Te veel skermtyd is nie goed vir kinders nie.Foto: Argief

Een van die belangrikste vaardighede wat jy en jou kinders in hierdie tyd kan aanleer, is om kommunikasiekanale oop te hou. Praat met jou kinders en luister na wat hulle sê. (En lees sommer tussen die lyne ook.)

Vra elke aand voor bedtyd – want dit is gewoonlik wanneer die meeste vrese, vrae en lekkerste geselsies gebeur – hoe hulle voel. Vir jonger kinders moet jy meer leiding gee en jy kan vir jou kleuter baie spesifieke vrae vra, soos byvoorbeeld: “Is daar iets wat jou bang maak?”, “Is daar iets wat jou gelukkig maak?”, “Hoe voel jou hartjie?”

Dit is terselfdertyd ’n wonderlike geleentheid om kleuters van gevoelens te leer.

Ouer kinders het ’n groter kapasiteit om hulself uit te druk, maar maak steeds seker dat jy spesifieke vrae vra om agter te kom hoe jou kind werklik voel. Wanneer hulle dan antwoord, vra hulle hoekom hulle so voel, of wat hulle gelukkig/bang/hartseer/opgewonde maak. Maak ook seker dat jy ewe veel positiewe en negatiewe emotiewe vrae vra.

Kleuters en vroeë skoolgangers verstaan baie beter wanneer hulle iets visueel sien.

Spreek jou kind se vrese op hul vlak aan. Kleuters en vroeë skoolgangers verstaan baie beter wanneer hulle iets visueel sien.

Ek het byvoorbeeld die voorstelling van mense wat ernstig siek word van Covid-19 met 100 Lego-blokkies aan my kleuter verduidelik en dit het vir die eerste maal ingesink, so wees voorbereid om kreatief te wees met jou antwoorde.

Om die gewoonte te vestig om gereeld met jou kind te praat, kan verreikende gevolge hê. Kinders wat daaraan gewoond is om met hul ouers te praat, sal jou makliker vertel indien iets groots fout is, byvoorbeeld dat hulle die slagoffer van ’n boelie was.

Verder is kinders wat hul emosies kan uitdruk meer geneig tot gesonder emosionele en geestesgesondheid en minder geneig tot gedrags –en verhoudingsprobleme.

Maak seker jy gee ’n bietjie ekstra liefde

’n Seun in Australië gebruik ’n skootrekenaar om skoolwerk te doen. Foto: Getty Images

Ons kinders is net so onseker soos ons in gedurende hierdie tydperk – in sommige opsigte selfs nog meer as ons.

Behalwe dat hulle ook die omvergooi van normaliteit en sosiale distansiëring moet verwerk, asook die vrees vir hoe die wêreld gaan verander, is hulle ook bang dat hulle hul ouers en hul ondersteuningsnetwerk gaan verloor. Baie kinders se grootste vrees is dat hulle die enigste een sal wees wat oorbly in hul gesin, ander vrees hul ouers se dood en dat niemand hulle sal versorg nie en sommige is doodbang dat hulle nooit weer hul familielede gaan sien nie.

Hierdie vrese kom baie keer in kleuters – wat dinge dikwels nie behoorlik begryp nie en nie die kapasiteit het om te verstaan of hulself uit te druk nie – se gedrag na vore deurdat hulle huilerig is of nog meer sukkel om emosies in toom te hou of bloot deur vloermoere te gooi.

Ouer kinders kan baie hartseer, bot of depressief raak. Maak seker dat jou kinders gekoester voel en dat hulle weet dat jy hulle baie lief het en moenie bang wees om met hulle te gesels oor hoe hulle voel nie.

Maak kontak

’n Gesin in Toskane in Italië. Foto: Reuters

Jou kinders mis hul maats en familie net soveel soos jy.

Help jou kinders om minder geïsoleerd te voel deur hulle aan te moedig om maats en familielede te bel. Help kleuters om video’s te maak en te stuur, of stuur stem-grepe. Dit maak dat jou kinders meer in beheer voel van die situasie en dit laat hulle steeds deel voel van hul sosiale groep en familie. Veral wanneer video’s, foto’s en stemgrepe gestuur word in antwoord op dit wat hulle gestuur het.

Wees aktief

Ons kan nie vir lang stappies gaan nie, maar daar is baie ander planne wat jy kan beraam om seker te maak dat jou kinders steeds ’n goeie dosis daaglikse oefening inkry. Wanneer kleuters en ouer kinders beweeg, voel hulle beter.

Hulle raak ook ontslae van oortollige energie en slaap makliker in die aand. Bou hindernisbane uit kussings en stoele, maak beurte om te dans op elkeen se gunstelingliedjie, hou ’n balkon-marathon, kruip deur die huis in ’n resies, laai ’n toepassing af wat almal aan die oefen kry. Die moontlikhede is legio.

Beperk skermtyd

Onbeperkte skermtyd is ’n groot versoeking gedurende die inperking, maar die negatiewe implikasies van te veel skermtyd geld ook in dié tyd.

Dit is moeilik om ’n skermverslawing te breek of om te besluit om skermtyd in te perk en wees voorbereid daarop dat jou kinders baie kwaad vir jou sal wees hieroor. Die voordele van lees, speel en aktief wees oortref die betreklike skyn van vrede as kinders voor die televisie sit.

Probeer soveel normaliteit moontlik bewerkstellig

08042020 Beeld Nuus Mareth van Schalkwyk
Marèth van Schalkwyk

Kinders het ’n behoefte aan normaliteit wanneer alles omvergegooi word, so maak seker dat daar steeds standvastige goed in hul lewens is.

As julle elke Vrydag ’n wegneempizza bestel het, maak elke Vrydagaand pizzas. Het julle op Sondae ’n gesinsete gehad? Maak dan ’n groot Sondagmaal en bel die familielede voor julle aansit om te hoor wat hulle eet en wat hulle maak.

’n Stukkie van die lewe voor inperking sal baie help om die lewe gedurende inperking makliker te maak.

Onthou dat die tyd van inperking ook nie vir altyd gaan duur nie. Gebruik hierdie geleentheid om saam met jou kinders te leer, te groei, te speel en te lag. In ons moderne samelewing waar ons vir niks tyd het nie en jaag van die een plek na die ander, is dit ’n kosbare geleentheid wat aan ons gegun word om saam met ons gesinne te wees. Kom ons probeer om dit so lekker moontlik vir ons almal te maak.

* Van Schalkwyk is ’n spesialis in kreatiewe onderwys en het haar eie kleuterskool. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Kleuters  |  Staat Van Inperking  |  Ouers  |  Kinders  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.