Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Solly: Ons sal Gauteng met volstrekte meerderheid vat

Die DA het sy vertroue in Solly Msimanga, voormalige Tshwane-burgemeester, geplaas om Gauteng vir die DA te wen. Carla Lewis en Deaan Vivier het hom en sy span vir ’n dag op sy verkiesingsveldtog vergesel.

Mmusi Maimane en Solly Msimanga voor die Uniegeboue. Foto: Deaan Vivier

Met ernstige gesigsuitdrukkings probeer Mmusi Maimane, die DA se presidentskandidaat, en Solly Msimanga, Gauteng se DA-premierskandidaat, die media oor ’n baie gewigtige saak by die Uniegeboue in Pretoria toespreek, terwyl ’n Chinese toeris die hele tyd met haar selfiestokkie foto’s van haarself saam met hulle neem.

Die toeris kom stilletjies nader gesluip terwyl Maimane benadruk presies hoe “misdadig Andile, pres. Cyril Ramaphosa se seun, met Bosasa gekonkel het”.

Sy posisioneer haar langs Maimane en Msimanga, reg in die videokamera se visier. Selfiestok in die hand kiek sy voort asof sy op die Hollywood-sterre Denzel Washington en Idris Elba afgekom het.

Selfie
Selfietyd! ’n Chinese toeris kry ’n fotogeleentheid saam met Maimane en Msimanga. Foto: Deaan Vivier

’n SAUK-joernalis verloor gou haar geduld: “Sjie-sjie, sjie-sjie!” (dankie in Mandaryns) sê sy asof sy ’n lastige duif probeer verwilder.

Die sports vir die oggend is egter nog nie verby nie.

’n Wit Mazda met ’n God Bless-plakker op sy buffer trek reg langs die ad hoc-mediakonferensie in en die bestuurder lê op sy toeter. ’n Klipharde geblêr doof Maimane se woorde uit.

Irritasie vertroebel vir ’n oomblik Msimanga se gesigsuitdrukking, maar in ’n oogwink is dit weg, sy gesig stoïes en uitdrukkingloos soos dié van ’n sfinks. ’n Groepie veiligheidswagte drentel lui-lui nader en praat met die lawaaimakers. Hulle trek met skreeuende bande weg.

Dit kon net sowel ’n toneel wees uit die politieke drama Our Brand is Crisis, waarin Sandra Bullock die rol vertolk van ’n politieke strateeg wat ’n verkiesingsveldtog vir ’n Boliviaanse presidensiële kandidaat moet beplan.

In een toneel word die presidentskandidaat met ’n eier gegooi terwyl hy besig is om stemme te werf. Hy vererg hom en gee die eiergooier ’n goeie opstopper.

Dit maak Sandy briesend; In die politieke arena is dit die gelyke om ’n doel teen jou eie span aan te teken.

Dis Sun Tzu se Art of War 101, die oudste truuk in die boek: "As jy opponent kort van draad is, probeer hom irriteer.”

Sit dan agteroor en kyk hoe hy homself in die voet skiet.

Dit lyk darem asof Msimanga ’n eksemplaar van The Art of War onder oë gehad het. Of ten minste Michelle Obama se Becoming, ’n boek wat hy “nie kon neersit nie”. Dit het glo ’n groot indruk op hom gemaak en hy het deur die nag gelees.”

When they go low, we go high.

Die DA se hoop vir Gauteng

Ek stel myself eerste aan Maimane voor, wat eers ’n paar geselsies in keurige Model C skool-Afrikaans maak toe hy hoor dat ek vir ’n Afrikaanse publikasie werk.

“Dit sê vir my Solly kan Gauteng ook regruk. Ek dink die provinsie het die verandering nodig. Onthou, dit is die enjinkamer van Suid-Afrika se ekonomie.”
Mmusi Maimane

Wat dink hy is die DA se kanse om in Gauteng te wen, met Msimanga as premierskandidaat?

Kiesers hoef net na Msimanga se resultate met Tshwane te kyk, meen Maimane, om ’n voorsmakie te kry van wat Gautengers onder ’n DA-administrasie kan verwag.

Die Tshwane-metro het in die 2015-’16-boekjaar ’n tekort van R1,4 miljard gehad toe die ANC uit die kussings gelig is. Onder die DA-koalisiemetro is dit binne ’n jaar in ’n surplus van R730 miljoen omskep.

“Dit sê vir my Solly kan Gauteng ook regruk. Ek dink die provinsie het die verandering nodig. Onthou, dit is die enjinkamer van Suid-Afrika se ekonomie.”

20190418 NETWERK 24 BEELD DA Verkiesing Feature::
Mmusi Maimane, leier van die DA tydens 'n besoek aan die Uniegebou in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Msimanga groet my weer met ’n afsydige professionaliteit voordat hy sake en strategie met sy jong span verkiesingstratege bespreek.

In sy vlootblou snyerspak en bypassende vlootblou kraaghemp is hy ’n toonbeeld van stemmigheid. Selfs sy polshorlosie – ’n klassieke Aigner met ’n gekromde metaalgesiggie en bruin leerbandjie – is strate verwyder van die blieng-blieng-Rolexe en -Breitlings wat sommige politici se polse versier.

Net die liggeel-en-pastelpers polka-kol-sokkies wat onder sy vlootblou broekspype uitsteek, suggereer ’n minder ernstige kant. . .

Presies hoe het hy daarin geslaag om die Tshwane-metro se boeke reg te ruk? En glo hy dat hy dieselfde met Gauteng kan doen?

“As ons daarin slaag om Gauteng te wen, moet ons eerste na die finansies kyk. Jou hande is afgekap as jou boeke nie klop nie. Eerstens moet jy kyk na die ‘lekkasies’ en daardie gate toestop.

“Weens korrupsie sypel ’n klomp geld daagliks uit. As jy daardie gate kan verseël, kan jy hierdie geld kanaliseer na ander projekte waar dit benodig word.

“Dit was my filosofie toe ons Tshwane oorgeneem het. Kry die gate en verseël dit. Herlei daardie geld na die plekke waar dit die nodigste is.

“Dis ook belangrik om jouself te omring met mense wat dieselfde doelwitte as jy het. As jy man-alleen alles wil aanpak, gaan jy beslis misluk.”

Ons klim in die DA se verkiesingsbussie. Die radio is op 702 en Eusebius McCaiser vra die EFF-leier, Julius Malema, oor die party se betrokkenheid by die VBS-bankskandaal uit.

Vroeër die oggend moes Mike Moriarty, hoofsweep in die wetgewer en die DA se provinsiale voorsitter, in ’n radio-onderhoud helderheid verskaf oor of die DA Patricia de Lille “afgedank” het of nie.

“Eusebius was baie harder op Mike,” sê Bongani Hini (27), een van die DA-stratege oor kommunikasie en sosiale media, vies. “Dit klink asof hulle saam tee drink,” merk iemand droogweg in die bus op.

Solly Msimanga
Msimanga en Kwena Moloto (24), Tuks se voormalige SR-voorsitter, skep asem op pad na hul volgende verpligting. Foto: Deaan Vivier

Dink Msimanga dat die media en publiek harder op die DA as op ander politieke partye is?

“Beslis. Die standaarde waaraan die party gemeet word, is aansienlik hoër as dié van sy opposisie. Ek sê altyd, die DA word gemeet aan volmaaktheid. Die ANC aan of sy huidige regime meer of minder korrup teenoor sy voorgangers was. En die EFF aan ’n chaos.”

Charity Moyo (31), bring hom op die hoogte van sy program vir die Paasnaweek. Soos wat haar vingers oor haar selfoon flits, merk ek op dat haar blou naellak besig is om af te dop.

“Ons werk 12-uur-dae – van 08:00 tot 20:00 – sewe dae per week tot en met die verkiesing,” sê sy. Duidelik is daar nie tyd vir naels verf en pamperlang nie.

“Moenie dink julle gaan die naweek afkry nie,” sê Msimanga. “En ek wil geen verskonings hoor dat julle kerk toe moet gaan nie. Hierdie naweek gaan ons baie kerkdienste bywoon.”

Twiet vir demokrasie (en stemme)

Hini probeer Msimanga oorreed om die DA se Instagram-rekening vir een dag oor te neem.

“Moet ek regtig?” vra Msimanga skepties.

“Phumzile (van Damme) het dit gedoen. Dis regtig ’n goeie manier om aanklank by jou kiesers te vind.”

“Kan ek daaroor dink?” sê Msimanga, maar hy lyk nie oortuig daarvan dat foto’s van cappuccinos en sy oggendroetine meer stemme vir hom gaan werf nie.

Vandag is dit nie net noodsaaklik om aan die kiesers se deure te gaan klop om na hul stemme te vry nie. Jy moet ook in die kuberruim na kiesers vry.

“Ek glo die meerderheid van Suid-Afrika se jong mense wil sien dat ons saam as ’n land vorentoe beweeg. Hulle mag miskien nie die hardste skree op sosiale media nie, maar ek glo hulle gaan op 8 Mei hul stemme dik maak.”
Kwena Moloto

Politieke ontleders meen dis juis die Demokratiese wunderkind, Alexandria Ocasio-Cortez, se sosiale-media-vernuf wat gehelp het dat sy tot die Amerikaanse kongres verkies is. Sy het gedurende haar veldtog videogrepe gedeel waar sy dansies uitvoer, of van haar skoensole wat deurgeloop is.

AmaBhungane het in een van sy ondersoeke bewyse gevind dat die ANC sosiale-media-beïnvloeders betaal om pro-ANC-boodskappe op sosiale media te deel.

As stemme Twitter-volgers was, sou Suid-Afrika egter deur die EFF regeer gewees het.

Die party se sosiale-media-kanale is deurspek met revolusionêre retoriek, aanhalings van die swart filosoof Frantz Fanon en ’n visuele estetika so reg uit Mao Zedong se klein rooi boekie.

Malema se 2,38 miljoen volgers op Twitter is dubbel soveel as Maimane se 1,11 miljoen.

Kwena Moloto (24), Tuks se voormalige SR-voorsitter en een van Msimanga se jonger verkiesingstratege, sê egter Twitter en T-hemde moet nooit gebruik word om ’n politieke party se gewildheid te peil nie.

SR-verkiesings aan tersiêre onderwysinstellings is ’n beter lakmoestoets om ’n politieke party se gewildheid onder jong mense te bepaal, meen hy.

“Die nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsverkiesings vind miskien net elke vyf jaar plaas, maar jy moet onthou dat studenteraadsverkiesings jaarliks plaasvind. Toe ek verlede jaar die SR-voorsitter by Tukkies was, het die DA tien uit die tien setels op die UP se studenteraad beklee.

“Ek glo die meerderheid van Suid-Afrika se jong mense wil sien dat ons saam as ’n land vorentoe beweeg. Hulle mag miskien nie die hardste skree op sosiale media nie, maar ek glo hulle gaan op 8 Mei hul stemme dik maak.”

Tyd vir stemme werf

Solly Msimanga
Msimanga geniet dit om op voetsoolvlak kiesers vir die DA te werf. Foto: Deaan Vivier

Die bussie stop in ’n informele nedersetting in Kameeldrift buite Pretoria en ’n skare in blou T-hemde begroet Msimanga met ekstatiese ululering.

Dis tyd om van deur tot deur te stap, na mense se griewe te luister en op voetsoolvlak ’n veldtog te voer.

Sy span sê dit is Msimanga se kos – sy gunsteling-manier om stemme te werf. Wanneer jy die doolhof van sinkgeboutjies ingaan, slaan ’n bedompige reuk jou van te veel mense wat noodgedwonge in ’n klein ruimte saamleef. ’n Stroompie rou riool kronkel tussen die sinkhuisies deur – ’n swart litteken oor die rooi grond.

Om potensiële kiesers te vind blyk om aan die begin ’n uitdaging te wees. Die nedersetting is stil, talle mense het al vir die Paasnaweek huiswaarts gekeer.

Die griewe van die mense wat wel daar is, is so oud soos die jong demokrasie; ’n refrein wat soos ’n lamentasie oor 25 jaar van Suid-Afrika se dienslewering weerklink. Werkloosheid. Swak dienslewering. Armoede. Geweld. Misdaad.

As Msimanga ietwat afsydig teenoor joernaliste en die media voorkom, draai hy behoorlik die sjarme-krane oop vir DA-aktiviste en potensiële kiesers.

En kinders.

Solly Msimanga
Msimanga en ’n kleuter van Kameeldrift loop hand aan hand deur die strate. Foto: Deaan Vivier

Wanneer daar ’n geleentheid is om ’n baba te soen of saam met ’n groep kleuters te speel talm hy so ’n bietjie langer. Kleuters koek om hom. As hy met babas speel, het hulle nie die gewone grootoog-verskrikte uitdrukkings vir 'n vreemdeling nie. Daar word teruggekoer en gebrabbel. Nadat Msimanga se besoektyd by ’n crèche klaar is, weier ’n kleuter om sy hand te los. Een van die oppassers stem in dat sy en die seuntjie ’n entjie kan saamstap om stemme te werf.

Hand aan hand loop hulle deur die nou gangetjies en Msimanga help die seuntjie oor ’n breë sloot waarin ook riool vloei. Dan stop hulle voor ’n spaza-winkel. Hy en die seuntjie gaan in.

“Kan ek asseblief 15 suigstokkies kry?” Hy koop ook verskeie pakkies tjips.

Die belofte van sweeties vir hom en sy maatjies lyk nou meer aanloklik vir die kleintjie as om stemme vir die DA te werf. Hy en sy oppasser bedank Msimanga en verdwyn weer tussen die doolhof sinkhuisies in.

Solly Msimanga
Lekkers vir die kinders: Msimanga koop tjips en suigstokkies vir die township se kinders. Foto: Deaan Vivier

Waar kry hy die energie hiervoor? Is dit nie uitmergelend om elke dag met armoede en ellende gekonfronteer te word nie?

“Weet jy, dis iets wat jou terselfdertyd tyd depressief maak, maar ook weer nuwe lewe by jou inblaas. Die omstandighede waarin die mense bly, maak my mismoedig. Maar dan kry ek weer nuwe energie en is vasbeslote om ’n verskil in hul lewens te maak.”

Die afgelope twee jaar was Msimanga spreekwoordelik die kat met nege lewens, soos wat die ANC en die EFF een wantrouemosie ná die ander teen hom ingestel het om hom as Tshwane-burgemeester uit die kussings te probeer lig.

“As jy in gesprek tree met jou koalisievennote en vind dat hul vereistes nie met jou doelwitte ooreenkom nie, dat hulle jou doelwitte om ’n toekoms vir jou mense te wil skep verongeluk – dan kan jy nie ’n koalisie met hulle aangaan nie."
Solly Msimanga

Dink hy koalisieregerings, soos dié van Tshwane en Nelson Mandelabaai, is effektief?

Hy gee ’n droë laggie.

“Of ons nou daarvan hou of nie, koalisieregerings gaan al meer algemeen op die Suid-Afrikaanse politieke landskap word.”

Maar sê nou jy en jou politieke bedmaat het niks in gemeen nie? Hoe versoen jy ’n huwelik waar Marx se Das Kapital op die een se bedkassie lê, en Adam Smith se Wealth of Nations op die ander?

Dis moeilik, gee Msimanga toe. Maar jy moet beginselvas bly en kleinlike partypolitiek tot elke prys vermy.

“Die DA sal nooit ’n kompromie oor ons waardes en ons norme aangaan nie.

“As enige plan met kleinlike partypolitiek gepaardgaan eerder as om na die kwessies en uitdagings van jou stad se inwoners om te sien ... kan jy jou nie daarmee ophou nie.

“As jy in gesprek tree met jou koalisievennote en vind dat hul vereistes nie met jou doelwitte ooreenkom nie, dat hulle jou doelwitte om ’n toekoms vir jou mense te wil skep verongeluk – dan kan jy nie ’n koalisie met hulle aangaan nie.

“Dis hoe ek dink die DA koalisieregerings in die toekoms moet benader.”

Sal die DA bereid wees om koalisies met opposisiepartye te sluit as hy nie ’n volstrekte meerderheid in Gauteng kry nie?

“Dis nie iets wat ons tans oorweeg nie. Ons doel is om Gauteng met ’n volstrekte meerderheid te wen.”

Solly Msimanga
Msimanga besoek ’n informele nedersetting in Kameeldrift as deel van sy veldtog om as Gauteng se premier verkies te word.

Taalkwessies en oproeriges

Ons stop by ’n 1950’s-styl-restaurant vir middagete.

Wat is sy mening oor kritiek teenoor die DA dat hy toondoof en selfs rassisties teenoor Afrikaanssprekendes se belange is?

Hy bieg dat hy sukkel om ’n aanknopingspunt te vind by wit Afrikaanse mense wat meen dat die DA hulle afskeep.

“As ’n wit Afrikaanssprekende byvoorbeeld sê dat die DA hom afgeskeep, wat bedoel hy regtig?

“Bedoel hy dat sy taal en kultuur nog die oorheersende een moet wees? Of beteken dit ons kan ’n balans vind waar jy jou eie stem kan vind en jouself kan uitdruk, maar dat jy ook dieselfde geleenthede aan iemand met ’n ander taal of kultuur gun?

“Ek kan nou vir jou ons federale uitvoerende raad se agenda en notules gee. Daar is twee weergawes; ’n Engelse een en ’n Afrikaanse een.”

Is daar ’n Zoeloe-weergawe?

“Nee. Dis die punt van die saak. Mense het vir ons gesê: ‘Ons sukkel, ons kan nie so goed Engels lees nie.’ En ons het hulle tegemoetgekom en die agenda in Afrikaans opgestel. Sou iemand ’n versoek indien om die agenda in Zoeloe te vertaal, kan dit ook gedoen word. Maar dit was nog nooit ’n kwessie nie.

“Ek beskerm graag almal se regte. Maar ek sal ’n standpunt inneem teenoor enigiemand wat meen dat sy taal of kultuur die oorheersende een in ’n organisasie moet wees. Ek weier om ’n sekere bevolkingsgroep of ’n sekere taal se belange bokant die ander te stel.

“Die DA het nog altyd beklemtoon: Een Suid-Afrika vir almal. Almal moet gelyk behandel word. Ek was nog altyd bereid om te veg vir ’n Afrikaanssprekende om skool te gaan in die taal van sy keuse, selfs op tersiêre vlak."
Solly Msimanga

“Die afgelope 25 jaar baklei ek teen die ANC omdat hulle misluk het om ’n akademiese kurrikulum te ontwikkel wat Zoeloesprekendes insluit. Hulle het gefaal om onderwysers en lektore op te lei om skool te gee binne ’n kurrikulum wat inheemse tale insluit. As jy nie eers dít kan doen nie, hoekom wil jy iets vernietig wat reeds opgebou is?”

Nog iets wat Msimanga dwars in die krop steek, is die sogenaamde lawaaimakers, die ontwrigters wat kiesers opsweep, geweld aanhits en die diskoers kaap.

“Die DA het nog altyd politiek op ’n volwasse manier benader. Maar dan kry jy partye wat net wil ontwrig, geraas maak en gewelddadig wil raak.

Hulle geniet baie meer blootstelling want julle (die media) doen verslag oor daardie geweld. En dan kry jy Julius Malema wat mense aanmoedig om grond te gryp, net waar hulle wil.

“Mense kom en beset onwettig grond. Wanneer jy egter die onwettige besetters probeer verwyder, is daar ’n groot, negatiewe reaksie.

“Geweld breek uit en die media doen verslag oor die geweld. Dan begin die mense voel hul griewe is relevant.”

030419w Beeld Nuus Protesting residents of alexand
Solly Msimanga het 'n saak vroeër vandeesmaand ingedien teen die ANC oor die beweerde aanhitsing van geweld, veral in die Alexandra-township in Johannesburg. Msimanga meen die ANC se doelwit met die betogings is om die verkiesingsuitslag te beïnvloed. Foto: Felix Dlangamandla

So ’n bietjie soos om toe te gee aan ’n kind wat ’n vloermoer gooi?

“Ja. Dis waar. Ek verstaan julle ook so ’n bietjie. Julle moet ’n wins maak, en sappige stories . . . Vat nou maar daardie man in die Mazda wat ons probeer uitlok het? Sê nou ek het na hom gestap en hom ’n oorveeg gegee? Wat sou jou voorblad môre gesê het?

Dis voorbladmateriaal waarvoor enige nuusredakteur net kan hoop: “Solly se opstopper”.

“Sien jy wat ek bedoel? Jy kan probeer om ’n goeie, aangename mens te wees, mense op ’n beleefde manier toe te spreek. Maar dit gaan nie koerante verkoop nie.”

Nuus moet sexy wees, dit moet sappig wees, meen hy. Anders stel mense nie belang nie.

“Besluite wat op wetgewende vlak geneem word, belangrike nuus wat te tegnies of vervelig is . . . dit haal nie voorblaaie nie.”

As die politiek vervelig is, meen hy, beteken dit dat dinge in ’n land se demokrasie goed gaan.

“Dan kan jy die tyd en die argumente gebruik om nie twis en onmin te saai wat voorbladnuus gaan haal nie, maar lesers die kans gun om met nugterheid die verskillende partye se argumente te oorweeg. Dan kan hulle besluit: Party A het wel ’n punt beet, of Party B maak nou nie sin nie.

“Neem nou maar die staatsrede. Mense kyk dit nie meer om ingelig te word oor die besluite wat oor die land gemaak word nie. Wat geniet die meeste dekking? Die EFF wat uitstap. Die grootste besprekingspunt is die EFF se eskapades.”

Die k-woord en partypolitiek

Intussen is Crezane Bosch, adjunksweep van die DA in die Tshwane-metroraad, besig om gerugte te ondersoek dat DA-lede glo die ANC se verkiesingsplakkate gevandaliseer het. Bosch weet hoe dit voel om om sogenaamde “sappige” redes die nuus te haal. Sy en Fred Nel, die DA se skadu-LUR vir paaie en vervoer in Gauteng, is verlede jaar daarvan beskuldig dat hulle die k-woord in WhatsApp-korrespondensie oor partysake gebruik het.

“Solly sal jou altyd daaraan herinner om jou fokus en jou oog op die groter prentjie te hou. Ek en vele ander het die eienskap van hom eerstehands ervaar in moeilike tye wanneer mense jou net op grond van gerugte wat hulle van jou hoor, eerder as op jou karakter, beoordeel.
Crezane Bosch

In ’n forensiese ondersoek is bevind dat die boodskap vals was en geplant is, maar dit is steeds skadelik vir ’n party wat deur die opposisie as ’n mlungu-party, ’n party vir wit mense, voorgehou word.

Nog voor Ace Magashule na die DA verwys het as ’n “witmansparty”, het die ANC in September verlede jaar gedurende die mosie van wantroue in Msimanga aantygings oor ’n “wit en swart DA” gemaak.

“Daar is ’n wit koukus en ’n swart koukus in die DA wat baklei. Solly word deur die wit koukus beheer,” het dr. Kgosi Maepa, voorsitter van die ANC in Tshwane, toe gesê.

Bosch werk al 13 jaar saam met Msimanga en beklemtoon dat jy ver sal moet soek om ’n meer gefokusde of meer beginselvaste leier as Msimanga te vind. Hy het haar ook bygestaan in die moeilike tyd toe sy by die rasseherrie ingesleep is.

“Msimanga kan ’n vyandige situasie in een van kalmte omskep,” sê sy.

“Hy sal jou altyd daaraan herinner om jou fokus en jou oog op die groter prentjie te hou. Ek en vele ander het die eienskap van hom eerstehands ervaar in moeilike tye wanneer mense jou net op grond van gerugte wat hulle van jou hoor, eerder as op jou karakter, beoordeel.

Tydens die k-woord-voorval het hy haar verdedig en moed ingepraat.

“Hy het my herinner waarom ek by die politiek betrokke geraak het en dat ek nie my aandag moet laat aflei deur beuselagtige aanvalle op my karakter nie. Hy het my aangemoedig om in myself en my beginsels te bly glo.

“Solly, – die leier wat ek ken – is ongelooflik beginselvas. Hy het ook ’n sagte hart. As ander mense ly, ly hy ook.”

Sy waarsku dat mense nie sy empatie met swakheid moet verwar nie.

“Solly sal jou dadelik aanspreek as jy iets verkeerd gedoen het, maar hy sal dit nooit teen jou hou nie. Hy sal jou reghelp en jou uit jou foute laat leer.”

20190418 NETWERK 24 BEELD DA Verkiesing Feature:S
Msimanga gesels met 'n jong man in Kameeldrift. Hy het die area besoek en van huis tot huis geloop om kiesers te wen vir die komende verkiesing. Foto: Deaan Vivier

’n Tuisdoel op Twitter

Laatmiddag, op pad terug na die DA se kantore in Pretoria bevind ’n DA-lid homself onwillekeurig in die nuus. Moriarty twiet dat Bonang Mathebe – entrepreneur, sosiale vlinder en Suid-Afrika se gelyke van Kim Kardashian – die ANC gehelp het met sy verkiesingsveldtog, vandaar al die tik- en spelfoute.

“Ek verneem dat @MyANC se verkiesingstrategie deur @Bonang_M ontwikkel is.”

Waarna Bonang hom ’n baie kru naam vir die vroulike anatomie toesnou.

(Sowat twee jaar gelede is daar goed spot gedryf met haar outobiografie, Bonang: From A to B, wat die uitgewers met talle spel- en taalfoute gepubliseer het.)

Toe Msimanga se span van die twiet bewus raak, daal ’n neerslagtigheid op die bussie neer.

“Hoekom sal Mike so iets doen?” mompel Msimanga.

Dis nie lank nie, of twee nasionale webwerwe tel die rusie op Twitter op. “Julle, dit trend op Twitter,” sê Moloto bekommerd.

Die B-force (Bonang se Twitter-aanhangers) het bloed geruik, en min teikens is so aanloklik of maklik soos ’n middeljarige wit man wat ’n jong swart vrou op Twitter koggel. Veral Bonang Mathebe, koningin van Suid-Afrika se kuberruim, met meer as 6 gesamentlike miljoen volgelinge op Twitter en Instagram.

Dit sê vir ’n mens iets oor kiesers, dat ons nie meer tevrede is met politici wat wetgewers en regeerders is nie. Hulle moet ons ook vermaak, soos B-lys-bekendes in sogenaamde twars betrokke raak.

Jy kan hoeveel bemarkingsfoefies uitpluk; oranje tronkoorpakke by Luthuli-huis gaan aflaai om ’n stelling oor korrupsie te maak, babas soen en die president gaan spreek in die Uniegebou.

Jy kan selfs daarin slaag om jou metro uit ’n skuld van oor die R1 miljard te trek.

Maar dis steeds nie so sappig en sexy soos ’n sosiale vlinder wat jou hoofsweep op Twitter toesnou in taal wat selfs Marelize se ma sal laat bloos nie.

Meer oor:  Da  |  Verkiesing2019  |  Mmusi Maimane  |  Kameeldrift  |  Pretoria  |  Verkiesing  |  Solly Msimanga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.