Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sorg só vir jou eie veiligheid

Laat die mense hul eie polisiestasie-bevelvoerders kies, skryf Frans Cronjé.

Ter illustrasie

Om en by 2010 het ons by die Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) begin belangstel in die groot getal berigte in die media waar slagoffers van misdaad beweer dat “mense in polisie-uniforms” of “mense wat in polisievoertuie ry” betrokke was by ernstige en geweldsmisdade.

Daar was ’n groot getal sodanige berigte, maar die polisie het roetinegewys ontken dat hul lede daarby betrokke was en het eerder gesuggereer dat sulke misdade deur “foppolisielede”, mense wat hulle voorgedoen het as polisielede, gepleeg is.

Ek is nie hierdeur oortuig nie en het opdrag gegee dat een van ons ontleders moes ondersoek wat aan die gang was.

Nie lank daarna nie het hy by my kantoor ingestap met ’n dik lêer vol dokumente. Toe ek hom vra wat dit is, het hy gesê dit is voorbeelde van gevallestudies waar polisielede betrokke was by die pleeg van ernstige en geweldsmisdade soos verkragting, roof, kaping en moord.

Namate ons deur die bewyse gewerk het, was ons verstom oor wat ons ontdek het. Hier en daar het ons afgekom op ’n voorbeeld waar iemand waarskynlik ’n polisie-uniform gesteel en gebruik het om ’n misdaad te pleeg, maar in die algemeen kon ons vasstel dat hope polisiemanne sommige van die gewelddadigste misdade in die land pleeg.

Ons het nie gesukkel om beduidende bewyse te vind van polisiebetrokkenheid by misdade nie.

Ek het my kollega gelas om net die eerste 100 gevalle wat hy teëgekom het te neem, dit te ontleed en in die vorm van ’n verslag te publiseer.

Ons het gevalle van korrupsie, die vra van omkoopgeld en ligte aanrandings geïgnoreer en slegs op die ernstigste misdade gefokus.

Dié verslag is in Februarie 2011 gepubliseer as “Broken Blue Line – The Involvement of the South African Police Service in Serious and Violent Crime”.

Die bevindings was die volgende:

* Polisielede pleeg roetinegewys ernstige misdade.* Dié misdade kon ingedeel word in  die hoofkategorieë gewapende roof, verkragting (veral van vroue wat saans alleen op pad is) en moord (dikwels met vuurwapens wat aan die staat behoort).* Dié misdade is gereeld gepleeg deur polisielede terwyl hulle aan diens, in uniform, in polisievoertuie en met hul polisie-uitgereikte vuurwapens bewapen was.* Die vlakke van skuldigbevinding van polisielede wat van sulke misdade verdink is, was baie laag.

Daar was geen doelgerigte poging deur die polisie om hierdie probleem te hanteer nie.

’n Tipiese geval sou wees waar polisiebeamptes wat snags op patrollie was ’n vrou wat alleen op pad was, sou voorkeer. Hulle sou haar intimideer en haar agterin hul polisievoertuig verkrag. Indien sy die voorval sou probeer aanmeld, sou ander beamptes baie min belangstelling toon, en indien sy sou volhou, sou hulle haar met inhegtenisneming dreig.

In ander gevalle sou polisiemanne hul kennis van die misdadige onderwêreld gebruik om vragmotors te kaap, ondernemings te beroof of gesinne in hul huise aan te val. Ons het selfs gevalle uitgewys waar polisiebeamptes kitsbanke opgeblaas het.

Ter illustrasie

Kort nadat ons dié bevindings gepubliseer het, het ons die versekering van die polisie en die ministerie van veiligheid en sekuriteit gekry dat hulle geskok was oor wat ons vasgestel het en dat hulle daarteen sou optree.

Vier jaar later, in Januarie 2015, het ons ’n soortgelyke ondersoek onderneem. Dit is as ’n verslag met die titel “Broken Blue Line 2” gepubliseer. Die verslag het relatief min verandering getoon teenoor dit wat in 2011 bevind is.

Met een belangrike verskil: In “Broken Blue Line 2” kon ons ook bepaal dat byna een uit elke 100 dienende polisielede skuldig bevind is aan ernstige misdade wat gewissel het van moord en verkragting tot roof en aanranding.

Net voor die publikasie van die verslag het ek die kommissaris van polisie en senior amptenare in Pretoria ontmoet. Die kommissaris was egter baie vyandiggesind en het gedreig om die publikasie van die verslag te verbied.

More publiseer ons die derde verslag in die reeks, en dit spyt my om te berig dat ons nie gesukkel het om weer eens beduidende bewyse te vind van polisiebetrokkenheid by misdade nie. Dié misdade is weer eens van ’n ernstige aard en wissel van transitorooftogte en gewapende roof tot huisbrake, kapings, verkragtings en moord.

Die implikasies is ernstiger omdat misdaad- en geweldsvlakke weer eens styg terwyl die staat dreig om burgerlike toegang tot vuurwapens en die individu se reg tot selfverdediging verder te verminder. Teen ’n koers van 34 moorde vir elke 100 000 mense in die land, sal Suid-Afrikaners nou tien keer meer waarskynlik vermoor word as Amerikaners en 30 keer meer waarskynlik as Australiërs.

Ons weet dat die regering nie genoeg omgee om hierdie krisis ernstig op te neem nie. Indien daar iets aan die saak gedoen moet word, moet dit dus, om hierdie rede, deur gemeenskappe self hanteer word.

Daar is drie dinge wat moet gebeur om dit moontlik te maak. Die eerste twee is langtermyn-doelstellings wat ons reeds begin dryf het onder politieke leiers, terwyl die derde ’n onmiddellike korttermyn-oplossing is wat enige gemeenskap binne enkele dae kan implementeer.

Die eerste is om gemeenskappe toe te laat om hul eie polisiekantoor-bevelvoerders te verkies of om minstens die magte van gemeenskapspolisieforums drasties uit te brei om bevelvoerders aan te stel.

Op dié manier sal die hoofde van plaaslike polisiekantore regstreeks aan hul gemeenskappe aanspreeklik wees. Indien die plaaslike polisie swak presteer, korrup is of – nog erger – ernstige en geweldsmisdade pleeg, sal dit vir die gemeenskap ’n eenvoudige saak wees om die bevelvoerder te herroep en iemand anders aan te stel.

Polisiekantoor-bevelvoerders hoef ook nie noodwendig dienende polisielede te wees nie. Enige toereikend ervare persoon met die kwalifikasies om ’n organisasie te bestuur, kan verkies word, wat aan die gemeenskap ’n groot verskeidenheid  kandidate beskikbaar sal stel om van te kies.

Die tweede is om die private veiligheidsuitgawes van huishoudings belastingaftrekbaar te maak. ’n Mens betaal reeds belasting, waarvoor jy dienste, waaronder ’n veilige en geborge samelewing, van die regering verwag.

Geen mens bestee geld aan private veiligheidsmaatreëls omdat hy of sy dit wil doen nie. Hulle word gedwing om dit te doen uit vrees en omdat die diens wat deur die staat voorsien word so swak is dat hulle geen keuse het as om private maatreëls te tref om hul lewe, besittings en gesinne te beskerm nie.

Dit is niks minder as reg dat hulle vir hul uitgawe vergoed word nie, veral aangesien sodanige belegging daartoe bydra om ’n veiliger Suid-Afrika vir al sy mense te skep.

Tensy die bogenoemde twee doelstellings bereik word, sal die gemeenskap steeds in groot gevaar van gewelddadige aanvalle verkeer, deur onder andere die mense wat hulle behoort te beskerm.

Die beste tussentydse oplossing, ons derde voorstel, is om baie goed georganiseerde buurtwagskemas met behoorlike hulpbronne te ontwikkel wat by private sekuriteitsverskaffers geïntegreer is.

Dit sal ’n gemeenskap in staat stel om prakties beheer van hul eie sekuriteit oor te neem.

Sodanige strukture kan later by die polisie geïntegreer word. Sulke strukture bied egter voorlopig die beste oplossing om Suid-Afrikaners teen die plaag van ernstige en geweldsmisdaad te beskerm. 

Die SAIRV veg om mense se regte tot beheer oor hul polisiekantoor uit te brei en sterk gemeenskapspolisiëringstrukture gevestig te kry om hulself teen gewelddadige aanvalle te beskerm.

Om meer hieroor te wete te kom of dit te ondersteun, besoek www.irr.org.za. 

* Frans Cronjé is die uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV).

Meer oor:  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.