Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Solidariteit-plan: Dis aparte ontwikkeling met ander naam

Solidariteit se plan vir Afrikaner-selfbestuur is gevaarlik, skryf Elmien du Plessis. Dit maak nie sin dat in ’n land waar ongelykheid só groot is, en steeds geskoei is op ras nie.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het tydens dié beweging se onlangse toekomsberaad in Pretoria gesê hulle wil ’n kultuur-akkoord met die regering aangaan wat Afrikaners die kans gee om “hul kultuur en erfenis uit te leef”. Foto: Deon Raath

In die vroeë 2000’s het prof. André van der Walt ’n artikel gepubliseer oor die aard van die Suid Afrikaanse grondreg. Apartheid grondreg, het hy geskryf, kan vergelyk word met volkspele.

Daarteenoor vra die Grondwet ’n benadering wat vergelyk kan word met die uitdagende, maar tog vreedsame, toyi-toyi-vorentoe-beweging. Toe ek die afgelope paar weke die planne oor die Solidariteit Beweging se toekomsberaad lees, het my gedagtes teruggegaan na dié artikel.

Volkspele word dikwels voorgehou as goeie, skoon, onskuldige pret. Dit kon destyds natuurlik nie “volksdans” genoem word nie, want ’n dansery het altyd die gevaar ingehou van verleiding en seks. Afrikaners is plesierig, maar ons maak darem nie só nie.

Met die wawieldans word beweeg, maar ’n mens bly terselfdertyd op dieselfde plek.

Die volkspele is ook voorgehou as polities onskuldig, en die pret van die klere en die kappies aantrek het daarvan ook ’n soort konsert gemaak.

Maar soos meeste dinge kom dié tipe kulturele skatte nooit alleen nie. Met die eeufeesvierings van die Groot Trek, het die NG Kerk ingespring, die volkspele laat herleef, en is ’n dans, die wawieldans, gechoreografeer.

Die wawieldans vereis losweg dat ’n sirkel gevorm word, die mense na binne kyk, en daar om en om ’n as gedans word. Daar word dus beweeg, maar ’n mens bly terselfdertyd op dieselfde plek.

Daar word gesê dat Andries Pretorius se woorde aan Harry Smith, wat die Britte gelei het by die slag van Boomplaats, herhaal was by dié geleentheid: “Die wiel draai in Suid-Afrika, en nóg jy, nóg ek, kan dit stop.”

Volkspele was nie so onskuldig nie

“Volkspele was natuurlik nie so onskuldig nie. Dit was gegrond en beïnvloed deur baie spesifieke kulturele, sosiale en politieke ideale. Afrikanernasionalistiese ideale,” skryf prof. Elmien du Plessis. Foto: Foto24

’n Mens kan seker sê “hoe profeties”, maar is dit nie maar hoe die lewe is nie? Die kom en gaan, die siklusse. En soms, soos die wawieldans, die gevoel dat ons verdomp nie aan die beweeg is nie. Volkseenheid na volksveelheid.

Maar die volkspele was natuurlik nie so onskuldig nie. Dit was gegrond en beïnvloed deur baie spesifieke kulturele, sosiale en politieke ideale. Afrikanernasionalistiese ideale. Volkseenheid.

En dis ook waar die dans, soos die wawieldans, baie simbolies raak. Dit maak die sirkel toe na binne. Dit is eksklusief. Dit is staties bewegend, om en om en om die as van die Afrikaner-identiteit en mag.

Die (wettige) onteienings en die (brutale) gedwonge verwyderings het binne die raamwerk van wetgewing plaasgevind.

Van der Walt het dan dié simboliek gebruik om apartheid grondreg te verduidelik. Reëls wat onskuldig lyk, soos “aparte ontwikkeling”, maar met ’n ideologiese onderbou van Afrikanernasionalisme. Die reëls was die reëls. Onkrities toegepas het dit natuurlik onskuldig gelyk. Maar ons kan nou terugskouend weet dat dié onskuldige reëls soms tot vreeslike menseregte-vergrype gelei het, en dat ons steeds met die nagevolge sit en worstel.

Apartheid grondreg het ’n kernrol gespeel in die sosiale eksperiment van apartheid se ruimtelike segregasie. Die (wettige) onteienings, die (brutale) gedwonge verwyderings. Dit het natuurlik alles binne die raamwerk van wetgewing plaasgevind. So ook die afgradering van swartmense se grondregte, wat hulle verblyfreg onseker gemaak het en altyd afhanklik gemaak het van ’n ander mag.

En die verskuiwing van groot groepe mense na die tuislande, waar groepe saamgedwing is wat niks met mekaar te doen het nie, weg van die sentra van werk. Gedwonge migrasie vir mans, wat familiestrukture opgebreek het. Ook daardie letsels sit nog in die land se psige.

Afsonderlike ontwikkeling

Volkspelers van verskillende laers oor Gauteng kom hier bymekaar vir ’n volkspele-saamtrek by die NG kerk Wierdapark in Centurion. Foto: Deaan Vivier

Dan ook – die aparte spasies vir aparte groepe.

Daar is altyd ’n dans tussen die reg, die etiek, en moraliteit. Soms dans hulle saam, soms trap hulle op mekaar se tone.

Wanneer daar op tone getrap word, is daar dikwels die geneigdheid om skouers op te trek en te sê: “Wel, dis nie teen die wet nie, verduur maar die lomp dansmaat”. Net omdat dit nie teen die wet is nie, beteken nie noodwendig dat dit ’n goeie of selfs die regte ding is om te doen nie.

Dan is daar byvoorbeeld ook filosowe wat aanvoer dat ’n ongeregverdige wet geen regskrag het wanneer die konflik met geregtigheid so onuithoudbaar is dat dit as nietig gesien behoort te word nie.

Dis natuurlik deels die rede hoekom apartheidswetgewing, veral met betrekking tot grond, ligter of meer verontskuldigend aangebied word soms – of met ’n “ja maar” of “wat van” of “dis alles die ANC se skuld”. Ons gesprekke oor die verlede gaan nie net oor die formele reg nie. Daar is ’n onderliggende normatiewe stryd wat ook aan die gang is.

Dit is naïef om te dink dat die probleme wat geskep is oor ’n tydperk van dekades en eeue, binne ’n generasie opgelos gaan word.

Want die werklikheid is meer baie meer kompleks as dit. ’n Kompleksiteit waaroor ek baie dink en waarvoor daar nie klinkklare antwoorde is nie, net tentatiewe idees wat getoets kan en behoort te word deur breë gesprekvoering.

En natuurlik is daar altyd fynskrif en bepalings en voorwaardes oor die kompleksiteit en die gruweldade aan albei kante in die verlede, en hoe dit die hede behoort te vorm.

Maar wat maak ons met ekonomiese studies wat wys dat die ruimtelike segregasie steeds ’n beduidende invloed op ons samelewing het? Soos, hoe nader ’n mens aan ’n stadskern bly, hoe beter is jou kans op werk. En hoe verder, hoe minder. Maar nie alleen dit nie, die byna onmoontlikheid om uit die armoede-draaikolk te kom. Dink dan aan die enorme informele nedersettings aan die kante van ons stede.

Dit is naïef om te dink dat die probleme wat geskep is oor ’n tydperk van dekades en eeue, binne ’n generasie opgelos gaan word. Ja, ons kon al heelwat verder gewees het as dit nie was vir wanbestuur, staatskaping, korrupsie en ’n mors van energie op interne ANC-politiekery nie.

Maar afsonderlike ontwikkeling, en die gevolge van die steeds bestaande ruimtelike segregasie, het steeds ’n beduidende invloed op mense se toegang tot gesondheidsdienste, tot goeie skole, tot werksgeleenthede.

Gevaarlike plan

Gehoorlede luister na Solidariteit se planne tydens sy toekomsberaad in Pretoria waartydens hulle ingelig is oor dié Beweging se plan vir Afrikaner-selfbestuur. Foto: Deon Raath

So hier sit ons, die gewone burgers, swart, wit, Indiër en bruin, in ’n gemors waarvan die oorsprong ook in ruimtelike segregasie gegrond is, en waarvan die gevolge die afgelope 25 jaar nog nie behoorlik opgelos is nie.

En ons moet hier uit, anders is dit neusie verby.

Waar die destydse volkspele gefokus het op “volkseenheid”, word daar nou gepraat oor “volksveelheid”. Die oplossing lê glo daarin dat ons Afrikaners met ons pioniersgees ons aardse besittings in Biddulphs-trokke moet laai en die wawieldans gaan doen in 30 ankerdorpe. Om en om in sirkels, kyk na binne, eksklusief.

Buite enige geskiedkundige konteks of ’n vraag oor wat die rol was van ’n vorige, soortgelyke ingesteldheid – ín die huidige gemors waarin ons sit.

Aparte ontwikkeling onder die dekmantel van ’n ander naam? Soos wat volkspele nie dans is nie?

Natuurlik is die Grondwet wyd genoeg om dit toe te laat. Die Grondwet kan immers nie eeue se ingegraveerde gene van afsonderlike ontwikkeling in een generasie uitwis nie. Die vraag is of dit in die geheel van Suid Afrika ’n goeie oplossing is.

Afrikaners sal ’n ander dans moet uitdink; ’n dans wat Afrikaner-identiteit omhels in die groter Suid-Afrikaanse omgewing.

Ek dink dis ’n gevaarlike plan. Dit maak nie sin dat in ’n land waar ongelykheid só groot is, en steeds geskoei is op ras, die deel van die bevolking wat welvaart het hulleself wil afsonder en onttrek uit die samelewing nie. Nie alleen toon vele empiriese studies dat ’n groot oorsaak van geweld ongelykheid is nie. Baie studies toon ook dat indien dié ongelykheid geskoei is op ras of etnisiteit, dit die resep vir etniese geweld en burgeroorlog is.

Met 30 ankerdorpe, ’n beweging na binne, gaan Afrikaners ’n maklike teiken word, wat eenvoudig net nie oor die getalle beskik om te verdedig teen die onvermydelike geweld wat gaan uitbreek nie.

Die meeste van ons was nie aandadig aan apartheid nie. Maar die historiese gevolge van die ongeregtighede van die verlede kan steeds gesien en ervaar word, veral in die ruimtelike segregasie.

As Afrikaners sal ons ’n ander dans as die wawieldans moet uitdink; ’n dans wat ons plaas in die konteks van Suid-Afrika met die verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan. ’n Dans wat Afrikaner-identiteit omhels in die groter Suid-Afrikaanse omgewing. ’n Dans waar ons uiteindelik ophou trek, en onsself vestig in ’n land wat óók ons s’n is.

* Elmien du Plessis is ’n medeprofessor in die regte aan die Noordwes-Universiteit. Sy identifiseer as Afrikaner. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Solidariteit  |  Anc  |  Elmien Du Plessis  |  Apartheid  |  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.