Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sonder kos, maar nooit sonder hoop

Maggie Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek en het baie ontberings deurgemaak, maar ook medemenslikheid en vriendskappe oor grense heen ervaar. Hier is ’n uittreksel uit haar manuskrip wat ná 57 jaar herontdek is en nou deur Tafelberg uitgegee word.

Die vyand het al dieper in die Oranje-Vrystaat en ook van Natal se kant ingedring. Toe breek daardie vreeslike dag van 23 Junie 1900 vir ons aan.

Ons was die vorige nege maande alleen in ons huis en het geen inkomste gehad nie. Daar was ook niemand wat Ma kon bystaan nie. Sy was alleen met ons ses – ek, wat toe 14 jaar was, James, Robert, Dolly, Hettie en Gerrie.

Ons was sonder skool en sonder ’n bediende en moes elkeen maar ons bes doen om Ma te help.

Hewige gevegte het intussen in Natal en die Vrystaat gewoed.

Ons het gedurig tyding gekry van ons dorp se burgers wat gewond is of gesneuwel het.

In daardie jare van swaarkry in die veld kon ons net in gedagte saam met hulle wees want ons het nooit ’n woord van mekaar gehoor nie.

Cornelis was nog saam met president Kruger as sy telegrafis tot net voordat die vyand na Heidelberg deurgebreek het.

Toe Pretoria ingeneem is, is hy saam met die president tot op Machadodorp [in die hedendaagse Mpumalanga].

Voordat president Kruger die land verlaat het, is ’n groot som geld aan Cornelis – en miskien ook ander offisiere – gegee wat hy aan ons vegtende offisiere moes gaan uitbetaal.

As telegrafis moes Cornelis tydens die oorlog ’n heliograaf beman. Soos ’n spioen moes hy alleen oral ’n hoogte soek van waar hy die vyand kon dophou. Dan moes hy aan die kommando’s sein waarheen hulle moet beweeg.

In daardie jare van swaarkry in die veld kon ons net in gedagte saam met hulle wees want ons het nooit ’n woord van mekaar gehoor nie.

Kakies soos ’n vaal stroom in straat

’n Kunstenaarsvoorstelling van Heidelberg in 1881 toe die eerste groot konflik van die 19de eeu tussen Boer en Brit uitgebreek het. Foto: Getty Images

Op 23 Junie 1900 het ons die kanonne naby die dorp gehoor.

Toe sien ons hoe die Kakies soos ’n vaal stroom in die straat voor ons huis verbyloop na landdros FDJ Wepener se huis. Hy het hom by ’n groot aantal burgers geskaar wat verkies het om eerder hul land te verraai en hul wapens aan die vyand af te gee.

Daardie dag het die vroue en kinders wat agtergebly het se onbeskryflike smart en angs van langer as twee jaar begin.

Dit het gevoel of die mans en groot seuns na wie hulle moes gaan vir hulp en beskerming, vir altyd weg was. Daar was vreeslike gerugte van vroue en meisies wat aangerand is en van wreedheid teenoor hulle. Ons het dit eers later, nadat ons self weggevoer is en van honderde ma’s en dogters se ondervindinge gehoor het, verstaan en geglo.

Ek was onbewus van wat aangaan omdat die ouer mense destyds nie voor ’n kind van my ouderdom oor so iets gepraat het nie. Ek kon ook nie verstaan nie waarom ek altyd ’n kappie moes dra wat my gesiggie heeltemal toemaak. Ook nie hoekom ek al daardie maande nooit op ons voorstoep mag gekom het nie.

Ons mag ook nie ná donker kerse opgesteek het nie. Sodra daar ’n liggie brand, is daar op die huis geskiet. So het hulle een nag byna my ouma, Pa se ma, raak geskiet.

Ek onthou so baie, maar oor wat die daaropvolgende ses maande tot Desember 1900 met ons gebeur het, kan ek nie alles in besonderhede vertel nie.

Van die eerste dag van Heidelberg se besetting het die vroue wie se mans op kommando was, kennis gekry dat hulle en hul kinders nie uit hul erwe mag kom nie.

Daar was dag en nag ’n gewapende wag voor ons deur.

Ons mag ook nie ná donker kerse opgesteek het nie. Sodra daar ’n liggie brand, is daar op die huis geskiet. So het hulle een nag byna my ouma, Pa se ma, raak geskiet.

My arme ma moes alleen omsien na ons ses jong kinders van wie Gerrie maar ’n paar maande oud was. Ses maande lank kon ons geen kos koop nie. Baie mense glo dit nie en wil weet waarvan ons dan geleef het.

Ja, waarvan hét ons geleef?

Koop van kos verbied

Belangstellendes drom in Heidelberg se strate saam tydens genl. Louis Botha se besoek aan dié dorp in 1903. Foto: Getty Images

Die nag voordat ons burgers die dorp verlaat het, het Ma en tannie Nonnie Human die hele nag in ons groot buite-oond brood en beskuit gebak en vleis en kos gaargemaak om vir hul dierbares te gee.

Gevolglik was byna alles opgebruik. Baie vroue was nes ons, dorpsmense en het nie soos plaasvroue nog ’n sak meel of mieliemeel, of goed soos pampoene, hoenders, eiers en melk in die huis gehad nie.

Ek besef nou eers wat ’n vreeslike ontnugtering dit vir my ma moes gewees het om te hoor sy mag nie uit haar huis gaan nie, selfs nie eens winkel toe om kos te koop nie. En te hoor dat ons kinders ook nie mag gaan nie – en dat alle kosvoorraad in die winkels in elk geval deur die Engelse gekonfiskeer is.

Waar hulle hoenders en diere soos koeie en varke by huise gesien het, het hulle dit gevat. Ons het ’n mooi hanslammetjie gehad wat hulle met ’n bajonet doodgesteek het.

Ons het baie Engelssprekende vriende gehad wat graag sou wou help maar hulle het dit nie durf waag nie. Ek is seker die liewe Hemelse Vader het vir ons arme ma gesorg.

’n Paar henne het ook in die bos geboer en ons het seker af en toe ’n eier gehad.

Ons tuin het aan ’n klein spruitjie gegrens waar daar ’n digte populierbos was. Daar het Ma ons koei vasgemaak, so ons het darem melk gehad – maar ek kan nie onthou vir hoe lank nie. Sy is seker later weggeneem.

’n Paar henne het ook in die bos geboer en ons het seker af en toe ’n eier gehad.

Ek kan onthou dat James en Robbie met seuntjies gespeel het wat in die straat toegelaat is. Hulle het ’n bal heen en weer oor ons muur geskop. Soms het die Kakie-wag ook saamgespeel.

Toe kry Ma die plan om ’n briefie met geld by ons waterpomp te sit. Die seuntjies in die straat skop dan die bal tot by die pomp en kom drink water. Een vat dan die briefie met geld en kom die volgende dag terug met iets in die boeksak op sy rug en sit ’n pakkie daar neer.

Dit was eintlik baie selde maar tog het dit Ma baie gehelp.

Kaal, droë Transvaalse winter

Die bekende klipkerk in Heidelberg. Foto: Gallo Images

Dit was winter en alles was kaal en droog in die Transvaal, so daar was ongelukkig niks in ons tuin nie.

Ek onthou eendag wat ons vreeslik honger was. Ma het bo van die spens se rak ’n bakkie droë semels en ’n klompie ou, uitgedroogde vetkaiings afgehaal. Daarmee het sy vir ons ’n eetmaal gemaak.

Intussen was daar gedurig kennisgewings wat die vroue gedreig het om hul mans te oorreed om hul wapens neer te lê.

Uiteindelik was daar ’n lang dreigement waarin die vroue aangesê is om ’n sekere dokument te teken waarin hulle kla oor hoe swaar hulle kry en hul mans smeek om huis toe te kom. As hulle dit nie teken nie, gaan al die vroue as gevangenes weggestuur word, is gedreig. Sover ek weet het geen enkele vrou dit geteken nie.

Intussen het die Kakies in die huise gekom en feitlik al die meubels opgelaai. Hulle het bitter min vir die vroue en kinders agtergelaat. Hulle het ook gedurig na wapens en geld kom soek. Die meubels is op die markplein afgelaai, daar waar Heidelberg se groot stadsaal vandag staan.

Daar kon swart mense en die verraaiers – of, soos ons hulle genoem het, die handsuppers – kom vat wat hulle wou hê. Dit wat oorgebly het, is aan die brand gesteek.

Ons huis was besonder goed gemeubileer en later het ons  eers verneem dat een of ander Engelse offisier dit uitgehou het om self daar te kom woon.

So onthou ek goed hoe ek haar ’n paar keer gehelp het om snags in die pikdonker êrens ’n gat te maak waar ons die bondeltjies kon wegsteek – in die ou hoenderhok of in die hoek van ’n buitekamer.

Daardeur is Ma daardie smart gespaar want hulle het toe niks van ons geneem nie. Op die ou einde het dit ons niks gebaat nie, want toe ons ná twee jaar huis toe gekom het, was daar nie ’n strooitjie in die huis nie.

Die mense wat intussen daar gewoon het, het alles gruwelik verniel, tot die deure en vensters, en dit was vreeslik vuil.

Die dorpsbewoners wat die eed van getrouheid aan die Engelse geteken het, is toegelaat om met rantsoenkaarte kos te koop. Ook ’n paar weduwees wie se mans gesneuwel het.

So kon Elsie Human, weduwee van John Spruyt, kos koop en sy het nou en dan vir Ma ’n blikkie kondensmelk gekry. Elke druppel daarvan is vir klein Gerrie gehou.

Ma het gelukkig heelwat kontant gehad – destyds goue ponde – en sy moes dit gedurig op een of ander plek wegsteek. So onthou ek goed hoe ek haar ’n paar keer gehelp het om snags in die pikdonker êrens ’n gat te maak waar ons die bondeltjies kon wegsteek – in die ou hoenderhok of in die hoek van ’n buitekamer.

Net ek het daarvan geweet.

Later het Ma ’n gordel van linne gemaak wat styf om my middel kon vaskom en het ’n deel van die geld daarin gesit.

As sy weggeneem sou word, moes ek daarmee vir die kleintjies sorg.

Britsgesinde dogters help

Boeregesinne in ’n konsentrasiekamp. Foto: Getty Images

Nie ver van ons nie het ’n mnr. Ahrbeck gewoon. Sy vrou was lankal dood en hy en sy vyf dogters was baie Brits-gesind.

Van die dogters het dikwels tot by ons tuinhek geloop en gevra om ons baba te sien. So het dit gekom dat ek die kinderwaentjie tot by die hek stoot en hulle dit dan ’n entjie op en af in die straat stoot.

Die Kakie-wagte het ook al begin laks word en het hulle nie juis aan die waentjie gesteur nie.

Ons het dit baie waardeer want die paar goedjies is al wat ons van ’n hele huis vol huisraad teruggekry het.

Ma het toe ’n plan bedink om allerhande van ons kleinighede in die waentjie te pak met die baba bo-op. Later het sy die baba selfs nie eens meer in die waentjie gesit nie, net die songordyntjies goed toegetrek.

Die dogters het dit tot by hul huis gestoot waar hulle die goed dan oral opgehang of uitgestal het asof dit hulle s’n is.

Meer as twee jaar later het hulle dit toe alles weer aan Ma terugbesorg. Ons het dit baie waardeer want die paar goedjies is al wat ons van ’n hele huis vol huisraad teruggekry het.

* Maggie: My lewe in die kamp. Die aangrypende verhaal van ’n jong meisie in die Anglo-Boereoorlog, word deur Tafelberg uitgegee en kos R290. Die digitale uitgawe kos R232.

Meer oor:  Anglo-Boereoorlog  |  Maggie Jooste  |  Paul Kruger  |  Machadodorp  |  Heidelberg  |  Oorlog  |  Kos  |  Konsentrasiekampe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.