Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Soweto-opstand en #FeesMustFall: Gebore uit frustrasie

Wat het 16 Junie 1976 en #FeesMustFall met mekaar te doen? En wat kan ons daaruit leer? vra Theo Venter 40 jaar ná die geweld in Soweto. 

Theo Venter

Ek was ’n derdejaarstudent in politieke wetenskap (toe nog staatsleer genoem) met die uitbreek van die onrus in Soweto in Junie 1976. As studente was ons bewus van gebeure, maar het toe nie naastenby die insig en begrip gehad ten opsigte van hoe ingrypend dit die verloop van politieke en maatskaplike gebeure in Suid-Afrika sou beïnvloed nie. Televisie was in sy kinderskoene en uiters gereguleerd en onseker in sy uitsendings (is iets van die SABC in 2016 weer dieselfde?), daar was geen internet of sosiale media of selfone nie. Ons was aangewese op die staatsbeheerde radio en TV, maar kon darem kies tussen twee Afrikaanse koerante, die (toe nuwe) Beeld of (konserwatiewe en ou) Die Vaderland; of twee Engelse koerante, The Star of The Rand Daily Mail. Daar was darem landlyntelefone en, die lewensaar van ’n koshuisstudent, die tiekieboks. Veertig jaar later sit ek as dosent aan ’n universiteit en die tegnologie van onrus het dramaties verander. Ons lewe in ’n globale gemeenskap waar die nuus ’n millisekonde en ’n twiet ver is. Daar is geen joernalis, redakteur of regisseur tussen jou en die nuus nie. Die onmiddellikheid van gebeure op ’n globale skaal verander alles.

In hierdie stuk wil ek twee omwentelings wat veertig jaar uitmekaar plaasgevind het, maar wat albei sterk beïnvloed is deur die jeug, taal (spesifiek Afrikaans), onderwys en onrus, met mekaar vergelyk.

Sal #FeesMustFall dieselfde geskiedkundige kantelpunt word soos Soweto ‘76 geword het? Op ’n vreemde manier word die twee gebeure aan mekaar gekoppel in Maart 2015 toe een van die leiersfigure van Soweto ’76, prof. Barney Pityana, onseremonieel as fasiliteerder van ’n gesprek oor #RhodesMustFall op die kampus van die Universiteit van Kaapstad verwyder word deur studente-aktiviste.

Die rol van sosiale media en die netwerke wat oornag veldtogte en optredes kon mobiliseer, het nie in 1976 bestaan nie.

Beide die Soweto-onluste van 1976 en die #FeesMustFall-veldtog voldoen aan die tipiese VUCA-probleemstel. VUCA is ’n afkorting wat in die Amerikaanse militêre omgewing ontstaan het vir komplekse probleme wat nie maklik oplosbaar is nie en wat probleme binne probleme genereer en waarvan die doelpale permanent en sonder waarskuwing skuif. Die V staan vir “volatile”, die U staan vir “uncertain”, die C staan vir “complex” en die A staan vir “ambiguity”. Die term “wicked problems” word ook hier deur sosiale wetenskaplikes soos Rittel en Webber (1973) gebruik omdat hierdie komplekse probleme ’n ingewikkelde interafhanklikheid ontwikkel. Probleme soos dat jy skole of universiteite afbrand wat jy eintlik nodig het vir die voltooiing van jou veldtog of plan, of dat die veldtog, terwyl dit in die proses is, vertak in verskillende en nuwe probleme. Die bestuur van VUCA-probleme, so leer ons ons studente, verg ’n buigsame ingesteldheid, maar die meeste regerings (ook die ANC en sy voorganger die NP) probeer dit met hardhandigheid en dogmatiese beleid bestuur.

Op die makrovlak (nasionaal en internasionaal) het beide Soweto en #FeesMustFall ’n baie groot impak gehad en regeringsbeleid verander. Soweto ’76 het ’n historiese saamtrekpunt vir baie ander kwessies geword en soos Max du Preez (in Beeld op 10 Junie 2016) beskryf, het dit die onwerkbaarheid van apartheid finaal bevestig. Maar Soweto ’76 het ook ander prosesse versnel, soos die werk van die Erica Theron-kommissie, asook die latere Riekert-kommissie en Wiehan-kommissie. Teen einde 1977 was daar nuwe politieke voorstelle op die tafel, maar dit was net die voorspel tot die uiteindelike onderhandelinge wat tot die oorgang in 1994 gelei het. #FeesMustFall moet nog sy uitkringende effek wys en almal staan en wag op die presidensiële taakspan oor universiteitsbefondsing, want universiteite moet begroot vir 2017-’18 en kan nie nog ’n jaar sonder klasgeldverhogings deurgaan nie. Soos Soweto ’76 gaan #FeesMustFall beslis strukturele politieke veranderinge tot gevolg hê, asook beleidsveranderinge. Daar sal ook politieke slagoffers wees soos in 1976 (Vorster, Mulder, PW Botha) en ons huidige minister van hoër onderwys het minstens geleer dat iets soos #FeesMustFall nie ’n grap is nie en ligsinnige kwinkslae totaal buite orde is.

Studente en dosente verbonde aan die Universiteit van Kaapstad tydens 'n byeenkoms in 2015. Foto: Jaco Marais

Op die mesovlak (organisatoriese vlak) het beide situasies ’n lang aanloop en afloop gehad. Die Soweto-onluste kan sover as 1974 teruggeneem word en het aangehou tot minstens 1977 of ’78. #FeesMustFall se eerste skote klap in Mangaung in 2012, toe die ANC in sy beleidsdokumente ’n genuanseerde belofte van gratis hoër onderwys in die vooruitsig stel. Ná 2012 het verskeie universiteite verskillende soorte onrus beleef, maar #RhodesMustFall kan beslis as die begin van ’n spontane ontbranding gesien word. ’n Onderliggende frustrasie word die brandstof van hierdie soort gebeure en dan word enige simboliese gebeurtenis die vonk. Of dit koloniale standbeelde is, swak of drakoniese universiteitsbestuur, taalbeleid, die toepassing van die nasionale beursskema NSFAS, koshuisbestuur en toelatingsbeleide. Dit is waarom na die soort probleem as ’n VUCA-probleem verwys word. Dit is spontaan en word onvoorspelbaar.

Beide Soweto en #FeesMustFall was beslis politieke keerpunte.

Op die mesovlak is daar ook ’n verdere ooreenkoms tussen die twee gebeure. Soweto ’76 het ontstaan uit die swart bewussynsbewegings (BPC, SASM en ander), maar is mettertyd gekaap deur organisasies wat aan die ANC verbind is. Hierdie proses het die frustrasies van aktiviste verdiep omdat hulle geweet het wie die vyand was (Nasionale Party), maar nooit die flankaanval van die ANC sien kom het nie. Presies dieselfde het gebeur met die #FeesMustFall-veldtog, want wat begin is as ’n spontane en vreedsame nasionale veldtog, is gekaap deur die EFF en ’n poging tot “terugkaping” deur Sasco- en Ancyl-strukture. Hierdie proses het die nasionale leierskap baie skade berokken en die veldtog op sekere kampusse heeltemal verlam.

In een opsig was #FeesMustFall baie anders as die Soweto-onrus. Die rol van sosiale media en die netwerke wat oornag veldtogte en optredes kon mobiliseer, het nie in 1976 bestaan nie. Hierdie Blackberry-brigade met hul slimfone en toepassings het die regering hoofbrekens besorg. Dit is die nuwe normaal van sosiale onrus en die tegnologie van verandering.

Op die mikrovlak (spesifiek universiteite of skole) het die twee veldtogte baie uiteenlopend ontwikkel. In 1976 het plaaslike leiers na vore getree en is dikwels deur die polisie in aanhouding geplaas. Dan sou die volgende groep leiers na vore tree en so het die proses van eensame aanhouding en aanhouding sonder verhoor in 1976 uiteindelik ’n diepte in leierskap geskep wat nooit die bedoeling van die NP-regering was nie. Destydse leiers is vandag belangrike meningsvormers, soos Barney Pityana, Murphy Morobe, Popo Molefe en Sankie Mthembi-Mahanyele. Die bekendste, Tsietsi Mashinini, het destyds gevlug en is jare later in die buiteland oorlede. Daar was egter ook ander leiers wie se denke in hierdie tyd gevorm is, soos dr. Theuns Eloff (studenteraadsvoorsitter op PUK en latere fasiliteerder van die veelparty-onderhandelingsproses) en die bekende joernalis Max du Preez.

Ten slotte: Beide Soweto en #FeesMustFall was beslis politieke keerpunte in ons politieke proses en ontwikkeling. ’n Groot verskil tussen die twee gebeure was egter die aard en omvang van die vernietiging van geboue en infrastruktuur. Popo Molefe, een van die leiersfigure in 1976, is baie beslis hieroor. Volgens hom was daar ’n besliste ooreenkoms onder die leierskorps van die 1976’ers dat geen skool of kliniek aangeval sou word nie, maar dat die strukture van apartheid, soos biersale en geboue van die Wesrandse administrasieraad wel teikens was. #FeesMustFall het aanvanklik vreedsaam en spontaan begin, maar is mettertyd gekaap deur meervoudige politieke agendas en die R460 miljoen se skade was ongekoördineerd en sonder ’n duidelike oogmerk. Soweto was ’n simboliese opstand teen die regering van die dag en teen ’n fundamenteel onregverdige stelsel, terwyl #FeesMustFall plaasvind in die bedeling waarvoor die leiers van Soweto hul lewe opgeoffer het, maar het die vermoë om op ironiese wyse die tersiêre onderwysstelsel op sy knieë te dwing. Soweto ’76 het die politieke stelsel ingrypend verander, terwyl #FeesMustFall dieselfde potensiaal inhou met betrekking tot die onderwysstelsel. Die verskil is dat Soweto ’76 uiteindelik ’n konstitusionele bestel tot stand kon laat kom, terwyl #FeesMustFall die swakste skakel in die Suid-Afrikaanse politiek-ekonomiese bestel nog verder verswak.

*Theo Venter is ’n politieke en sakeontleder.

Meer oor:  Jeugdag  |  Feesmustfall  |  1976
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.