Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sosiale media: Jy kan nié sê en doen wat jy wil nie

WhatsApp en Facebook is lankal nie meer net onskuldige platforms vir sosiale doeleindes nie. Dis makliker om in die sop te beland en jou selfs ’n misdaadgeskiedenis op die hals te haal as wat ’n mens dink, het Emma Sadleir, ’n mediaregprokureur wat in sosialemediaplatforms spesialiseer, aan Jana Marx gesê.

publisher
Dis veel makliker om jou vingers op sosiale media te verbrand as wat jy dink, aangesien sosiale media van elke Jan Rap en sy maat ’n 'uitgewer' (publisher) maak. Foto: Unsplash

Dit is lankal nie meer nuus dat sosiale media en WhatsApp jou in die moeilikheid kan laat beland nie. Vra maar vir Adam Catzavelos, Julius Malema, oudpres. Jacob Zuma en Sunette Bridges, wat al hieroor ’n draai in die hof gemaak het.

En as jy nou dink dat hierdie waarskuwing nie eintlik op jou van toepassing is nie omdat jy nie ’n openbare figuur is of openlik grappies maak wat ander dalk aanstoot kan gee nie, maak jy volgens prokureurs ’n fout.

Dis véél makliker om jou vingers te verbrand as wat jy dink, aangesien sosiale media van elke Jan Rap en sy maat ’n “uitgewer” (publisher) maak.

Sadleir sê die inhoud op sosiale media word soos enige ander gepubliseerde inhoud hanteer. “Die reël is: Sodra een ander mens die inhoud gesien het, hanteer ons dit asof jy dit op die voorblad van die koerant gepubliseer het.”

Sosiale media is net ’n platform vir publikasie.
Emma Sadleir

Karakterskending is een van die groot slaggate waarin Suid-Afrikaners op sosiale media kan trap.

Ander “name” vir oortredings sluit in haatspraak, crimen injuria, klagte wat met intellektuele eiendom of outeursreg te doen het, deep fakes, wraakpornografie of ’n tipe kuberboeliery of -mishandeling, waar intieme foto’s of video’s (wat dikwels geredigeer of aangepas is) sonder die betrokke mense se toestemming gedeel word om hulle te verneder (image-based abuse).

“Dus, letterlik enigiets wat sou geld as gepubliseerde inhoud. Sosiale media is net ’n platform vir publikasie,” aldus Sadleir.

Suid-Afrika wag tans op die president om nuwe wetgewing oor kubermisdaad te bekragtig.

Llewellyn Prince het berig dit sal onder meer die skadelike verspreiding van pornografie of wraakpornografie aanlyn óf die dreigement om dit te doen ’n misdaad maak.

Daar is egter bestaande wetgewing wat dit reeds onmoontlik maak vir Suid-Afrikaners om op sosiale media of kletsgroepe te sê en doen wat hulle wil.

‘Vryheid van spraak geld nie dan nie’

Emma Sadleir Foto: Argief

“Ja, maar ek het die reg op vryheid van spraak!” is een van die heftige reaksies wanneer mense oor sosiale-media-plasings gewaarsku word.

Die reg op vryheid van spraak is egter nie ’n absolute reg nie, verduidelik Sadleir, en kan deur ’n paar dinge beperk word:

• wetgewing (jy kán gedagvaar word vir iets soos naamskending of van crimen injuria aangekla word);

• etiese verantwoordelikheid (jy gaan nou nie foto’s van ’n vriendin se minderjarige kinders op jou Facebook-blad laai as sy nie daarvan hou nie);

• professionele gedragskode (’n prokureur mag byvoorbeeld nie vertroulike inligting twiet oor kliënte of oor sake waarmee hy besig is nie);

• kontrakte (soos wanneer jou dienskontrak sê jy kan afgedank word as jy jou werkgewer se naam deur die modder sleep); en

• wanneer daar ’n botsing van regte bestaan (wanneer my reg op vryheid van spraak dalk jou reg skend op privaatheid of om waardig behandel te word).

En wat van daardie “private” WhatsApp-boodskappe? Netwerk24 het in die verlede berig sodra jy iets gestuur het, kan jy dit nooit, ooit weer ongedaan maak nie. Selfs al vee jy dit uit, is daar altyd die kans dat iemand ’n skermgreep geneem het, of meen dat hulle ’n morele verpligting het om jou te rapporteer, soos in die geval van Catzavelos, wat sy rassistiese video aan vriende gestuur het.

Mediaregkenners het ’n goue reël: As jy nie bereid is om ’n boodskap op ’n groot kennisgewingbord langs ’n hoofweg te plaas nie, moet dit liefs nie stuur nie.

Wie is aanspreeklik vir inhoud op sosiale media?

facebook
Plasings op Facebook word deesdae fyn dopgehou. Foto: Unsplash

Almal in die “ketting van publikasie” is aanspreeklik, verduidelik Sadleir.

“Elke liewe persoon in die ketting van onwettige inhoud is daarvoor verantwoordelik. As jy byvoorbeeld ’n rassistiese stemboodskap of rassistiese meem op WhatsApp ontvang en aangestuur het, is jy verantwoordelik vir die publikasie daarvan.”

Dit geld ook hertwiet op Twitter en die deel (sharing) van Facebook-plasings, sê sy.

“Ons het selfs regspraak wat sê as jy van iets ‘hou’, is jy deel van die ketting van publikasie.”

Crimen injuria is die strafregtelike oortreding wanneer iemand jou waardigheid ernstig (en opsetlik, volgens die Pharos-woordeboek) geskend het.

Sy verwys na verdere regspraak wat bepaal dat wanneer jy in ’n foto of plasing met byvoorbeeld lasterlike inhoud gemerk (tag) is en jou naam nie gaan verwyder (untag) en in effek afstand van die inhoud doen nie, jy aanspreeklik gehou kan word.

Sadleir noem ’n hofsaak waarin ’n man se tweede vrou op sosiale media geskryf het dat sy eksvrou ’n pedofiel is.

Die tweede vrou het haar man in haar plasing gemerk en die man het sy naam nie gaan verwyder nie.

“Die eksvrou het toe die nuwe vrou én haar eksman gedagvaar en die hof het bevind dat die man net soveel aandeel as sy nuwe vrou daarin het.”

Só werk dit in die howe

Kuberboeliery is onder alle ouderdomsgroepe aan die toeneem. Foto: Unsplash

Jy kan óf siviele stappe teen iemand doen óf ’n klagte by die polisie aanhangig maak, wat dan moontlik in ’n strafhof kan beland, óf beide straf- en siviele roetes volg.

In ’n strafsaak kla die staat die “oortreder” aan wanneer hy dink dat daar ’n redelike vooruitsig op sukses is.

In ’n siviele hof is dit gewoonlik ’n saak tussen twee individue of entiteite of ’n maatskappy wat byvoorbeeld ’n individu vir skade sal dagvaar.

In Suid-Afrika is daar al uitsprake in crimen injuria-sake gelewer wat met rassisme, kuberboeliery, wraakpornografie en antisemitisme te doen het.

“Crimen injuria is die strafregtelike oortreding wanneer iemand jou waardigheid ernstig (en opsetlik, volgens die Pharos-woordeboek) geskend het.

"In Suid-Afrika is daar al uitsprake in crimen injuria-sake gelewer wat met rassisme, kuberboeliery, wraakpornografie en antisemitisme te doen het,” sê Sadleir.

Ene Matome Letsoalo is in 2020 skuldig bevind aan crimen injuria, wat as antisemitiese haatspraak beskryf is.

Hy het in 2018 herhaaldelik twiets gerig aan die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes (SAJBD), waarby hy ’n foto van die slagoffers van die Joodse volksmoord ingesluit het, en Jode uitgeskel en onder meer aangevoer het dat hulle “uitgeroei” behoort te word.

As jy ’n rassistiese stemboodskap of rassistiese meem op WhatsApp ontvang en aanstuur, is jy verantwoordelik vir die publikasie daarvan en kan jy aanspreeklik gehou word. Foto: Unsplash

“Die swaarste vonnis vir crimen injuria was nog dié van Vicki Momberg,” sê Sadleir.

Momberg is drie jaar tronkstraf opgelê, waarvan een jaar opgeskort is, en sy moes effektief twee jaar agter tralies sit. Dit was nadat sy ’n polisielid en Gautengse 10111-operateurs ’n rits k-woorde toegesnou het.

Die sakeman Peter Paul Ngwenya is ’n boete van R24 000 opgelê nadat hy die Investec-hoof Fani Titi die k-woord in ’n SMS genoem het.

Strafsake het egter nie altyd rassistiese motiewe nie.

Joyce Molamu, wat die mediapersoonlikheid Uyanda Mbuli in ’n Facebook-plasing ’n “stupid b****” genoem en haar daarvan beskuldig het dat sy ’n verhouding met Molamu se kêrel gehad het, is ’n boete van R6 000 vir crimen injuria opgelê. Sy moes verder 350 uur se gemeenskapsdiens doen en ’n agt weke lange kursus oor lewensvaardighede vir volwassenes bywoon.

Albei is aanspreeklik gehou omdat Ndlozi die verklaring geskryf het waarin Manuel belaster is, en Malema dit op sy Twitter-rekening gedeel het.

As jy skuldig bevind word aan crimen injuria, het jy ’n misdaadgeskiedenis.

Vir Molamu, wat in daardie stadium ’n regstudent was, het so iets verreikende gevolge.

Op siviele front is die sake tussen Zuma en oudminister Derek Hanekom, of die saak tussen oudminister Trevor Manuel en die EFF onlangse voorbeelde.

Zuma het Hanekom in 2019 in ’n twiet ’n “bekende agent van die vyand” genoem. Die konstitusionele hof het beslis dat Zuma Hanekom R500 000 skadevergoeding moet betaal, die twiet moet verwyder en verskoning moet vra.

Manuel het ’n suksesvolle aansoek teen Malema as EFF-leier en dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, gebring nadat hulle gesê het die proses waaroor hy toesig gehou het om Edward Kieswetter as die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aan te stel, was “korrup en nepotisties”.

Albei is aanspreeklik gehou omdat Ndlozi die verklaring geskryf waarin Manuel belaster is, en Malema dit op sy Twitter-rekening gedeel het.

“Vir my is dit baie belangriker in ’n naamskendingsaak om ’n verskoning of ’n terugtrekking te kry asook ’n onderneming dat hulle gaan ophou om hierdie slegte goed te sê,” sê Sadleir.

Mag ek nou nie meer ’n mening hê nie?

Sadleir benadruk wetgewing beteken nié dat jy nie meer ’n mening mag lug nie.

Aktiviste veg teen ongeregtigheid, politieke partye veroordeel mekaar, mense lewer soms belangrike menings en swak dienslewering ontduik nie sommer ’n skerp tong nie.

“Sommige mense moet in diskrediet gebring word. Sommige maatskappye moet in diskrediet gebring word. Maar as jy iemand se naam skend, moet jy dit kan verdedig,” sê Sadleir.

Die verweer vir naamskending is volgens Sadleir tweeledig: Dit moet eerstens die waarheid wees en tweedens moet dit in die openbare belang wees.

Naamskending word gepleeg wanneer iemand ’n lasterlike uitlating oor iemand anders publiseer, wat die persoon se reputasie beskadig – “of twee of 2 miljoen mense dit nou gesien het”, verduidelik Sadleir.

Dit moet ook direk of indirek na jou, jou maatskappy of organisasie verwys; dit wil sê, selfs waar name weerhou word, maar ’n leser twee en twee bymekaar kan sit en aflei wie dit is, het die geïmpliseerde persoon gronde vir ’n naamskendingseis.

Die verweer vir naamskending is volgens Sadleir tweeledig: Dit moet eerstens die waarheid wees en tweedens moet dit in die openbare belang wees.

“In sommige lande kan jy sê net wat jy wil, solank dit die waarheid is, maar in Suid-Afrika moet jy ook kan bewys die publiek baat daarby. Dit verhoed mense eintlik om vuil wasgoed op sosiale media te was. Jy vertel hoe sleg is jou ekskêrel en die hof mag vind dis waar, maar daar is geen openbare voordeel daarin om hierdie vuil wasgoed te was (wat inbreuk maak op die privaatheid van die individu) nie.”

Wat nou van swak dienslewering?

“ ’n Swak kliëntebeoordeling sal altyd lasterlik wees, want dis gepubliseer, dit verwys na ’n individu of maatskappy en dit skaad hul reputasie. Die vraag is egter weer: Is dit waar en is dit in die openbare belang?”

Sy verwys na regspraak wat lui dat kliëntebeoordeling wél tot voordeel van die publiek is: In 2004 het die hof in ’n man se guns beslis wat ‘Swakste 4X4Xver, Grondpad Knak Onderstel’ groot op sy Isuzu-bakkie laat aanbring het. Hy het gesinspeel op Land Rover se slagspreuk The Best 4x4byFar.

Die hof het gelas hoewel dit op die oog af lyk soos naamskending, die uitlating die aangeklaagde se “werklike mening en billike kommentaar” oor ’n saak “in die openbare belang” is.

Volgens Sadleir is die verweer vir billike kommentaar of dit op ’n substansiële waarheid gegrond is en tot die publiek se voordeel is, en belangrik: nie kwaadwillig is nie.

“Die oomblik as dit aangevuur word deur kwaadwilligheid, verloor jy die verweer van billike kommentaar.”

Admins van groepe

’n Mening is nie meer net ’n mening wanneer dit teen ander diskrimineer nie. Foto: Unsplash

Die Menseregtekommissie het Bridges jare gelede voor die hof gedaag vir kommentare op haar Facebook-blad.

Die rassistiese kommentaar was meerendeels van haar aanhangers, maar die hof het bevind omdat dit op haar blad is, is sy verantwoordelik daarvoor om die kommentaar te modereer.

As jy ’n Facebook-groep bestuur, is jy die “baas” van die groep, verduidelik Sadleir.

Hoewel jou groeplede primêre uitgewers (met aanspreeklikheid vir hul uitlatings) is, is jy, as sekondêre uitgewer, ook aanspreeklik vir wat op die blad aangaan.

“Dis effens anders as jy ander mense se inhoud host. In Suid-Afrikaanse wetgewing werk dit so: As jy die vermoë het om iets uit te vee, is jy verantwoordelik daarvoor, maar nie totdat jy daarvan bewus geword het nie. So, as iemand kinderpornografie op my Facebook-blad geplaas het, en ek het dit nog nie gesien nie, is ek nie daarvoor verantwoordelik nie. Maar die oomblik as ek bewus word daarvan, verloor ek my verweer van onskuldige disseminasie en klim ek in die skoene van die persoon wat dit gepubliseer het.”

Sadleir het gesê administrateurs kan aanspreeklik gehou word wanneer hulle self onwettige materiaal plaas, die plasing van onwettige materiaal aanmoedig en ook as hulle niks doen om die sirkulasie van onwettige materiaal op hul groep te bekamp nie.

Daar is ook al hoe meer groepe op Facebook waarop mense voortgaande hofsake of vars moordtonele bespreek.

Die volgende scenario verwys: ’n Vrou is dood en die polisie ondersoek die saak. Die polisie het nog nie bekend gemaak dat hulle misdaad vermoed nie, maar hierdie groep het nou al oor elke scenario bespiegel wat daarop dui dat haar man haar moes vermoor het.

“Naamskending is in hierdie geval die grootste probleem. As ek sê mnr. X het sy vrou vermoor, is dit een van die mees lasterlike dinge wat ek kan sê. Hy sal my kan dagvaar en ek sal moet wys dis waar en in die openbare belang, of ’n billike kommentaar as dit my mening is,” sê Sadleir.

Daar is verlede jaar ’n vrywaring versprei wat talle administrateurs op hul WhatsApp-groepe geplaas het in ’n poging om regsaanspreeklikheid te vermy.

Volgens hierdie vrywaring kon administrateurs nie verantwoordelik gehou word vir ontoepaslike inhoud wat lede plaas nie.

AfricaCheck het egter vasgestel hierdie generiese “vrywaring” gaan nie veel help nie.

Sadleir het gesê administrateurs kan aanspreeklik gehou word wanneer hulle self onwettige materiaal plaas, die plasing van onwettige materiaal aanmoedig en ook as hulle niks doen om die sirkulasie van onwettige materiaal op hul groep te bekamp nie.

En as daar meer as een administrateur in beheer van ’n groep is? Caryn Myers, prokureur van Myers Attorneys, het aan AfricaCheck gesê alle administrateurs op ’n groep is ewe aanspreeklik vir wat op die groep aangaan.

Outeursreg

Daar het die laaste ruk weer ’n klomp groepe op Telegram uitgespring, waarop mense PDF-weergawes of e-boeke van Suid-Afrikaanse skrywers gratis versprei.

Volgens Christiaan Boonzaier het die Kommissie van Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) verlede jaar al in ’n inligtingstuk sy stem dik gemaak oor sogenaamde “WhatsApp-boekklubs”, wat veral tydens die staat van inperking boeke onwettig op die kletsdiens versprei.

As jy ’n PDF van ’n e-boek het en dit vermeerder (kopieer en/of aanstuur), is dit so goed jy maak ’n fotokopie van ’n gedrukte boek, wat onwettig is.
Nicol Faasen

“Die deel van ongemagtigde boeke op sosialemediaplatforms is ’n misdaad,” lui die inligtingstuk. Dit skend die eienaar van die intellektuele eiendom se regte en kan as kopieregskending beskou word.

Nicol Faasen, voorsitter van Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (Pasa) se komitee vir regsaangeleenthede, het verduidelik lesers kan fisieke harde- en sagtebandboeke aan mekaar gee sonder om die gewysigde Wet op Outeursreg 98 van 1978 te oortree – maar hulle kan dit nié met e-boeke doen nie omdat wetgewing intellektuele inhoud én “die bepaalde vorm wat die uitgewer daaraan gee”, beskerm.

“As jy ’n PDF van ’n e-boek het en dit vermeerder (kopieer en/of aanstuur), is dit so goed jy maak ’n fotokopie van ’n gedrukte boek, wat onwettig is.”

Meer oor:  Whatsapp  |  Twitter  |  Facebook  |  Adam Catzavelos  |  Julius Malema  |  Jacob Zuma  |  Sunette Bridges  |  Sosiale Media  |  Vryheid Van Spraak  |  Rassisme  |  Laster  |  Naamskending
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.