Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Soveel van ‘hulle’. Hulle sonder van.

Hy tel 30 huiswerkers wat vir hulle kos gemaak en hul klere gewas het, maar by wie hy nooit aan huis gekom het nie. Só is dit in daardie jare gedoen, skryf Dana Snyman.

’n Kinderoppasser in die 1980’s in Yeoville, Johannesburg. Foto: Gideon Mendel

Die eerste van ons bediendes wat ek kan onthou, se naam was Bernard. Hy was ’n Wambo. Dit was op Grootfontein in die ou Suidwes-Afrika waar ons toe gewoon het.

Wat Bernard se van was, weet ek nie. Ek was vier of vyf jaar oud.

Bernard het in ’n kamer agterin ons erf gewoon en ’n uniform gedra wat Ma seker by Wecke & Voigts vir hom gekoop het: ’n seilerige wit broek en ’n wit baadjie met ’n rooi strepie rondom die kraag.

“Ou Bernard kan alles doen,” het Ma gespog. “Hy kan tot vetkoek bak.”

Soms het Ma ook gesê: “Ek gaan lang trane huil die dag as ou Bernard nie meer daar is nie.”

Dit was in die jare sestig. Ons het toe nog nie van ’n huiswerker of huishulp gepraat nie. Bernard was ons bediende.

‘Ek het vir Paulina laat gaan.’ Asof sy ’n slaaf was.

Ek kan nie onthou of Ma gehuil het toe ons van Grootfontein af na Danielskuil toe trek en Bernard moes agterlaat nie.

Op Danielskuil het ons eers vir ai Souf gehad. Ai Souf se van kon Cloete gewees het, al kan ek dit nie met sekerheid sê nie. Cloete of Louw.

Ma was trots daarop dat ai Souf die telefoon – ons nommer was nommer 5 – kon antwoord. “Nommer vyf, asseblief, mies,” was elke keer ai Souf se eerste woorde in die telefoon, ongeag wie aan die anderkant was.

Pa het gesê ai Souf is ’n Griekwa en hulle is slimmer as die swartes.

Wanneer dit gereën het, het ons ai Souf met die motor tot by die ingang van die lokasie geneem.“Jy moet nou mooi loop, my ou skepsel,” sou Ma dan vir haar sê. “Sien jou môre.”

Ons het nooit in die lokasie gekom nie. Pa het gesê daar lê glasstukke en geroeste spykers in die lokasie se strate wat die kar se bande stukkend sal steek.

Later het ai Souf te oud geword om vir ons te werk. Haar bene het ingegee. Sy het so waggel-waggel geloop. Ek weet nie of Pa-hulle haar vir die laaste maand wat sy by ons gewerk het ’n groot bedrag gegee het nie – as afskeidsgeskenk. Daar was toe nog nie iets soos UIF nie. Op ’n dag was ai Souf net nie meer daar nie.

“Ou ai Souf was nog van die goeie ou soort,” sou Pa en Ma vir altyd daarna sê wanneer hulle oor ai Souf praat.

‘Ou ai Souf was nog van die goeie ou soort,’ sou Pa en Ma sê.

Toe was daar ’n ander vrou in ai Souf se plek in die huis. Sanna.

Sanna het nie van jellie gehou nie. “Jellie bewe te veel,” het sy gesê en voortandloos gelag. Dit is min of meer al wat ek van Sanna onthou, want Sanna het nie lank by ons gewerk nie.

“Ek dink ons moet maar vir Sanna laat gaan,” het Ma vir Pa gesê. “My goed raak weg. Ek het laas week ’n pak suiker gekoop en vandag kom sê sy die suiker is klaar. Ek weet nie hoekom is hulle so lief vir suiker nie.”

Ek het ’n lys probeer maak van al die mense wat oor die jare heen by Ma-hulle – en ook by my – gewerk het op die plekke waar ons gewoon het. Daar is meer as 20, selfs 30 van hulle – veral as jy die mans byreken wat die tuin help versorg het.

By tye was daar drie mense in ons diens: een in die huis, een vir was-en-stryk, en een in die tuin.

Op Danielskuil het Simon in ons tuin gewerk. “My tuinjong,” het Pa hom genoem, hoewel Simon nie slegs tuinwerk gedoen het nie.

Hy het die honde en die duiwe elke dag kos gegee, die motor gewas, en die voor- en agterstoep blink gevryf met Cobra-politoer.

Ek verbeel my Simon het voor ons leë huis gestaan en vir ons bly waai en waai die dag toe ons Danielskuil verlaat het om op Naboomspruit te gaan woon.

Op Naboomspruit was dit eers Miream in die huis en Samuel in die tuin. Maar op ’n dag toe sê Ma: “ ’n Mens moet begin leer om sonder hulle klaar te kom.” Toe probeer ons sonder Miream in die huis klaarkom.

Ná omtrent twee weke toe sê Ma: “Ek kom nou eers agter hoeveel het daai Miream hier weggedra. Die koffie en suiker hou ons al langer as ’n week.”

Maar skaars ’n maand later was daar weer ’n vrou uit die lokasie in die huis, besig om skoon te maak. Johanna.

Johanna was nie oud nie, en sy was mooi. Party mense wou nie ’n vrou wat te aantreklik is as huiswerker in diens neem nie. Dit was ’n ongesêde reël. Johanna het nogal na die sangeres Margaret Singana gelyk. Net sonder die Afro.

Ma het vir Johanna, soos vir al ons ander bediendes, ’n sakkerige uniform met bypassende kopdoek gekoop om te dra, maar ek kon sien Johanna se lyf is ferm en haar borste ’n begeerlike handvol.

Ek het al hoe meer anders oor Johanna begin dink toe Stoffel Venter, my vriend, my vertel sy nefie in Pretoria kom hul bediende by. Die bediende klim soggens by sy nefie in die bed wanneer sy pa en ma nie daar is nie.

Ek het gewens Johanna kom klim een oggend by my in die bed, maar Johanna het net aangegaan met haar werk wanneer Pa en Ma nie tuis was nie. En ek was te bang om haar te vra om by my in die bed te kom klim. Ek was 14 jaar oud en nog ’n maagd.

Hoe en hoekom Johanna by ons weg is, weet ek nie. Miskien het Pa of Ma begin vermoed ek het onbetaamlike gevoelens vir haar. Op ’n dag was Johanna net nie meer daar nie.

Ek het nooit gesien hoe dank Pa of Ma een van ons bediendes af nie, al het dit verskeie kere gebeur.

Dit was nooit ’n baie formele proses om ’n huiswerker of tuinwerker af te dank nie.

Soms het jy iemand hoor sê ek het hierdie of daardie bediende weggejaag. Iemand anders sou dit sagter stel: “Ek het vir Paulina laat gaan.” Asof Paulina ’n slaaf was wat vrygelaat is.

Ná Johanna, dink ek, was dit Beauty – borstige Beauty wat lief was om ’n song-etjie te neurie wanneer sy in die huis doenig was, asof sy vir ons wou sê: “Tula Tu Tula baba, wees rustig, Tula sana, ek is hier, ek maak skoon.”

Maar toe trek Pa-hulle Skeerpoort toe, en toe moes Beauty agterbly.

Miskien het Ma vir Beauty ’n ander werk probeer kry voor ons weg is Skeerpoort toe. Ek verbeel my ek het Ma vir iemand iets hoor sê soos: “Ek het ’n goeie ene, maar sy kan ongelukkig nie saamgaan nie. Jy kan haar met liefde kry as jy haar wil hê.”

Jy werk vir iemand, vyf dae ’n week, Saterdag halfdag. Jy is dankbaar om daardie werk te hê. Jy kla nie oor jou betaling of werksomstandighede nie, dis jou enigste inkomste. Jy moet selfs jou werkgewer se kinders, klein kindertjies, aanspreek as Kleinbaas of Kleinnooi of Nonnie.

Op ’n dag sê hulle vir jou, jammer, my ousie, jammer, my tuinboy, baas en miesies gaan trek.

Dra jy vir die res van jou lewe ’n soort woede daaroor met jou saam?

En as honderde, derduisende mense, dalk nog baie meer, dieselfde ervaring as jy gehad het, wat word van daardie gemeenskaplike woede wat julle met julle saamdra?

Daaraan dink ek elke keer wanneer ek sien die vroue in Julius Malema se Economic Freedom Fighters stap die parlement in aangetrek soos huiswerkers.

Op Skeerpoort was daar Christina in die huis en Jafta in die tuin. Soms het ek vir Christina gevra of sy familie van Christina Onassis is. Dit was simpel van my. Christina Onassis was die skatryk, bedorwe dogter van die miljardêr Ari Onassis oor wie daar knaend stories in die tydskrifte was. Ons het gereeld foto’s gesien van Christina Onassis wat in Monaco of St. Tropez of een of ander rykmansplek vakansie hou.

Christina, óns Christina – ook háár van het ek nie geken nie – het ingeslaap.

Sy het in die bediendekamer agterin ons erf gewoon. Haar bed se pote het op verfblikke gestaan, want Christina was bang die tokkelossie, ’n kort harige mannetjie, kom pla haar snags.

Die meubels in Christina se kamer was eers by ons in die huis: ’n Ou gemakstoel wat Pa nie meer wou hê nadat hy sy La-Z-Boy gekry het nie. ’n Bedkassie met ’n los poot. ’n Tafel wat nat geword het en toe trek die blad krom.

Christina het die tafel se hobbelrige blad met koerantpapier toegegooi en van haar persoonlike goed daarop gepak: ’n radio, ’n botteltjie Vaseline, ’n pienk kam met sulke dik tande . . .

Daar het ook ’n brokstuk gelê van die spieël in die gang wat geval en gebreek het. In daardie brokstuk het Christina haar soggens mooigemaak voordat sy die dag heel moes begin.

Hoekom onthou ek hoe Christina se kamer van binne lyk? Ek kan nie onthou dat ek ooit in die kamer by haar was nie. Of was ek?

Dink ek aan ’n bediendekamer voel dit of alle bediendekamers dieselfde gelyk het.

Ek kan aanhou vertel van die mense wat as ’n huiswerker of ’n tuinwerker in ons diens was. Dit kan niks meer as bolangse waarnemings wees nie, want ek het nie een van hulle regtig dieper leer ken nie. Bernard. Ai Souf. Simon.

Ek was in nie een van hulle se huis in die lokasie of die eintlike plek waar hulle vandaan gekom het nie. Nie een van hulle se van het ek geken nie. Met byna almal het ek slegs Afrikaans gepraat.

Hulle het vir my kos gemaak en my klere – ook my onderbroeke – gewas. P

Party het geweet wat steek ek in my hangkas se onderste laai weg en wat is in die snippermandjie in die badkamer. Party het my gedempte argumente gehoor.

Hulle het so baie van my geweet, en ek so min van hulle.

Maar sou iemand my vra of ons goed vir hulle was, sou my eerste reaksie wees om te wil sê, ja, ons was goed vir hulle. Ons het vir hulle werk gegee.

Ons het hulle elke maand getrou betaal en vir hulle uniforms en oorpakke gekoop.

Wanneer hulle by die werk was, het hulle dieselfde kos as ons geëet, in ’n blikbord wat in die kas onder die wasbak gehou is.

Soms het hulle goed gekry waarvoor ons nie meer nut gehad het nie: ’n holgelêde matras, ’n hangkas, selfs ’n yskas. ’n Paar sinkplate en ’n rol ogiesdraad wat ’n duiwehok was.

Kersfees het ons vir hulle presente gegee – nooit iets moois nie, altyd was dit klere en koek en lekkergoed vir die kinders, asof dit ’n skulderkenning was.

En gaan ons see toe, het ons vir hulle dikwels ’n bottel seewater saam teruggebring.

Ons het geld gegee vir ’n kind se skoolboeke. Soms ’n simpatieke hand op ’n skouer gesit en halfhartig ’n paar dae afgegee wanneer een se familielid dood is.

Hulle op ’n reëndag by die lokasie se ingang gaan aflaai. ’n Botteltjie Eno of ’n silwer velletjie met vier Dis­prins in gaan haal en gegee vir een wat gekla het van hoofpyn of high blood.

Partykeer het ons vir hulle gesê: “Ek weet nie wat sal ek sonder jou doen nie.”

Maar dikwels, te dikwels, het dinge weer verander en moes daardie een gaan, sonder ’n behoorlike skeidingspakket – altyd met die troos: Ons het hulle darem werk gegee. Ons was goed vir hulle.

Só het baie van ons ons dinge in die apartheidsjare gedoen.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Huiswerkers  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.