Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sowetodag 1976 en die rol van Afrikaans

As vierjarige kind sou hy op 16 Junie 1976 nooit kon dink dat hy 44 jaar later aan die hoof sou staan van een van die duurste (apartheids-)monumente wat in die hoogty van Afrikaner nasionalisme opgerig is nie, skryf Michael Jonas.

Een van die oorspronklike plakkate waarmee leerlinge in Soweto in 1976 hul ontevredenheid met gedwonge Afrikaanse onderrig te kenne gegee het. Foto: Getty Images

Die opstande van 16 Junie 1976 lê diep ingeëts in die geheue en psige van die Suid-Afrikaanse gemeenskap, maar veral die Afrikaanse wêreld.

Hierdie tragiese gebeure kan seer sekerlik beskou word as een van die grootste flaters in die geskiedenis van die relatief jong Afrikataal – dekades later gaan Afrikaans steeds gebuk onder negatiewe persepsies en stigmas as gevolg daarvan.

Die vraag is, is die taal in staat om van haar omstrede verlede te herstel?

Die Afrikaanse taalbewegings van die laat 1800’s was wit-gesentreerd en met die instel van Afrikaans as een van die amptelike tale in 1925, was die groei, ontwikkeling en veral die taal se invloed nóú verweef met die opkoms van die wit Afrikaner se politieke en ekonomiese mag.

Die noue hand-om-die-blaas-verhouding tussen die staat en Afrikaans sou egter gevaarlik vir die toekoms en beeld van die taal wees.

Volks- en taalnasionalisme het hand aan hand geloop, ten koste van ander taalgebruikers. Taaldiensbaarheid aan Afrikanerpolitiek sou ’n vaste patroon in die laat 1800’s en die res van die 1900’s word.

Met die Nasionale Party aan die mag in 1948 is die taalbeleid ingrypend tot voordeel van die twee “wit” tale, veral Afrikaans, aangepas.

Die samestelling van rade vir inheemse tale was blote rookskerms wat boonop die “verdeel-en-heers-strategie” onderskryf en skynbaar min vir die standaardisering van inheemse tale gedoen het.

Die noue hand-om-die-blaas-verhouding tussen die staat en Afrikaans sou egter gevaarlik vir die toekoms en beeld van die taal wees. Die tydperk ná 1948 is ook gekenmerk deur ’n toename in die aanstelling van wit Afrikaanssprekendes in hoë staatsposte.

Gewapende polisiemanne tydens die Soweto-opstand van 1976. Foto: Getty Images

Bruin Afrikaanssprekendes was egter uitgesluit van die voordele verbonde aan die taal en politieke vooruitgang.

Afrikaansmediumskole het volgens die historikus Hermann Giliomee tussen 1932 en 1958 van 28% tot 62% gestyg – ’n direkte gevolg was ’n beter opgevoede taalgroep met groot getalle wat hulle as onderwysers bekwaam het.

Die onderwysers en skrywers van skoolleerplanne was egter ook sekerlik van die grootste agente in die kweek, bevordering en verspreiding van Afrikanernasionalisme. Bewustelik en onbewustelik is skoolruimtes en onderrigmateriaal gebruik om ondersteuning te bied ter regverdiging van die apartheidsideologie. Hiermee saam het die taal se hoër funksies as akademiese, navorsings- en literêre taal gedy.

Die taal se ekonomiese waarde is verhoog deur ’n kennis van Afrikaans aan die sukses om werk te vind te koppel; daarmee saam is ’n groter taaltrots, selfrespek en identiteit gekweek.

Dit is ongetwyfeld een van die kroonjuwele in ’n suksesverhaal oor die bou van Afrikaneridentiteit, ’n sterk wit middelklas, ongekende ekonomiese welvaart, asook republiekwording, die oorheersing van die staatsdiens en die erkenning van Afrikaans as ’n amptelike taal op ’n gelyke voet met Engels.

Teen die vroeë 1970’s is Afrikaans reeds as die taal van die apartheidstaat en stem van die onderdrukker beskou. Engels as sake- en werktaal het ver veld gewen onder veral die swart stedelike bevolking. Die ekonomiese marginalisering van nieblanke Afrikaansgebruikers en kulturele marginalisering van ander Afrikaanse variante het ook tot die verswakking van die beeld van Afrikaans gelei. Die natuurlike verhouding tussen Afrikaanssprekendes is beduiwel deur die taalgroep op ’n rassegrondslag te skei – ’n ironie, aldus die taalkenner Hein Willemse wat verwys na die “dubbele identiteite” van Afrikaans, as taal van die onderdrukker en onderdruktes.

Die oprigting en opening van ’n “waardige monument” en museum vir Afrikaans in 1975, die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), kan nie los staan van hierdie agtergrond, verwikkelinge en geestesingesteldheid van die tyd nie.

Dit is ongetwyfeld een van die kroonjuwele in ’n suksesverhaal oor die bou van Afrikaneridentiteit, ’n sterk wit middelklas, ongekende ekonomiese welvaart, asook republiekwording, die oorheersing van die staatsdiens en die erkenning van Afrikaans as ’n amptelike taal op ’n gelyke voet met Engels.

’n Instelling soos die ATM word beskou as ’n sigbare manifestasie van die hoogty van wit Afrikaner-nasionalisme. Polities was dit ’n relatiewe stil tydperk weens die verbanning van talle opposisiepartye en omdat hul leiers in tronke was.

Die monument en museum moes die geboorte van Afrikaans herdenk, asook die belowende toekoms van die ekonomies sterk republiek in ’n tydperk waartydens die politieke heersers se bestaan relatief veilig was. (In daaropvolgende dekades sou hierdie posisie onherroeplik verander, nie net vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap in sy geheel nie, maar ook vir Afrikaans.)

Mag en taal

Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Foto: Gallo Images

Daardie situasie, tesame met die vrese vir die uitsterf van die taal, het toe idees onder veral regse politici laat posvat dat, vanweë die Afrikaner se magsposisies en omdat wit belastingbetalers grootliks verantwoordelik was vir die koste van swart onderwys, hulle kon bepaal wat die medium van onderrig moes wees.

Afrikaans moes dus as medium van onderrig op ’n gelyke grondslag met Engels in swart en Indiërskole afgedwing word. Wiskunde en rekenkunde, byvoorbeeld, sou slegs in Afrikaans onderrig word, ondanks die onvermoë van baie leerlinge en onderwysers om Afrikaans te bemeester.

Ondanks skerp kritiek en betogings deur onderwys organisasies, swart ouers, skoolrade en opposisiepartye, het die regering voortgegaan met die plan.

En toe gebeur 16 Junie 1976. Op dié dag en tydens die daaropvolgende betogings is plakkate soos “Down with Afrikaans” en “We are not Boers” getoon, wat weer eens die taal met wit Afrikaners, as ’n “witmanstaal” en “taal van die onderdrukker” herbevestig het.

Afrikaans se beeld onder mense van kleur is groot skade berokken, ’n hartseer dag in die geskiedenis van een van die wêreld se jongste tale en taalsuksesverhale van die 1900’s.

Die destydse regering moes noodgedwonge die taalplan laat vaar, maar nie voordat honderde slagoffers, afhangende van wie se weergawe jy glo, dood en beseer gelaat is nie. Die gewelddadige wyse waarop die opstande onderdruk is, het wêreldwyd opslae gemaak, protesoptrede het gevolg en die land is verder geïsoleer. Die kruitvat was dalk die voorgestelde gebruik van Afrikaans, maar 1976 se betogings was ook die gevolg van ’n algemene afkeer in apartheid en sou gebeure in werking stel wat 14 jaar later tot FW de Klerk se aftakeling van die stelsel en uiteindelik demokrasie gelei het.

Intussen is Afrikaans se beeld onder mense van kleur groot skade berokken, ’n hartseer dag in die geskiedenis van een van die wêreld se jongste tale en taalsuksesverhale van die 1900’s.

Onder die apartheidsregime is daar boonop baie Afrikaanse boeke, toneelstukke en musiek verbied. Die skrywer Joan Hambidge skryf in ’n Rapport-boekresensie oor die tweede deel van die Storie van Afrikaans: “Afrikaans (het) letterlik beweeg van ’n kombuistaal tot Bybeltaal tot taal van onderdrukker tot taal van bevryding tot taal wat dalk uitsterf of verdwyn.”

Met die eerste demokratiese verkiesing en die nuwe politieke bestel, het Afrikaans haar bevoorregte posisie en beskermende status verloor. Dit is naïef om te dink dat Afrikaans gaan oorleef omdat dit gepraat en gesing word. Die hoër funksies van die taal is onder druk met die gebruik van Afrikaans as sake- en onderrigtaal op tersiêre vlak byna oral afgeskaf; boonop heers grootskaalse onkunde oor die taal, haar geskiedenis en haar gebruikers. Inheemse tale bevind hulself op die rand van die politieke landskap en Afrikaans nog meer so weens haar verbintenis met die apartheidstaat. Op owerheidsvlak is daar telkens ’n vyandige houding te bespeur wat bevestig dat Afrikaans steeds as die taal van die verdrukker gesien word.

Meer sprekers eis weer taal op

Afrikaans het nog steeds vyande. Foto: Gallo Images

Maar wat wel opvallend is, is dat voorheen gemarginaliseerde Afrikaanssprekendes besig is om die taal, en ook die monument, op te eis en eienaarskap te neem.

Die gedeelde bestaansgeskiedenis, as tema en narratief, is stelselmatig besig om sy weg tot in hoofstroom debatte en literatuur te vind. Dit is ’n energie wat ons heelhartig ondersteun.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se algemene huishoudelike peiling wat in 2018 uitgereik is, is Afrikaans naas Zoeloe en Xhosa die derde algemeenste huistaal in Suid-Afrika, teenoor Engels wat die sesde plek beklee.

Buite die huishouding is daar egter ’n duidelike taalverskuiwing wat plaasvind. Engels word naas Zoeloe die tweede meeste buite die huishouding gepraat. Afrikaans en Pedi beklee die sesde plek.

Wat die peiling ook bevestig, is dat bruin Suid-Afrikaners die grootse groep gebruikers van Afrikaans as huistaal is, met 77,4% vergeleke met wit Suid-Afrikaners op 61,2%.

Boonop beskik Afrikaans ook oor die grootste rassediversiteit van alle inheemse tale. Hier wil ek dit duidelik stel: Afrikaans het nie ’n kleur nie, maar wel vele tongvalle.

Buite die huishouding oorheers bruin Suid-Afrikaners met gebruik van Afrikaans met 68% teenoor 37,2%. In totaal is daar 10 miljoen eerste- en tweedetaalsprekers. Die getalle vermeerder met 500 000 swart sprekers en 50 000 Indiërs wat Afrikaans binne en buite die huishouding praat.

Die statistieke bevestig ook weer eens die potensiaal waaroor Afrikaans beskik om ’n beduidende positiewe invloed uit te kan oefen, nie net op die daaglikse bestaan van haar sprekers nie, maar ook op die kulturele, geestelike, opvoedkundige, politieke, ekonomiese en maatskaplike terreine van die Suid-Afrika.

Boonop beskik Afrikaans ook oor die grootste rassediversiteit van alle inheemse tale. Hier wil ek dit duidelik stel: Afrikaans het nie ’n kleur nie, maar wel vele tongvalle.

Taaldiversiteit bring ontsettend baie moontlikhede wat ten voordeel van taal se voortbestaan en haar sprekers kan strek. Al hoe meer bruin en swart Afrikaanssprekendes betree die openbare domein via die media en kulturele bedrywe, waar hul stemme tel.

Die taalaktivis Neville Alexander het die Garieprivier as metafoor vir ons diversiteit gebruik. Die Garieprivier bestaan uit ’n klomp klein stroompies wat almal na die hoofstroom lei. Baie van die taal se systroompies het drooggeloop. Diversiteit is ’n goeie bate en daarom moet ons die systroompies versterk sodat die hoofstroom kragtiger kan vloei.

Michael Jonas

Die ATM se spektrum van bedrywighede kan as platform dien om die taal te “ontkaap”. Dit word toenemend ’n ontmoetingspunt waar brûe tussen Afrikaanssprekendes onderling en met sprekers van ander tale opgebou word en is sodoende deel van ’n herstelproses wat landwyd plaasvind.

As nuwe, eiesoortige kontaksone vir veral Afrikaanssprekendes moet die museum en die monument deur sy programme en bedrywighede immers ruimtes skep vir kritiese denke en debatvoering sodat besoekers hul eie sienings kan vorm terwyl persepsies, veral vooroordele, uitgedaag word.

Ná 44 jaar is ons dit aan die nageslag verskuldig om te leer uit die lesse van die verlede en om te verseker dat inklusiewe ruimtes geskep word vir die bevordering en viering van Afrikaans in al haar diversiteit.

’n Uitdaging wat ek heelhartig ondersteun en sal poog om uit te leef as hoof van die ikoniese taalbaken.

* Sien meer oor hoe ons vandag Jeugdag met ’n gratis, virtuele konsert vier en as mede-gasheer optree vir ’n webinaar oor die Toekoms van Kaaps by www.taalmonument.co.za en op Facebook.

* Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nasionale Party  |  Joan Hambidge  |  Fw De Klerk  |  Engels  |  Onderwys  |  Jeugdag  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.