Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sonder Cheetahs bloei rugby dood
Die Cheetah-haker Joseph Dweba soen die Goue Beker ná 2019 se Curriebeker-eindstryd.Foto: Charles Smith

Draai die Cheetahs nek om in die Pro14-reeks en Suid-Afrikaanse rugby bloei dood, sê ’n briefskrywer in Rapport. Nét so, skryf Gert Coetzee.

Berigte duik op dat die Vrystaatse Cheetahs en die Oostelike Provinsie se Southern Kings die franchises is wat in die slag gaan bly in die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se “herstrukturering” van rugby, glo weens geldsake en vraag.

Inderdaad is ’n verklaring eergister uitgereik die Kings gaan nie vanjaar verder rugby speel nie. Dié streekspan het die potensiaal om ’n ontsaglike bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby te lewer soos die ontwikkeling van spelers wat van hier kom tot wêreldsterre elders getuig. Sy probleme is betreurenswaardig.

Oor die voorneme dat die Cheetahs gerelegeer moet word, is die kloutjie egter nie by die oortjie te kry nie.

Dít kan ek met oortuiging sê ná wye gesprekke onder ondersteuners van Vrystaat-rugby vir wie ek – net soos die Springbokke, Griekwas en WP (buiten as hy teen die Vrystaat speel) – al van voor skool skree.

Armer sonder Cheetahs

Sakebesluite is taai, maar ook in saketerme maak dit weens die negatiewe kettingreaksie wat dit vir Suid-Afrikaanse rugby sou ontketen nie sin nie.

Sonder die hoogste mededinging van die Cheetahs, sal Suid-Afrikaanse rugby net so verskraal wees as sonder die Haaie, Bulle, Leeus of Stormers.

Net in 2019 se Springbok-groep wat die Wêreldbeker gewen het, was talle lede met sterk bande met die Vrystaat waar hulle ontluik of tot wasdom gegroei het, hetsy as spelers of andersins. Dit sluit Rassie Erasmus, afrigter, en Jacques Nienaber (nou die Bok-afrigter) en spelers soos Makazole Mapimpi, Trevor Nyakane, Willie le Roux, Duane­ Vermeulen en Lood de Jager in. Naas Frans Steyn en Cobus Reinach wat hul rugby geleer het aan Grey-kollege, wat altesaam al 45 Springbokke gelewer het (die tweede meeste nóg).

Wie sal Erasmus se plan met ligte op die dak van die Vrystaatstadion vergeet toe hy afrigter was van die Cheetahs, vir wie hy ook gespeel het?

Wie sal Erasmus se plan met ligte op die dak van die Vrystaatstadion vergeet toe hy afrigter was van die Cheetahs, vir wie hy ook gespeel het?

Niel Powell, Blitsbok-afrigter, en Franco Smith, afrigter van Italië, het albei hul rugbytande hier geslyp.

Suid-Afrika se top-skeidsregter op WB 2019, Jaco Peyper, is ook ’n Vrystater. Voorts hou die Cheetahs, Griekwas en Griffons rugby in die sentrale streek lewendig.

En het die sentrale streek twee hoofbestuurslede van SA Rugby, Lindsay Mould van die Vrystaat en Jannie Louw van Griekwas, gelewer. Die lys hou aan.

Koffie sonder suiker

Ook op grond van verdienste in terme van gewildheid, spelpatroon, stabiliteit, bestuur, finansiële welstand, transformasie en bywoningsyfers (veral van rugbytoetse), sou om die Cheetahs uit Pro14-liga te haal vir Suid-Afrikaanse rugby wees soos om die suiker uit die koffie te wil haal.

G’n wonder nie drie voormalige Springbok-kapteins, Morné du Plessis, Theuns Stofberg en Wynand Claassen, die oud-Springbok-slot Frik du Preez, die gewese Springbok- en WP-afrigter Dawie Snyman en selfs die Olimpiese swemmer Ryk Neethling en die misdaadskrywers Deon Meyer en Rudie van Rensburg het in ’n artikel deur Tom Ferreira, Cheetah-gees van Kaapstad, hulle sterk ten gunste van die Cheetahs se voortgesette deelname aan die Pro14-reeks uitgesprek.

Sonder die Cheetahs sou dit vir Suid-Afrikaanse rugby ’n korttermyn-wins met langtermyn-skade eerder as andersom wees. Dink net hoe vervelig . . .

Uiteraard behoort regsgeldigheid en kontraktuele verpligtinge ook ’n rol te speel.

Inligtingsessie

Eers die kort agtergrond. Luidens berigte hou SA Rugby môre ’n sessie om inligting oor die toekoms van rugby onder sy beskermheerskap deur te gee.

Met deelname in die Superreeks wat weens talle uitdagings onhaalbaar geraak het, is die plan dat SA Rugby sy ses franchises – Haaie, Bulle, Cheetahs, Leeus, Stormers en Kings – tot vier gaan verminder en net hulle voortaan­ in die Europese Pro14-reeks gaan deelneem.

Die Cheetahs wat vroeër in die Superreeks opgeoffer is en toe waardig by die Pro14 ingeskakel het (en in sy eerste jaar die kwarteindronde gehaal het), is dan die span van wie verwag word om weer ter wille van die “groter” unies te moet terugtree. Nes hy vroeër in die Superreeks ook moes terugstaan.

Ná môre se inligtingsessie sal dan eers op SA Rugby se hoofraadsvergadering einde September gestem word oor die plan, wat môre voorgelê gaan word.

Ná môre se inligtingsessie sal dan eers op SA Rugby se hoofraadsvergadering einde September gestem word oor die plan, wat môre voorgelê gaan word.

Hiér sou SA Rugby ’n meerderheid van 75% van die hoofraad vir sy plan moes kry.

Altesaam is daar 29 stemme (twee vir elk van die 14 unies plus 1 van Mark Alexander, president van Saru), maar met Grens uit bly 27 oor. Dit beteken 20 raadslede moet Saru se plan steun.

Of dat 7 daarteen moet stem – vir die Cheetahs om te bly.

Die bespiegeling is dat sentrale unies, soos die Griffons, Luiperds en (dalk) Griekwas saam met die Cheetahs kan staan, wat 8 stemme sou beteken en die plan vir die nuwe vier Pro14-spanne sou afweer.

Tensy daar dalk ’n teen-aanbod is.

Regsgeldigheid

Val die Cheetahs wel as ’n Pro14-span weg, is die plan dat hulle verder deelneem in ’n Curriebeker-reeks van agt spanne – maar sonder Springbokke.

Hiér lê die kwessie. Sonder die deelname van plaaslike Springbokke, soos Frans Steyn en Ruan Pienaar, op die vlak of die kans vir deelname in die Pro14 – hoekom sou spelers dan hier gekontrakteer wou word. In wese relegeer dit die Cheetahs tot ’n Eersteliga-span en verskraal dit die voedingsbron van Suid-Afrikaanse rugby.

Selfs as die emosie hieruit gehaal word, is die vraag hoe so ’n skuif regstegnies sou geskied, gegewe dat die Cheetahs meen hulle is wettig gekontrakteer om tot 2023 in die Pro14 te speel. Dit was ook in die gees hiervan dat die Cheetahs ingestem het om uit die Superreeks te tree.

Naas kontraktuele regsgeldigheid – by monde van prokureur Marius van Rensburg, namens die Cheetahs – en die vraag oor “verworwe regte”, sou ook ’n saak oor die etiek van die weglating van die Cheetahs uit die Pro14 uitgemaak kan word. Die Vrystaatse span bring sy kant al baie dekades lank.

Emosie

As emosie teruggesit word: Die Cheetahs is baie ondersteuners van ander spanne se gewildste “tweede” span. Vanweë die avontuurlike rugby wat hulle speel.

Vir diegene van elders beteken dit dalk niks, maar sonder die Cheetaaaah-kreet en ’n oranje golf by wedstryde vir hul spelers op die hoogste vlak, is die sentrale streek armer. Om nie van die verlies van die ekonomiese inspuiting wat Curriebeker-eindstryde bring te praat nie.

Prestasie? Kyk na die Cheetahs se bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby. Op grond van gemiddelde plek op die puntelys was hulle die afgelope 15 jaar die bestendigste span. Die Cheetahs het die Curriebeker sedert 2005 vyf keer gewen; die laaste twee keer in 2016 en 2019.

Transformasie? Lui die name van Mapimpi, Nyakane, Ox Nché, Joseph Dweba, Sintu Manjezi, Raymond Rhule, Hanyani Shimange en Oupa Mohoje ’n klokkie? Van hulle is gewerf van elders waar hulle nie tot hul reg gekom het nie. Van die Cheetahs se 1,4 miljoen ondersteuners landwyd is 70% swart en bruin, wys ’n peiling.

Kom dit by borgskappe, was die Cheetahs die eerste franchise wat SuperSport as ’n aandeelhouer gekry het. En Toyota se getroue borgskap vind groot aanklank by Cheetah-ondersteuners.

Wen-wen-situasie

Vir SA Rugby lyk die uitdaging na hoe om op ’n wetenskaplik nagevorste wyse die beste wen-wen-situasie tussen ’n volhoubare sakemodel en wat die beste vir rugby is te vind.

Dit is opmerklik dat in Nieu-Seeland en Australië die versugting en die klemskuif na sterk plaaslike mededinging is. Soos die Curriebeker-reeks in die ou dae. Waar Suid-Afrikaanse rugbyhelde soos Joggie Jansen, Gysie Pienaar, Os du Randt en Ruben Kruger, almal met Vrystaat-bande, met hul spel die verbeelding aangegryp het.

Natuurlik móét die Springbokke weer in 2023 die Wêreldbeker wen. Dit is die doel. Die middel is die navolging van basiese beginsels op alle vlakke. Die inperking van die voedingsbasis van rugby sou hierteen stry.

Daarsonder was daar dalk geen Mapimpe wat in 2019 in Japan die Bokke se eerste drie nog in ’n WB-eindstryd gedruk het nie.

In ’n brief aan Rapport skryf Ferreira: “Verstaan ek dit reg? Die rugbybase wil die Vrystaat, wat die rugbypubliek die afgelope 125 jaar al trakteer op sprankelende hardlooprugby, vir die soveelste keer die middelvinger wys?” Hy wys Cheetah-waarhede uit.

Sy slotsom: “Draai die Cheetahs nek om en ons rugby bloei dood.” Séla.

Coetzee is die redakteur van Volksblad.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Pro14  |  Transformasie  |  Cheetahs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.