Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Speel ’n aktiewe rol in ons skole, of . . .

Daar is baie wat ouers kan doen om die verval van openbare skole te stuit, skryf Melanie Buys. 

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys.

Die enigste manier om die sukses van ons openbare skole te verseker, is vir die gemeenskap om aktiewe verantwoordelikheid vir skole te aanvaar deur hul tyd, geld en kundigheid in skole te stort.

Goeie openbare skole is dié skole waar die gemeenskap ’n aktiewe rol speel. Waar gekwalifiseerde ouers in die beheerliggaam dien en sakelui in die omgewing in die skool belê. Dit is skole waar ouers aan die werk spring en klaskamers bou of onderwysposte finansier. Skoolgemeenskappe ken skole ook beter en weet watter taal- en ander beleide die skool die beste sal pas.

Christo de Witt, besturende direkteur van College Brands binne ADvTECH Schools, som dit goed op wanneer hy sê: “Alle skole is geleë in ’n gemeenskap. Maar ’n ware gemeenskapskool het ’n aanbieding en etos wat fokus op die behoeftes van die gemeenskap.”

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het in haar begrotingsrede vroeër vanjaar gesê die privaat sektor moet hand bysit met die bou en onderhou van ons openbare skole omdat die staat nie genoeg hulpbronne het om gehalteonderrig op sy eie te verseker nie. Die nasionale begroting vir skole-infrastruktuur sal oor die volgende drie jaar met R3,5 miljard besnoei word en die departement sukkel reeds om aan die norme en standaarde vir skole-infrastruktuur te voldoen, waarvolgens alle skole teen einde 2016 reeds lopende water, elektrisiteit en spoeltoilette moes gehad het.

Hoe meer jy dus bydra, hoe groter sê het jy in die bestuur.

Die staat kan egter nie verwag dat privaat entiteite betrokke raak by die lewering van gehalteonderrig sonder om hierdie entiteite ’n mate van beheer oor skole te gee nie. Die gemeenskap gee dus hulpbronne in ruil vir insae in en beheer oor die bestuur van ’n skool.

Daarom steun Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) voorgestelde wysigings aan die provinsiale Onderwyswet in die Wes-Kaap.

Een van die voorgestelde bepalings behels die skep van ’n nuwe kategorie openbare skole, bekend as “samewerkende” en “skenkergefinansierde” skole. Hiervolgens sal privaat entiteite of skenkers wat geld of eiendom bydra tot ’n skool, op die beheerliggaam verteenwoordig word en kan deelneem aan die bestuur en besluitnemingsprosesse by die betrokke skool. Hoe meer ’n persoon of onderneming dus tot die skool bydra, hoe groter sê het hulle in die bestuur van die skool.

Dit maak sin dat lede van die gemeenskap seggenskap het oor hoe hul geld en hulpbronne aangewend word en dit sal ouers en sakeondernemings aanmoedig om nog meer betrokke te raak by ’n bepaalde skool.

Die Skoleondersteuningsentrum glo daar is ’n paar dinge wat gemeenskappe kan doen om die verval van die openbare skole in hul omgewing te stuit. Dit sluit in:

  • Staan op jou reg tot moedertaalonderrig.
  • Word deel van jou skool se beheerliggaam of komitees.
  • Sluit vennootskappe met gemeenskapsorganisasies wat wedersydse voordele vir die skool en sakeondernemings inhou.
  • Kanaliseer skoolgemeenskappe se skenkings en bydraes aan die skool deur onafhanklike verenigings of trusts, eerder as om alles goedertrou in die skoolrekening te stort.
  • Ontwikkel nuwe skool- en sportgeriewe op aangrensende eiendom, eerder as die departement se terrein.

Bogenoemde is egter in direkte kontras met voorgestelde regulasies wat Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, verlede maand in die Staatskoerant gepubliseer het. Hiervolgens wil hy volle mag oor skole se aansoekproses aan homself toeëien. Indien hierdie voorgestelde regulasies aanvaar word, sal skole nie meer oor hul taal- of toelatingsbeleid kan besluit nie en die LUR sal die finale sê hê oor waar leerlinge geplaas word.

So ’n magsvergryp sal die gemeenskap van skole in hul omgewing vervreem en hulle ontmoedig om verantwoordelikheid hier-voor te aanvaar. Skole sal dan die waardevolle hulpbronne vanaf gemeen-skappe verloor. Dit terwyl amper die helfte van onderwysers aan uitnemende skole se salarisse deur ouers van die skool betaal word omdat die departement ál minder onderwysersposte kan bekostig. Die geld wat die regering jaarliks per leerling bestee, het ook sedert 2009 met 10% afgeneem.

Verminderde ondersteuning vanaf die staat, tesame met sentralisering van mag wat ouers vervreem, is ’n resep vir die agteruitgang van goeie openbare skole.

  • Melanie Buys is hoof van stelsels aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand.
Meer oor:  Geld  |  Tyd  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.