Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Só red ons munisipaliteite

Dit help nie om verder voort te borduur oor die skokkende toestand van Suid-Afrika se munisipaliteite nie. Daar moet eerder plan gemaak word om hulle reg te ruk, skryf Theuns Eloff.

Betogings teen die swak dienslewering van munisipaliteite is bykans ’n alledaagse verskynsel in Suid-Afrika. Foto: Jaco Marais

Kimi Makwetu, ouditeur-generaal (OG), en Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het onlangs gesê dat dit al slegter gaan met die finansies (en daarom die dienslewering) van munisipaliteite.

Die skokkende syfers in hierdie verband is nou reeds oorbekend: onreëlmatige uitgawes het landswyd tot R28,3 miljard (van R16,2 miljard in 2015-’16) toegeneem – ’n toename van 70%. Daarby is 128 van die 257 munisipaliteite oor die land heen in ’n ernstige finansiële verknorsing, en slegs 13% (33) het skoon oudits gekry. Eskom het aangekondig dat munisipaliteite nou meer as R14 miljard uitstaande skuld vir onbetaalde elektrisiteitsrekeninge het.

Dis nie meer nodig om verder op die toestand van plaaslike owerhede voort te borduur nie. Dis om van naar te word. Die vraag moet eerder wees: Hoe kan dit opgelos word? Hoe kan ons weer in ’n posisie kom waar munisipaliteite die mense wat hulle behoort te dien, eerste stel?

Om hierdie vraag te beantwoord, is dit eers nodig om na die oorsake van hierdie toestand te kyk.

Kaderontplooiing, regstellende aksie groot probleem

Kimi Makwetu, Suid-Afrika se ouditeur-generaal. Foto: Argief

Die oorsake van die grootskaalse inploffing van munisipaliteite is wydlopend en kompleks. Die Staatsdienskommissie het aan die einde van 2014 in ’n besprekingsdokument aangetoon dat van die belangrikste redes vir swak dienslewering in die staatsdiens, die verskynsels van kaderontplooiing en regstellende aksie is.

Hulle waarsku toe al dat “doeltreffendheid en bevoegdheid” nie op die “altaar van remediërende indiensneming geoffer mag word nie”.

As gevolg van ’n gebrek aan kennis en vaardighede bestee munisipaliteite jaarliks miljoene rand aan konsultante – om te doen wat die amptenare behoort te doen.

Adv. RK Sizani, waarnemende voorsitter van die kommissie, het bevestig dat kaderontplooiing daartoe lei dat ongekwalifiseerde kandidate soms topposte in die staat kry. Dit alles is gedryf deur die eise van demografiese verteenwoordigendheid (die sogenaamde 80-9-9-2 formule). Hierdie is die wortel van die huidige probleem in ons munisipaliteite. Maar dis ook die vrot tand wat die regerende party nie (wil) trek nie. Daar is byvoorbeeld sedertdien nog niks weer van die dokument of sy aanbevelings gehoor nie. Die situasie aan die einde van 2014 sou onder die Zuma-administrasie nie verbeter het nie, maar eerder versleg het.

As gevolg van ’n gebrek aan kennis en vaardighede (veral finansieel en op ingenieursvlak), bestee munisipaliteite jaarliks (meestal totaal ondoeltreffend) miljoene rand aan konsultante – om te doen wat die amptenare behoort te doen. En daar is ’n getuienis dat die meeste van hierdie konsultante nie ’n snars se verskil maak nie.

Endemiese korrupsie vererger situasie

Hierdie toestand van onbevoegdheid is en word steeds vererger deur endemiese korrupsie wat in talle munisipaliteite ’n manier van lewe geword het – na aanleiding van die voorbeeld van die Zuptas. Dit gaan baie keer gepaard met ’n kultuur van toe-eiening (“entitlement”). In plaas van “batho pele” (die mense eerste), is die motto “ke pele” (ek eerste).

Ten slotte moet dit gestel word dat die mooi en grondwetlike konsep van “samewerkende regering” onder hierdie omstandighede in wese opgehou werk het. Volgens art. 139 van de Grondwet het provinsiale regerings slegs onder sekere spesifieke omstandighede die reg om in te gryp en ’n munisipaliteit onder administrasie te plaas. En dan is daar gewoonlik op provinsiale vlak self nie genoeg vaardighede om die situasie om te keer nie. Daar is nie ’n gebrek aan baie en soms burokratiese reëls nie, maar dit word gewoon omseil of nie toegepas nie en voorkom nie korrupsie nie.

Maar soos wat ’n vriend onlangs aan my gesê het: “Ek is nou siek en sat om te hoor hoe sleg dit met munisipaliteite gaan. Fokus eerder op oplossings. Wat sal jy doen as jy die president was”?

Wat gedoen kan word

Rommel wat in Bloemfontein opgehoop het ná ’n staking deur munisipale werkers. Foto: Mlungisi Louw

In die eerste plek sal die regerende partye (ANC en DA) dit sterk moet oorweeg om leefstyloudits en vaardigheidstoetsing van munisipale amptenare te doen. Dis die enigste doeltreffende manier om die wortel van die kwaad soos hierbo genoem, uit te kap.

’n Mens sou, op grond van die statistieke van die ouditeur-generaal, kan aflei dat minstens 50% van munisipale amptenare onbevoeg of korrup is. Daar sal eenvoudig van hulle ontslae geraak moet word om die situasie om te draai en plaaslike regering op ’n vaste voet te plaas. Heropleiding mag ’n opsie vir ’n kleiner persentasie amptenare wees. Of die staatsdiensvakbonde egter hierin gaan saamwerk, is te betwyfel.

Dit moet duidelik gestel word dat toe-eiening en erger nog, korrupsie, nie meer welkom in die munisipaliteit en die party is nie.

Tweedens moet die politieke partye ’n kultuurverandering onder munisipale amptenare teweegbring. Gespreksgroepe, gedragskodes en die ondertekening van etiese kodes kan hier gebruik word.

Die essensie van “batho pele” moet teruggebring word. Dit moet duidelik gestel word dat toe-eiening en erger nog, korrupsie, nie meer welkom in die munisipaliteit en die party is nie. Wat hierin baie belangrik is, is dat dieselfde faktore wat amptenare na korrupsie en toe-eiening laat beweeg het, grootliks ook op verkose raadslede van toepassing is.

Kultuurverandering in politieke partye nodig

Dis waar die politieke partye met ’n kultuurverandering moet begin – by hul “eie” verkose raadslede. Want dit is die oorsig van daardie raadslede wat óf gebrekkig is, óf afwesig is. Eers wanneer hulle ’n gesindheidsverandering ondergaan, kan hulle die amptenare se gesindheid en die kultuur van die plaaslike owerheid ten goede verander. Waar nodig (en dis waarskynlik in die meeste gevalle), moet die kultuurverandering eers of gelyktydig op provinsiale vlak gebeur.

Die onlangse nuwe magte van die OG om amptenare wat munisipaliteite deur tenders bedrieg het, in hul persoonlike hoedanigheid strafregtelik aan te kla, is ’n stap vorentoe. Hierdie beginsel word reeds op nasionale vlak aangewend en kan suksesvol wees, nie net om huidige korruptes uit te vang en aan die pen te laat ry nie, maar om ook as ’n baie sterk persoonlike afskrikmiddel vir toekomstige korrupsie te dien.

In kort beteken dit in die derde plek dat alle juridiese middels gebruik moet word om onbevoegde en korrupte amptenare aan die pen te laat ry – en hulle met bevoegde, eerlike amptenare te vervang.

Theuns Eloff

Vierdens, en miskien ietwat omstrede, kan die president dit oorweeg om demografiese rasteikens in sekere omstandighede by munisipaliteite en selfs die hele staatsdiens te verslap of selfs af te skaf.

Mense wat die werk reg kan doen, moet dringend in die hande gekry word – ongeag hul ras of afkoms. Indien dit nie gedoen word nie en dienslewering verbeter nie, is die mense wat die gevaar loop om steeds die meeste daaronder te ly, die benadeelde en veral arm swart bevolking.

In die laaste plek sal die president weer goed na die beginsels van samewerkende regering in die Grondwet moet kyk en moontlik ’n nuwe wetgewende raamwerk vir plaaslike regering moet daarstel – sonder om noodwendig aan die grondwet self te torring.

Om owerhede onder administrasie te plaas, kan in een provinsie (soos Noordwes) werk, maar daar is nie die kapasiteit in die provinsiale regerings om al 128 die munisipaliteite wat in die moeilikheid is, onder administrasie te plaas en “om te draai” nie.

Enige regering wat weet dat meer as die helfte van sy plaaslike owerhede wanfunksioneel en/of bankrot is, en niks daaraan doen of nie die regte ingrepe maak nie, speel met vuur.

Om (soos wat skynbaar beplan word) bloot finansiële en administratiewe hulp aan sukkelende munisipaliteite te gee, is geen blywende oplossing vir die dieperliggende probleme van onbevoegdheid, korrupsie en toe-eiening nie. Daar sal dus ’n ander wetgewende raamwerk geskep moet word om ons plaaslike owerheidsektor te bestendig en lewensvatbaar te maak.

Enige regering wat weet dat meer as die helfte van sy plaaslike owerhede, waar noodsaaklike dienste aan gewone mense en soms die armstes van die armes gelewer moet word, wanfunksioneel en/of bankrot is, en niks daaraan doen of nie die regte ingrepe maak nie, speel met vuur.

Dit is nie ’n oordrywing nie dat Suid-Afrika vir sy plaaslike owerheidsektor dringend ’n omvattende en ingrypende “Marshallplan” soos Europa na die Tweede Wêreldoorlog nodig het.

* Dr. Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting

Meer oor:  Kimi Makwetu  |  Theuns Eloff  |  Munisipaliteite  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.