Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Speel wit mense ‘ringe-rosie’ terwyl Auschwitz brand?

Balaklawabendes wat in die nag voor jou bed opdaag, is nie op “welwillendheidsuitstappies om eeue se gasvryheid te vier nie”, meen die skrywer Helena Gunter. Sy het aan Willemien Brümmer gesê ons durf nie ’n tydsbeperking op ander se seer plaas nie.

Die skrywer Helena Gunter in haar huis op Stellenbosch waar sy saam met haar man, die opvoedkundige sielkundige, Gerrie Smit, woon. Foto’s: Adrian de Kock

Is dit wat ons is? “Vreemde verskynsels, bleekgesigte op die kontinent van Afrikane, indringerplante wat die natuurlike habitat oorgeneem, verwoes en uitgeroei het en nou moet betaal?”

Dit is een van die kwelvrae wat die karakter Fransina teister in Helena Gunter se derde kortverhaalbundel, Tweespoor, dinamiet op papier wat lesers gaan ontgogel, verrinneweer en vererg.

Nie alleen is die “liberale” Fransina selfingenome, gemaksugtig, meerderwaardig en beterweterig nie. Sy is vir die heilige waarheid “ingegee sy’s beter as ander mense”. “In die naam van Liewe Jesus. Net omdat sy die kleurskakering is wat sy is.”

In die hedendaagse Suid-Afrika verstaan sy nie “die sleutels waarin sy moet sing nie”. “Sy het ’n buitelander geword in die plek wat sy gedink het hare was, gediskonnekteer, verlore in wat oorbly van ’n verlede waarvoor sy haar moet skaam.”

Maar dan word sy gekaap en à la Disgrace verkrag, en sy vind uit dat balaklawabendes wat in die nag voor jou bed opdaag, nie op “welwillendheidsuitstappies is omdat hul eeue se gasvryheid wil vier nie”.

Soos paraffien in ’n spons

Helena voor ’n collage van haar suster, Elizabeth Gunter, se olieverfskilderye in haar leefvertrek.

Waar Helena voor ’n collage van ryk olieverfskildery deur haar suster, Elizabeth Gunter, sit in haar huis op Stellenbosch, pak sy die geskiedenis kaalvuis aan. Op 64 is hierdie oud-onderwyseres met die blou denims en Caterpillar-stewels geen gedienstige ouma of huisvrou van Pleasantville nie.

Sy skroom nie om te ontluister of te ontstel nie, want soos William Faulkner gesê het: “The past is never dead. It’s not even past.”

Sy het soos die meeste Afrikaners in haar generasie “bewusteloos” grootgeword op die Rûensplaas Rhenosterfontein naby die mond van die Breërivier. Haar pa, Piet Gunter, was ’n bywonerskind, maar toe die Hopleys van Rhenosterfontein uitgeboer het, het haar oupa die plaas gekoop. Helena se ma, Petrorina Doris Stemmet, was uit ’n vooraanstaande familie in Barrydale, ’n boervrou met rooi lippe en geverfde naels.

As die oudste van vier kinders was haar grootwordjare “idillies”, of so het sy destyds gedink.

En dan gaan jy skool toe as deel van die Christelik nasionale skoolstelsel en die gif kom in jou kop in.

“Dit was hierdie tipiese feodale bestel met die boer en sy kinders daar in die huis en dan die plaaswerkers almal in hul klein huisies.

“Dit wat (die filosoof) Georg Wilhelm Friedrich Hegel gesê het: As jy binne ’n stelsel is, is jy nooit groter as die stelsel nie, is baie waar. As kind was jy bewusteloos.

“En dan gaan jy skool toe as deel van die Christelik nasionale skoolstelsel en die gif kom in jou kop in. Dit sit in jou soos paraffien in ’n spons. Jy speel tennis, naweke gaan speel jy op die buurplaas, jy oefen jou musiek, jy doen jou somme. Jy doen al die dinge wat jou maatjie wat op die plaas agterbly, nie doen nie.

“Hoe groter jy word, hoe minder speel jy met jou maatjies en die kloof word al hoe groter. Dan kom jy op universiteit en jy is maar nog steeds in hierdie klimaat. Jy stem nou miskien vir die Progge, maar die stelsel waarin jy moet bestaan en waarin jy moet oorleef, is nog altyd nasionalisties.”

‘Hoe kan Ashwin Willemse hom so snaaks hou?’

Helena in haar studeerkamer waar sy nou reeds drie bundels voltooi het – Op ’n plaas in Afrika, Met koffer en kaart en die jongste, Tweespoor.

Dis eers toe albei haar kinders, Hannes en Petro-Anne, uit die huis uit is en sy uit die onderwys getree het (sy’t geskiedenis en Afrikaans gegee) dat sy begin skryf het. Vandag is dit wat sy doen: Sy skryf ses uur per dag, beitel geduldig aan haar langasemverhale wat die wonde oopskryf wat ander met pleisters toeplak.

Haar M-studies onder Marlene van Niekerk in 2004 het uiteindelik gelei tot haar bekroonde debuutbundel, Op ’n plaas in Afrika, wat deur die kortverhaalmeester, Abraham de Vries, as ’n “draaipunt in die Afrikaanse kortkuns” beskryf is.

“Dis tóé eers dat ek besef het hoe kompleks die hele Afrikaanse konteks is en dit het gemaak dat ek nou altyd met Susan Sontag se filosofie op my skouer sit: Wanneer jy iets in ’n raam sit, is dit belangrik. Met ander woorde as ek nou ’n jollie storietjie gaan skryf oor hoe ek grootgeword het – dís nie die belangrike werklikheid nie. Die romantiese het óók bestaan, maar dis nie wat ek belig nie. Soos wat Fransina se susters daar sê – as jy dít doen, dan speel jy ringe-rosie terwyl die rook bokant Auschwitz spiraal.”

Hoewel al drie haar bundels ’n oopskryf van die apartheidsverlede is, is haar derde boek die gevaarlikste. Die eerste paar stories skep ’n onderstroom wat ’n vraagteken plaas agter die “sogenaamd bevoordeelde” plaasromantiek, maar in die epiese tweede gedeelte, in reportage-styl geskryf, volg sy die spoor van die stormagtige hede.

Neem asseblief kennis waar kom mense se woede vandaan. Ondersoek dit, ontleed dit en maak vrede daarmee.

Fransina se verkragting is met ysingwekkende simboliek gevul.

“Neem asseblief kennis waar kom mense se woede vandaan. Ondersoek dit, ontleed dit en maak vrede daarmee. Dis ’n werklikheid wat jy nie kan ontken nie.” Dis weer die filosofie van die Sloweense skrywer Slavoj Žižek. Dit help nie om beleefd te wees nie, dit help nie om te bly sê daar is nie rassistiese elemente daarby betrokke nie. Daar móét wees as jy na ons geskiedenis kyk. Die grondkwessie is net ’n bevestiging daarvan.”

Op die koffietafel voor haar is die boek Violence deur die einste Žižek en South Africa’s Suspended Revolution deur Adam Habib. In Tweespoor vorm dié boeke ’n soort filosofiese onderbou vir haar verhale.

“Fransina se bewusteloosheid is iets wat ek daagliks om my waarneem. Ons kuier in malls en coffee shops en in Woolworths en so. Ons is verontwaardig: ‘Hoe kan iemand so vermoor?’ ‘Watter dierlikheid, watter barbaarsheid’, maar die rede daarvoor word nie deurgrond nie.”

Dis soos die herrie rondom die SuperSport-aanbieder Ashwin Willemse, sê sy. “Dit was vir my horrific hoe dit hanteer is, maar mense wat ek ken, sê nou: ‘Hoe kan Ashwin Willemse hom so snaaks hou?’ Niemand wil na die opgeboude onderliggende gevoelens oor ’n tydperk kyk nie.”

Sy skep asem. ’n Mooi vrou met ’n gul glimlag omraam deur die skilderye wat terselfdertyd oorvloed en wondbaarheid suggereer.

“Die manier waarop dit hanteer is, is soos om ’n inflammasiepleister op ’n gebarste blindederm te plak. Nou word alles mooi toegemaak en intussen was Ashwin járe nie reg hanteer nie. Die probleem is dit waarvoor jy nie ’n naam kan gee nie. The tone of voice waarmee jy met iemand praat.”

‘Jy kan nie ophou bely nie’

Helena se bundel Tweespoor is pas uitgegee deur Protea. Op die voorblad is die “engel van die geskiedenis”, Angelus Novus, deur Paul Klee.Foto: Verskaf

Tweespoor is opgedra aan haar man, Gerrie Smit, ’n emeritus-professor in opvoedkundige sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Dis veral sy navorsing oor die aard van geweld wat haar meer insig gegee het in hoe die bagasie van die verlede uitspeel.

“Die bende-magstrukture, die geweldsmagstrukture, waar ’n gewelddadige geaardheid vandaan kom, dít het ek by hom geleer. Dit praat nie die geweld goed nie, maar ek wil dit self verstaan om realisties te kan voortgaan.”

Sy vou haar beringde linkerhand oor haar regterhand. “Dit is te maklik om te glo ’n mens wat moor, is noodwendig boos. Jy word nie gebore en jy besluit as jy die dag verstand het, gaan jy iemand vermoor nie. Dit het ’n geskiedenis en ons moet dit verreken.

“ ’n Ander ding wat ek uit sy navorsing geleer het, is dat ons selfversekerdheid en eerstewêreldse verwagtinge is net so ’n groot probleem in Suid-Afrika as ander groeperinge se minderwaardigheid as gevolg van dieselfde geskiedenis. Ons wéét nie hoe arrogant ons, die eerstewêreldmense, soms kan oorkom nie.”

Op die koffietafel voor ons is die voorblad van Tweespoor waarop ’n strook afgeskeurde papier ’n byna versteekte beeld onthul. Dis van Paul Klee se Angelus Novus, die engel van die geskiedenis wat soms as “die ikoon van die linkses” beskryf word.

Die filosoof Walter Benjamin skryf waar iets vir ons soos die ketting van opeenvolgende gebeure lyk, sien dié engel ’n enkele katastrofe wat onophoudelik soos wrakstukke voor sy voete neergesmyt word.

“Waar ek ’n probleem met my tydgenote het, is dat hulle sê hulle het nie ’n aandeel gehad nie, hulle het nie die wette gemaak nie, hulle doen wat hulle kan, hulle gee. Maar as jy vandag in my generasie is en sit met ’n mediese graad of ’n Hollandse doktorsgraad of jy is waar jy is as gevolg van ’n stelsel wat jou bevoordeel het, is jy ongelukkig opgeneem in die stroming wat jou bevoordeel het.”

Dis daarom, sê sy, dat ons moet verstaan dat daar ’n verband tussen die misdadigheid van vandag en die verontmensliking van gister is.

Sy kyk stip voor haar uit. “Jy kán nie ophou bely nie. Solank mense so seer is soos wat hulle is, weet ek nie hoe jy kan besluit ‘maar ek het nou klaar gesê ek is jammer nie’. ’n Ander ding waarmee ek ook ’n probleem het, is mense sit ’n tydsbeperking op wanneer mense se seer moet oor wees. Psigiese skade is nie soos ’n verstuite enkel nie.”

Dis daarom, sê sy, dat ons moet verstaan dat daar ’n verband tussen die misdadigheid van vandag en die verontmensliking van gister is.

“Dis hoe revolusies werk, dis hoe omwentelinge werk. Ons kom vat nou jou grond wat jy van ons gevat het. Ons maak jou nou seer soos jy ons seergemaak het.”

Die vraag is of ons as wit mense ons “plek moet ken”? Durf ons kritiseer of behoort ons ’n etiek van stilte te handhaaf?

Sy aarsel. “Dis ’n groot vraag. Die hele kwessie van verwonding en rassisme is moeilik. As jy aangeval word, het jy dan nie ook rede om vergeldend en woedend te wees nie? Maar dan gooi die geskiedenis my altyd terug na waar dit vandaan kom.”

Sy haal diep asem. “Ek dink nou aan Max du Preez wat geskryf het dat swart mense nie werklik rassisties kan wees nie. Ek stem nie heeltemal saam nie, maar ek verstaan wat hy sê. Maar wanneer jy die slagoffer van geweld word, vra jy jouself af of jy nog steeds moet stilbly.”

Sy huiwer asof voor die duiselingwekkende afgrond van die geskiedenis. “Jy moet eintlik nog stilbly want dit is hoe die geskiedenis hom uitspeel. Jy moet jou pyn en die verskriklikheid wat met jou gebeur amper verstaan as verdienste – al is dit hóé verskriklik.”

Meer oor:  Ashwin Willemse  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.